DIE SKEPPER SE SKAAL

alternate textDie Skrif bepaal dat Pesag op die 14de dag van die eerste maand van die jaar moet plaasvind. En die eerste maand van die jaar moet daardie maand wees waarin die koue weer van die Winter in die Noordelike halfrond al só begin afneem het dat die eerstelinge van die garsoes begin ryp word en gepluk kan word. Die son speel dus ‘n groot rol om te verseker dat dit al warm genoeg is vir die gars om te kan ryp word. En die maan speel net so ‘n groot rol om te verseker dat die maand op die regte dag begin – die dag nadat die eerste skrefie van die nuwemaan in Israel gesien is. Maar soos ons verlede week duidelik gesien het, is daar alle aanduidings in die Skrif dat ons nie die sterre moet vergeet as ons wil uitvind oor die betekenis van maande en seisoene nie. Die LIGTE aan die lugruimte van die hemel dien as tekens van die vasgestelde tye, sê Gen 1:14. Net soos wat Yahweh die blare van ‘n wingerdstok en die vye van ‘n vyeboom as tekens kan gebruik waarmee hy met mense praat, net so kan Hy die sterre van die hemel gebruik, sê Jes 34:4. Yahweh self sal “wondertekens” gee aan die hemel en op die aarde, voordat sy groot en deurlugtige dag kom, staan daar in Joël 2:31. En boonop het ons, net soos die skrywers in die Skrif, die sterre en die hemelliggame nodig om Yahweh se werke beter te verstaan en sy grootheid beter te kan beskryf, soos wat dit op meesterlike wyse in Ps 104 beskryf word: “U het Uself omhul met die lig soos met ‘n kleed, U het die hemel uitgespan soos ‘n tentdoek.” In Sag 12:1 word verklaar dat Yahweh op twee belangrike maniere seker gemaak het dat mense sal kan hoor en verstaan wat Hy sê: Eerstens het Hy sy Gees in hulle binneste gegee en tweedens het Hy die hemel UITGESPREI en die aarde GEGRONDVES. Die twee woorde “uitsprei” en “grondves” het met twee verskillende aspekte van die skepping te make. Die woord “grondves” het die betekenis van vestig en vasmaak, en dui daarop dat daar ‘n aspek van die skepping is wat onveranderlik en verankerd is en wat vir óns help om sekerheid en stabiliteit hier op aarde te vind. Die woord “uitsprei”, aan die ander kant, dui op verandering en vermeerdering en groei en dit sê vir ons dat hierdie wêreld (en Yahweh se plan met ons) nie staties en onbeweeglik is nie en dat ons wakker moet wees om die tekens en klem verskuiwings te kan raaksien wat daar selfs in die skepping vir ons gegee word.

Net soos die aand aan die begin van die Huttefees is die aand van Pesag gewoonlik die aand van die VOLMAAN. Daarom staan daar in Ps 81:3: “Blaas die ramshoring op nuwemaan, en op volmaan vir ons feesdag.” Elke jaar, op die aand van Pesag, maak die volmaan sy verskyning bokant die horison en dan, vir ‘n gemiddelde periode van 12 ure lank, volg hierdie skouspelagtige (soms geelkleurige) volmaan sy reënboog-vormige roete deur die lugruim totdat dit weer agter die horison verdwyn, net om die volgende aand weer, so ‘n halfuur of wat later, bokant die horison sy verskyning te maak – ‘n bietjie minder vol en ‘n bietjie meer Suid as die vorige aand.

Die wentelbaan van die maan deur die lugruimte word in Engels “the ecliptic” genoem – dit is basies dieselfde baan wat deur die son en die planete ook gevolg word. En die voordeel daarvan om die maan se beweging in die donker deel van die aand en die nag te volg, is dat ‘n mens die veranderende posisie van die maan met betrekking tot die sterre en die konstellasies ook kan sien. Van die vroegste tye af het sterrekundiges die sterre van die lugruim in KONSTELLASIES verdeel, byna op dieselfde manier as wat die aarde in lande en kontinente verdeel word. Omdat die son en die maan en die planete (elkeen op hulle eie tyd) ‘n vaste roete deur die lugruim volg vandat hulle “opkom” totdat hulle “ondergaan”, beweeg hulle nie deur al 88 konstellasies nie, maar slegs deur 12 – die 12 konstellasies wat as die “Zodiac” of “Diereriem” bekend staan.

Dit is interessant dat NET EEN van die 12 Zodiac konstellasies NIE ‘n lewende wese verteenwoordig nie, en dit is Libra, die Skaal, wat nie sulke helder sterre soos sommige van die ander konstellasies vertoon nie, maar nogtans een is om deeglik van kennis te neem. Die Pesag volmaan maak elke jaar sy verskyning op ‘n ander plek op die horison, en gewoonlik ook in ‘n ander konstellasie as die vorige jaar se Pesag. Vanjaar se Pesag volmaan maak sy verskyning in die konstellasie van Libra, die Skaal, met sy twee helderste sterre “Zubeneschamali” en “Zubenelgenubi”, wat gewoonlik die twee weegbakke van die Skaal verteenwoordig – twee sterre waarvan een se naam na die “Noorde” verwys en die ander na die “Suide”. Daar is meer as 100 verse in die Skrif wat met weeg en gewig en skale te make het en hierdie komende Pesag is ‘n goeie tyd om op die Skepper se skaal te fokus en op die manier waarop Hy dinge en mense op hierdie skaal afweeg.

Die eerste ding wat ons van die Skepper se skaal kan sê, is dat dit dinge meet wat ons nie kan meet nie. Ons het verlede week van Job gepraat. Job het nagedink oor die mens se eie tekortkominge in kennis en wysheid en in sy verstaan van reg en verkeerd. Dis asof ons as mense gedurig dinge teenoor mekaar opweeg om te besluit wat is waar en wat is nie waar nie, of wat is belangrik en wat is nie belangrik nie of wat is reg en wat is nie reg nie. Maar Yahweh weeg op ‘n ANDER MANIER as ons. Job 28:25 sê Yahweh kan die gewig van die wind bepaal en die afmetings van al die waters op die aarde bereken! Wie van ons kan só meet en só weeg? As ons sukkel om te weeg en óp te weeg en te bepaal watter sake is gewigtig en watter is soos ‘n droë blaar in die wind, kom ons draai dan na ons Skepper toe en kyk mooi hoe Hy sy skaal gebruik. “Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig” (Jes 55:2). Deur hierdie woorde ernstig op te neem kan ons verseker dat ons nie ons lewens slyt met aktiwiteite wat uiteindelik geweeg en te lig bevind sal word nie.

Gepraat van iets of iemand wat geweeg word en te lig bevind word. Ps 62:9 sê mense wat hulle met nietigheid en leuens ophou, al tel hulle onder die “aansienlikes” van hierdie wêreld, moet hulle reg maak om in Yahweh se weegskaal geweeg te word. Uiteindelik is dit nie net die mens se gedagtes en woorde en dade wat geweeg word nie, maar ook die mens self. Ons eie skale is nie groot genoeg om ‘n hele mens te weeg nie, al dink ons partymaal ons het die reg om ander te weeg en te beoordeel, en sommer nog te VEROORDEEL ook! Maar Yahweh se skaal is groot genoeg daarvoor … en nog baie groter! Die afmetings van die Skaal konstellasie van Libra gee vir ‘n mens ‘n goeie idee van die dimensies van die soort skale waarmee ons hemelse Vader werk. Zubeneschamali is maar net een van die denkbeeldige bakke van die Skaal van Libra. Maar hierdie ster beweeg teen die astronomiese snelheid van 35.6 kilometer per sekonde (128 000 km/h)! Die massa van hierdie ster is 3.5 keer die massa van die son! Sy radius is 4.5 keer die radius van die son en sy temperatuur is 4.5 keer die temperatuur van die son. En net ingeval daar iemand is wat Zubeneschamali graag wil besoek: Dit sal jou 185 jaar neem om daar te kom as jy ‘n vuurpyl kan vind wat teen die spoed van lig deur die lugruim beweeg – dis net jammer dat die vinnigste ruimtetuie vandag meer as 20 000 keer stadiger is as die spoed van lig! As DIT die dimensies van ‘n gemiddelde ster in ons hemelruim is, dink aan die (letterlik) onbeskryflike majesteit van die Een wat elke ster afsonderlik met sy eie hande gevorm het! Geen wonder nie dat die Skrif verkies om die Hebreeuse woord “kavod” te gebruik om die majesteit en die grootheid van Yahweh mee te beskryf. Hierdie woord het met skale en gewigte te make. Dit beteken eintlik om “gewigtig” (Engels: “weighty”) te wees. Maar wanneer hierdie woord “kavod” gebruik word om Yahweh mee te beskryf, dan is die bedoeling eintlik: Daar is NIE ‘n skaal wat groot genoeg is om Hom mee te weeg nie. Al wat ons kan doen, as mense wat sy “kavod” (“voortreflikheid”) leer ken het, is om Hom te vereer en Hom met ons hele lewe te vertrou en in sy Seun te glo wat iets van sy voortreflikheid aan ons kom openbaar het.

Baie van ons het al die ervaring gehad dat daar ‘n mens oor jou pad kom met wie jy eenvoudig nie kan klaarkom nie. Later raak dit vir jou só ‘n doring in die vlees dat dit jou begin opvreet aan die binnekant en dat jy oor niks anders kan dink nie. Op die skaal van jou lewe is hierdie een, onuitge-sorteerde verhouding in die een bak en die res van jou verhoudinge in die ander bak, maar die bak met die één verhouding weeg vir jou verreweg die swaarste (omdat dit jou só gevange hou) en trek die skaal uit balans uit. Hoe bevrydend is dit nie om dan na Yahweh op te kyk en na sy eindelose ontferming en BARMHARTIGHEID en na Jes 40:15 te luister wat sê vir Hom is die nasies van die aarde “soos ‘n stoffie op die weegskaal” – nie omdat Hy NIE vir hulle omgee nie, maar omdat Hy soveel groter is as hulle en omdat Hy dit regkry om te bly fokus op die groter prentjie – ook wanneer ‘n mens, of selfs ‘n nasie, sy werke ontken en sy woorde totaal verwerp.

Daar is nog een soort skaal waarna ons kan kyk. En dit is die skaal waarop ons ons swaarkry en ons droefheid en diepste vorms van pyn in hierdie lewe probeer weeg. Meeste van ons is byna oorgretig om die dinge wat ons seergemaak het in een van die bakke van die skaal te laai. En ons is gewoonlik net so gretig om agterna sommer nog ander items by te voeg, soos wat daar meer en meer slegte goed met ons gebeur. Aan die een kant maak dit ons dilemma groter, maar aan die ander kant versterk dit die argument waarmee ons onsself probeer wysmaak dat die skaal van ons lewe ongebalanseerd is en dat daar baie meer sleg is wat oor ons pad kom, as wat daar goeie dinge is wat met ons gebeur. En in die proses vergeet ons sommige van die grootste waarhede van die Woord. In die proses trek ons geen voordeel uit die perspektief van Rom 8:18 nie: “Ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie OPWEEG teen die voortreflikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.” Ons vergeet skoon van van 2 Kor 4:17 (dieselfde perspektief – net ander woorde): “Ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige GEWIG van voortreflikheid.” Let op die twee woorde “opweeg” en “gewig”. Yahweh se skaal werk beslis anders as ons s’n, maar daar is geen rede waarom ons nie in hierdie opsig ons eie skale kan verander en begin weeg soos wat Hy weeg nie!

Views: 67

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *