Dit is interessant dat die Vierde Gebod (oor die onderhouding van die Shabbat) die enigste van die Tien is wat gekombineer word met die opdrag om te onthou, maar dat dit juis die één gebod is wat oor die eeue heen die meeste deur mense vergeet en verwaarloos is. Hou in gedagte dat hierdie Vierde Gebod deel is van die tien “Woorde” wat in Exodus 20 en Deuteronomium 5 beskryf word as die 10 opdragte wat Yahweh, die Almagtige, met sy eie vinger op 2 kliptafels geskryf het. Terwyl hierdie Tien Gebooie aan die volk voorgehou is, het daar donderweer en blitse en vuur en rook en, baie betekenisvol, die geluid van ʼn ramshoring uit die berg Sinai gekom en die hele volk (van ver meer as ʼn miljoen mense) het gebewe en op ʼn afstand gaan staan uit vrees en ontsag vir wat daar gebeur het! Dit laat ʼn mens besef dat wanneer die ramshoring of “shofar” tydens ons byeenkomste vandag nog geblaas word, is dit onder meer om vir ons op te roep om hierdie fenomenale gebeurtenis wat omtrent 3500 jaar gelede by die berg Sinai plaasgevind het, in herinnering te roep, en veral nie die Vierde Gebod, die gebod oor die Shabbat of die Sewende Dag, te vergeet nie.
Om die een of ander rede is daar by baie mense ʼn groot weerstand teen die Vierde Gebod. Min mense vind fout met die ander nege Gebooie. Daar is ʼn breë konsensus dat moord en egbreuk pleeg en steel en lieg en disrespek teenoor jou ouers en afgodediens vir alle groepe en kulture verkeerd is. Maar wanneer dit by die Vierde Gebod kom, is dit asof baie mense in hulle spore vassteek. Skielik word daar nou ʼn ander beginsel van uitleg en vertolking aangewend. Maak nie saak dat die Skrif die vierde gebod op presies dieselfde manier hanteer, en op presies dieselfde manier aan ons voorhou, as die ander nege nie. Meeste mense wat die Skrif vandag lees, is skepties, en selfs agterdogtig, oor die Vierde Gebod. Die ander nege is universeel, sê hulle, maar die Vierde Gebod is uniek en eksklusief net vir die Jode bedoel. Hierdie tendens om die vierde gebod uit te sny of te diskrediteer is só inherent déél van die tipiese verstaan van die Tien Gebooie dat sommige mense nie eens bewus is daarvan dat wanneer die Skrif van die sewende dag praat, dit in werklikheid van die dag praat wat ons as “Saterdag” ken, en nie die dag wat ons vandag “Sondag” noem nie.
Dis nie so moeilik om na te vors hoe dit gebeur het dat daar soveel verwarring rondom die Vierde Gebod is nie. In die tyd van die Romeinse keisers en die interaksie tussen die Roomse kerk en die Romeinse ryk in die eerste paar eeue ná die dood en opstanding van die Messias, was daar ʼn duidelike en goed gedokumenteerde poging om alles wat as “tipies Joods” gesien is, in diskrediet te bring en uit die kerk te verwyder. In die geval van die Vierde Gebod, was dit nie die Skrif self wat uiteindelik die deurslag gegee het nie, maar die besluite wat invloedryke leiers en kerkvergaderings oor die Skrif geneem het. Die bekende Konstantyn, wat homself as hoof van die Katolieke kerk aangestel het, het in die jaar 321 ʼn dekreet uitgebring wat onder meer die volgende gesê het: “On the venerable day of the sun (that is: Sunday) let the magistrate and people residing in cities rest, and let all workshops be closed …”. Die Katolieke kerk het op hierdie vroeë stadium nie gehuiwer om die Skrif “buite orde te reël” nie (Engels: “overrule”) en in 338 n.M. het die bekende Eusebius, namens die kerk, verklaar: “All things whatsoever that was the duty to do on the Sabbath we have transferred to the Lord’s Day as more appropriately belonging to it.” Selfs in die latere geskiedenis van die kerk, word hierdie patroon oor en oor herhaal, soos in die volgende bekende kerklike uitsprake gesien kan word: “Christians must not judaize by resting on the Sabbath, but must work on that day, rather honouring the Lord’s Day; and, if they can, resting then as Christians” (Sinode van Laodisea, 363 n.M.); “The Sabbath, the most glorious day in the law, has been changed into the Lord’s day. These and other similar matters have not ceased by virtue of Christ’s teaching (for He says that He has come to fulfill the law, not to destroy it), but they have been changed by the authority of the Church.” (Aartsbiskop van Reggio, Sinode van Trent, 1562). Selfs die reformasie, onder leiding van groot name soos Martin Luther en Johannes Calvyn, en met bekende slagspreuke soos “Sola Scriptura” (“Die Skrif alleen”) waarmee daar gepoog is om met die foute van die Roomse kerk te breek, kon nie daarin slaag om die Vierde Gebod weer tot sy regmatige posisie te herstel en die Dag van die Shabbat te “onthou” soos dit uitdruklik in die Vierde Gebod geleer word nie.
Maar het die Messias dan nie die betekenis van die Shabbat op die Sondag kom oordra nie? Of is dit nie vanselfsprekend dat sy volgelinge, ná sy opstanding op die eerste dag van die week, die Sondag soos ʼn Shabbat sou inruim nie? Nee, dis nie vanselfsprekend nie. En nee, die Skrif rep nie ʼn enkele woord oor só ʼn verskuiwing nie en nee, Y’shua self het nooit een enkele keer die vereistes van die Torah oor die Shabbat oortree of verbreek nie, al het talle van sy tydgenote probeer om Hom juis hiervan te beskuldig. Om mee te begin, dis totaal onversoenbaar met die karakter van die Een wat die Tien Gebooie gegee het, om terug te gaan op sy woord en later te verklaar dat twee of drie of selfs net een van hierdie gebooie nou nie meer van krag is nie of effens gewysig word. Veral nie as die grootste beweegrede vir die afsondering van daardie dag, die feit is dat Hy self, tydens die skepping van die hemel en die aarde, op daardie spesifieke dag gerus het van sy al sy werk en die dag toe al reeds as ʼn vasgestelde rusdag ingestel het nie.
Die Skrifgedeeltes en argumente wat gewoonlik aangevoer word as “bewyse” dat die volgelinge van die Messias nie die Vierde Gebod letterlik hoef te onderhou nie, hou nie regtig water nie. Die holrug-geryde argument van “Die Messias het die wet kom vervul” wat op Mat 5:17 gebaseer is, hoef nie eens bespreek te word nie. Die hele konteks van Mat 5:17 toon duidelik dat “vervul” in hierdie sin op GEEN manier “verwyder” of “laat ophou” of “verander” kan beteken nie. Om te verwys na die feit dat Y’shua mense op die Shabbat gesond gemaak het en dít voor te hou as “bewys” dat Hy nie die Vierde Gebod gehou het nie, is om jou aan dieselfde gesindheid as die Fariseërs skuldig te maak, wat duidelik nie die hart en gees van die verbod verstaan het nie. Die argument dat Y’shua se dissipels op die dag van sy opstanding (in die aand!) in die bovertrek bymekaar gekom het en agt dae later weer (Joh 20:19-26), en op só ʼn manier met die patroon begin het om hulle byeenkomste op Sondae te hou, is doodeenvoudig gebaseer op ʼn totaal verkeerde idee van hoedat daar vanuit ʼn Hebreeuse oogpunt (1) na die Shabbat gekyk word (ʼn mens vervang dit nie sommer net met ʼn ander dag, sonder dat die oorspronklike Gewer van die Shabbat so ʼn vervanging aangekondig het nie), en (2) na enige ander dag gekyk word (wanneer jy vir ʼn spesiale geleentheid in die aand, ná sonsondergang, bymekaarkom, het daardie byeenkoms betrekking op die dag wat voorlê, nie die dag wat verby is nie). In Hand 20:7 waar daar ook van ʼn aand-byeenkoms op die eerste dag van die week gepraat word, het ons presies dieselfde situasie. En wanneer Opb 1:10 verklaar dat Yahuganan (Johannes) op die eiland Patmos in die gees was “op die Dag van Yahweh” (Grieks: “en te kuriake hemera”) moet dit nie verstaan word as “The Day of the Lord” soos wat daar eers later in die Roomse kerk na die “Sondag” as opstandingsdag verwys is nie, maar moet dit kennelik verstaan word as dat die apostel ʼn visioen gehad het (Let wel: “in die gees”) van die eindtyd, wat op talle ander plekke in die Skrif (21 keer, om presies te wees) die “Dag van Yahweh” genoem word.
Laat ons die Dag van die Shabbat onthou, soos die Vierde Gebod ons leer en soos wat die Messias, wie se getroue volgelinge ons graag wil wees, dit ook onthou het. Ons lees in Luk 4:16 dat Hy, soos Hy gewoond was, op die Dag van die Shabbat na die plek van byeenkoms gegaan het en in Mat 24:20 dat Hy, selfs toe Hy oor die eindtyd gepraat het, vir sy volgelinge gesê het hulle moet bid dat hulle vlug in die tyd van verdrukking in die eindtyd, nie op die Shabbat mag plaasvind nie. Vir die Messias was die Shabbat een van die kosbaarste gawes uit die hand van sy Vader – ʼn gawe wat Hy geweet het niemand van Hom kon wegneem nie. Wanneer die Hebreërskrywer later na die dood en opstanding van die Messias verwys en na die betekenis daarvan vir ons as gelowiges, bring hy dit met die Shabbat in verband. “Shabbat” beteken “rus” en Y’shua het juis gekom om vir sy volgelinge in Yahweh se ewige rus te laat ingaan. Daarom het Hy hier op aarde gesê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal vir julle rus gee!” (Mat 11:28). Hoe doen Hy dit? Deur die dag van die Shabbat weg fisies weg te neem of met ʼn ander dag om te ruil? Deur die Torah te vergeestelik en die letterlike nakoming daarvan uit te kanselleer? Nee, Y’shua was nooit so arrogant om selfs die geringste van die insettinge van sy Vader te probeer verander nie. En tog het Hy ʼn ontsettende groot ding vir ons kom doen – iets waarvan ons nou nog nie die volle vrug geniet nie, maar wat ons later ten volle sal verstaan en ten volle sal ontvang: Om in die rus van Elohiem in te gaan en van ons werke te rus, soos wat Elohiem op die Sewende Dag van sy werke gerus het! (Heb 4:10) En in die tussentyd? Wat van die fisiese Shabbat? Die antwoord staan duidelik in hierdie selfde hoofstuk: “Daar bly dus nog ‘n onderhouding van die Shabbat oor vir die volk van Elohiem” (Heb 4:9). Elke week op die Shabbat, word ons aan hierdie Groot Rus herinner. Elke week op die Shabbat is dit hierdie “skaduwee” wat ons laat vooruit kyk en laat fokus op die vervulling wat op ons wag en wat Y’shua self vir ons moontlik gemaak het. Om die fisiese Shabbat hier op aarde te ontken of te verwaarloos of selfs net af en toe oor te slaan, is om onsself armer te maak en een van Yahweh se grootste gawes aan ons as mense te verontagsaam. Mag Hy ons elkeen daarvan bewaar!
Views: 108