
Y’shua se koms na hierdie wêreld word van alle kante af misverstaan. Die Yehudiem het ‘n verwagting oor die Messias gehad wat nie akkuraat was nie. Tot vandag toe hou meeste Jode nog krampagtig vas aan dieselfde verwagting, terwyl hulle hewig ontken dat Y’shua van Nasaret aan hulle kriteria van die ware Messias voldoen. Verreweg die meeste Christene het ‘n persepsie oor die Messias wat ook nie akkuraat is nie. Hulle erken wel dat Y’shua van Nasaret die vervulling van die profesieë is, maar net soos die Jode, ignoreer hulle die volle prentjie wat deur die profete geteken word, oor watter soort Messias na hierdie wêreld toe sou kom. Die profete het nie ‘n Messias in die vooruitsig gestel wat op enige manier met Yahweh gelyk gestel sou word nie. Of in Yahweh se plek aanbid of vereer sou word nie. Ook nie ‘n Messias wat die beginsels en geldigheid van die Torah sou ophef nie. Of ‘n Messias wat net in liefde geïnteresseerd is nie, en alles onder die son goedpraat, solank dit net ingepas kan word onder die yslike groot sambreel van liefde en aanvaarding. Geen wonder dat Y’shua en sy vroeë volgelinge so baie van kontraste gebruik gemaak het nie. Hy het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Hy het nie gekom vir gesondes nie, maar vir siekes. Hy het nie gekom om sý idees, of óns idees te volg nie, maar om sy Vader se idees te bevestig. Teen hierdie agtergrond, gaan ons voort met ons ondersoek – in ‘n poging om 50 antwoorde te vind op die vraag: WAAROM HET HY GEKOM, EN WAAROM HET ONS HOM NODIG?
29. Matteus 15:24 Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Yiesraél.
OM YAHWEH SE GROOT KUDDE MET DIE VERLORE SKAPE VAN ISRAEL TE VERBIND
30. Lukas 9:48 Elkeen wat hierdie kindjie ontvang in my Naam, ontvang My; en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het; want wie die kleinste onder julle almal is, sal groot wees.
OM TE LEER DAT DIE VERNAMES VAN DIE WÊRELD DEUR GERINGES BESKAAM WORD
31. Johannes 12:49 Want Ek het nie uit Myself gepraat nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ‘n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet praat.
OM MENSE WOORDE VERSUS YAHWEH SE WOORDE IN PERSPEKTIEF TE PLAAS
32. Romeine 13:14 Maar beklee julle met die Meester, Y’shua die Messias, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.
OM ONS TE MOTIVEER OM LIEWER DIE MESSIAS AAN TE TREK, AS DIE VLEES AAN TE HANG
33. 1 Korintiërs 1:5-7 Julle is ryk gemaak in die Messias … sodat julle in geen bedieningsgawe agterstaan nie, terwyl julle wag op die openbaring van ons Meester, Y’shua die Messias.
OM ONS TE LAAT FOKUS OP RYKDOM IN DIE MESSIAS, EERDER AS RYKDOM OP AARDE
34. 1 Johannes 4:2 Hieraan ken julle die Gees van Elohiem: elke gees wat bely dat Y’shua die Messias in die vlees gekom het, is uit Elohiem.
OM DIE WAARHEID VAN DIE GEES VAN YAHWEH EN DIE VLEES VAN Y’SHUA TE OPENBAAR
35. 1 Johannes 4:10 Hierin is die liefde: nie dat ons Elohiem liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.
OM ONS LIEFDE VIR ELOHIEM BINNE DIE KONTEKS TE PLAAS VAN SY LIEFDE VIR ONS
Om saam te vat: Y’shua het gekom om ons eie idees oor die lewe, in lyn te bring met die soort lewe wat Yahweh vir ons bedoel het. Daarom het Hy dikwels van kontraste gebruik gemaak om mense te help om hulle perspektief te verander. Soos die kontras (en raakpunte) tussen Israel en die res van die nasies; die kontras tussen vernaamheid (of grootheid in jou eie oë) en kinderlikheid; tussen ons woorde, Y’shua se woorde en Yahweh se woorde; tussen dit waarmee ons ons beklee en dit waarmee Yahweh ons wil beklee; tussen aardse rykdom en hemelse rykdom; tussen vlees en Gees; en die kontras tussen ons liefde vir Hom en Sy liefde vir ons. Hoe meer ons van hierdie kontraste verstaan, hoe makliker raak dit vir ons om in te sien waarom Yahweh dit nodig gevind het om sy Seun na hierdie wêreld te stuur.
Views: 15