HY MAAK RUIMTE VIR ONS

Daar is ‘n gebeurtenis wat in Yietsgak (Isak) se lewe plaasgevind het wat opvallende ooreenkomste toon met ‘n soortgelyke gebeurtenis wat in sy pa, Avraham, se lewe plaasgevind het. Net soos wat tevore met sy pa gebeur het, word Yietsgak deur hongersnood geforseer om na Gherar, in die land van die Filistyne, te trek. En in Gherar is hy bang dat sy lewe in gevaar mag wees omdat hy met ‘n mooi vrou getroud is, en gee hy voor dat Rivkah (Rebekka) sy suster is, en nie sy vrou nie – net soos wat Avraham tevore, op dieselfde plek, met dieselfde “slim plan” vorendag gekom het en Sarah as sy suster aan die inwoners van Gherar bekend gestel het. Dis kon net sowel ‘n dramatiese video gewees het wat met die druk van ‘n knoppie, twee keer na mekaar gespeel word! Die karakters het verander, maar die plot is dieselfde. En boonop is die uitkoms, of die gevolg, ook dieselfde: Die koning van die Filistyne, Avimeleg, belowe aan albei dat hy hulle sal beskerm en dat hulle welkom is in sy land, maar hierdie versekering hou nie lank nie en beide Avraham en Yietsgak, het goeie rede gehad om (afsonderlik van mekaar) nie lank in Gherar te bly nie, maar liewer in ander areas te gaan vestig. Die interessante is dat Avimeleg later vir Yietsgak byna gesmeek het om sy land te verlaat en vir hom gesê het: “Trek weg van ons, want jy het vir ons veels te magtig geword” (Gen 26:16). ‘n Hele paar honderd jaar later sou die Farao van Egipte byna dieselfde woorde uiter: “Kyk, die volk van die kinders van Yiesraél is meer en magtiger as ons. Kom, laat ons ‘n slim plan teen hulle beraam, sodat hulle nie kan vermeerder nie …” (Ex 1:9-10).

Daar is ‘n universele tendens om groepe mense wat as “minderhede” bestempel kan word (omdat hulle as min of swak of minderwaardig bestempel word) as ‘n groot bedreiging te beskou, veral as daar die geringste aanduidings is dat hulle sterker en meer invloedryk word. In Amy Chua se boek, World on Fire, word die stelling gemaak dat enige suksesvolle minderheid wat die openbare oog vang, ‘n soort jaloesie opwek wat die potensiaal het om oor te gaan in haat en selfs geweld. Dit is wat met Yietsgak en sy uitgebreide huishouding gebeur het: Hy was suksesvol (Gen 26:13-14 “En die man het groot geword en voortdurend groter geword totdat hy baie groot was: hy het troppe kleinvee en beeste gehad en baie bediendes, sodat die Filistyne hom beny het”); sy huishouding was ‘n minderheid (in vergelyking met die res van die Filistyne in daardie area) en hy het beslis die openbare oog gevang (hy was anders as die Filistyne, ‘n vreemdeling, iemand met andersoortige waardes en ‘n ander geloof). Dieselfde het met die Israeliete gebeur nadat hulle ‘n ruk lank in Egipte was. Hulle andersheid en hulle byna vreemde sterkte het ‘n bedreiging vir Farao geword en die feit dat hulle ‘n minderheid was, was nie meer genoeg om hom gerus oor hulle te laat voel nie.

‘n Mens kan nie anders as om die verskynsel van anti-Semitisme deur die eeue heen in dieselfde lig te sien nie. Joodse gemeenskappe, waar hulle ook al mag wees, bly voortdurend in die kollig. Dit rym een honderd persent met Amy Chua se suksesvolle minderheid wat maar net altyd die openbare oog vang en wat nooit uitgelos word nie. ‘n Skynbaar onbenullige groep mense teenoor wie daar kroniese jaloesie is – jaloesie wat so dikwels in haat en selfs geweld oorgaan. Die voorval by ‘n sinagoge in Pittsburg twee weke gelede toe 11 mense doodgeskiet is en 6 beseer deur ‘n skynbaar waansinnige man wat alle Jode met ‘n passie haat, is maar net een voorbeeld hiervan. Net ‘n paar dae voor hierdie tragedie in Amerika het Louis Farrakhan, die bekende godsdienstige leier van “The Nation of Islam”, in die openbaar verklaar, en selfs ‘n tweet uitgestuur met die woorde: “I am not an anti-Semite. I am an anti-termite”, met die veronderstelling dat Jode insekte is en eenvoudig uitgeroei moet word.

Nadat Yietsgak gehoor het dat hy en sy huis “te magtig” geword het en na ander areas getrek het, het hy nog steeds teëspoed gekry. Sommige van die putte wat hy of sy pa gegrawe het, is deur die Filistyne toegegooi. Soms het die plaaslike inwoners gesê dis húlle water – Yietsgak het geen reg om putte daar te grawe nie. Soms is daar na ander redes gesoek om onenigheid en onvrede rondom Yietsgak se putgrawery te veroorsaak. Totdat Yietsgak by ‘n plek gekom het waar niemand gekla of gemurmureer het en hy die plek Regovot (Rehoboth) genoem het en verduidelik het waarom hy hierdie naam gekies het: Gen 26:22 “Nou het Yahweh vir ons ruimte gemaak en kan ons vrugbaar wees in die land” (“regovot” is afgelei van die woord “ragav” wat beteken: “om ruimte te maak of te verbreed”).

Dit is heel moontlik dat Yietsgak self op daardie stadium nie besef het hoeveel ruimte Yahweh werklik vir hom en sy nageslag sou gee en sou maak nie. Vierhonderd en vyftig jaar later kom daar ‘n sekere vrou met die naam “Ragav” op die toneel toe Jerigo se mure wonderbaarlik onder die kragtige hand van Yahweh intuimel. Haar naam herinner onmiskenbaar aan die woorde van Yietsgak: “Nou het Yahweh vir ons ruimte gemaak en kan ons vrugbaar wees in die land”. Maar wie is hierdie Ragav? Die Skrif onthul dat sy die moeder was van Boás, wat later met Rut getrou het. Boás was Oved se pa, Yieshai se oupa en Dawied se oupagrootjie en so gebeur dit dat Ragav, ‘n inwoner van Jerigo, ‘n voorouer in die direkte voorgeslag van die Messias word. Die beloftes in die Tanag (Ou Verbond) dat Yahweh sy volk se grondgebied sou verbreed (“ragav”) het almal met die koms van die Messias te make. ‘n Teksgedeelte wat baie sterk hiermee verband hou, is Jes 54:2-3 “Maak die plek van jou tent wyd (“ragav”), en laat hulle die doeke van jou tentwonings oopspan. Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in. Want jy sal regs en links uitbreek, en jou nageslag sal nasies in besit neem en verwoeste stede bevolk.” Yahweh se plan met sy volk, was dat daar ruimte gemaak sou word en dat die grense verbreed sou word, in die sin van sy talle beloftes aan Avraham: “Ek sal jou ‘n groot nasie maak” (Gen 12:2); “In jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen 12:3); “Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde” (Gen 13:16); “Tel die sterre as jy hulle kan tel … so sal jou nageslag wees” (Gen 15:5); “Ek maak jou ‘n vader van ‘n groot aantal nasies” (Gen 17:5); “Konings van volke sal uit haar (Sarah) voortkom” (Gen 17:16); Ek sal jou nageslag oorvloediglik vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is” (Gen 22:17), ensovoorts.

As gevolg van die uitwerking van die beginsel van “Regovot” het ek en jy óns deel gekry aan die verbond en die beloftes wat teenoor Avraham gemaak is. Die apostel Shaúl spel dit vir ons uit in duidelike terme: “In daardie tyd (voordat julle tot geloof in die Messias gekom het) was julle sonder die Messias, vervreemd van die burgerskap van Yiesraél en vreemdelinge met betrekking tot die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder Elohiem in die wêreld. Maar nou in die Messias Y’shua het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van die Messias … so is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die afgesonderdes en huisgenote van Elohiem, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Y’shua die Messias self die hoeksteen is” (Efes 2:12-13 en 19-20).

Die “ruimte maak” van Regovot is nie die soort “ruimte maak” wat soms in kerke verkondig word nie. Dis nie ‘n ruimte maak in die sin van “verbreed die grense van die Woord of die grense van die Torah” nie. Só ‘n siening hou nie rekening met Ps 119:32 (“Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim – ragav – my hart”) en Ps 119:96 nie (“Aan alle volmaaktheid het ek ‘n einde gesien, maar u gebod is baie wyd – ragav). Die ruimte maak van Regovot is die werk van Yahweh self: Hy maak vir ons ruimte; Hy gee vir ons moed wanneer alles verkeerd loop. Hy laat vir ons hoop deurbreek wanneer dinge rondom ons totaal wasig en uitsigloos word. Hy laat ons asem skep wanneer dit vir ons voel of die besoedeling in hierdie wêreld vir ons die een asma-aanval na die ander aanbring. Tyd en ruimte is in sy hande en in sy hande alleen. Wanneer die hele wêreld teen Yahweh se mense en sy gunsgenote draai en konsepte soos anti-semities, anti-messias, anti-messiaans en anti-torah aan die orde van die dag is, is Yahweh daar om vir hulle wat op Hom vertrou, spasie te maak waar daar voorheen geen spasie was nie. Dit het Hy by uitstek gedoen deur sy Seun na hierdie wêreld toe te stuur. Omdat Yahweh ruimte kan skep waar daar voorheen geen ruimte was nie, kan hy ruimte in ons harte maak sodat die Messias in die geloof in ons harte kan woon. Wat gebeur as die Messias in ons harte woon? Efes 3:17-19 beskryf dit op onoortreflike wyse: “Sodat die Messias deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die afgesonderdes ten volle te begryp wat die breedte (ruimte / “ragav”) en lengte en diepte en hoogte is en die liefde van die Messias kan ken wat (alle) kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van Elohiem.”

Views: 29

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *