Die leesstuk in Devariem of Deuteronomium wat bekend staan as “Re’eh” (Kyk!) is die langste leesstuk in die boek van Devariem en Deut 11:26 – 16:17 bevat ongeveer 2000 Hebreeuse woorde. Die woord “Devariem” beteken juis “woorde”. Volgens woordeboeke kan “devariem” soms ook ‘n negatiewe betekenis hê soos “nuttelose woorde” en “leë argumente” en miskien is vandag se leesstuk, met sy baie woorde, vir ons ‘n tydige waarskuwing om seker te maak dat, terwyl ons die ondubbelsinnige woorde en die duidelike boodskap van die Skrif hoor, ons dit nie van tyd tot tyd subtiel eenkant toe skuif en begin om op nuttelose woorde en leë argumente te fokus nie. Daar is deesdae ‘n baie opvallende neiging om juis dit te doen – veral onder gelowiges wat ‘n nuwe waardering en liefde vir die Torah ontwikkel het. In plaas daarvan om te fokus op die temas wat duidelik in die Torah na vore kom, en wat onder meer ook in die boodskap van die profete en die leer van Y’shua na vore kom, verkies sommiges om te fokus op omstrede en wasige vraagstukke soos “Wanneer het die skepping plaas gevind?”, “Wanneer het die plat aarde rond geword?”, “Wanneer begin ‘n dag of ’n maand of ‘n jaar nou eintlik?” en “Wanneer gaan die wêreld eindig?”
Nuttelose argumente is nie ‘n nuwe verskynsel in die arena van geloof nie. In die Middeleeue was daar die bekende vraagstuk wat ure se debat ontketen het: “How many angels can dance on a needle’s point?” Die oorsprong van hierdie debat was die siening van sommiges dat omdat engele nie gewone, menslike liggame gehad het nie, twee (of self ‘n miljoen) engele tegelykertyd op dieselfde plek kon wees. Andere het hierdie soort argumente ten sterkste afgewys en met woordspeling aangedui dat die hele debat rondom ‘n “needle’s point” totaal en al ‘n “needless point” was! Geen wonder nie dat die antieke Romeine na hierdie soort argumente verwys het as “argumentum ad absurdum”! Dis net ‘n dooie spul argumente wat grens aan die absurde!
Ek het afgekom op ‘n mooi storie wat hierdie punt (van nuttelose argumente en ‘n “needless point”) treffend illustreer. Dit kom uit die boek “Joys of Jewish Humor” deur Henry Spalding en ek haal dit net so aan uit die Engels: “For twenty long years the wisest of the thinkers of a certain town had been absorbed in a philosophical question which no one had been able to satisfactorily answer: From which end does a man grow; from his head up or from his feet down? One day the dean of the Council of Seven called a hurried meeting. ‘I have solved the problem,’ he announced. ‘When I was a boy my father bought me a pair of pants. Now I recall quite vividly that the first time I put them on they dragged on the floor. But a few years later they were above my ankles. This led me to believe that a man grows from his feet down. That early recollection provided me with an answer—but an incorrect one,’ the sage continued. ‘In fact it was not until yesterday that the truth was revealed to me. You will recall that a company of soldiers marched through our town yesterday morning. Well, I examined them carefully and I noticed that their feet were all on one level, but some heads were higher than others, some lower. So we finally have our answer,’ he concluded as the Council members cheered madly, ‘A man grows from the head up, and not from the feet down.’”
Dit is opvallend dat onder die 2000 woorde van PARASHAH RE’EH daar nie ‘n enkele beduidenis van nuttelose argumente en “needless points” is nie. Die punte wat gemaak word en die sake wat aangeraak word, is duidelik, eenvoudig, verstaanbaar en op die man af. As jy Yahweh se opdragte onderhou, sal jy sy seën beleef. As jy sy opdragte verontagsaam, sal sy vloeke jou tref. Offers aan Yahweh mag alleenlik gebring word op die plek wat Yahweh aanwys. Sogenaamde profete wat enige vorm van afgodediens bevorder of goedpraat, moet doodgemaak word. Daar is twee soorte diere – rein en onrein – en hulle wat aan Yahweh verbind is, word verbied om onrein diere as voedsel te eet. Tiendes is in Yahweh se oë belangrik – soms moet ‘n tiende van die opbrengs na die plek van aanbidding gebring word, soms moet dit voor Yahweh se aangesig geëet word en soms moet dit aan die armes gegee word. En op die drie groot feeste van elke jaar moet almal seker maak dat hulle voor Yahweh verskyn. En hierdie woord “verskyn” (“ra’ah”) sluit aan by die woord reg aan die begin van die Parashah (“re’eh” of “kyk”).
Ons moet “mooi kyk” en seker maak dat ons nie die woorde wat na ons toe kom, verkeerd hoor of deurmekaar skommel of besoedel met ons eie idees en “needless points” nie. Dis waarom Yahweh vir sy volk WOORDE gee, maar dat Hy soms byvoeg dat hulle moet KYK (nie LUISTER nie). Normaalweg dink ons nie aan woorde as iets waarna daar GEKYK moet word nie. Natuurlik MOET ons luister na die woorde wat Hy uitspreek, maar die idee agter die KYK is dat dit nie abstrakte en onverstaanbare en dubbelsinnige woorde is nie. Daar is altyd iets wat ‘n mens kan sien, iets konkreet, iets sigbaar en tasbaar en doenbaar. As Hy oor seën praat, dan wys Hy vir sy volk die berg Gerisim en stuur ‘n deel van hulle om op die Gerisim te gaan staan. As Hy oor vloeke praat, doen Hy dieselfde met die berg Ebal. As hy oor onreinheid praat, dan word dit gekoppel aan iets wat jy kan sien of kan eet (of NIE behoort te eet nie). En as Hy oor VERSKYN VOOR MY AANGESIG praat, dan roep Hy hulle op om sy feeste te hou – op ‘n sekere plek, op ‘n sekere tyd en op ‘n sekere manier.
