
Voordat Y’shua met sy aardse bediening begin het, is Hy minstens drie keer as die Seun van Elohiem geïdentifiseer: (1) Toe Y’shua se ouers met hom (as baba) na Egipte gevlug het, en eers ná die dood van Herodus teruggekom het, het Matteus dit as ‘n vervulling van die profesie van Hosea 11:1 verstaan, waar daar geskryf is: “Uit Mietsrayiem het Ek my Seun geroep”; (2) Toe Y’shua in die Jordaan rivier gedoop is, het die mense wat getuies van die doop was, ‘n stem gehoor wat gesê het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het; (3) Toe Y’shua direk daarna in die woestyn versoek is, het Satan twee keer na Hom verwys as die Seun van Elohiem. In Romeine 1 word aangedui dat die beloofde Messias as die “Seun van Elohiem” beskou word, omdat hy ‘n fisiese nasaat van Dawid was, van wie Yahweh pertinent gesê het: “Ek sal vir hom (Dawid) ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees (2 Samuel 7:14)”. Dit is egter nie al nie. In dieselfde konteks word gesê dat Y’shua met krag verklaar (of bevestig) is as die Seun van Elohiem, deur sy opstanding (of opwekking) uit die dood. Y’shua se koms na hierdie wêreld is dus onlosmaaklik verbind aan hierdie profetiese woord aan Dawid oor seunskap. Deur Y’shua se bonatuurlike geboorte is hierdie profesie vervul, en deur sy opstanding is dit opnuut bevestig. In sy getrouheid het Yahweh self toegesien dat die vervulling van hierdie belofte (met Y’shua se geboorte), nie deur Y’shua se dood tot ‘n einde gebring word nie. Met dit in gedagte, gaan ons voort met ons ondersoek – in ‘n poging om 50 antwoorde te vind op die vraag: WAAROM HET DIE VADER BESLUIT OM SY SEUN NA HIERDIE WÊRELD TE STUUR?
36. Matteus 21:38 Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem.
OMDAT HIERDIE SEUN NODIG WAS OM AAN TE TOON WIE DIE WARE ERFGENAAM(E) IS
37. Lukas 10:16 Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.
OMDAT HIERDIE SEUN UITEINDELIK SAL UITWYS WIE DIT IS WAT VIR YAHWEH VERWERP
38. Johannes 8:17-18 Dit is in julle Torah geskryf dat die getuienis van twee mense waar is. Dit is Ek wat van Myself getuig; en die Vader wat My gestuur het, getuig van My.
OMDAT HIERDIE SEUN SE VADER VÓÓR EN TYDENS SY KOMS VAN HOM GETUIG HET
39. Johannes 8:29 En Hy wat My gestuur het, is met My; die Vader het My nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat Hom welgevallig is.
OMDAT HIERDIE SEUN VIR ONS MOES VOORGAAN IN ONS VERHOUDING MET YAHWEH
40. Romeine 8:17 As kinders is ons erfgename van Elohiem en mede-erfgename van die Messias, want as ons saam met Hom ly, sal ons ook saam met Hom verhoog word.
OMDAT HIERDIE SEUN DIE REALITEIT VAN LYDING EN VERHOGING MOES DEMONSTREER
41. Romeine 15:3 Want ook die Messias het Homself nie behaag nie, maar soos geskryf is: Die bespottinge van die wat U bespot, het op My geval.
OMDAT HIERDIE SEUN DIE HINDERNIS EN DIE VLOEK VAN SELFSUG MOES DEURBREEK
42. 1 Johannes 1:3 Ons verkondig hierdie dinge aan julle, sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met sy Seun, Y’shua die Messias.
OMDAT HIERDIE SEUN DIE FONDAMENT MOES LÊ VIR INNIGE GEMEENSKAP MET YAHWEH
Om saam te vat: Y’shua het gekom as die vervulling van Yahweh se woord aan Dawid, dat nie net Dawid self nie, maar ook een van sy nasate, as Seun van Elohiem geïdentifiseer sou word. En by implikasie: Dat hulle wat deur geloof aan Y’shua verbind sou word, die voorreg van seuns en dogters sou geniet. Met Y’shua se bonatuurlike GEBOORTE, en sy OPSTANDING, wat ook deur die hand van Yahweh teweeg gebring is, het ons twee sterk bewyse dat Hy die beloofde Seun van Elohiem is. Die fyner besonderhede wat in die gedeeltes hierbo na vore kom, soos Yahweh wat Y’shua laat erf het, van Hom getuig het, Hom nooit alleen gelaat het nie, en Hom verhoog het en Y’shua wat nie sy eie voordeel gesoek het nie, maar alleen die begeertes van Yahweh gesoek het, het ALLES met hierdie Vader-Seun verhouding te make, en berei die weg vir ons om as seuns en dogters van Yahweh te lewe.
Views: 13