Meeste van ons het al iets in die Skrif raak gelees wat ‘n mens laat wonder of dit wat jy so pas gelees het, nie ‘n fout is nie. Of daar nie dalk iets weggelaat of verander of verkeerd weergegee is nie. Want dit strook nie met hoe jy die res van die Skrif verstaan nie. Of dit weerspreek vir jou iets wat op ‘n ander plek in die Skrif staan. Daar kan minstens drie redes wees waarom mense soms vermoed dat daar fout is met ‘n vers. (1) Die vers pas nie in binne die raamwerk van hoe jy vir Yahweh verstaan (die breër konteks van die Skrif) nie; (2) Die vers pas nie in binne die raamwerk van sy onmiddellike konteks nie en (3) die vers pas nie in binne die raamwerk van die studie van die mees akkurate vertalings nie. Ek wil dadelik byvoeg dat ‘n besonderse groot persentasie van die totale Skrif (diep in die 90%) BAIE AKKURAAT weergegee en vertaal is (in die meeste vertalings) en dat ‘n mens nie in die slegte gewoonte moet kom om sekere verse links en regs as “slegte” of “verkeerde” vertalings te etiketteer nie. Al is die oorspronklike Hebreeuse en Griekse manuskripte van die Skrif (wat vandag beskikbaar is) in baie gevalle lank ná die werklike gebeure van die Skrif geskryf, is dit nog steeds verbasend betroubaar en daar is redelike konsensus, wêreldwyd, dat die boek wat bekend staan as “Die Bybel” een van die mees betroubare en mees gedetailleerde dokumente van die antieke tyd is. Ons weet byvoorbeeld vandag meer oor Y’shua en sy dissipels se doen en late as wat ons weet oor die doen en late van Julius Ceasar, een van die bekendste Romeinse leiers wat ooit gelewe het.
Ons gaan vandag kyk na drie voorbeelde in die Skrif, wat elkeen een van die drie moontlike redes verteenwoordig wat ons hierbo genoem het – drie moontlike redes waarom mense soms vermoed dat daar fout is met ‘n vers. Die eerste rede het te make met verse wat nie inpas binne die raamwerk van hoe ons in die algemeen vir Yahweh verstaan nie. Die eerste vers van vandag se Torah porsie, is vir my só ‘n vers. In Ex 10:1 lees ons onder meer: “Gaan na Farao toe, want Ek het sy hart verhard, ook die hart van sy dienaars …” Sommiges se eerste reaksie by die lees van só ‘n vers sal dalk wees: Is daar nie ‘n fout met hierdie vers nie? Hoe kan Yahweh iemand se hart verhard? Is dit nie ons self wat soms ons harte teen Hom verhard nie? Hoe kan die Almagtige iemand se hard verhard en hom dan straf as hy nie tot inkeer kom en sy hart weer oopmaak vir die werking van sy Gees nie? Hier moet ons egter iets verstaan van die tipiese Hebreeuse manier van dink en praat oor die Skepper. Vanuit ‘n Hebreeuse perspektief is die Skepper in absolute beheer van ons totale lewe, sonder dat dit ons eie keuses en besluite uitskakel of onnodig maak. Hy is die Een wat smart oor mense bring (Job 5:18) en tog bring mense ook smart oor hulleself (Eseg 12:19). Hy is die Een wat siek maak en gesond maak (Deut 32:39) en tog lê die verantwoordelikheid by die mens om na sy gesondheid om te sien (2 Kon 20:1-7). Hy is die een wat laat lewe en wat dood maak (1 Sam 2:6) en tog moet mens dinge doen om te kan bly lewe en te verseker dat Jy nie sterf nie (Amos 5:14).
