VERKONDIG DIE SKRIF ‘N WEGRAPING?

alternate text‘n Week gelede (21 Mei 2011) het baie mense in die wêreld hulle asems opgehou omdat daar, veral in Amerika, maar ook in ander plekke in die wêreld, ‘n waarskuwing uitgestuur is dat 21 Mei die “begin van die einde van die wêreld” sou wees. Die inhoud van hierdie waarskuwing het spesifiek aangedui dat die wegraping van die ware gelowiges op 21 Mei sou plaasvind. Wat toe nie gebeur het nie ….

Meeste van ons het dalk nie hierdie maandelange waarskuwing so ernstig opgeneem soos sommige ander van wie ons oor die nuus gehoor het nie. ‘n Mens staan verstom daaroor dat die radio stasie in Amerika waar hierdie waarskuwing oor die einde van die wêreld sy ontstaan gehad het, soveel aanhang onder baie opregte gelowiges gehad het. Die leier en sy medewerkers het dit reggekry om in ‘n kort rukkie meer as $120 miljoen vir hulle veldtog in te samel. Sommige van die individuele “volgelinge” het letterlik duisende dollars uit hulle persoonlike spaargeld vir hierdie saak geskenk. Toe daar ná 21 Mei met sommige van hierdie volgelinge onderhoude gevoer is, kon hulle uit die aard van die saak nie hulle teleurstelling en ontnugtering verberg nie. Die vraag waaroor ons as gelowiges vir onsself uitsluitsel behoort te kry, na aanleiding van hierdie gebeure, is baie duidelik en voor-die-hand-liggend: Verkondig die Skrif werklik ‘n wegraping van gelowiges soos so baie mense in die wêreld glo? Kom ons kyk na enkele van die verse en argumente wat soms gebruik word.

1. Die een-word-geneem-en-een-word-agtergelaat idee. Na aanleiding van Mat 24:40-41 en Luk 17:34-37 word beweer dat die Messias self gesê het dat die gelowiges op ‘n sekere stadium (naby aan die einde) uit die wêreld weggeneem sal word en dat die ongelowiges agtergelaat sal word. Maar diegene wat so ‘n afleiding uit die Messias se woorde maak, moet weer ‘n slaggie na die konteks kyk. Wanneer Hy hierdie uitspraak maak en onder meer sê “Daar sal twee op die land wees – een word geneem en een word agtergelaat”, vra sy dissipels vir Hom: “Wáár, Meester?” (met ander woorde: “Wáár sal dit plaasvind?”), waarop die Meester antwoord: “Waar die liggaam (of die prooi of die karkas) lê, dáár sal die aasvoëls saamkom. Die bedoeling is duidelik: Die wat “weggeneem” word, word geneem na ‘n plek waar die aasvoëls saamkom. Dus moet ons aflei dat die “ongelowiges” weggeneem word, nie die gelowiges nie, en dat hulle lot (simbolies) sal wees soos die lot van die Assiriërs van wie ons lees in YeshaYahu 18:6: “hulle word almal saam oorgegee aan die roofvoëls van die berge en aan die wilde diere van die aarde”.

2. Die “wegruk” en “ontmoeting” van 1 Tes 4:17. 1 Tes 4:17 is seker die gedeelte wat die meeste ingespan word om die wegraping van gelowiges (vóór sy eintlike wederkoms) te verkondig. Meeste vertalings van hierdie vers gee dit min of meer as volg weer: “we (die lewende gelowiges in Messias) … shall be caught away together with them (wat vroeër as gelowiges gesterf het en so pas opgewek is) in the clouds to meet the Master in the air.” Die tradisionele wegraping standpunt is dat hierdie nie ‘n beskrywing van die Messias se openbare wederkoms (Gr. “apokalupsis”) is, waar hy sy voete op die aarde sal neersit nie, maar van sy geheime koms (Gr. “paraousia”), waar Hy bloot die gelowiges in die hemel ontmoet en dan met Hom saamneem, terug hemel toe – om hulle later weer saam met Hom te bring wanneer Hy kom om finaal met die mense van die wêreld af te reken. Daar is egter net te veel aspekte wat nie klop in hierdie rekonstruksie nie. Daar is gedeeltes in die Messiaanse Skrifte (soos 2 Tes 2:1) waar dieselfde woord “parousia” gebruik word, maar duidelik gesê word dat dit eers sal plaasvind NADAT die Antimessias opgetree het en die gelowiges vervolg en verdruk het. ‘n Verdere komplikasie is dat die woord wat in 1 Tes 4:17 met “ontmoet” vertaal word (Gr. “apantesis”), se normale vertaling (soos gesien kan word in Hand 28:15) is om tot by die ontmoetingsplek te gaan en dan saam met die een wat jy “ontmoet” het, terug te gaan na waar JY vandaan gekom het (nie na waar HY vandaan gekom het nie). Die punt van 1 Tes 4 is nie om ‘n nuwe leerstuk aan die gelowiges voor te hou nie, maar om die gelowiges in te lig sodat hulle nie “onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie” (vers 13).

3. Die parallel met Noag. In Mat 24:27, enkele verse voor die twee-op-die-land-een-word-aangeneem gedeelte, lees ons: “En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees”. Die Messias raai ons aan om na Noag te kyk om uit te vind hoe dit in die eindtyd sal wees. Dit is duidelik dat die vloed die onregverdiges of die ongelowiges “weggeneem” het en dat die ark die regverdiges of die gelowiges bewaar het. Is hulle van die aarde weggeneem om bewaar te word? Nee, hulle is OP die aarde (midde-in die vloed) bewaar, deur die voorsiening en die kragtige ingryping van Yahweh, die Almagtige.

4. Word die gelowiges uit verdrukking weggeneem of midde-in verdrukking bewaar? Soos wat Job en Josef en Yisraél en Dawid en Daniél en die profete midde-in hulle tye van swaarkry deur Yahweh bewaar is, so sal die gelowiges in die laaste dae deur die magtige hand van Yahweh bewaar word. Dit is die ondubbelsinnige boodskap van die Skrif. Dit word onder meer duidelik aangedui in Yahuganan 17:15 (“Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar”) en Openbaring 3:10 (“Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel”).

5. Praat die Skrif van twee “wederkomste” oftewel ‘n “derde koms” van die Messias? Dit is duidelik dat dit nie die geval is nie. Deur Y’shua se eie beskrywing van die gebeure van die laaste dae in Mattheus 24 te lees, kan ‘n mens sien dat die klimaks van die beskrywing bereik word in vers 30 “En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en grootheid.” Daar is geen sprake hier dat die Messias op enige stadium “net vir sekeres” of “in die geheim” of “vóór sy finale koms” sal verskyn nie.

6. Wat van die “tweede opstanding” wat deur Openbaring 20 geïmpliseer word? Binne die konteks van Openbaring 20 dui die eerste opstanding op die opstanding van gelowiges by die Messias se koms en die tweede opstanding op die “opstanding” van die oorblywende mense om voor die Regter te verskyn, soos beskrywe word in Opb 20:13: “En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.”

7. Gelowiges word van die “toorn van Yahweh” gered, nie van die verdrukking. Ons lees in Luk 21:36 “Waak dan en bid voortdurend, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” In die konteks van hierdie hoofstuk is “al hierdie dinge wat kom” nie die groot verdrukking nie, maar die tyd wanneer Yerushalayiem “deur leërs omsingel sal wees” (vers 20) en Yahweh sy wraak op hierdie wêreld sal uitstort (vers 22). Voordat dit egter gebeur, sê Luk 21 die volgende: “En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam. En geen haar van julle hoof sal ooit verlore gaan nie. Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry” (vers 17-19).

8. Wat van YermeYahu 30:7 “En Yaákov sal daaruit verlos word”? Hierdie vers word dikwels in die konteks van die wegraping aangehaal omdat dit praat van die verdrukking in die laaste dae en dan byvoeg dat Yaákov (of Yisrael) daaruit verlos sal word. Die vraag is wat bedoel word met die Hebreeuse uitdrukking “om (iemand) uit (‘n situasie van swaarkry) te verlos” (Heb. “min yahsha”). Deur te kyk na gedeeltes soos Ex 14:30; Num 10:9; Rigt 2:16; 1 Sam 7:8; 2 Kon 16:7; Neh 9:27; Job 5:15 en Ps 7:1 waar DIESELFDE UITDRUKKING, “min yasha” gebruik word, kan ‘n mens duidelik sien dat dit nie beteken om daardie persoon of groep WEG TE NEEM uit die situasie van verdrukking nie, maar om redding, uitkoms en verligting BINNE-IN DIE SITUASIE VAN NOOD te verleen, soos in Ps 37:40 “En Yahweh help hulle en red hulle; Hy red (“yasha”) hulle van (“min”) die afvallige mense en verlos hulle, want hulle skuil by Hom.”

Views: 361

One thought on “VERKONDIG DIE SKRIF ‘N WEGRAPING?”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *