WAAROM HET ONS VIR Y’SHUA NODIG? 1

alternate text

Ons het onlangs ‘n baie goeie gesprek gehad oor die vraag waarom Yahweh gekies het om sy Seun na hierdie wêreld te stuur. Yahweh is mos almagtig en groot. Hy kon ons net sowel op ‘n ander manier, of op baie ander maniere gered het, as Hy wou. Maar aan die ander kant, dis ook juis as ‘n mens op die Vader se grootheid en almag en soewereiniteit fokus, dat jy besef: As Hy gekies het om sy Seun die sentrale fokuspunt van die redding van hierdie wêreld te maak, wie is óns om te wonder waarom Hy nie ‘n ander metode gekies het nie? Dis immers nie die klei se plek om vir die Pottebakker voor te skryf, of selfs net voor te stel, hoe Hy sy werk moet doen nie! Toe ons die vorige keer hieroor gepraat het, het ons ‘n paar redes uitgesonder waarom ons meen Yahweh sy Seun gestuur het. Y’shua was nodig, het ons gesê, sodat die muur tussen ons en Yahweh afgebreek kon word; sodat daar versoening en vergifnis kon plaasvind, sodat ons status van buitestaanders na kinders kon verander, sodat ons iemand kan hê met wie ons kan identifiseer en wie se voorbeeld ons kan navolg. En in ons gesprek het daar nog ander redes ook uitgekom. Maar die gevoel by ons almal was dat daar nog baie meer redes is. En moontlik selfs belangriker redes. En wie weet, dalk redes wat nog nie eens behoorlik aan ons bekend, of aan ons geopenbaar nie.

Om hierdie rede wil ek graag oor die volgende sewe weke opnuut weer by hierdie vraag stilstaan, aan die hand van die Skrif. Die vraag is eenvoudig: WAAROM HET ONS VIR Y’SHUA NODIG? Kom ons soek na 50 antwoorde uit die Skrif, om saam te val met die 50 dae tot en met Shavuot!

1. Matteus 5:17 Moenie dink dat Ek gekom het om die Torah of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.

SODAT ONS KAN LEER HOE LYK DIE VERVULLING VAN DIE TORAH EN PROFETE

2. Lukas 4:43 Maar Hy het vir hulle gesê: Ek moet aan die ander stede ook die goeie nuus van die koninkryk van Elohiem bring, want daarvoor is Ek gestuur.

SODAT ONS EN ANDER DIE GOEIE NUUS VAN DIE KOMENDE KONINKRYK KAN HOOR

3. Johannes 9:39 En Y’shua sê: Tot ‘n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word.

SODAT MENSE WAT NIE KAN SIEN NIE, SE OË KAN OOPGAAN

4. Johannes 14:2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.

SODAT Y’SHUA VIR ONS PLEK KAN BEREI IN SY VADER SE WOONPLEK

5. Romeine 3:25-26 Hom het Elohiem voorgestel in sy bloed as ‘n versoening … sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Y’shua is.

SODAT YAHWEH SE REGVERDIGHEID BO ALLES EN ALMAL KAN UITSTAAN

6. 2 Tessalonisense 2:14 Hy het julle geroep deur ons goeie nuus om die voortreflikheid van ons Meester, Y’shua die Messias te ontvang.

SODAT ONS DIE TALLE GEVOLGE VAN DIE VOORTREFLIKHEID VAN Y’SHUA KAN ONTVANG

7. Hebreërs 9:14 Die bloed van die Messias, wat Homself deur die ewige Gees aan Elohiem sonder smet geoffer het, sal julle gewete reinig van dooie werke om die lewende Elohiem te dien.

SODAT ONS VAN DOOIE WERKE GEREINIG KAN WORD OM DIE LEWENDE ELOHIEM TE DIEN

Toe Y’shua destyds aan sy hoorders bekend gemaak het dat Hy nie gekom het om vrede te bring nie, maar die swaard, kan ek my voorstel dat daar ‘n yskoue stilte gevolg het. Sommiges was dalk net te geskok om ‘n woord te sê. By ander, húlle wat elke woord van die Meester geweeg en oordink het, was die reaksie dalk een van asem inhou en afwagting: Wie is hierdie Een regtig? Mag ons oë en ons harte in hierdie tyd van afwagting, opnuut oopgaan vir die openbaring oor wie Y’shua regtig is en wat Yahweh deur hierdie Seun van Hom vir ons kom doen het!

 

Views: 26

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *