Wanneer mens met die Torah en met ‘n weeklikse Torah leesrooster besig raak, kan jy maklik jou fokus op die groter prentjie verloor. Dis geweldig verblydend dat daar deesdae soveel ongekende belangstelling in die Torah is en soveel groepe wat spontaan op die been kom en saam die weeklikse Torah porsies lees en bestudeer. Mense wat nog nooit in hulle hele lewe die eerste vyf boeke van die Skrif deurgelees het nie, en voorheen hoofsaaklik op die Nuwe Testament en boeke soos Psalms, Spreuke en Jesaja gefokus het, ontdek nou jaar na jaar nuwe dinge in die Torah, soos wat hulle getrou die leesplan van die weeklikse Parashot volg. Hierdie nuwe wending is werklik iets waaroor almal van ons opgewonde behoort te raak en waarvoor ons opreg dankbaar teenoor Yahweh behoort te wees!
Daar is egter ‘n tendens – midde-in hierdie nuutgevonde belangstelling in die Torah – waaroor ek persoonlik nie so opgewonde is nie; en dit is die herlewing van ‘n verskynsel wat Y’shua die Messias en die apostel Shaúl sowat 2000 jaar gelede raakgesien het en waarteen hulle die gelowiges van daardie tyd ten sterkste gewaarsku het. Wat is hierdie verskynsel? Kortweg: dis die neiging wat daar by sommige groepe en sommige individue is om bloot meganies op die Torah te fokus en slegs die letters en die woorde en die sinne van die Torah te ontleed en ander gelowiges rondom hulle te dwing om hierdie “nitty-gritty” van die Torah volgens hulle eie beperkte verstaan te onderhou. Intussen kry hierdie selfaangestelde leermeesters van die Torah dit nie reg om die groter prentjie raak te sien nie en sal hulle myns insiens ook nie daarin slaag om die innerlike skoonheid en die essensie en diepste betekenis van die Torah aan ander oor te dra nie.
Y’shua het duidelik hierteen gewaarsku, onder meer in Mat 23:24-25 “Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk! Wee julle, skrifgeleerdes en Perushiem, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onbedwingbaarheid.” So ook Shaúl, die apostel: “Want nie hy is ‘n Yehudi wat dit in die openbaar is nie, en nie dit is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ‘n Yehudi wat dit in die verborgene is, en besnydenis is die van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit Elohiem” (Rom 2:28-29). Nie Y’shua of Shaúl het ooit enige mens probeer afraai om die Torah te bestudeer nie. Anders as wat deur baie mense geglo word, het nie Y’shua of Shaúl ooit ‘n streep deur die Torah getrek nie. Maar wanneer ons met die Torah besig is, MOET ons daarna soek om die diepste betekenis, die ruggraat van die Torah, te ontdek en ons lewens op daardie fondament te bou – niks meer en niks minder nie! Anders gaan ons bemoeienis met die Torah nooit werklik ons lewens verander nie en gaan andere rondom ons, as hulle na ons kyk, ook nooit die begeerte hê om dieselfde pad van geloof as ons te stap nie.
Om die woorde van Shaúl te gebruik: Ons moenie ONDER die Torah wees nie – die Torah moet BINNE-IN ons wees en ons lewens só verander dat andere die vervulling van die profesieë van die nuwe verbond waarvan YermeYahu (Jer) 31 en Ievriem (Heb) 8 praat, in ons lewens kan herken: “Want dit is die verbond wat Ek na daardie dae sal sluit met die huis van Yiesraél, sê Yahweh: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skryf; en Ek sal vir hulle ‘n Elohiem wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy mede-landgenoot en elkeen sy broer leer en sê: Ken Yahweh nie; want almal sal My ken, klein en groot onder hulle …”.
Kom ons neem hierdie week se parashah, Parashah Tsav, oftewel Wayyikra (Lev) 6-8, as voorbeeld. As mens bloot meganies na hierdie 3 hoofstukke gaan kyk, kan jy dalk jou lus vir enige verdere bestudering van die Torah verloor! Dit gaan oor relatief oninteressante en, vir ons, skynbaar irrelevante temas soos vuur wat aangesteek moet word, vleis wat verbrand moet word en die seuns van Aharon wat deur sekere rituele moes gaan. Hierdie 3 temas (vuur, vleis en die seuns van Aharon) kom gereeld in elkeen van die 3 hoofstukke van hierdie parashah voor en daar word nie minder nie as 26 keer na die seuns van Aharon verwys – slegs in hierdie 3 hoofstukke wat gesamentlik uit minder as 100 verse bestaan. ‘n Mens wonder nogal daaroor waarom die priesters spesifiek die seuns van Aharon genoem word. Ook waarom, op ander plekke in die Torah, die volk van Yisraél meeste van die tyd “kinders van Yiesraél” genoem word.
Toe ek ‘n bietjie oor hierdie drie temas nagedink het en na die Hebreeuse woorde gaan kyk het en vir myself begin afvra het wat die groter tema en die hart, ágter die woorde van hierdie parashah is, en hoe dit deel uitmaak van die ruggraat van die Torah, het daar ‘n baie interessante parallel met ‘n bekende ander vers in die Torah na vore gekom. Hierdie vers is Gen 2:24: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle sal een vlees wees.” Hierdie vers word allerweë beskou as ‘n baie belangrike skeppingsordening en die hoeksteenlegging van die instelling van die huwelik in die Skrif. Dit lyk of hierdie vers totaal van Lev 6-8 verskil, maar vreemd soos dit mag klink, al drie die temas van Parashah Tsav kom in hierdie vers, in een of ander gestalte voor!
Die Hebreeuse woord vir vuur is “esh” en hierdie woord hou heel moontlik verband met die twee woorde wat in Gen 2:24 vir man en vrou gebruik word: “ish” en “ishah”. Wat het ‘n man en vrou in ‘n huwelik, nou eintlik met vuur te make, sal baie mense vra. Maar hierdie mense was seker nog nooit self getroud nie en het nog nie beleef hoe maklik die vuurvonke kan spat tussen twee mense wat mekaar werklik liefhet nie! Ek het die afgelope week op ‘n tong-in-die-kies definisie van die Engelse woord “spouse” afgekom: “A Spouse is someone who’ll stand by you through all the trouble you wouldn’t have had if you’d stayed single.” Dalk is dit nie so vergesog om die huwelik met ‘n vuur te vergelyk nie en kan ons by die Hebreeuse woord “esh” sommer nog die immergroen Suid-Afrikaanse woord “eish” ook byvoeg – want dis wat mens voel om te sê as jy kyk na baie van die huwelike in ons eie tyd. Die feit bly egter staan: Een van die vernaamste senuwees in die ruggraat van die Torah is die senuwee van die huwelik en mense wat die Torah op ‘n manier hanteer wat hulle eie huwelike in gevaar stel of selfs net ignoreer, is besig om hierdie besonderse ruggraat stadig maar seker te verlam. Op dieselfde manier is mense wat ‘n gedeelte soos Parashah Tsav lees en nie verby die vuur en die vleis en die seuns van Aharon kan kyk en daaragter ‘n Elohiem raaksien wat in die eerste plek in mense en verhoudinge en in gesinne geïnteresseerd is nie, besig om blindelings op die Torah af te storm en dit wat dinamies en tydloos is en ‘n mens se totale lewe kan verander, nie gaan raaksien nie!
Die Hebreeuse woord vir vleis is “basar” en in sommige gedeeltes kan hierdie selfde woord ook met “vlees” vertaal word – gedeeltes soos Gen 2:24: “… hulle sal een vlees wees”. Die woord “basar” beteken letterlik om “vars” en “nuut” te wees en dieselfde woord is later gebruik om na die “goeie nuus” of die “blye boodskap” te verwys van Iemand wat Yahweh sou stuur om vergifnis en verlossing aan mense te bring wat andersins verlore sou gaan en nooit die ewige lewe sou beërwe nie! Die ideaal wat Yahweh reg by die skepping vir die man en die vrou neergelê het, naamlik om een (nuwe) vlees of “basar” te word, moet ook in hierdie sin verstaan word. ‘n Huwelik was van die begin af bedoel om ‘n vars en ‘n nuwe entiteit te voorskyn te bring – ‘n nuwe samevoeging en eenwording van twee mense wat nou ‘n eenheid is en hulle lewe saam van nuuts af, vars begin – met nuwe ideale, nuwe drome en ‘n nuwe uitkyk op die lewe. Waarom is daar so baie voorskrifte in die Torah wat met kos en met voedseloffers en spesifiek met vleis te make het? Om vir ons ‘n liefde of aversie vir vleis te leer, of vir ons fanaties oor kos te maak? Nee, volstrek nie. Maar agter al hierdie voorskrifte oor vleis staan die woord “basar” in groot letters geskryf. Yahweh wil van ons een vlees maak – selfs diegene onder ons wat nie in huwelike staan nie. Hy wil die varsheid van ‘n nuwe begin in ons lewens tot stand bring – daardie soort nuutheid wat alleenlik gestalte kan kry as jy Hom eerste stel en toelaat dat Hy die vlees waarmee ons so sukkel, weer vars en nuut maak deur van sy Gees in jou lewe in te blaas!
Selfs die herhaalde vermelding van die seuns van Aharon kan op indirekte wyse teruggevoer word na die woorde van Gen 2:24: “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat …” Die realiteit van seuns en van dogters wat verbind is aan vaders en moeders. Priesters val nie net uit die lug uit nie. Hulle is die seuns van iemand wat ook ‘n besonderse verhouding met Yahweh gehad het. Die volk na wie daar op byna elke bladsy van die Torah verwys word, is nie maar net nog ‘n volk nie. Nee, hulle is die kinders van Yiesraél of die kinders van Yaákov wat in ‘n besonderse verhouding met Yahweh gestaan het. Yahweh is in mense en hulle kinders geïnteresseerd. En hulle kinders se kinders. Ons mag nie die Torah bestudeer en ons in die waarde daarvan verlekker en verlustig, sonder om ons kinders ook daarby te betrek nie. Die huwelik is deur Yahweh ingestel en daarmee saam die verhouding tussen vaders en moeders en seuns en dogters, ja, selfs die dinamika en die nodigheid dat seuns en dogters op ‘n stadium hulle ouerhuise verlaat en iemand anders aankleef wat hulle gekies het om hulle lewens mee te deel. Mag Yahweh vir ons die insig en die fyn onderskeiding gee om dieper as net die oppervlak van die bladsye van die Torah te kyk en die hart en die ruggraat van die Torah te ontdek en, soos ons hemelse Vader en soos sy Seun, Y’shua die Messias, in die eerste plek op mense te fokus en nie op temas of projekte of studies of ambisies of opinies of prosedures nie – alles dinge wat ‘n manier het om ‘n mens afgestomp te maak vir mense en hulle diepste behoeftes.
Views: 186
Goeie dag, hoop u kan my help. Is opsoek na die weeklikse Torah porsies in Afrikaans.
Die program met Skrifgedeeltes wat elke week as deel van die Torah porsies voorgestel word, kan hier gesien word. In ons “Online Shop” is daar ‘n stel van vyf boekies met die titel, “Torah – Hartklop van die Skrif” waarin al die Torah porsies van die vyf boeke van die Torah, indiwidueel ondersoek en bespreek word – in Afrikaans. Meer as helfte van ons Shabbat boodskappe (sien hier) sluit aan by een of meer aspekte van die voorgestelde Torah porsies.