Ek moes die afgelope week ‘n paar woorde sê by die begrafnis van ‘n ouma van 84 jaar wat in die laaste 3 of 4 jaar van haar lewe die krag en die skoonheid ontdek het wat opgesluit lê in die kosbare Naam van Yahweh. En toe sy dit ontdek het was sy soos die man van wie Y’shua vertel het wat kosbare pêrels gesoek het en toe hy daardie een pêrel in ‘n saailand ontdek – ‘n ‘n pêrel waarvan die waarde nie bereken kon word nie – gaan verkoop hy alles wat hy gehad het en koop daardie saailand. Toe ek moes besluit wat ek oor die lewe van Jean van Niekerk moes sê, het daar net een woord by my opgekom: Die woord “meer”. Toe sy eers die Naam van die Vader leer ken … en die Shabbat ontdek … en die ongekende vervulling wat dit bring om die Woord op ‘n ander manier te gehoorsaam as wat voorheen in haar lewe aan haar geleer is – toe al hierdie dinge vir haar ‘n werklikheid word op ‘n stadium in haar lewe toe sy al ver in jare was en boonop aan ‘n siekbed gekluister, was dit asof sy net nie genoeg kon indrink en bymekaarmaak en opstapel – en ook uitdeel – van die verborge dinge van die Woord nie.
Sy was soos iemand wat teen die einde van haar lewe vir die eerste keer ontdek het wat dit beteken om te groei! Diep binne-in haar het daar ‘n onversadigbare hunkering gekom om méér van Yahweh te leer, méér van sy Woord, méér van hoe Hy wil hê ons moet glo en lewe en praat. En Jean van Niekerk was teen die einde van haar lewe vir 3 of 4 jaar lank ‘n bedlêende, lewende getuie van die groot en onontginde waarhede van die Woord en van die groot werk wat Yahweh op ‘n laat stadium in haar eie lewe gedoen het. Jean se getuienis het helder en duidelik uitgegaan – almal het daarvan gehoor: Die mense wat langs haar in beddens gelê het en meeste van die tyd verswelg was in hulle eie siektetoestand; die personeel in die siekeboeg en die verpleegsters in die hospitaal; haar eie familie – kinders, kleinkinders en agterkleinkinders – ook haar kleinseun wat ‘n predikant is en ‘n baie besonderse getuienis oor sy ouma by die begrafnis gebring het. Daar kom heelwat in die Skrif na vore oor die aspek van “meer”. Twee gedeeltes, of liewer twee temas, het vir my in die besonder uitgestaan:
Die eerste tema sluit aan by die persoon van Yosef:
Gen 30:22-24 En Elohiem het aan Ragel gedink, en Elohiem het haar verhoor en haar skoot geopen: sy het bevrug geword en ‘n seun verwek. Toe sê sy: Elohiem het my oneer wegge-neem. En sy het hom Yosef genoem en gesê: Mag Yahweh vir my ‘n ander seun daar byvoeg!
“Yosef” kom van die woord “yasaf” wat beteken “om by te voeg” of “om méér te maak of méér te wees of méér te hê”. Hierdie profetiese betekenis van sy naam het telkens in Yosef se lewe na vore gekom:
Gen 37:4 Toe sy broers sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vriendelik met hom praat nie.
Gen 49:22,26 Yosef is ‘n jong vrugteboom, ‘n jong vrugteboom by ‘n fontein; sy takke klim oor die muur … Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Yosef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers (Yaákov se seën).
Deu 33:13-16 En van Yosef het hy gesê: Geseënd deur Yahweh is sy land met die kostelikste gawe van die hemel … en met die kostelikste voortbrengsels van die son en met die kostelikste gewasse van die mane en met die vernaamste voortbrengsel van die berge van die voortyd en met die kostelikste gawe van die ewige heuwels en met die kostelikste gawe van die aarde en van sy volheid, en die welbehae van Hom wat in die doringbos gewoon het – laat dit kom op die hoof van Yosef en op die hoofskedel van die heerser onder sy broers. Sy eersgebore stier – voortreflikheid is syne, en sy horings is buffelhorings; daarmee sal hy die volke stoot, die eindes van die aarde almal saam. En dit is die tien duisende van Efrayiem, en dit is die duisende van Menasheh! (Mosheh se seën).
Die betekenis van die naam van Yosef en die aspek van “meer” het reeds praktiese beslag gekry in die manier hoe Efrayiem, die een seun van Yosef, nie net meer oorvloedig geseën is as sy ouer broer Menasheh nie, maar ook (saam met Menasheh) bygevoeg is by die 12 stamme en later elkeen ‘n eie grondgebied ontvang het. Later in die geskiedenis, veral in die boeke van die profete, word daar gewoonlik kortweg na die tien Noordelike stamme as “Efrayiem” verwys en na die twee suidelike stamme as “Yehudah”. Die tragedie is dat Efrayiem hierdie geseënde plek wat hy in die oë van Yahweh gehad het, geminag het en sy rug op Yahweh gedraai het.
Hoshea 13:1-3 As Efrayiem net gepraat het, was daar siddering; hoog het hy gestaan in Yiesraél. Maar hy het hom skuldig gemaak deur die Baál en gesterf. En nou gaan hulle voort om te sondig (letterlik: hulle sondig méér en méér – “yasaf”) en het vir hulle ‘n gegote beeld van hulle silwer gemaak, afgode ooreenkomstig hulle insig … Daarom sal hulle wees soos ‘n môrewolk en soos dou wat vroeg weer verdwyn, soos kaf wat wegvlieg van die dorsvloer en soos rook uit die venster.
Die merkwaardige boodskap van die Skrif is dat Yahweh se bemoeienis met Yosef en Efrayiem nie hier opgehou het nie – selfs nie nadat Efrayiem deur Assirië in ballingskap weggevoer is en vir alle praktiese doeleindes tussen die nasies van die aarde “verlore geraak” het nie.
Eseg 37:16-22 Neem vir jou ‘n stuk hout, en skryf daarop: Vir Yehudah en vir die kinders van Yiesraél, sy bondgenote; en neem ‘n ander stuk hout en skryf daarop: Vir Yosef (die hout van Efrayiem) en die hele huis van Yiesraél, sy bondgenote. Voeg hulle dan vir jou bymekaar, die een by die ander, om een stuk hout te wees, en laat hulle een word in jou hand … Kyk, Ek gaan die kinders van Yiesraél haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land. En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Yiesraél; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie.
Die tweede tema sluit aan by die bou van die tabernakel:
Exo 36:2-5 En Mosheh het Betsalél en Oholiáv geroep en elkeen wat kunsvaardig was, in wie se hart Yahweh wysheid gegee het; elkeen wie se hart hom opgewek het om aan die werk te gaan om dit klaar te maak. En hulle het voor die oë van Mosheh ontvang al die offergawes wat die kinders van Yiesraél vir die verrigting van die werk by die vervaardiging van die afgesonderde plek gebring het. Maar hulle het vir hom nog elke môre vrywillige offergawes gebring. Toe het al die kunsvaardige manne wat met al die werk by die afgesonderde plek besig was, man vir man, van die werk af gekom waar hulle mee besig was, en hulle het met Mosheh gepraat en gesê: Die volk bring meer as wat nodig is vir die uitvoering van die werk waarvan Yahweh die vervaardiging beveel het.
Dit is jammer dat ‘n mens hierdie gesindheid wat daar met die bou van die tabernakel onder die volk geheers het, vandag so min in hierdie wêreld teëkom. Is dit nie waar dat ons dikwels in die wêreld daarbuite die teenoorgestelde gesindheid aantref as wat daar met die bou van die tabernakel geheers het nie? Dat mense dikwels probeer kyk met hoe min hulle kan wegkom, as om méér te doen of méér te bring as wat nodig is. Is jy iemand wat Yahweh graag wil behaag? Is jy iemand wat die kosbaarste van sy gawes geproe het en die krag van sy Naam leer ken het en wat soos Ps 119 kan sê dat die Torah beter as 1000 stukke silwer en goud is? Dan behoort jy nie ‘n gesindheid “minder is beter” of (in Engels) “less is more” te hê nie.
Ps 65:9 U het die land besoek en oorvloed gegee; U verryk dit oorvloediglik; die stroom van Elohiem is vol water.
Mat 5:20 Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as die van die skrifgeleerdes en Perushiem nie, julle nooit in die koninkryk van die hemel sal ingaan nie.
1 Kor 15:58 Daarom, my geliefde broers, wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Meester, omdat julle weet dat julle arbeid in die Meester nie tevergeefs is nie.
Views: 31