VOEDSELOFFERS: ONGESUURD, MAAR GOED GESOUT!

alternate textVerlede week het ons na die drankoffers in die Skrif gekyk en die uiters interessante feit dat die drankoffers nooit gedrink is nie, maar altyd op die altaar uitgegooi is. Meer as 1200 bottels wyn wat per jaar op die altaar uitgegooi word, mag vir sommiges na ‘n totale vermorsing lyk, maar in Yahweh se oë het dit besondere betekenis! Sommige van die dinge wat ek en jy doen omdat ons graag aan die Woord gehoorsaam wil wees, mag vir sommiges na ‘n totale vermorsing lyk, maar in die Vader se oë, en in die groter prentjie van sy plan met hierdie wêreld, het dit besondere betekenis. Dit bring sin en betekenis aan ‘n mens se lewe – op ‘n vlak wat nie deur almal verstaan en waardeer kan word nie.

Wat van die voedseloffers, wat altyd saam met die drankoffers gebring moes word? Wat beteken die voedseloffers vir ons wat nie meer vandag fisiese offers bring nie, maar wat nooit mag ophou om geestelike offers te bring aan Hom wat alreeds vir ons soveel gegee het en daagliks sy guns in ons lewens uitstort? Die Hebreeuse woord vir ‘n voedseloffer is “miengah” en hierdie selfde woord word gebruik vir die heel eerste offer wat in die Skrif vir ons opgeteken word – die offers van Kain en Abel (of Kayien en Hevel). Ons weet dat Kain se offer deur Yahweh verwerp is en Abel se offer aangeneem is. Dikwels wonder mense oor hierdie twee broers en oor die rede waarom Kain, wat die eersgeborene was, se offer nie aangeneem is nie – skynbaar sonder dat hy enigiets verkeerd gedoen het. Dit wil voorkom, as mens Bereshiet (Genesis) 4:7 lees (waar Yahweh vir Kain sê daar is verheffing of beloning as jy goed doen) en ook Hebreërs 11:4 (wat sê Abel se offer was beter omdat dit met geloof gepaard gegaan het), dat daar minstens ‘n verskil was in die manier of die gesindheid waarmee die twee broers hulle offers gebring het. Wat eintlik vir ons bevestig dat Yahweh van die begin af nie soseer begeer het om met uiterlike offers tevrede gestel te word nie, maar om liewer met offers van die hart en met offers van geloof, vereer en verhoog te word.

Die woord “miengah” beteken basies “geskenk” of “gawe” en word in die Skrif dikwels bloot gebruik vir die geskenke wat mense aan mekaar gee. ‘n Goeie voorbeeld is Yaákov se geskenk (of: “miengah”) aan sy broer Esau (Gen 32) – op ‘n stadium toe hy besef het Esau het nog nie vergeet hoe hierdie jonger broer van hom sy eersgeboortereg as’t ware onder sy neus kom wegraap het nie. Ek het lanklaas gehoor van een broer wat so ‘n groot geskenk aan ‘n ander broer gegee het: 200 bokooie, 20 bokramme, 200 skaapooie, 20 skaapramme, 30 kameelkoeie met hulle kalfies, 40 koeie en 10 bulle, 20 eselinne en 10 jong esels. As ‘n mens na hierdie woord “miengah” kyk, dan besef jy ‘n geskenk in die Skriftuurlike sin van die woord is eintlik veronderstel om ‘n offer te wees. Dis nie veronderstel om ‘n troosprysie te wees, of ‘n oppervlakkige gebaar waarmee jy jou eie gewete probeer stilmaak of ‘n tradisietjie in stand hou nie. Nee, as jy ‘n geskenk gee, moet jy dit voel, anders is dit nie ‘n “miengah” nie. En die beste manier om iets op so ‘n manier te gee dat jy dit voel, is om werklik van jouself te gee – iets wat vir jóú kosbaar of belangrik is op te offer of prys te gee, ter wille van die waarde wat die ontvanger van die gawe vir jou het.

In Wayyiekra (Lev) 2, waar daar taamlik in detail uitgewei word oor wat die voedseloffer alles behels, kom daar ‘n klompie merkwaardige dinge na vore:

1. Die voedseloffer het in hoofsaak bestaan uit fynmeel en olie en wierook daarby. Die Hebreeuse woord vir fynmeel gaan uit van die veronderstelling dat koring gestroop (Engels: “stripped”) moet word en gestamp en gepers, sodat ‘n mens fynmeel daaruit kan kry. Om olyfolie te kry, is die proses baie dieselfde. Die olywe moet gestroop, gestamp en gepers word om olyfolie daaruit te kry. En die Hebreeuse woord vir “wierook” is afgelei van die woord vir “hart”. Is dit toevallig dat juis hierdie begrippe saamgevoeg word en deel uitmaak van die voedseloffer? Ek dink nie so nie. Ten diepste gaan ‘n offer daaroor dat ons as mense ook gestroop en gestamp en gepers word, sodat ons harte vir Yahweh voorberei kan word en ons met ons hele hart op Hom gerig kan wees. Net soos die Messias gestroop en gestamp en gepers is en onder meer in Getsémane (wat letterlik beteken: “Plek van die olyfpers”) deur diepe smart en lyding gegaan het om die werk te doen waarvoor Hy na hierdie wêreld gestuur is, naamlik om die harte van die vaders weer by dié van die kinders te bring en die harte van die kinders by dié van die vaders.

2. ‘n Deel van die voedseloffer moes as herinneringsoffer aan Yahweh gebring word. Die Hebreeuse woord vir “herinneringsoffer” is “azkarah”. Hier is ‘n woord wat ons gerus kan onthou. Dames, vergeet gerus maar die maskara, maar moenie die ware offers aan Yahweh vergeet nie! En manne, vergeet gerus maar die waskara (of kar was), maar moenie die ware offers aan Yahweh vergeet nie. “Azkarah” beteken letterlik: “offer waarmee ek onthou” of “offer wat my help om te onthou”. As dit by Yahweh en sy guns en sy getrouheid en sy voorsiening kom, ly meeste van ons mos aan geheueverlies. Die seëninge is nog nie eens opgebruik of ingesink nie, dan het ons al klaar daarvan vergeet! Daarom moet daar gereelde offers aan Yahweh gebring word. Daaglikse offers. Azkara offers. Sodat ons nie die hand vergeet wat ons geseën het nie. En die magtige Een wat op die regte tyd uitkoms gebring het nie.

3. Hierdie herinneringsoffer moes as ‘n vuuroffer gebring word, as ‘n lieflike geur aan Yahweh. Hier is weer een van daardie geykte uitdrukkings wat ons so maklik gebruik, maar dikwels nie weet wat ons daarmee bedoel nie. Hoe is iets wat ‘n lieflike geur (‘n “sweet fragrance”) aan Yahweh is? Die Hebreeuse woord vir “lieflik” is byna onmoontlik om uit te spreek (iets soos “nigoag”) en dit is afgelei van die woord “Noag” wat ons ken as die een wat die ark gebou het. Wat beteken die woord “Noag”? Dit beteken “om te rus” maar ook “om te laat rus”. Dit beteken “om gemaklik te wees” maar ook “om iemand gemaklik te laat voel”. Is dit nie iets aangrypendheid nie? Dat ons offers van so ‘n aard kan wees dat dit die Almagtige rustig en gemaklik maak, maar dat dit terselfdertyd ook rustigheid en gemaklikheid in ons eie gemoed en in ons eie hart bring. Dis byna asof die offers in wese bedoel was om die harmonie in hierdie wêreld wat deur soveel dinge versteur word, tot so ‘n mate te herstel dat ons iets van Yahweh se volkome rus kan beleef. Dis waarom dit ‘n lieflike offer moet wees. ‘n Offer wat soos balsem is en herstel bring. Want dís wat ons as mense ten diepste nodig het.

4. Die voedseloffer moes in die vorm van ‘n koek wees wat in die oond gebak is, met een baie belangrike kwalifikasie: dit moes ongesuurd wees. Vers 11 bepaal baie duidelik: “Geen voedseloffer wat julle aan Yahweh bring, mag van iets wat ingesuur is, berei word nie.” Vyf keer word dit in hierdie hoofstuk herhaal: Die voedseloffer moet ongesuurd wees – daar mag geen suurdeeg in die proses van voorbereiding betrokke wees nie. Ons ken nou al die simboliese betekenis van suurdeeg. Dit staan vir sonde en valsheid en skyn-vroomheid. Dit is dinge wat nie vir Yahweh aanneemlik is nie. Die enigste manier waarop ons onsself kan voorberei om ‘n offer aan Hom te bring, is om sonde in ons lewe te identifiseer en dit met wortel en tak uit te roei. Ons kan nie met onrein hande en onrein lippe ‘n offer aan Hom bring nie. Só ‘n offer mag dalk goed lyk en die wêreld beïndruk, maar dis nie ‘n lieflike offer nie. En ‘n offer wat nie ‘n lieflike offer is nie, strek Yahweh nie tot eer nie en sal vir ons nie behoorlike rus bring nie.

5. ‘n Laaste vereiste vir die voedseloffer word in vers 13 gegee: “En jy moet al jou voedseloffers met sout berei, en jy mag die sout van die verbond van jou Elohiem by jou voedseloffer nie laat ontbreek nie; by al jou offers moet jy sout bring.” Sout is die teenoorgestelde van suurdeeg. Suurdeeg veroorsaak fermentasie en gisting en uiteindelik verrotting. Sout werk hierdie dinge teë. Sout is ‘n preserveermiddel. Sout bring duursaamheid en gee smaak. Maar bo alles is sout die simbool van Yahweh se verbond. Want Yahweh se verbond is ‘n ewige verbond wat nie sal bederf of sal wegkwyn nie en bedoel is om ons te preserveer totdat ons die koninkryk binnegaan wat Hy van die grondlegging van die wêreld af vir ons voorberei het. Ons mense het ‘n manier om ewe entoesiasties met iets te begin en na ‘n tyd belangstelling te verloor en toe te laat dat daardie “iets” wat aan die begin vir ons so kosbaar en spesiaal was, te laat doodloop of te laat wegkwyn. Ons vergeet ons eerste liefde. Soos wat ‘n kind met ‘n nuwe speelding maak. Ons offers aan Yahweh mag nooit so ‘n patroon volg nie. Daarom moet ons offers, simbolies, altyd met sout gepaardgaan – die vasberadenheid om nie in ons ywer te verslap nie – om vir ons te help om nie ons perspektief op die ewigheid te verloor nie …

Views: 23

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *