SHAVUOT, FEES VAN VREUGDE

alternate textShavuot, ook bekend as Fees van Weke (Shemot / Ex 34:22); Fees van die Oes (Shemot / Ex 23:16), Dag van die Eerstelinge (Bemiedbar / Num 28:26) en Pinkster (Engels: “Pentecost” – afgelei van die getal “50”) is seker een van die mees kleurryke feeste wat in die Skrif vermeld word. In die Skrif word Shavuot voorgestel as ‘n belangrike fees, een van die drie grotes wat jaarliks deur almal wat op een of ander manier met die volk van Yahweh verbind was, gehou moes word. “En jy moet vrolik wees voor die aangesig van Yahweh jou Elohiem, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Lewiet wat in jou poorte is, en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat by jou is, op die plek wat Yahweh jou Elohiem sal uitkies om sy Naam daar te laat woon” (Devariem / Deut 16:11). Die Yehudiem (Jode) het oor die jare ‘n arsenaal van baie interessante tradisies en gebruike rondom Shavuot opgebou wat nie direk deur die Torah voorgeskryf word nie, maar wat dikwels belangrike aspekte van die betekenis van Shavuot na vore bring en vir ons kan help om ‘n groter begrip van hierdie fees te kry.

Een gebruik is die lees van ‘n Aramese gedig wat bekend staan as “Akdamut” tydens die oggenddiens op die dag van Shavuot. Hierdie gedig is meer as 900 jaar gelede deur ‘n sekere Rabbi Meir geskryf, nadat sy seun in die kruistog van 1096 vermoor is. Rabbi Meir wou met hierdie gedig die grootheid van die Skepper, die Torah en die volk Israel besing. Hier is ‘n Engelse vertaling van die roerende eerste gedeelte van hierdie gedig:

Before I begin to read his Words (The Ten Commandments),
I will ask Permission,
Of the One Whose Might is such that –
Even if all the heavens were parchment,
And all the reeds pens,
And all the oceans ink,
all people were scribes,
It would be impossible to record
the Greatness of the Creator,
Who Created the World with a soft utterance,
And with a single letter, the letter “heh,”
The lightest of the letters.

Nog ‘n gevestigde gebruik met Shavuot is om spesifiek kossoorte wat melk en suiwelprodukte bevat, tydens hierdie fees te geniet. Die oorsprong van hierdie tradisie is nie heeltemal seker nie, maar een rede wat genoem word is dat Shavuot by uitnemendheid ‘n fees van die Torah is (vgl. Shemot / Ex 19:1) en dat die Torah soms met melk vergelyk word (onder meer in Shier Hashiriem / Hooglied 4:11). Nog ‘n rede wat vir hierdie gebruik gegee word is dat die Hebreeuse woord vir melk (“chalav”) ‘n numeriese waarde van 40 het en dat dit herinner aan die 40 dae en 40 nagte wat Mosheh op Sinai deurgebring het toe hy die Torah van Yahweh ontvang het. Of ons hierdie tradisie navolg, of nie, is nie so belangrik nie, maar dis die een fees wat ons spesifiek aan die Torah herinner en aan die uiterste maatreëls wat die Almagtige geneem het om te verseker dat die Torah in die hart van sy volk gevestig word.

‘n Derde gebruik is om die boek Rut tydens die oggenddiens van Shavuot te lees. Waarom juis Rut? Vir die Yehudiem is die antwoord baie duidelik. Rut speel af binne die tydperk van die gars- en koringoes, wat ooreenstem met die tyd van Shavuot. Rut 2:23 “So het Rut dan by die diensmeisies van Boáz aangesluit om are op te tel totdat hulle met die gars-oes en die koringoes klaar was; en sy het by haar skoonmoeder gewoon.” Verder bring die boek Rut die waarheid na vore dat iemand wat ‘n “vreemdeling” is by Israel kan aansluit, en Israel, op sy beurt, word gedefinieer deur die onderhouding van die Torah. Wat meer is, Dawied was die agter-kleinkind van Rut en volgens Joodse tradisie is Dawied gebore op die dag van Shavuot en het hy ook gesterf op die dag van Shavuot. Kan ons hierdie tradisie glo? Heel waarskynlik nie, maar wat ons wel kan glo is dat “vreemdelinge” vandag nog by die ware Israel kan aansluit en dat Y’shua, ‘n direkte nasaat van Dawied, die deur vir mense soos ons wa-wyd oopgemaak het om die Torah, en die feeste wat deel daarvan uitmaak, te omhels en ons eie te maak.

Dan is daar die tradisie om groen plante en struike en blomme (“yereq”) op prominente plekke te plaas tydens die feesvieringe van Shavuot. Waarom? Die Midrash verklaar dat “Mount Sinai suddenly blossomed with flowers in anticipation of the giving of the Torah on its summit”. Verder glo baie Yehudiem dat Mosheh se moeder hom op die dag van Shavuot tussen die groen riete (en blare en struike) in die Nyl weggesteek het, op dieselfde dag waarop hy later die Torah op die berg Sinai ontvang het. Sinai word ook gesien as ‘n tipe “chuppah” waaronder die volk gestaan het toe hulle met Yahweh in die huwelik getree het en die Torah as huwelikskontrak ontvang het. Alhoewel baie aspekte van hierdie tradisie nie direk uit die Skrif afgelei kan word nie, kan ons op die vooraand van Shavuot ons ook waarlik verbly in die wete dat die Torah allesbehalwe “verstok en versteen en verdor” is (soos so dikwels in kerke verkondig word) en dat ons op grond van Tehielliem / Psalm 1 weet dat die een wat ‘n behae het in die Torah “sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie”, ja, “alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit”.

‘n Laaste tradisie wat ook hier genoem behoort te word, is die gebruik om die nag vóór die dag van Shavuot wakker te bly om die Torah te bestudeer. Die verklaring vir hierdie tradisie is dat die volk by Sinai glo verslaap het op die dag toe Mosheh die Torah moes ontvang en dat hy hulle moes gaan wakker maak sodat hulle hulle posisie aan die voet van die berg kon inneem. Om vir hierdie vermeende “swakpunt” in die karakter en geskiedenis van die volk te vergoed, het toegewyde Yehudiem besluit om die nag van Shavuot wakker te bly en die Torah te bestudeer. Hierdie gebruik word vandag nog wêreldwyd deur Yehudiem nagevolg en in Jerusalem loop duisende Yehudiem voor dagbreek van Shavuot na die Westelike Muur en kom daar saam vir ‘n “sonsopkoms” byeenkoms. Behoort ons dit ook te doen? Nie noodwendig nie, maar die punt is: Ons kan so maklik deurnag wakkerbly vir iets wat ons interesseer of iets wat ons meen belangrik is. Is ons begeerte na die Torah van só ‘n aard dat ons ‘n nag sal kan wakkerbly om dit te bestudeer, ons daarin te verbly, toe te laat dat dit ons gedagtes deurspoel en met Yahweh daaroor te praat? ‘n Mens begin werklik met nuwe oë te kyk na die tradisies van die Yehudiem en besef dat daar dikwels groot waarde en betekenis in opgesluit lê.

Die Yehudiem het ‘n besonderse manier om hierdie vyf tradisies van Shavuot in verhouding te plaas met dit wat swart op wit in die Torah oor Shavuot geskryf staan. Hulle wys daarop dat die eerste letter van elk van die vyf sleutelwoorde (Akdamut, Chalav, Rut, Yereq en Torah) gesamentlik die woord “acharit” vorm, wat “laaste” beteken. As daar ‘n “laaste” is, moet daar ook ‘n “eerste” wees en dit, sê hulle, is die geskrewe Torah self. Torah is die eerste (“reshiet”), die belangrikste, maar dit word aangevul en verduidelik en ingekleur deur die laaste (“acharit”), oftewel die tradisies en gebruike – in hierdie geval, tradisies en gebruike oor Shavuot.

Miskien is dit in hierdie sin dat ons ook aan Y’shua as die “Eerste” en die “Laaste” moet dink. Hy het ons kom leer oor die voorrang en die belangrikheid van Torah (“Moenie dink dat ek gekom het om die Torah te ontbind nie …”). Dit het Hy nie net geleer nie en gepreek nie, maar ook met sy lewe gedemonstreer (“Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie …”). Tydens sy lewe hier op aarde was Hy in die ware sin van die woord die verpersoonliking van die Torah as die “eerste”. Maar Hy is ook die “laaste” omdat Hy aanvul wat nog by die Torah ontbreek het. Daarom dat Shaúl skryf “Want die Messias is die einde van die Torah tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom 10:4). Strongs definieer hierdie woord “einde” (Gr. “telos”) as volg: “the point aimed at … the conclusion … the result … the ultimate purpose … the custom”. Ja, Hy (Y’shua) was dit waarna die Torah vooruit gewys het, dit wat die Torah eintlik in gedagte gehad het. Sy lewe was soos die “tradisie” (Eng. “custom”) wat die Skrifwoord ingekleur en aangevul en verduidelik het. Hy het nie net 30 jaar lank ingestaan vir die “eerste” nie, nee, Hy maak vandag nog mense se oë oop vir die “laaste”.

Views: 175

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *