- Die Versoening van Yom Kippur
Yom Kippur = “Dag van Versoening”
Kippur. Heb: “kafar” = to cover, to cancel, to cleanse, to pardon, to forgive, to reconcile
Wayyikra 16:8-11. een bok word geslag as versoening vir die sondes van die volk en een bok word lewendig in die woestyn gestuur as simboliese aanduiding dat Yahweh Yisrael se sondes geheel en al van hulle verwyder (Heb: “Azazel” = to go away, to send away, to remove completely). albei bokke dui profeties op die versoening deur Y’shua.
Yegezkel 16:4-6; 8-10; 15; 22; 58-63. Yahweh het sy guns aan Yisrael betoon soos ‘n bruidegom teenoor sy bruid, maar sy het haar rug op Hom gedraai en die verdiende loon vir haar dade ontvang. Yahweh belowe egter dat Hy van sy kant af die verbond met haar sal eerbiedig en versoening (“kafar”) sal bewerk oor alles wat sy gedoen het.
Rom 3:25 “Hom (Y’shua die Messias) het Elohiem voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is” (DUS: vervulling van die belofte in Yegezkel 16).
- Die Verootmoediging van Yom Kippur
Die Skrif bepaal (o.m. in Wayyikra 23:27) dat Yisrael haar op Yom Kippur moet verootmoedig (letterlik: haar siel moet kwel). Eng: “afflict (Heb: ‘annah’) your souls” – Heb: “annah” = to oppress, to bow down, to deal hardly with, to afflict. Die manier waarop hierdie begrip gebruik word in Tehilliem 35:13 (“Ek het my siel gekwel met vas”) en in YeshaYahu 58:3 (“Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit nie?”), bevestig dat die “kwelling van die siel” onder meer as vas verstaan moet word. Die Skrif se verstaan van “vas” is dat dit onthouding van kos en water beteken. Die Hebreeuse woord vir “vas” (tsum) beteken: “to cover the mouth”. Die volkome “bedekking” van die mond kan gesien word as ‘n simbool van die volkome “bedekking” (of versoening) van ons sonde deur die bloed van die Messias. Elke jaar met Yom Kippur word ons letterlik daaraan herinner dat ons hier op aarde nog “gekwel” en “verneder” (“afflict”) word, maar dat daar ‘n dag kom wanneer hierdie kwelling in verlossing verander sal word . Nagum 1:12-13 “Ek het jou verneder (“annah”), Ek sal jou nie meer verneder nie; maar nou sal Ek sy juk van jou af verbreek en jou stroppe stukkend ruk”. TsefanYah 3:17-20 “Yahweh jou Elohiem is by jou, ‘n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel. Die wat bedroef is, ver weg van die fees, versamel Ek; hulle hoort by jou, die oneer druk swaar op hulle. Kyk, in dié tyd sal Ek handel met almal wat jou verdruk (“annah”); en die wat kreupel is, sal Ek red; en die wat verjaag is, versamel; en Ek sal hulle maak tot ‘n lof en tot ‘n roem wie se skande oor die hele aarde was. In dié tyd sal Ek julle aanbring, ja, in die tyd wanneer Ek julle versamel; want Ek maak julle tot ‘n roem en tot ‘n lof onder al die volke van die aarde, wanneer Ek voor julle oë julle lot verander, sê Yahweh.
- Die Verbod van Yom Kippur
Yom Kippur is die enigste van die jaarlikse vasgestelde tye wat net soos die weeklikse Shabbat ‘n “dag van volkome rus” (Heb: “shabbat shabbaton”) genoem word. Op hierdie dag mag daar geen werk, van watter aard ook al, gedoen word nie. Op ander groot feesdae is die vereiste slegs dat daar geen beroepswerk gedoen sal word en hierdie dae word soms met die benaming “shabbaton” (rusdag) beskryf. Die verbod teen enige vorm van werk op Yom Kippur is egter baie duidelik en baie pertinent (vgl. Wayyikra 16:29-31; 23:28-32). Waarom is dit so? Die vernaamste rede is waarskynlik dat hierdie dag ‘n geweldige belangrike en deurslaggewende betekenis gehad het en nog steeds het. Voor die koms van die Messias is dit beskou as die mees afgesonderde dag van die jaar (die dag waarop die volk se sondes versoen is deur die bring van sekere offers). Met die koms van die Messias is hierdie dag op ‘n unieke manier vervul (Hy het as volmaakte Hoëpriester én volmaakte offer eens en vir altyd versoening gedoen vir ons sondes – vgl. Ivriem 7:25-28). En nou, ná die koms van die Messias, sien ons uit na die toekomstige Groot Versoendag (in die Skrif ook genoem: “Dag van Yahweh”) wat terselfdertyd die dag van verlossing vir die getroue volgelinge van die Messias sal wees, maar ook die dag van beslissing vir hulle wat hulle rug op Yahweh en op sy gebod en sy Messias gedraai het. Om verstaanbare redes kan hierdie dag as die mees beslissende dag in die ganse geskiedenis van die mensdom beskou word – daarom word dit as ‘n “dag van volkome rus” aangedui. Daar is geen aanduiding in die Skrif dat hierdie verbod ooit opgehef of uitgekanselleer is nie en ons behoort ons vandag nog daarby te hou.
- Die Vasgestelde Tyd van Yom Kippur
Die tyd van die jaar waarop Yom Kippur gehou moet word, is die tiende dag van die sewende maand. Die keuse van die sewende maand hou verband met die oes-siklus en die feit dat Yom Kippur in dieselfde maand val as twee ander feeste, naamlik Yom Terua (Trompettefees) en Sukkot (Loofhuttefees). Die sewende maand is in hierdie geval moontlik ‘n skaduwee van die sewende “dag” in terme van die Skrif se bepaling dat “een dag by Yahweh soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag” (2 Kefa 3:8). Dit is ook baie betekenisvol dat Yom Kippur op die tiende dag van die maand gehou moet word (vanaf die aand van die negende dag tot die aand van die tiende dag – vgl. Wayyikra 23:32). Die getal tien (Heb: “asar”) hou verband met die werkwoord wat beteken: “Om rykdom / besittings bymekaar te maak; om ryk te wees; om alles te besit wat jy begeer”. Wanneer die Messias weer kom, heel moontlik op ‘n toekomstige Yom Kippur, sal sy volgelinge alles besit wat hulle begeer. Dis byna ironies dat toe Hy die eerste keer na hierdie aarde toe gekom het, het Hy self “geen gestalte of voortreflikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie” (YeshaYahu 53:2). In die Skrif word dit egter telkens bevestig dat in die Messias ons ware voorspoed en welvaart sal beleef en dat Hy alleen vir ons die begeertes van ons hart sal gee.
Dit is interessant om ‘n studie te maak van die tien “woorde” waarmee Yahweh die hemel en die aarde geskape het (Bereshiet 1); die tien “woorde” (Tien Gebooie) wat Yisrael by Sinai ontvang het (Shemot 20) en die tien “woorde” (of uitsprake) van die Messias wat vir ons opgeteken is direk nadat Hy met sy openbare bediening begin het (Luk 4:1-19). Elkeen van hierdie drie groepe van tien (die getal van Yom Kippur) word voorafgegaan deur ‘n soort “mikvah” of wassing of doop (die verwysing in Bereshiet 1 na die aarde wat woes en leeg was en die Gees van Yahweh wat oor die waters gesweef het, dui moontlik daarop dat die aarde eers “gewas” moes word voordat die skepping kon plaasvind). Elkeen van hierdie drie groepe eindig ook met ‘n woord of ‘n uitspraak wat verband hou met die betekenis van Yom Kippur:
Skepping. 10 de woord handel oor voedsel. Yahweh tref ‘n reëling betreffende die voedsel wat vir elke deel van die skepping bedoel is (Bereshiet 1:29-31). Op Yom Kippur word die gebruik van voedsel (tydelik) ingeperk.
Sinai. 10 de woord handel oor “begeer”. “Jy mag nie begeer nie”. Op Yom Kippur word ons daaraan herinner dat ons kan uitsien na ‘n dag waarop ons alles sal ontvang wat ons harte begeer en met die Bruidegom verenig sal word na wie die bruid so innig begeer het.
Messias. 10 de woord handel oor “aangename jaar van Yahweh” (Luk 4:19). die taal en konteks van hierdie vers, en die hoofstuk waaruit die Messias hier aanhaal (YeshaYahu 61), dui op die aanbreek van ‘n jubeljaar. die Skrif bepaal dat met ‘n jubeljaar daar op Yom Kippur ‘n ramshoring geblaas moet word “wat deur die hele land gaan” (Wayyikra 25:9). Hierdie ramshoring stem ooreen met die ramshoring wat volgens 1 Tess 4:16 geblaas sal word wanneer die Messias met sy koms die dooies uit hulle grafte sal opwek (dit is die vrylating waaroor dit ten diepste gaan tydens ‘n jubeljaar!). hierdie ramshoring stem ook ooreen met die sewende basuin wat volgens Openbaring die voleinding van hierdie aardse bestel sal aankondig, die werklike aanbreek van die aangename jaar van Yahweh!
Views: 289