
Dit was vir my ‘n groot verrassing om te ontdek dat LEVITIKUS (of Vayikra) die boek in die Torah is wat verreweg die meeste na die AANGESIG VAN YAHWEH verwys, en dat, in die hele Skrif, dit net die PSALMS is wat méér verwysings na die aangesig van Yahweh bevat. Wat sekerlik te verstane is, aangesien daar 150 Psalms is (versus 27 hoofstukke in Levitikus) en elkeen van hierdie Psalms ‘n lied of ‘n gebed is, waarmee die verskillende Psalmskrywers in die teenwoordigheid van Yahweh (of meer letterlik: “voor sy aangesig”) probeer kom het. Daarteenoor is Levitikus ‘n boek wat die indruk skep dat dit slegs oor lewelose temas soos offers en rituele en die fyner nuanses van die Torah gaan. ‘n Mens verwag eenvoudig nie dat daar in hierdie boek oor die 60 keer na die aangesig van Yahweh verwys sal word nie! Goedkeuring moes voor die aangesig van Yahweh gevind word (1:3). Offers moes voor die aangesig van Yahweh gebring word (3:1). Die priester moes bloed sprinkel voor die aangesig van Yahweh (4:6). Die seuns van Aharon moes versoening doen voor die aangesig van Yahweh (6:7). Beweegoffers moes voor die aangesig van Yahweh beweeg word (7:30). Mandjies met ongesuurde koeke moes voor die aangesig van Yahweh gebring word (8:26). Die hele vergadering van die volk het soms gaan staan voor die aangesig van Yahweh (9:5). En so kan ‘n mens aangaan. Die volk het op ‘n daaglikse basis meer en meer geleer, en beleef, wat dit beteken om voor die aangesig van Yahweh te kom.
En die vraag wat soos die spreekwoordelike OLIFANT IN DIE KAMER voor ons staan, is dit: Wat het vandag geword van “Kom (of leef) voor die aangesig van Yahweh”? Kom ons maak die vraag nog baie eenvoudiger. Wat het geword van “Kom voor die aangesig van my broer en my suster”? Wie of wat is dit wat deesdae letterlik vir die grootste deel van elke dag voor ons aangesig is? Méér as enige iemand anders, en méér as enige iets anders. Is dit nie dalk ons SELFONE en ons REKENAAR SKERMS nie? Wanneer moet ek voor die aangesig van my broer en my suster kom, as hierdie lewelose skerm – hoe groot hy ook al is – sommige dae tot 4 of 5 ure, of selfs langer, VOOR MY AANGESIG is? En as ek dalk nog daarin slaag om ‘n uur of twee per dag af te knyp om van die skerm voor my aangesig weg te kom, sodat ek by die aangesig van my broer of my suster, of my man of my vrou of my kind, kan uitkom, hoeveel tyd bly daar oor om werklik by die aangesig van Yahweh uit te kom?
Ek weet dat nie almal rekenaar of selfoon verslaafdes is nie. En ons almal weet dat selfone en rekenaars nie net boos is nie. Dat dit ook baie voordele inhou. Maar ek sien genoeg om te weet dat hierdie skerms voor die aangesigte van mense, ons stadig maar seker van ‘n KOSBARE ASPEK van mens-wees en menslike interaksie ontneem het, wat ons baie moeilik weer gaan terug kry. En boonop het dit dalk, sonder dat ons dit besef, die KWALITEIT van ons “lewe” voor die aangesig van Yahweh, drasties laat afneem – ons toewyding aan Hom, ons begeerte om sy Woord beter te leer ken, ons intieme gesprekke met Hom, ons entoesiasme om vir ander van Yahweh te vertel, ons vasbeslotenheid om nie van sy weë af te wyk nie en daardie uitbundige vreugde oor die tekens rondom ons dat Yahweh ‘n lewende werklikheid is. Is dit my verbeelding, of is daar onder gelowiges ‘n stadige WEGBEWEEG van hierdie (en nog meer) gestaltes van “lewe” voor die aangesig van Yahweh?
Daar is ‘n klompie jare gelede in Amerika bevind dat die gemiddelde Amerikaanse volwasse persoon, elke 6½ minuut na die skerm van sy of haar selfoon kyk. Ek dink nie hierdie syfer sal veel beter lyk in Suid Afrika nie. Ek het al paartjies in restaurante gesien wat “saam” gaan uit-eet, maar dan staar hulle albei vir lang periodes na die skerms van hulle eie selfone, en gesels nie ‘n enkele woord met mekaar nie. Navorsing het bewys dat ouers wat hulle jong kinders wat “lastig” raak, probeer paai deur vir hulle die televisie aan te sit of ‘n rekenaar speletjie laat speel, onwetend, groot skade aan hulle kinders se sosiale en emosionele ontwikkeling kan aanbring. ‘n Ondersoek in Brittanje onder 14-jarige meisies het aan die lig gebring dat baie van hulle 5 ure per dag, of langer, op die internet deurbring en 38% van hierdie groep het gesê dat hulle dikwels aan die einde van so ‘n dag “miserable, tired, restless, worthless, or tearful” gevoel het.
Wat is die gevolg van hierdie groot LEEFSTYL VERANDERING wat oor die afgelope 20 tot 30 jaar, feitlik reg oor die hele wêreld, plaasgevind het – ‘n duidelike skuif weg van gesig-tot-gesig, na gesig-tot-skerm? Op ‘n PERSOONLIKE vlak is daar ‘n aantal dinge wat stadigaan met ‘n mens gebeur as jy ‘n hele aantal ure per dag voor jou skerm deurbring – al is dit net ‘n paar minute op ‘n slag. Hierdie gewoonte kan baie maklik jou fisiese en geestelike gesondheid aantas. Dit kan verslawend wees en depressie veroorsaak. Dit kan jou oë aantas. Dit kan jou rusteloos en moeg en onvervuld laat voel, soos ‘n groot aantal jong meisies hierbo op die harde manier uitgevind het. Maar die grootste verlies wat dikwels volg op gesig-in-die-skerm verslawing, is die verlies aan sommige van die mees wesenlike aspekte van mens-wees soos INTERAKSIE en KOMMUNIKASIE en MORALITEIT. Daar is ‘n oorsese studie wat bevind het dat mense wat aktief op Facebook is, gemiddeld oor die 500 “friends” op Facebook het, maar slegs 5 vriende naby aan hulle, met wie hulle tyd spandeer, weg van Facebook af. Sosiale media het klaar sy slag geslaan, in die groot, wêreldwye verskuiwing van “ONS” na “EK”. Ek is op die VERHOOG, en kry al die aandag, en ek put my genot daaruit dat die mense aan die buitekant – selfs mense wat ek nie eens behoorlik ken nie – deur hulle “likes” en met die druk van ‘n enkele knoppie, deel van my gehoor geword het.
Maar hierdie uitdelers van “likes” is nie noodwendig my vriende nie. En selfs “friends” is nie vanselfsprekend my vriende nie. En KOMMUNIKASIE is nie bloot die uitruil van inligting en die “share” van foto’s nie. Om vir iemand te “message” is nie dieselfde as om met hom te kommunikeer nie. Om werklik te kan kommunikeer moet jy iemand in sy AANGESIG kyk – nie sy “face” op ‘n “book” of ‘n “screen” of ‘n “site” sien nie. Ware kommunikasie is soos iemand êrens geskryf het, “the touch of two selves, their presentness to one another, their mutual, non-hostile exposure.” Dis nie iets wat sosiale media vir ons kan gee nie. En boonop kan sosiale media NOOIT ‘n plaasvervanger vir moraliteit wees nie. Moraliteit en sosiale media se “kyk-ek-is-op-die-verhoog” tipe indiwidualisme, het bitter min met mekaar uit te waai. Moraliteit en integriteit is die vermoë om regtig vir ander mense OM TE GEE, en dis ‘n eienskap wat jou op ‘n roete plaas weg van jou eie klein wêreldjie, tot binne-in die wêreld van ‘n ander. Ons is as mense “tussen ander mense” geskape en MORALITEIT, oftewel, sterk morele, Woord-gebaseerde waardes is nodig, sodat ons elke sintuig waarmee ons geskape is, tesame met fyn aanvoeling, binne die konteks van ware ontmoeting, kan gebruik om nader aan mense te kom. Moraliteit word gebore as ek op JOU fokus, nie op MY nie. Moraliteit gebeur, wanneer ek ontdek dat jy ook EMOSIES het, en begeertes en aspirasies en vrese, net soos ek. Ek kan alleenlik ‘n mens van moraliteit en integriteit wees, wanneer ek dit regkry om myself volledig IN JOU POSISIE te plaas. Hiervoor is ‘n aangesig-tot-aangesig en ‘n siel-tot-siel verhouding nodig – dit gebeur nie elektronies nie!
Wat beteken dit om voor die aangesig van Yahweh te lewe? Is dit maar net ‘n ander manier om te sê dat ons meer tyd aan Skrif-lees en gebed moet spandeer? Nie noodwendig nie, al is albei hierdie sake van wesenlike belang vir ons groei op die pad van geloof. Maar met LEWE voor die aangesig van Yahweh, bedoel die Skrif ONEINDIG MEER as net lees en bid. Ons het reeds gehoor dat VERSOENING een van die dinge is wat spesifiek met die aangesig van Yahweh verbind word. Onversoendheid, en ‘n onversoenlike houding, sal ons altyd wegdryf van die aangesig van Yahweh – juis omdat Hy van die begin af soveel gedoen het om mense met Homself te versoen, en selfs sy eie Seun daarvoor na hierdie wêreld toe gestuur het. Die deel-wees van ‘n GELOOFSGEMEENSKAP en die fisiese deelname aan die aktiwiteite van daardie gemeenskap, word ook in die Skrif met LEWE voor die aangesig van Yahweh verbind. Daarom staan daar onder meer in Levitikus 23 dat die hele volk tydens die Huttefees VOOR DIE AANGESIG VAN YAHWEH vrolik moet wees. Ander aspekte wat in die Skrif met die aangesig van Yahweh verbind word, is die blaas van die ramshoring (Numerie 10:9-10); die hantering van regsake (besluite oor reg en verkeerd – Numerie 27:5); die bring van offergawes (Numerie 31:54); die aantrek van wapenrusting (Numerie 32:20); die besluit om geen ander magtiges te dien nie (Deuteronomium 5:7); die saam-eet van huisgesinne (Deuteronomium 12:7); die vrolik-wees as huisgesinne (Deuteronomium 16:11); die aangaan en uitleef van ‘n verbond met Yahweh (Deuteronomium 29:10-12); die uitwys van onreg (Joshua 7:23); die woorde van ons mond en die gedagtes van ons hart (Psalm 19:14); die uitstort van ons harte (Psalm 62:8); die gesug en die noodkrete wat uit jou mond en jou hart kom (Psalm 79:11) en die lof en die lofgesange van Yahweh se kinders (Psalm 95:2). Om te lewe voor die aangesig van Yahweh, is dit waarvan 1 Kor 10:31 praat: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot eer van Elohiem.” Die laaste deel van hierdie vers kan ook só vertaal kon word: “… DOEN ALLES VOOR DIE AANGESIG VAN ELOHIEM.”
Daar is gewoontes en gedragspatrone wat stilweg ons lewens geïnfiltreer het, as gevolg van die magtige invloed van die moderne GESIG-IN-DIE-SKERM KULTUUR. Kom ons wees ‘n slag eerlik met onsself hieroor. Kom ons vertrou die Gees van Yahweh om ons te begelei in ‘n deeglike skoonmaak proses, al is dit nog meer as drie weke voor Pesag en Ongesuurde Brode – ‘n reiniging van ons harte en ons denke en ons leefstyl en ‘n hernude toewyding om ons gesig van ons skerms af weg te draai na die mense rondom ons, en na Hom wat ons geroep het om voor sy aangesig te lewe – selfs wanneer ons eet en drink en doodgewone, alledaagse dinge doen. Die begrip “gesig” of “aangesig” is volgens die Skrif ontsettend belangrik. Dis in die eerste plek met ons “gesig” waarmee ons in ‘n verhouding met mense en met Yahweh staan. Kom ons lewe elke dag soos mense wat met hart en siel uitsien na daardie kosbare oomblik wat in die laaste hoofstuk van die Skrif beskryf word, wanneer die ware gelowiges die aangesig van Yahweh sal sien en sy Naam op hulle voorhoofde sal wees (Openbaring 22:4).
Views: 18