Dus moet ons mooi kyk na dit wat Yahweh sê en seker maak dat ons nie die tasbare en sigbare aspek daarvan verloor en dit verwar met abstrakte idees en allerlei moderne en media-gedrewe vraagstukke nie. Maar ons moenie net SELF kyk nie. Ons moet voor Yahweh verskyn, sodat Hy NA ONS kan kyk. Is dit nie verstommend dat die Almagtige Elohiem, die Skepper van hemel en aarde, na sy handewerk wil kyk nie? Eintlik is dit nie so verstommend nie. Voel ons nie maar dieselfde oor iets kosbaars wat ons met ons eie hande gemaak het nie? Ons wil daarna kyk. Ons wil dit geniet. Ons wil daaroor praat. Ons wil tyd daarmee spandeer. Want dis ons s’n. Yahweh wil hê dat ons vir Hom sigbaar en deursigtig moet wees. Voor Hom moet verskyn by die feeste, maar ook oop en bloot voor Hom moet lewe, sonder om dinge in ons lewe in te laat wat die deursigtigheid laat verdof en ‘n wasigheid van skaamte en vrees by ons laat ontstaan. Die hunkering van elke gelowige behoort te wees: “Soos ‘n bokooi wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o Elohiem! My siel dors na Elohiem … wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van Elohiem verskyn?”
Daar is ‘n byna verstommende SIMMETRIE in die samestelling van die parashah van hierdie week. Die drie woorde AANGESIG (“paniem”), SIGBAARHEID (“ra’ah”) en SEËN (“beragah”) kom in die eerste sin van die Parashah voor, en dan weer in die laaste sin van die Parashah:
EERSTE SIN: Deu 11:26-28 Kyk (“ra’ah”), ek gee voor julle aangesig (“paniem”), vandag, seën (“beragah”) en vloek – die seën as julle luister na die gebooie van Yahweh julle Elohiem wat ek julle vandag beveel; en die vloek as julle nie luister na die gebooie van Yahweh julle Elohiem nie, maar afwyk van die weg wat ek julle vandag beveel, om agter ander magtiges aan te loop wat julle nie geken het nie.
LAASTE SIN: Deu 16:16-17 Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig (“paniem”) van Yahweh jou Elohiem verskyn (“ra’ah”) op die plek wat Hy sal uitkies; op die Fees van die Ongesuurde Brode en op die fees van die Weke en op die Huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van Yahweh verskyn nie; elkeen ooreenkomstig die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën (“beragah”) van Yahweh jou Elohiem wat Hy jou gegee het.
Ons het verlede week heelwat gesê oor Yahweh se ontferming en goedertierenheid (GESED). Om GESED te ontvang en te geniet, is om die SEËN (“beragah”) van Yahweh meer en meer te ontdek en die onbeskryflike voorreg te leer ken van wat dit beteken om elke dag vanuit sy gawes te kan leef. Volgens die Skrif se verstaan is ‘n mens GESEËND as Yahweh sy aangesig (PANIEM) na jou toe draai. En jy is VERVLOEK as Hy sy aangesig van jou af wegdraai. In Hebreeus is daar ‘n verband tussen die woorde “draai” en “gesig” en “voor”. Al drie woorde kom van dieselfde stamwoord as PANIEM. En wat besonders interessant is, is dat PANIEM ‘n woord in die meervoud is, nie enkelvoud nie. Net soos wat Elohiem ‘n woord in die meervoud is, is sy aangesig en sy teenwoordigheid ook MEERVOUD, nie enkelvoud nie. Waarom? Omdat die “aangesig” van Yahweh nie net sy gesig is nie. Dit is sy hele wese, of minstens alles wat moontlik is om van Hom te leer ken. Sy guns, sy geregtigheid, sy afgesonderdheid, sy getrouheid, sy onverbreekbare lojaliteit, sy lankmoedigheid en geduld, sy bereidheid om te vergewe, sy vermoë om te verlos – maak nie saak hoe groot of hoe klein die verlossing is wat benodig word nie. En wanneer ek VOOR Yahweh verskyn, is dit ook met my PANIEM (meervoud) – met alles wat in my lewe aangaan, met elke deeltjie van my bestaan, selfs met daardie geheime wat niemand anders van my weet nie. As jy VOOR Hom staan, kan jy nie iets VOOR-gee wat jy nie is nie. Jy kan nie met VOORwerpe van veragting (Eseg 7:19), soos nuttelose argumente wat Hy nie self aanmoedig, voor Hom verskyn nie. Dis nie hoe Hy aan jou verskyn het nie. Nee, Hy het aan jou verskyn met die volle spektrum van Wie Hy is – duidelik en ondubbelsinnig en sigbaar – ‘n spektrum wat soveel aspekte insluit dat dit jou ‘n leeftyd sal neem om alles ten volle déél van jou lewe te maak. Daar is nie nog tyd en plek vir eindelose argumente en “needless points” wat die AANGESIG en die DEURSIGTIGHEID en die SEËN van Yahweh nie waardig is nie. Die deursigtigheid van die Een wat Hom aan ons openbaar het, is aansteeklik. Dis eintlik net logies dat ons lewens al hoe meer deursigtig sal word, hoe langer ons Hom ken!
Views: 14