Yahweh het Farao se hart verhard, maar vroeër in die boek het ons reeds gehoor dat Farao sy eie hart verhard het (Ex 7:13; Ex 8:15). Dis nie asof Farao hierdie regverdige man was wie se hart téén alle verwagting in, skielik voor almal se oë soos ‘n klip geword het nie. Hy het uit vrye wil gekies om NIE na Yahweh te luister nie. En boonop sê die Parashah (en die hele Skrif) vir ons duidelik dat Yahweh die hardheid van Farao se hart gebruik het om SY grootheid en sy mag en verlossing teenoor die Egiptenare en teenoor die Israeliete – en veral teenoor Farao self – te demonstreer. Ex 10:1 “… sodat Ek hierdie tekens van My onder hulle kan verrig.” Ex 9:16 “Om hierdie rede het Ek jou (Farao) nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig.” Rom 9:17 “Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde.” Die vers, Ex 10:1 mag dus vir ons na ‘n vers lyk wat nie in die Skrif hoort nie, maar daar is geen twyfel nie: daardie vers hóórt daar, een honderd persent, en dit speel ‘n groot rol om vir ons te laat verstaan hoe Yahweh ‘n negatiewe gebeurtenis (en ‘n verharde hart) kan gebruik om vir ons sy krag en sy guns te laat verstaan!
Kom om ons beweeg na die tweede moontlike rede waarom mense soms dink dat ‘n vers nie in die Skrif hoort nie: Wanneer die vers nie inpas in sy onmiddellike konteks nie. ‘n Vers wat ons in hierdie verband as voorbeeld kan gebruik, is Joh 6:4 waar ons die skynbaar onskuldige sinnetjie lees: Joh 6:4 “En die Pesag, die fees van die Yehudiem, was naby.” Die probleem is nie dat Pesag híér die fees van die Yehudiem genoem word en dat Lev 23 sê dis Yahweh se fees, nie die fees van die Yehudiem of die Jode nie. Ons weet dat die Nuwe Testament soms van die “feeste van die Yehudiem” praat omdat hulle verslae geskryf is teen die agtergrond van mense uit ander nasies en ander kulture wat ook hulle feeste gehad het en dat die breë publiek waarskynlik in hulle gewone gesprekke na die Skriftuurlike feeste as die feeste van die Yehudiem verwys het. Dis nie die groot probleem met Joh 6:4 nie. Die probleem is dat dit sê dat die Pesag NABY was. In Joh 2:13 word presies dieselfde ding, byna woordeliks, gesê: “En die Pesag van die Yehudiem was naby”, maar dán word dit opgevolg met die beskrywing van ‘n gebruik wat nog altyd bestaan het terwyl daar ‘n tempel in Jerusalem was: “… en Y’shua het opgegaan na Yerushalayiem.” As die Pesag naby is, word daar reg gemaak om na die fees toe te gaan – reg deur die hele Israel. Almal begin naarstiglik om voorbereidings te tref. Almal se dagprogramme en reisplanne en groot besluite word deur die naderende fees beïnvloed. Maar wat lees ons in Joh 6? Y’shua is by die See van Galilea, omtrent die verste wat jy moontlik van Jerusalem af kan wees. En Hy is besig om nog verder van Jerusalem af te beweeg. Daar is hoegenaamd geen aanduiding dat Hy op pad is of van plan is om die fees by te woon nie en die skare mense drom in hulle duisende om Hom saam. Niemand is skynbaar bewus daarvan dat die Pesag naby is nie. Niemand is met voorbereidings besig nie. En dieselfde wonderwerk van die vermeerdering van die vyf brode en die twee vissies (wat in al drie die ander Evangelies beskryf word en wat dáár volgens alle aanduidings rondom die sesde maand plaasvind) word deur Johannes hier in Joh 6 beskryf as ‘n wonderwerk wat tydens hierdie besoek plaasgevind het. Dit klink doodeenvoudig of die woorde in Joh 6:4 oor die naderende Pesag ‘n foutiewe herhaling van die woorde van Joh 2:13 is – op die verkeerde plek en op die verkeerde tyd – iets wat maklik in die hele proses van die oordrag en die verspreiding van die aanvanklike boodskap van Johannes kon plaasgevind het. As ‘n mens hierdie verwysing na ‘n Pesag in Joh 6 weglaat, en aanvaar dat Y’shua rondom die sesde maand (en die sesde hoofstuk van Johannes!) by die See van Galilea was, pas dit in by die beskrywing en opeenvolging van 5 ander feeste wat in Johannes genoem word: Die Pesag in Joh 2:13; die “onbekende fees” in Joh 5:1 (waarskynlik Shavuot, met Y’shua wat nie ‘n oomblik huiwer om dit by te woon nie); die Huttefees in Joh 7, die fees van Toewyding (Chanukah) in Joh 10:22 en die (volgende) Pesag in Joh 13 toe Hy ook sy dissipels se voete gewas het en self soos ‘n Pesaglam ter slagting gebring is. Dis moeilik om só iets met absolute sekerheid te sê, maar die vers, Joh 6:4, moes waarskynlik nooit verskyn het waar dit vandag in al ons Bybels staan nie.
Die derde rede waarom mense soms dink dat ‘n vers nie in die Skrif pas nie, is wanneer hulle kers opsteek by die bevindinge van kundiges wat ‘n studie gemaak het van die oorspronklike manuskripte wat as basis vir die vertaling van die Skrif gebruik word. Die bekende 1 Joh 5:7 is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Die sogenaamde “drie-eenheids-gedeelte” van hierdie vers, wat vir eeue lank as een van die grootste “bewyse” van die Drie-eenheidsleer gebruik en aangehaal is, word nie meer vandag in enige nuwe en goeie vertaling gevind nie, omdat kenners onomwonde vasgestel het dat dit heelwat later eers in die Skrif “ingesmokkel” is, om meer kredietwaardigheid aan die leer van die Drie-eenheid te gee. Ons praat egter nie vandag oor die Drie-eenheid nie. Die vers wat ek in gedagte het, is Hand 21:25 wat op die oomblik só vertaal is in Woord en Getuienis: “Wat egter die gelowiges uit die heidene betref, het ons geskryf en besluit dat hulle niks van hierdie aard moet onderhou nie, maar hulle net moet onthou van afgodsoffers en bloed en van wat verwurg is, en van hoerery.” Die probleem lê in die woorde “ons het besluit dat hulle niks van hierdie aard moet onderhou nie.” En “hierdie aard” verwys na die algemene onderhouding van die Torah. Hulle hoef dus niks anders van die Torah te onderhou nie. (Hulle mag dus maar steel en moor en leuens versprei!). Maar in die afgelope dekade of drie het kenners onomwonde vasgestel dat daardie spesifieke gedeelte, altesaam ses woorde in Grieks, nie deel was van die oudste Griekse manuskripte nie en daarom ook nie deel van die besluit wat die vroeë apostels geneem het nie. Ek het hierdie week met ‘n groot skok besef dat die vertaling van Woord en Getuienis hier ‘n fout gemaak het, wat NOOIT met enige herdruk reggestel is nie! Die besluit waarmee die leiers in Hand 21 na Shaúl toe gekom het, sluit honderd persent aan by die besluit van die groot vergadering van Hand 15 waar daar uitgestippel is dat daar nie (veral nie in die beginstadium nie) ‘n ondraaglike juk van Torah-onderhouding op die skouers van nie-Joodse gelowiges geplaas moet word nie. Daar behoort sekere basiese riglyne neergelê te word, maar die nuwe nie-Joodse gelowiges behoort met grasie en verdraagsaamheid in die gemeentes ontvang te word, waar hulle elke Shabbat onder die geklank van die Torah sal wees. Hand 21:25 behoort na regte só vertaal te word: “Wat egter die gelowiges uit die heidene betref, het ons geskryf en besluit dat hulle moet wegbly van afgodsoffers en bloed en (diere) wat verwurg is, en van hoerery.”
Die Woord wat aan ons oorgelewer is, is ‘n betroubare woord, maar die onus rus op ons om met wysheid en met ‘n oop gemoed daarmee om te gaan, maar ook met ‘n simpatieke oor en ‘n gees van ondersteuning teenoor ‘n broer of ‘n suster wat totaal oorweldig is deur die ontdekking dat Y’shua nie ‘n streep deur die Torah kom trek het soos wat ons vroeëre leermeesters vir ons probeer wysmaak het nie.
Views: 51