DIE STRYD RONDOM DIE WOORD

alternate textDaar is die laaste tyd ‘n hernude stryd rondom die betroubaarheid en die integriteit van die Woord van Yahweh. ‘n Nuwe vertaling van die Skrif (slegs die Nuwe Verbond of Nuwe Testament) het verlede jaar die lig gesien en iemand het vir my ‘n kopie as geskenk gegee en gevra dat ek moet sê wat ek daarvan dink. Die vertaling word genoem “The Word of Yah – the King’s Covenant”. Die aanspraak word gemaak dat dit vertaal is uit “The Original Scriptures” en ek het met groot opgewondenheid begin lees. Ek het nie mooi geweet wat word bedoel met “original Scriptures” nie, maar het net gedink as daar nuwe getuienis oor die die mees oorspronklike manuskripte van die Woord aan die lig gekom het, wil ek nie die geleentheid deur my vingers laat glip om daarna te kyk en daarvan gebruik te maak nie.

Toe ek eers begin lees, het my opgewondenheid baie vinnig oorgegaan in een groot stuk teleurstelling. Uiteindelik is die boek veel meer as net ‘n vertaling van die Nuwe Verbond. Dit is ‘n boek wat talle leringe en doktrines en addisionele feite bevat, ‘n deel daarvan bemoedigend en waar, ‘n ander deel interessant, maar taamlik vreemd, en nog ‘n deel hoogs twyfelagtig en in stryd met die bekende boodskap van die Skrif. Ek het reeds iets hieroor geskryf en dit op ons webblad geplaas en aan gelowiges gestuur wat op my epos adreslys is. Maar ek kom agter daar is so ‘n groot rimpeling wat deur hierdie vertaling onder Messiaanse gelowiges veroorsaak word, en soveel vrae wat gevra word, dat dit noodsaaklik is dat ons as ‘n groep ook hieroor gesels en vir onsself uitmaak hoe ons hierdie vertaling gaan ontvang.

My aanvoeling is dat hierdie vertaling, wat ook genoem word OSE1, nie maar net ‘n nuwe gier is wat gaan oorwaai nie. Die vertaling word wêreldwyd op ‘n groot skaal versprei. Baie geld word bewillig deur mense wat absoluut uitverkoop is aan die onderliggende boodskap van OSE1 en kopieë van die vertaling word in baie gevalle gratis versprei – ook in Suid-Afrika. Gemeentes het reeds op baie plekke in die wêreld ontstaan wat die boodskap en manier van aanbidding en veral die manier van praat, wat deur OSE1 voorgestel word, navolg. Heelwat mense wat op een of ander manier met ons hier in Vishoek kontak het, het al hierdie vertaling onder oë gehad en, terwyl sommige van hierdie mense taamlik skepties daaroor is, is daar ‘n hele aantal waarvan ek weet, wat dit met ope arms ontvang het en meen dat ons hier uiteindelik met die WAARHEID te make het. Teen hierdie agtergrond durf ons nie stilsit en handjies vou nie. Veral nie as dit by nadere ondersoek duidelik blyk dat hier weer eens, soos soveel keer tevore in die geskiedenis, ‘n roete ingeslaan word waar die suiwer Woord van Yahweh, met slim, menslike tegnieke toegevou word in ‘n aanloklike “wrapping” wat byna verseker grootskaalse verwarring en misleiding onder talle gelowiges sal meebring.

Waaroor gaan OSE1 en wat is daarmee verkeerd? Heel eerste die aanspraak dat daar in die jaar 2002 ‘n aantal manuskripte van die Skrif gevind is (naby Irak) wat ouer en meer oorspronklik is as wat tot dusver bekend was. Hierdie manuskripte word glo nog in bewaring gehou, maar is in aanmerking geneem met hierdie nuwe vertaling. Die vertalers sê egter nie presies in watter mate hierdie jongste ontdekking verskil van die bekende korpus van manuskripte wat normaalweg gebruik word in vertalings nie. Volgens hulle is daar manuskripte wat die teks van die Nuwe Verbond bevat (alle boeke behalwe Openbaring) wat teen ongeveer 70 n.M. in Paleo-Hebreeus geskryf is. Dit op sigself is ‘n geweldige uitspraak, in die lig van die feit dat Paleo-Hebreeus ‘n antieke taal is wat volgens alle aanduidings reeds voor die geboorte van die Messias nie meer algemeen voorgekom het nie. Maar intussen kan ‘n mens maar net hieroor wonder, want die “bewyse” is buite bereik van die breë publiek en al wat ons het, is die woord van die vertalers van OSE1.

Bogenoemde aansprake is egter nie die enigste probleem wat ek met OSE1 het nie. Trouens, as hierdie manuskripte eers in die openbaar bekend gestel word, sal hierdie aspek nie meer ‘n probleem wees nie en kan Skrifkenners saam besin oor wat die mees korrekte vertaling van die Skrif is. Die manier waarop die OSE1 vertalers sekere gedeeltes van die Skrif alreeds vertaal het, en sekere aannames wat hulle in die proses gemaak het, kom neer op subtiele aanpassings wat aan die teks van die Skrif gemaak word en ‘n byvoeging by die Woord van Yahweh – en dít terwyl hulle self groot klem lê op die tekste wat sê dat niemand by die Woord mag byvoeg of iets daarvan mag weglaat nie.

OSE1 gaan van die standpunt uit dat alles en almal wat met die Vader geassosieer word, letterlik na of by, sy Naam genoem word. Hulle verstaan is dat die Almagtige se Naam YAHUWAH is. Dit wil sê, almal wat in die Skrif se tyd, en ook vandag, sy volgeling was, of is, se naam behoort minstens twee opeenvolgende letters van die Vader se Naam te bevat, soos YA of HU of AH. Dus tref mens in hierdie vertaling die volgende name aan: AHdam ipv Adam, YAsaac ipv Yietsgak, MarkUW ipv Mark of Markus, AHosha ipv Hoshea, AmUWs ipv Amos, ShaUWl ipv Shaúl, ens, ens. Gelowiges wat by die “Yahuwans” aansluit, word aangemoedig om die Vader se Naam in hulle eie naam te “ontdek” en hulle name ooreenkomstig te verander. Die oorspronklike betekenis van name word glad nie in ag geneem nie en heeltemal geïgnoreer. So byvoorbeeld het “Yietsgak” (betekenis: “’n gelag”, afgelei van “tsagak” – betekenis: “om te lag”) sy naam ontvang omdat sy ma gelag het toe Yahweh bekend gemaak het dat sy ‘n seun sou hê. Die Naam YAsaac reflekteer glad nie hierdie betekenis nie en maak ‘n bespotting van die (dikwels belangrike) faktore wat ‘n rol gespeel het by die gee van name.

Dis nie net persone se name wat op hierdie manier “aangepas” word nie. Dis ook ander woorde wat dikwels in die Skrif voorkom en met die geloof te make het. Die name van alle boeke in die Skrif word op dieselfde manier verander as die name hierbo. Romeine word RomaniYA, Tehilliem word TehaleYAim, Bereshiet word Bara Esh YA, wat beteken “The Creator of the Explosion is YAH”. Op dié manier word die duidelike betekenis van Bereshiet (naamlik “in die begin”) heeltemal geïgnoreer en word die naam van hierdie boek misbruik om ‘n sekere teorie wat volgens die skrywers met die ontstaan van hierdie wêreld te make het, te verkondig.

Daar is ‘n menigte ander woorde wat ook op dieselfde wyse links en regs verander word, en saam daarmee verval die betekenis wat elkeen van hierdie woorde oorspronklik gehad het. Yiesrael word YAsarel, Hebreeus word AbraYA, Grieks word AHlenic, Messias word MeoshiYAch, apostel word MalakiYA, Yerushalayiem word YArushalem, Yehudah word YAhuwdah (met die verduideliking dat as ‘n mens die “d” uit hierdie woord uithaal dan bly die Naam van die Vader “Yahuwah” oor), Amein word AmaniYA, en evangelis word AmericAHn !!

Die grootste, en mees ingrypende verandering wat deur die OSE1 vertaling ingebring word is die verandering van die Naam van die Messias na YAHUW. Die vertalers beweer dat hierdie naam in ‘n bedekte vorm in al die antieke manuskripte voorkom en dat dit nêrens weerspreek word nie – selfs nie in die bekende manuskripte waarop meeste ander vertalings gebaseer is nie. Behalwe die feit dat so ‘n siening totaal en al nie strook met die feite nie, het dit verreikende implikasies vir die geloof en vir die sentrale boodskap wat deur die vertaling van OSE1 uitgedra word. Deur die Messias, wat ons ken as Y’shua, Yahushua of Yeshua, se naam te verander na YAHUW, word by implikasie, maar ook in soveel woorde in die OSE1 vertaling, gesê dat die Messias niemand minder nie as “YAHUWAH” self is. Dit kom uit in talle verse wat in OSE1 direk in stryd met die oorspronklike bewoording vertaal word, bv.

2 Kor 1:2 “Chanon (Covenant Grace) to you and peace from YAHUWAH Almighty Loving YA of All Creation our Father and Master YAHUWAH our Beloved King … ipv … “Guns vir julle en vrede van Elohiem, ons Vader, en die Meester, Y’shua die Messias.”

Gal 1:4-5 “Chanon to you and peace from Almighty Loving YA of All Creation, the Father and our Master YAHUWAH the Eternal King of The Family of YAH,who gave Himself for our sins …” ipv … “Guns vir julle en vrede van Elohiem die Vader en ons Meester, Y’shua die Messias, wat Homself gegee het vir ons sondes …”

Efes 1:2 “Chanon to you and ShalomAH from Almighty Loving YA of All Creation our Father and our Master YAHUWAH The Eternal King of The Family of YAH” … ipv … “Guns vir julle en vrede van Elohiem, ons Vader, en die Meester, Y’shua die Messias!”

Mag Yahweh aan elkeen van ons die insig en die innerlike oortuiging gee om op te staan vir die waarheid van sy Woord en nie weer (soos telkens in die geskiedenis) toe te laat dat die indrukwekkende oorredingskrag van mense ons laat gryp na iets wat op die lange duur onberekenbare skade aan sy Woord sal aanbring nie.

Views: 27

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *