Verlede week het ons stilgestaan by een van ‘n aantal plekke in die Tanak waar die antieke skrywers van die Hebreeuse teks SPESIALE KOLLETJIES bokant sekere woorde bygevoeg het, vir redes wat oor al die eeue heen totaal verlore gegaan het. Verskeie kenners gee vandag hulle opinies oor waarom daardie spesiale kolletjies bygevoeg is, maar niks hiervan is seker nie. Al die moontlike oplossings bly eenvoudig die intelligente raaiskote van mense. En soms is die raaiskote nie eens baie intelligent nie! Ek sou nie hierdie week weer by die tema van die geheimsinnige kolletjies stilgestaan het nie. Maar toe verskyn daar weer so ‘n woord in hierdie week se voorgeskrewe Parashah, Genesis 37:12. En ek vind uit daar is 10 sulke plekke in die hele Skrif, en boonop ‘n goue draad wat deur al tien hierdie gedeeltes loop. Vandag vertrou ek dat ons almal hierdie goue draad sal raaksien en deur die boodskap hieroor in ons geloof bemoedig en versterk sal word.
Die Hebreeuse woord wat vir so ‘n geheimsinnige kolletjie gebruik word, is NIKKUD (meervoud: NIKKUDOT), afgelei van die woord NAKKAD, wat beteken: om te perforeer, of om te deurboor (Engels: “to pierce”). En die vraag wat onmiddellik by ‘n mens opkom, is dit: Is dit dalk moontlik dat die antieke Joodse skrywers NIKKUDOT (kolletjies) op sekere woorde geplaas het, vir watter redes ook al, maar dat die Gees van Yahweh, sonder dat hierdie skrywers dit besef het, daardeur ‘n boodskap laat opteken het, soos die profeet later in Jesaja 53:5 geskryf het, dat daar iemand op die toneel sou verskyn wat ter wille van ons oortredinge DEURBOOR (Engels: PIERCED) en ter wille van ons ongeregtighede VERBRYSEL sou word? Kom ons kyk kortliks na die 10 gedeeltes, in volgorde, en in die regte konteks, met die woorde wat NIKKUDOT bevat, in hoofletters.
1. Genesis 16:5 “En Sarai sê vir Avram: Die onreg my aangedoen, is OP JOU!” Sarai verwys daarna dat sy (Sarai) veragtelik in Haghar se oë geword het, nadat Avram by Haghar ingegaan het en Haghar vir hom ‘n kind verwek het. Sarai verkwalik Avram daarvoor en sê hy moet die skuld daarvoor dra. Dit is OP HOM. Net soos wat ons mense se sondeskuld later op die Deurboorde Een sou kom!
2. Genesis 18:9 “Toe sê hulle VIR HOM: Waar is Sarah, jou vrou? En hy antwoord: Kyk, sy is in die tent.” Die boodskappers staan op die punt om een van die belangrikste aankondigings in die hele Skrif te maak: Daar sou ‘n seun gebore word vir Avraham en Sarah en hierdie seun sou die seun van die belofte wees. Maar die woord “vir hom” beteken ook “in die rigting van hom” of “met die oog op hom”. Alhoewel Yahweh (deur die boodskappers) met Avraham gepraat het oor die seun van die belofte (Yietsgak), het Hy ook gepraat MET DIE OOG OP ‘n ander Seun van die belofte – sy eie Seun, wat ter wille van ons oortredinge deurboor sou word.
3. Genesis 19:33 “Hulle gee toe daardie nag aan hulle vader wyn om te drink, en die oudste het gekom en met haar vader (Lot) gemeenskap gehad sonder dat hy dit gewaar het toe sy gaan lê en toe sy OPSTAAN.” Sekerlik die gebeurtenis in Lot se lewe wat hy die graagste sou wou vergeet! Maar wat verhinder Yahweh om met ‘n krom stok ‘n reguit hou te slaan en met hierdie woord “opstaan” ons aandag daarop te vestig dat die Een wat deurboor sou word, ook sou opstaan, en deur sy opstanding, vir talle mense nuwe lewe sou bring?
4. Genesis 33:4 “Toe loop Esau hom tegemoet en omhels hom en val hom om die hals en SOEN hom; en hulle het geween.” Ons het reeds verlede week na sommige moontlike verklarings vir hierdie soen van Esau gekyk. Dit bly alles net moontlike verklarings. Niks is seker nie. Wat ons wel weet, is dat daar ‘n voorval in die lewe van die deurboorde Een was, wat baie sterk aan hierdie soen van Esau herinner: Lukas 22:47-48 “Terwyl Hy nog praat, kom Yehudah nader om Hom te soen. En Y’shua sê vir hom: Yehudah, verraai jy die Seun van die mens met ‘n kus?” Uiteindelik was hierdie verraad van Judas, die sleutel tot die redding van miljoene mense.
5. Genesis 37:12 “En Yosef se broers het opgepas (ET) die kleinvee van hulle vader by Shigem.” Die woord, “et”, is ‘n woord wat dikwels in Hebreeus voorkom, maar gewoonlik nie vertaal word nie. Dit bestaan uit ‘n Alef en ‘n Tav – die eerste en die laaste letters van die Hebreeuse alfabet. Dit volg gewoonlik ná die hoofdeel van die sin. In hierdie geval is die hoofdeel van die sin: “Yosef se broers het (iets of iemand) opgepas.” Die woordjie “et” sê vir die leser wie of wat hulle opgepas het. Hulle het die kleinvee of die kudde van hulle vader opgepas. Die kommentators gee uiteenlopende verklarings vir die kolletjies op die woord “et” in hierdie sin. Maar ons weet dat die Een wat later deurboor sou word, as die “Alef en die Tav” bekend gestaan het. En dat Hy gekom het om ‘n Herder te wees vir die kudde van sy Vader en hulle daarom op te pas en te versorg.
6. Numerie 3:39 “Al die geteldes van die Lewiete wat Mosheh EN AHARON ooreenkomstig die bevel van Yahweh getel het, was twee en twintig duisend.” Sommige Joodse kommentators sê die Woorde “en Aharon” word beklemtoon om aan te dui dat Aharon self nie getel is nie. Of dit so is, of nie, is onmoontlik om te bepaal. Maar Aharon was die hoëpriester en die deurboorde Een wat later sou kom, sou ook ‘n hoëpriester wees. Weliswaar van ‘n ander orde, die orde van Melgisedek – ‘n hoër orde as die orde van Aharon, aangesien Aharon se nageslag bloot tussengangers was tussen die mense en Yahweh, maar nie hulleself opgeoffer het soos wat Y’shua gedoen het nie.
7. Numerie 9:10 “As iemand van julle of van julle geslagte deur ‘n lyk onrein word of op reis is, VER EN EENKANT (Engels: “distant”), moet hy tog die Pesag vir Yahweh hou.” Hierdie vers maak voorsiening daarvoor dat iemand wat nie die Pesag op die gewone tyd in die eerste maand kon hou nie, dit onder sekere omstandighede in die tweede maand kan hou. Deur die aspek van “verwydering” te beklemtoon, word ons daaraan herinner dat die Een wat later tydens Pesag deurboor sou word, ver verwyder van sy Vader gevoel het, en uitgeroep het, “My El, my El, waarom het U my verlaat?”
8. Numerie 21:30 “Toe het ons na hulle geskiet; verlore was Geshbon tot by Divon; en ons het verwoes tot by Nofag, WAT (‘asher’) strek tot by Medeva.” Die Nikkud kolletjie verskyn hier net op die laaste letter van “asher” – dit wil sê op die “resh” (wat “hoof” beteken). Na aanleiding hiervan het sommige vertalings die “resh” geïgnoreer, en die woord nie as “asher” gelees nie, maar as “esh”, wat VUUR beteken. Daarom eindig die sin só in Woord en Getuienis: “met vuur tot by Medeva”. As ons egter beide die “resh” (hoof) en die “esh” (vuur) behou, herinner dit duidelik aan die deurboorde Een, wat deur Yahweh as HOOF oor die uitverkorenes aangestel is, en wat self gesê het dat Hy gekom het om ‘n VUUR (van loutering en suiwering) op die aarde aan te steek.
9. Numerie 29:15 “En EEN-TIENDE (van die voedseloffer moet opsy gesit word) vir elke lam van die veertien lammers (sonder gebrek, wat op elkeen van die sewe dae van die Huttefees geoffer moet word).” Die woord “een-tiende” (“issaron”) word herhaal in hierdie vers, en Skrifkenners is onseker waarom die woord twee keer, direk na mekaar, in die teks voorkom en waarom net een van die twee met ‘n NIKKUD gemerk word. Vir ons maak dit egter sin, want die deurboorde Een, is heel moontlik op die Huttefees gebore (NIE op 25 Desember nie!), want Johannes 1:14 sê Hy het sy tent onder ons kom opslaan. En die een-tiende kom van die VOEDSELOFFER wat uit meel (Brood van die lewe!) en olie (die gesalfde Een!) bestaan.
10. Deuteronomium 29:29 “Die verborge dinge is vir Yahweh onse Elohiem; maar die geopenbaarde dinge is VIR ONS EN ONS KINDERS tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie Torah.” Hierdie laaste van die tien verse met NIKKUDOT, herinner ons aan Handelinge 2, waar Kefa (Petrus) sy Shavuot boodskap afgesluit het met die woorde, “die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat Yahweh ons Elohiem na Hom sal roep.” Watter belofte? Die belofte dat die deurboorde Een vir ‘n mens wat in Hom glo, volkome vergifnis van sonde sal bring en dat diegene wat in sy Naam gedoop word, die gawe van die afgesonderde Gees sal ontvang.
Die verwysing na die verborge dinge en die geopenbaarde dinge in hierdie laaste vers, is baie interessant. Daar is heelwat verborge dinge in die Skrif. En hierdie verborge dinge behoort aan Yahweh, sê Deuteronomium 29. Die meeste hiervan sal verborge bly, totdat ons en ons kinders die ewigheid betree – iets waarvan dieselfde vers praat. Maar watter voorreg en ontsettende vreugde is dit nie vir ons, wanneer sommige van hierdie verborge dinge aan ons geopenbaar word nie! En boonop sê Amos 3:7 vir ons dat die Meester Yahweh niks doen, tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte geopenbaar het nie. Is dit toevallig dat Amos 3:7 ingesluit is by die voorgestelde lesings van hierdie week? Ek dink nie so nie. As die lewe en die lyding en die dood en die opstandig van Y’shua so belangrik in die oë van Yahweh is, soos wat die Skrif sê dit is, dan maak dit vir my baie sin dat daar nie net DIREKTE PROFESIEË oor hom in die Skrif gegee word nie, maar dat die boodskap oor Hom, selfs in die byna onsigbare kolletjies van die Skrif opgeteken staan. Geen wonder Y’shua het self gesê, “Amein, Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een letterdeel (of NIKKUD) van die Torah ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie!
Views: 21