IN DIE GREEP VAN GRIEKSE DENKE

alternate textSoos dit die afgelope tyd met baie Suid Afrikaners gebeur, het Europa die afgelope drie weke weer ‘n deel van ons lewens in beslag geneem, omdat ons ‘n dogter, skoonseun en twee kleinkinders het wat daar woon. Dis hierdie vier mense wat by verre die grootste rede is waarom ons Europa toe gaan. Nie die Europese bekoring of die Nederlandse kaas nie. Nie eens die feit dat jy in Europa vir Eskom en ‘n klein deeltjie van die Kaapse winter kan vryspring nie. Daar is net soveel dinge wat vir ons beter en mooier en makliker is in Suid Afrika. En die beste is dat ons vandag kan terug wees by ons eie mense en ons eie geloofsgroep. Terug van ons familie in Europa, maar ook terug by ons familie in Vishoek!
Europa se geskiedenis gaan so min of meer terug tot by die begin van die GRIEKSE GESKIEDENIS – ‘n hele paar honderd jaar voor die geboorte van die Messias. Die feit dat ons, saam met Hubré hulle, die Griekse eiland Kreta vir ‘n paar dae gaan besoek het, was vir ons ‘n bonus, en ook ‘n groot verrassing! Kreta van alle plekke! Die grootste en dalk ook die bekendste van al die Griekse eilande. Destyds, een van die plekke waar Paulus tydens sy sendingreise aan wal gegaan het. En deesdae, ‘n streek van Griekeland met meer as 600 000 inwoners.

Europa het sy naam te danke aan ‘n MITIESE VERHAAL wat op die eiland Kreta afgespeel het. Volgens die Griekse mitologie het Zeus op Europa verlief geraak en toe in die vorm van ‘n bul aan haar verskyn. Sy was so betower deur die krag en die voorkoms van die bul dat sy op die bul se rug geklim het, soos wat ‘n mens op ‘n perd sou klim. Die bul het eers stadig en beskaafd met Europa op sy rug begin loop, maar later, getrou aan sy aard, verwoed begin hardloop en met Europa op sy rug, in die Middellandse See gespring en by die eiland Kreta uitgekom.

Al het Zeus, tegnies gesproke, vir Europa ONTVOER, het hy haar ook onvoorwaardelik lief gehad. Hy het vir haar drie geskenke gegee – ‘n lyfwag wat onoorwinlik was en haar teen enige gevaar kon beskerm, ‘n hond wat altyd sy prooi in ‘n jagtog gevang het en ‘n spies wat nooit sy teiken gemis het nie. Saam, het hulle drie seuns gehad waarvan een, Minos, die koning van Kreta geword het.

Dis duidelik dat hierdie hele verhaal besaai is met MITOLOGIESE EN FABELAGTIGE ELEMENTE. Tog is daar historiese aanduidings dat daar werklik ‘n koning Minos van Kreta was. En natuurlik is daar vandag werklik ‘n Europa. En dis al of die Griekse invloed op Europa, en uiteindelik op die Westerse wêreld, nog nie heeltemal uitgewerk en verdwyn het nie. Van watter Griekse invloed praat ons hier? Nie net die invloed van die Griekse mitologie, met karakters soos Zeus wat soms as ‘n god en soms as ‘n mens voorgestel word nie. Ook die invloed van Griekse filosowe en Griekse teoloë en die Griekse manier van dink, in die algemeen.

Vir ons is dit belangrik (en kosbaar!) om te weet dat die Skrif vanuit ‘n HEBREEUSE DENKPATROON, en nie vanuit ‘n Griekse denkpatroon geskryf is nie. Ons het dit almal seker al tientalle kere gehoor, maar dit bly steeds ‘n aspek wat vir ons Westers-gesindes ontsettend moeilik is om te verstaan. Dis asof die bul met Europa (oftewel die Westerse denke) op sy rug, nog steeds na ‘n Griekse eiland met Griekse gewoontes en Griekse gebruike toe beur. Die Griekse denke soek kennis, die Hebreeuse denke soek wysheid. Die Grieks-gesinde luister deur kennis te neem, die Hebreeus-gesinde luister deur moue op te rol en tot aksie oor te gaan. Die Grieks-georiënteerde gelowige praat van abstrakte begrippe soos bekering en heiligmaking; die Hebreërs verstaan dit spesifiek as ‘n terugkeer na Yahweh en die verwydering uit jou lewe van elke woord of gedagte of handeling wat nie die gees van die Torah weerspieël nie.

‘n Griekse denker konsentreer op VOORKOMS (appearance), terwyl sy Hebreeuse eweknie op funksie en bruikbaarheid fokus. Binne die klassieke Griekse verstaan word ‘n pen beskryf in terme van sy kleur en sy lengte en sy vorm. Binne die Hebreeuse verstaan is ‘n pen iets waarmee woorde met betekenis neergeskryf word. In die klassieke Griekse literatuur word daar op naamwoorde (“nouns”) en abstrakte konsepte gefokus. In die Torah word daar op werkwoorde (doen-woorde) gefokus. Meeste van ons het kennis gemaak met die klassieke Griekse boek van Homer, The Iliad, deur die fliek, Troy, waarin Brad Pitt die rol van Achilles gespeel het. In die boek word Achilles op tipies Griekse manier beskryf ‐ onder meer as “the king of men”, “the one who breathes vital air”, “the man dreadful in his rage and steadfast in his hate”, “the divine one with the sacred head”, “the unconquered warrior, superior in strength”. Daarteenoor, in die boeke van 1 Konings en 2 Konings word elke koning van Yehudah en van Israel, op tipies Hebreeuse manier beskryf: óf as ‘n koning wat gedoen het wat reg is in Yahweh se oë, óf as ‘n koning wat gedoen het wat verkeerd is in Yahweh se oë. Vir die ou Griekse filosowe en skrywers het die MENS die sentrale plek in hulle siening van die wêreld beklee. Vir die ou Joodse rabbis is dit Yahweh en sy woorde wat voorop gestaan het.

Een van die mooiste voorbeelde van die verskil tussen Griekse en Hebreeuse denke, is die aspek van iemand se GESIG. In die Griekse verstaan is iemand se gesig sy gelaatstrekke wat jy sien as jy na hom kyk – sy oë, sy mond en of hy vriendelik is of nors. In die Hebreeuse idioom is iemand se gesig nie dit wat JY kan sien nie, maar dit wat die ANDER PERSOON na jou toe gedraai het – nie sy rug nie, maar sy gesig. ‘n Gesig behoort aan ‘n PERSOON, dis nie ‘n objek wat in jou gesigsveld gekom het nie.

Hoe kosbaar is dit nie vir ons dat Yahweh sy gesig of sy aangesig na ons toe gedraai het nie! Dat Hy van Noag gesê het dat Hy hom regverdig voor sy aangesig gevind het. En dat Hy vir Avraham op 99-jarige ouderdom, vier woorde gesê het wat Avraham se lewe in ‘ n totaal nuwe koers ingestuur het: WANDEL VOOR MY AANGESIG!

Dis met hierdie verstaan van YAHWEH SE AANGESIG dat ons later in die Skrif hoor dat Yahweh die lig van sy aangesig oor ‘n mens kan laat opkom (Ps 4) en vir jou versadiging van vreugde voor sy aangesig kan laat smaak (Ps 16). As jy so iets probeer verstaan deur aan ‘n fisiese gesig te dink, gaan die Skrif vir jou ‘n duister boek bly. Maar as jy dit lees vanuit die besef dat Yahweh sy gesig na jou toe gedraai het met die bedoeling om vir jou meer en meer van sy grootheid en sy guns te laat proe en geniet, inspireer dit jou, meer as enigiets anders, om Hom lief te hê, van harte te gehoorsaam, en die lig wat van Hom af uitstraal, met ander te deel.

As mense wat op Yahweh fokus, en nie op mensgemaakte idees nie, is dit voortdurend die versugting van ons harte: Laat my smeking tog voor u aangesig kom, o Yahweh (Ps 119) – laat dit soos reukwerk voor u aangesig staan (Ps 141). Ons het die vrymoedigheid om ons harte voor sy aangesig uit te stort (Ps 62). En wanneer ons die verlossing van ons eie aangesig voor SY AANGESIG beleef (soos dit in Psalm 42 en 43 beskryf word), dan verander ons smeking in lofgesange en jubeling – óók voor sy aangesig. Die regverdiges is hulle wat JUIG voor die aangesig van Elohiem (Ps 68) en NEERBUIG voor sy aangesig (Ps 86) en MAJESTEIT EN GROOTHEID voor sy aangesig beleef (Ps 96). Kom ons neem opnuut vandag die besluit om van die RUG VAN DIE GRIEKSE BUL af te klim en liewer na die afgesonderde berg van Yahweh toe op te klim. “Wie mag klim op die berg van Yahweh? En wie mag staan in sy afgesonderde plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. Hy sal seën wegdra van Yahweh en geregtigheid van die Elohiem van sy verlossing (Ps 24:3-5).

Views: 16

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *