Verlede week het ons stilgestaan by die belangrikheid van jou eie plek – daardie plek waar Yahweh jou geplaas het vir ‘n baie goeie rede. Ons het gesien dat die plekke waar ons bly of waarheen ons gestuur word, nie maar net toevallig oor ons pad kom nie. Die plek waar ons bly het ‘n bepaalde impak op ons lewe – dit gee ons ‘n geskiedenis en ‘n adres; dit speel ‘n groot rol in die vorming van ons karakter en die ontdekking van ons lewenstaak hier op aarde en bo alles help dit ons om te verstaan wat die Messias bedoel het toe Hy vir sy dissipels gesê het: Ek gaan om vir julle ‘n plek gereed te maak. Niks bring soveel kalmte en tevredenheid en vervulling as die uitsien na, en die aanvaarding van jou eie plek nie.
As ‘n mens se eie plek soveel kalmte en tevredenheid en vervulling bring, dan is dit nog meer waar van jou eie mense. Eintlik hang die twee ten nouste met mekaar saam. ‘n Mens kan nie ‘n plek losmaak van die mense van daardie plek nie. Net soos wat jy nie kan sê: “Dit gaan vir my net oor mense – nie oor ‘n plek nie”, net so kan jy ook nie sê: “Ek fokus op die plek waar Yahweh my geplaas het, maar steur my nie aan die mense nie!” Of ons dit nou wil weet, of nie, Yahweh het dit so bepaal dat die bevolking van die wêreld uit volkere en geslagte en stamme en generasies en families en gemeenskappe en selfs nog ander sosiale groeperinge bestaan. Elkeen van ons is ‘n inherente deel van meer as een sulke groeperinge en dit sou dwaas wees om te probeer lewe asof jy mense nie nodig het nie, of asof jy self nie ‘n verantwoordelikheid teenoor ander mense het nie.
Een van die woorde in Hebreeus wat hierdie waarheid seker die heel beste verwoord, is die woord “toldot” wat “geslagte, generasies, families of stamboom” beteken. Elkeen van ons het ‘n sekere herkoms of groepering of familie of “toldot” waaraan ons behoort en dis alleen binne hierdie “toldot” dat ons ons eie identiteit en ons eie roeping hier op aarde sal vind en verwesenlik. Dis interessant dat die woord “toldot” in die Skrif nooit in die enkelvoud (Eng. “singular”) gebruik word nie – altyd net in die meervoudsvorm (Eng. “plural”). Dis asof die meervoudsvorm die boodskap beklemtoon: Die Skepper het dit goed gedink om die mens nie as ‘n enkelvoudige wese te skape nie, maar as ‘n meervoudige wese. Elkeen van ons is ‘n mens tussen mense; elkeen van ons is aangewese op, en afhanklik van ander en elkeen van ons het ‘n ingebore hunkering na gemeenskap en verhoudinge met mense wat soos ons dink, soos ons voel, soos ons glo en dieselfde soort dinge as ons beleef.

Al drie hierdie vorme word op dieselfde manier uitgespreek, maar die verskil is dat by (2) en (3) die letter “waw” ( ) uitgelaat is – by (2) is die “waw” in die eerste deel van die woord uitgelaat en by (3) is die “waw” in die tweede deel van die woord uitgelaat. Die enigste twee plekke in die Skrif waar die woord vol-uit geskryf word, soos dit behoort te wees in (1) hierbo, is Gen 2:4 en Rut 4:18. Die rabbi’s het ‘n baie interessante verklaring hiervoor. Hulle wys daarop dat die sondeval eers ná Gen 2:4 plaasgevind het en dat die woord “toldot” ná die sondeval meestal sonder ‘n “waw” gespel word. Die numeriese waarde van “waw” is 6 en dit dui daarop (só sê die rabbi’s) dat Adam na die sondeval 6 belangrike dinge verloor het: (1) sy glans of glinstering (omdat die sondeval hom van die aangesig van sy Skepper verwyder het); (2) sy liggaamlike statuur (die rabbi’s glo dat Adam en Chawwah eers groot van gestalte was en dat hulle voor die sondeval nie tussen die bome kon wegkruip soos ná die sondeval nie); (3) sy lewe (omdat die dood, as straf, ná die sondeval in werking getree het); (4) sy vrye toegang tot die vrug van lieflike vrugtebome (ná die sondeval is die mens uit die tuin verdryf); (5) sy onbelemmerde gebruik van die vrug van die aarde (ná die sondeval het daar ook ‘n vloek oor die aarde gekom) en (6) sy voorreg om die hemelse ligte in al hulle voortreflikheid te kan beleef (Jes 30:26 sê dat wanneer Yahweh die breuk van sy volk genees, sal die maan so helder soos die son wees en die son sewe maal helderder as nou wees – volgens die rabbi’s dui dit daarop dat die son, maan en sterre voor die sondeval baie helderder was as wat dit nou is.)
Die rabbi’s sluit hulle argument af deur daarop te wys dat die woord “toldot” eers weer in Rut 4:18 op die regte manier geskryf word, omdat hierdie vers ‘n indirekte verwysing na die Messias is wat sou kom om daardie dinge te herstel wat tydens die sondeval skeefgeloop het. Die Messias sal nie net herstel bring in soverre dit die individu aangaan nie. Nee, Hy sal ook herstel bring in die “toldot” van hierdie wêreld – in die families; in die generasies; in die gemeenskappe en in elke verhouding waarin mense met mekaar staan. Wat staan in Rut 4:18?
Rut 4:18-22 En dit is die stamboom (“toldot”) van Perets: Perets was die vader van Getsron, en Getsron die vader van Ram, en Ram van Amminadav, en Amminadav van Nagshon, en Nagshon van Shalma, en Shalmon van Boáz, en Boáz van Oved, en Oved van Yieshai, en Yieshai van Dawied.
Of ‘n mens met hierdie uitleg van die rabbi’s saamstem of nie, ek dink dis veilig om te sê dat die oorspronklike bedoeling wat die Skepper met die mens gehad het – en ook met sy “toldot”, sy familie, sy nageslag, sy nalatenskap – het ‘n ernstige knou gekry toe Adam en Chawwah (Eva) aan sonde en ongehoorsaamheid ‘n inkomplek gegee het. Wat so merkwaardig is, is dat Yahweh reg aan die begin ‘n plan in plek gestel het: Uit die saad van die vrou sal daar Een kom wat die kop van die slang sal vermorsel. En die plek in die Skrif waar hierdie plan na baie honderde jare regtig begin vorm aanneem het, was toe Boáz, ‘n agter-agter-kleinseun van Perets (die seun van Yehudah, een van die twaalf seuns van Yaákov) vir hom ‘n (Moávitiese) vrou geneem het wat eintlik glad nie in die prentjie moes gewees het nie, maar wat op ‘n vroeë stadium in haar lewe een van die belangrikste besluite geneem het wat enige mens kan neem. Sy het vir haar Joodse skoonma, Naómi gesê: “Waar u gaan sal ek gaan, u volk is my volk en u Elohiem is my Elohiem.” En so het Rut vir Boáz ontmoet en die ouma-grootjie geword van Dawied, die voorloper van die Messias!
Dit is interessant dat dieselfde neiging om die letter “waw” uit die woord “toldot” te laat wegval, ook voorkom wanneer dit kom by die Naam van die Een wat ons erken as die Messias en die vervulling van al die profesieë wat wys op die herstel wat Hy sou bring. Die spelling van die Naam van die Messias behoort dieselfde te wees as die spelling van die name van Yehoshua of Yahushua (die opvolger van Mosheh) en Yehoshua of Yahushua (die hoëpriester in die tyd van die profeet ZegarYah). As mens dit op sy duidelikste wil uitdruk, met inagneming van alle Hebreeuse taalreëls, behoort hierdie spelling יהושׁוע te wees, met twee “waw’s” – net soos die oorspronklike spelling van “toldot”. Daar is egter net twee plekke in die Skrif waar die naam Yahushua só gespel word – Deut 3:21 en Rigters 2:7. Op al die ander plekke word minstens een “waw” weggelaat, hetsy in die vorm יהושׁע of in die vorm ישׁוע of selfs in die Griekse vorm ιησους (“Iesous” – slegs een “waw” klank of “u” klank). Daar is deesdae ook die neiging om die Messias se naam uit te spreek as “Yahusha” (weer eens slegs een “waw” klank) en ek weet van groepe waar daar druk geplaas word op gelowiges wat voorheen in die Naam van Yahushua gedoop is, om hulle te laat herdoop in die Naam van Yahusha. Ek kritiseer niemand wat die Naam van die Messias of die Naam van die Vader anders uitspreek as wat ek dit doen nie. Dit lyk my dat selfs in die periode waarin die Skrif tot stand gekom het, die uitspraak van name nie altyd konsekwent dieselfde was nie. Maar daar is ‘n neiging by baie om te haastig ‘n nuwe uitspraak (aangespoor deur sogenaamde nuwe bevindinge) aan te hang en dan voel hulle dikwels baie sterk daaroor dat andere dieselfde uitspraak as hulle moet gebruik!
Kom ons fokus liewer op die dieper betekenis van die Naam van die Messias (“die verlossing van Yahweh”) en die feit dat die Messias gekom het om daardie dinge wat ons as mense vanweë die sondeval verloor het, weer aan ons terug te gee – baie meer as net ses dinge! Een van die grootste dinge wat die Messias kom herstel het, is gemeenskap – ware gemeenskap met die Vader en met mekaar. Ons as mense gee name aan mekaar en aan ons kinders, soos wat ons goed dink. Maar die Skrif sê dat Yahweh die Een is wat name gee aan die geslagte en die “toldot” van hierdie wêreld:
Efes 3:14-21 Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van wie elke geslag in die hemel en op die aarde sy naam ontvang, dat Hy aan julle mag gee … om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat die Messias deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die afgesonderdes ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van die Messias te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van Elohiem. En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die eer in die gemeente in die Messias Y’shua deur alle geslagte tot in ewigheid! Amein!
Views: 33