DRAAI WEG VAN JOU EIE SKADE

alternate textOns het die afgelope paar weke gereeld by die aspek van DIE AANGESIG VAN YAHWEH stil gestaan. Dit het ‘n bietjie meer as ‘n maand gelede by ‘n nuwemaan byeenkoms begin toe ons deur Psalm 100 geïnspireer is en ‘n nuwe lied oor hierdie Psalm begin sing het. Een van die uitstaande verse van hierdie Psalm is vers 2: “Dien Yahweh met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel.” En tóé al het hierdie boodskap vir ons uitgestaan: Daar is nie ‘n groter motivering om bly te wees en lofsange te sing, as die wete dat jy jouself voor die aangesig van Yahweh bevind nie. Kort na hierdie nuwemaan byeenkoms, het ons weer ‘n slag na Psalm 100 gaan kyk en die tema was (weer eens): KOM VOOR SY AANGESIG MET GEJUBEL! Ons het ontdek dat die Hebreeuse woord vir aangesig in die MEERVOUD (plural) geskryf word (“paniem”), al dui dit net op één gesig – net soos “Elohiem” (Magtige Een), “Kedoshiem” (Afgesonderde Een), en “Adoniem” of “Adonai” (My Meester) in die meervoud geskryf word, al dui dit net op één Opperwese. Yahweh se aangesig, en die beskrywende name wat vir Hom gebruik word, verteenwoordig sy GROOTHEID, wat sonder grense en totaal sonder gelyke is. Sy grootheid is só onbeskryflik en sluit sóveel dimensies in, dat dit méér reg laat geskied aan die omvang van SY AANGESIG, en die impak wat SY AANGESIG op ‘n mens het, wanneer hierdie woord as ‘n meervoud, en nie as ‘n enkelvoud geskryf word nie. En toe ons verlede week gepraat het oor die negatiewe houvas wat die GRIEKSE DENKPATROON op ‘n mens se lewe kan hê, het ons wéér by die aspek van Yahweh se aangesig uitgekom. Binne die Griekse verstaan is ‘n mens se gesig of aangesig nie veel meer as die voorkant van jou kop en die deel van jou liggaam waaraan ander mense jou kan uitken nie. Maar die Hebreeuse en Skriftuurlike verstaan sluit baie meer in as dít. Binne die Skrif se verstaan is die groot vraag nie hoe lyk iemand se gesig nie. Nee, die eintlike vraag is: Is hierdie persoon se gesig na my toe gedraai, of is sy gesig weg gedraai van my af?

Die Hebreeuse woord vir “gesig” of “aangesig” kom 23 keer in Numerie 30 tot 36 voor, wat die twee Parashot, MATOT en MASEI verteenwoordig. Nege keer (uit die 23) verwys dit na YAHWEH SE AANGESIG. Voorbeelde hiervan is die volgende: Daar moet vir siele versoening gedoen word voor die aangesig van Yahweh (Num 31:50); mense moet voor die aangesig van Yahweh in herinnering gebring word (Num 31:54); die volk moet hulle wapens opneem voor die aangesig van Yahweh (Num 32:29); die volk moet hulle vyande gaan verslaan voor die aangesig van Yahweh (Num 32:20). Die oorblywende 14 keer dat die woord vir gesig of aangesig in hierdie klompie hoofstukke gebruik word, gaan oor die gesig of die aangesig van MENSE, nie van Yahweh nie. Hier is ‘n paar voorbeelde: Julle moet die vyand weg van julle aangesig verdryf (Num 33:52); julle moet die inwoners van die land weg van julle aangesig verdryf (Num 33:55); hy het voor die aangesig van die vergadering gestaan om geoordeel te word (Num 35:12); verteenwoordigers uit die stam van Menashe het voor die aangesig van Mosheh kom staan om ‘n belangrike saak met hom te bespreek (Num 36:1).

Wanneer die aangesig van Yahweh, en selfs die aangesig van mense, in die Skrif genoem word, is dit gewoonlik op ‘n tydstip wanneer daar ‘n BELANGRIKE SAAK was waaraan aandag geskenk moes word: Versoening wat gedoen moes word; voorbereidings wat vir oorlog getref moes word; vyande wat verslaan moes word; iemand wat verkeerd opgetree het en tot verantwoording geroep moes word; een van die stamme wat voel dat hulle veronreg is en wat aangehoor moes word. En dit kom sterk na vore, selfs net in hierdie klompie hoofstukke aan die einde van die boek van Numerie (Bemidbar). In die res van die Skrif word die patroon oor en oor bevestig. Dit is geen geringe saak om voor die aangesig van Yahweh, en ook voor die aangesig van ander mense soos ons, te lewe of te verskyn nie. Niemand van ons lewe ALLEEN op ‘n eiland of in ‘n grot nie. Al is dit nie ons erns om voor sy aangesig te lewe nie, is niks vir sy aangesig bedek nie. En al soek ons nie die aangesigte van die mense rondom ons op nie, kan ons nie vir altyd ons eie aangesig van mense af wegdraai nie. Ons kan nie lewe asof ander mense nie bestaan nie. Ons kan nie onsself van die aangesig van die aarde af VERWYDER nie. Yahweh het ons gemaak met sintuie en kwaliteite wat in die eerste plek vir INTERAKSIE met ander wesens bedoel is. En as ons gemaak is met die bedoeling om interaksie met ander wesens te hê, dan is ons, by implikasie, ook gemaak met die bedoeling om ander wesens op te soek en te respekteer en te help en lief te hê en te akkommodeer. Om ons AANGESIG na hulle te draai, nie die RUG op hulle te keer nie.

Daar is ’n aspek van die woord “aangesig” waarby ons nog nie stilgestaan het nie. Ons het gesien dat die volk soms hulle vyande weg van hulle aangesig moes verdryf, of dat Yahweh hulle vyande van hulle aangesig af, of van sý aangesig af, verdryf het. Dit kom voor in Numerie 30 tot 36, maar ook in die res van die Skrif. Voorbeelde hiervan is: “Hy sal jou vyande voor jou aangesig verjaag” (Deut 6:19); Hy sal jou red van die vyande voor jou aangesig (Deut 23:14); Ek het al jou vyande uitgeroei voor jou aangesig (1 Kron 17:8); U was vir my ‘n sterk toring in die aangesig van die vyand (Ps 61:3). Dit wat voor ‘n mens se aangesig is, is gewoonlik iets wat letterlik “IN YOUR FACE” is. Iets wat jy nie kan ignoreer nie. Iets wat jy nie kan wegstuur of weg-wens nie. Iets wat geweldig intens is en jou volle aandag en selfs jou hele mens-wees in beslag neem. Nou is die vraag: Is dit altyd PERSOONLIK, soos ‘n vyand of ‘n opponent of selfs ‘n vriend wat die lewe vir jou ondraaglik maak? Praat die Skrif nie soms ook van ONPERSOONLIKE goed wat voor jou aangesig kom nie, wat ook “in your face” is en wat ook jou totale mens-wees kan oorheers nie? Dis hierdie aspek waarby ons nog nie stilgestaan het nie, en die Skrif laat ons nie in die duister hieroor nie.

In Jer 4:1 sê Yahweh aan die volk dat hulle hul VERFOEISELS (“abominations”) voor sý (en voor hulle) aangesig moes verwyder. In Jer 32:31 sê Yahweh aan die volk dat hulle die werke van die stad BABEL voor sy (en voor hulle) aangesig moes verwyder. In Hosea 2:2 sê Hy aan die volk dat hulle hul HOERERY voor hulle aangesig moes verwyder. In beginsel, dus, leer die Skrif dat daar soms ook DINGE is wat ons voor ons aangesig moet verwyder. Want as ons dit NIE doen nie, bly dit altyd hier reg voor ons en neem dit ons totale lewe in beslag – soveel so, dat ons later nie meer die MENSE voor ons aangesig kan raaksien nie. En so mis ons die doel waarvoor Yahweh ons geskape het, naamlik, om in die aangesig van mense te lewe en mense voor ons eie aangesig toe te laat en te bedien en lief te hê en te seën. En uiteindelik mis ons ook die ander kant van die muntstuk: Om voor die aangesig van Yahweh te lewe en Hom volledig déél te maak van ons lewe – vóór ons aangesig en ook net doodgewoon vóór ons, op die pad wat ons moet loop.

Een van die dinge wat ek meen ons veral voor ons aangesig moet verwyder, is die verlammende tentakels van DEPRESSIE EN NEERSLAGTIGHEID. Ek wil nie ernstige depressie afmaak as iets wat ‘n mens soos ‘n paar druppels water van jou kan afskud nie. Daar is mense wat jare lank met depressie saamgeleef het en wat kan getuig hoe absoluut uitmergelend dit kan wees. Maar die realiteit is dat dit ons van die aangesig van Yahweh en van mense afsluit en ons, in die proses, al hoe verder wegdryf van die DOEL waarvoor Yahweh ons gemaak het. Dit is interessant dat depressie in die Skrif ook in terme van die woord “AANGESIG” beskryf word. In 1 Konings 21:4 word Agav se depressie só beskryf: Hy het sy aangesig omgedraai en geen brood geëet nie. In 2 Konings 20:2 word Hiskia se swaar gemoedstoestand tydens sy siekte met hierdie woorde beskryf: Toe draai hy sy aangesig na die muur, en hy het gebid tot Yahweh. Toe Daniël in sy benoudheid deur krampe oorval is en geen krag meer in hom oorgehad het nie, het hy sy aangesig na die grond gedraai, volgens Daniël 10:15. Waarom draai mense hulle aangesigte na die muur of na die grond of in ‘n ander rigting as hulle swaarmoedig of depressief is? Omdat daar, oor ‘n sekere tydsverloop, dinge en gebeure en emosies en gedagtes (soms ook: leuens oor hulleself), só ‘n prominente posisie voor hulle aangesig kom inneem het, dat hulle al hoe swaarder kry om Yahweh se woorde te hoor, of met Hom te praat. En net so swaar kry om normaal en spontaan met mense rondom hulle om te gaan. En nog swaarder kry om UIT TE REIK na mense, en op húlle behoeftes en húlle nood te fokus. En wat vir iemand in daardie bootjie die héél moeilikste is, is om só volkome van hulle eie nood en hulle eie seer en hulle eie gevoel van verlatenheid weg te kyk, dat hulle dit kan regkry om, ten spyte van hulleself, in Yahweh te kan roem en sy grootheid te besing.

Dit wat voor jou aangesig is, is dit wat jou lewe OORHEERS. As dit negatiewe gedagtes is, gaan hierdie gedagtes jou denke só in beslag neem, dat jy later nie eers meer jou hemelse Vader in jou gesigsveld het nie. Wat nog te sê, met gejubel voor sy aangesig kan kom, soos die skrywer van Psalm 100 ons oproep. Depressie kan VERNIETIGEND wees, maar dis nie onmoontlik om dit te oorwin nie. Die Skrif sê ons kan kies in watter rigting ons ons aangesig draai. En ons kan ook kies van watter dinge ons ons aangesig wegdraai. Ons kan dit wegdraai van leuens, verfoeisels en afgodediens. Maar ons kan dit ook wegdraai van negatiewe gedagtes en enige iets in hierdie lewe wat vir ons skade kan aandoen, en ons geloof kan kelder. Vir die een wat hom op hierdie plek bevind, sê die profeet Jesaja, “Soek Yahweh terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is.” Miskien het Y’shua hierdie woorde van Jesaja in gedagte gehad toe Hy die gelykenis van die onregverdige regter vertel het en in Luk 18 gesê het: “As selfs ‘n onregverdige regter aan mense kan goed doen, sal Yahweh dan nie reg doen en uitkoms gee aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al neem Hy soms langer as wat hulle gehoop het?” As ons die stap kan neem om ons aangesig weg te draai van ons eie skade, in die rigting van Yahweh se aangesig, kan die wonderwerk gebeur dat ons nou al reeds ‘n VOORSMAKIE kry van die realiteit wat in die laaste hoofstuk van Openbaring beskryf word: “En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees. En daar sal nie meer nag wees nie; en hulle sal nie meer lig uit ander bronne nodig hê nie, want Yahweh Elohiem sal hulle verlig!”

Views: 35

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *