WOORDSPELING MET ‘N VERSKIL

alternate textEk het die afgelope week ‘n interessante omsend-epos van Nehemia Gordon ontvang waarin hy ‘n hele paar onderwerpe aanraak – onder meer Kersfees, die Amerikaanse “Day of Thanksgiving” (wat terloops twee dae gelede, op Don 25 November gevier is) en die neiging wat mens deesdae by baie Torah-gesindes aantref om Hebreeuse woorde links en regs te gebruik en somtyds in die proses, uit onkunde, iets sê wat meer skade doen as goed.

Hy skryf dat hy êrens ‘n vertaling van die Skrif gesien het wat deur iemand gedoen is wat nie eens Hebreeus ken nie, maar kort-kort in die vertaling Hebreeuse woorde gebruik om geloofwaardigheid en “meer gewig” aan die vertaling te gee. So is hierdie vertaling se weergawe van Tehielliem / Psalm 105:1 “Give hodu unto Yahweh”. Klink heel indrukwekkend en geleerd. Maar watter woord “hodu” het ons hier? Die Hebreeuse woord “hodu” kan beteken “bring dank” of “give thanks”, maar SLEGS as dit op sy eie staan en as ‘n werkwoord (“verb”) gebruik word. In Hebreeus sê mens dan bloot: “Hodu leYahweh” – “Bring dank aan Yahweh”. In sy onkunde het die vertaler egter die woord “hodu” in sy vertaling gebruik as ‘n selfstandige naamwoord (‘n “noun”) en nie as ‘n werkwoord nie. As ‘n mens die woord “hodu” in Hebreeus as ‘n selfstandige naamwoord gebruik, beteken dit nie meer “bring dank” nie, maar “kalkoen” (“turkey”)! Dus kry Ps 105:1 (heeltemal téén die oorspronklike bedoeling) in hierdie vertaling ‘n totaal nuwe betekenis: “Give turkey unto Yahweh!”

Gordon gaan voort om te wys op die interessante woordspeling (Engels: “pun”) wat in hierdie vertaling na vore kom – juis in die konteks van die Amerikaanse “Day of Thanksgiving”. Uit die aard van die saak was die oorspronklike bedoeling met hierdie dag (wat deur sommiges in Amerika as selfs nog belangriker as “Christmas” beskou word) om spesiale lof en dank aan die Skepper toe te bring. Met verloop van tyd het sekere tradisies egter ook sinoniem met hierdie dag geword en een van die bekendstes van hierdie tradisies is om op Thanksgiving ‘n maaltyd voor te sit waarvan die belangrikste bestanddeel niks minder is nie as … kalkoen (“turkey”)!!

Om nog verder tot die inherente woordspeling van bogenoemde vertaling van Ps 105:12 by te dra, wys Nehemia Gordon daarop dat “hodu” ook die antieke Hebreeuse naam vir Indië was – hiervolgens sou Ps 105:1 dan nog ‘n betekenis kon bykry: “Give India unto Yahweh!”. Die gelowiges in Turkye sou dalk vinnig wees om te sê: Eintlik staan daar in Ps 105:1 “Give (the country of) Turkey to Yahweh!” En as die Indiërs en die Turke dit kan sê, kan ‘n mens amper byvoeg, dan kan ons hier in Suid-Afrika dit seker ook maar sê (of begeer, of bid): “Give South Africa (back) to Yahweh!”

Woordspeling speel ‘n geweldige belangrike rol in die Skrif. Meeste van die tyd is dit baie moeilik om woordspeling in vertalings tot sy reg te laat kom, want twee woorde wat in Hebreeus eenders klink of rym of met mekaar verband hou, klink en lyk heel waarskynlik nie dieselfde as dit in ‘n ander taal vertaal word nie. Wat presies word met woordspeling bedoel? Kom ons kyk na een of twee humoristiese voorbeelde.

“Atheism is a non-prophet institution” (in plaas van “non-profit”).

“You can tune a guitar, but you can’t tuna fish. Unless of course, you play bass.”

“I’ve failed the mathematics test so many times I lost count.”

Daar lê ‘n besondere boodskap opgesluit in byna elkeen van die gedeeltes in die Skrif waar woordspeling gebruik word. Ons gaan bloot na enkeles hiervan kyk en probeer vasstel watter waarhede hierin na vore kom – waarhede wat destyds as só belangrik geag is dat ‘n spesiale taal tegniek (in hierdie geval woordspeling of “pun”) gebruik is om dit deeglik onder mense se aandag te bring.

Jer 23:33 As hierdie volk of profeet of priester jou dan vra en sê: Wat het Yahweh gelas (“massa”)? – dan moet jy vir hulle sê: Julle is die las (“massa”). En Ek sal julle afwerp, sê Yahweh.

Wat Yahweh sê, was nooit bedoel om ‘n las te wees nie, maar mense het daarvan iets swaars (‘n las) gemaak.

Jer 34:17 Daarom, so sê Yahweh: Julle het na My nie geluister om ‘n vrylating uit te roep (“qara deror”) elkeen vir sy broer en vir sy naaste nie; kyk, Ek roep ‘n vrylating (“qara deror”) uit, sê Yahweh, om julle oor te gee aan die swaard, die pes en die hongersnood, en Ek sal julle ‘n skrikbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde.

Diegene wat nie Yahweh se beginsels van vryheid eerbiedig nie, sal aan vorme van vryheid oorgegee word wat tot hulle eie ondergang sal lei.

Spr 19:16 Wie die gebod bewaar (“shamar”), bewaar (“shamar”)sy lewe; hy wat sy weë nie ag nie, sal sterf.

In ‘n wêreld waarin meeste mense buitengewoon veiligheidsbewus is, fyn ingestel op bewaring en beskerming, is dít die soort bewaring en beskerming wat ons almal behoort na te jaag.

Gen 2:25 – 3:1 En hulle was altwee naak (“arum”), die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie. Maar die slang was listiger (“arum”) as al die diere van die veld wat Yahweh Elohiem gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat Elohiem gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?

Dalk bestaan ons diepste vorm van naaktheid dáárin dat ons naak is ten opsigte van die waarheid en beklee is met listigheid waarmee ons Yahweh se woorde probeer verdraai.

Hos 8:7 Want hulle saai wind, maar hulle sal storm maai; dit het geen halm nie; wat uitspruit (“tsemach”), lewer geen meel (“kemach”) op nie; selfs as dit iets oplewer, sou vreemdelinge dit verslind.

Wat in die oë van mense lyk na sukses en iets groots en nuwe lewe, is dikwels net ‘n “storm in teekoppie” en het nie waarlik substansie nie, omdat Yahweh se hand nie daarin is nie.

Jon 4:6 Toe beskik Yahweh Elohiem ‘n wonderboom en laat dit oor Yonah opskiet om te dien as skaduwee (“tsel”) oor sy hoof, om hom van sy ontsteltenis te bevry (“lehatsiel”); en Yonah was baie bly oor die wonderboom (alternatief: “’n skerm … om hom te beskerm”).

Hierdie vers bring nuwe betekenis aan die woorde van Ps 121: “Yahweh is jou skaduwee aan jou regterhand.”

Views: 232

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *