BENODIG: RIGTERS NA DIE VADER SE HART

alternate textIn die boek Shofetiem (Rigters) tref ons twee maal die uitdrukking aan: “Elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë” (17:6 en 21:25). ‘n Mens kan nie help om dieselfde woorde te wil uitspreek oor die wêreld wat ons vandag ken nie: “Elkeen is besig om te doen wat reg is in sy eie oë”. Ongeveer tussen die jare 1200 v.M. En 1000 v.M. het Yahweh 12 manne en vroue opgerig om sy volk te rig, of te “shafat”. Dis van hierdie woord dat die naam van die boek “Shofetiem” vandaan kom en die woord “shafat” beteken onder meer “to judge, to govern, to punish, to defend, to plead and to rule”. Dit wat die rigters destyds in die midde van die volk van Yiesraél moes doen, is presies wat regeerders en leiers van die nasies vandag nog veronderstel is om te doen. En wat baie nie meer doen nie. Daarom kry ons situasies soos wat ons in Egipte die afgelope drie weke gesien het, en in Zimbabwe, die afgelope drie dekades. Daarom kry ons leiers in Suid-Afrika wat op die oog af heel demokraties is en die regte geluide maak, maar wat nie die Gees van Yahweh in hulle het nie en daarom nie die weë van Yahweh soek nie. Die beginsels van die boek Rigters sou natuurlik ook op leiers op ander areas, selfs leiers van geloofsgroepe, van toepassing gemaak kon word. Interessant dat daar nie minder nie as sewe maal in die boek Rigters verwys word daarna dat die Gees van Yahweh op ‘n rigter gekom het of oor hom vaardig geword het.

Dit is net so interessant om ‘n studie te maak van die name van die 12 rigters van wie ons in die boek Shofetiem lees. Name het mos betekenis en dikwels lê daar belangrike boodskappe opgesluit in die name van mense van wie ons in die Skrif lees. Kom ons doen ‘n slaggie ‘n studie van die boek Rigters, deur op die name van die rigters te konsentreer en te kyk hoe elkeen van hierdie name aansluit by dit wat een van die grootste en wysste konings van alle tye oor leierskap en gesonde beginsels van regering gesê het. Die koning na wie ek verwys, is Shelomo (Salomo) en ons gaan veral kyk na twee boeke wat volgens alle aanduidings deur hom geskryf is, Mieshleh (Spreuke) en Kohelet (Prediker).

Eerste rigter: OTNIÉL (Rig 3:9). Sy naam hou heel moontlik verband met die Hebreeuse woord “ot” wat “krom” beteken en hierdie woord kom voor in Pred 7:13 “Aanskou die werk van Elohiem, want wie kan reguit maak wat Hy krom (“ot”) gemaak het?”

Beginsel: Enige leier wat die werk van Elohiem probeer ongedaan maak of verander of verbeter, verstaan nie wat ware leierskap beteken nie.

Tweede rigter: EGUD (Rigt 3:15). Sy naam hou verband met die Hebreeuse woord “egad” wat “een” beteken en hierdie woord kom voor in Pred 9:18 “Wysheid is beter as oorlogswapens, maar een (“egad”) sondaar bederf baie goeie dinge.”

Beginsel: Dit kos net een leier met ‘n verdraaide idee van geregtigheid en integriteit om ‘n wanklank in enige regering of instansie van leierskap in te bring.

Derde rigter: SHAMGHAR (Rigt 3:31). Sy naam hou verband met die Hebreeuse woord “gharah” wat “kwaad stook” of “twis verwek” beteken en hierdie woord kom voor in Spr 28:25 “Die hebsugtige verwek (“gharah”) twis; maar hy wat op Yahweh vertrou, word verkwik.”

Beginsel: Enige vorm van leierskap wat op hebsug of gierigheid gebaseer is, dui op ‘n gebrek aan vertroue op Yahweh en sal nie verkwikking vir die mense meebring nie.

Vierde rigter: DEVORAH (Rigt 4:4). Haar naam hou verband met die Hebreeuse woord “davar” wat “woord” of “praat” beteken en hierdie begrip kom voor in Spr 25:11 “Goue appels op versierde silwerborde, so is ‘n woord (“davar”) op sy tyd gepraat.”

Beginsel: ‘n Leier kan wondere verrig met gepaste woorde wat op die regte tyd gespreek word, woorde wat van wysheid, deernis en integriteit getuig.

Vyfde rigter: GID’ON (Rigt 6:11). Sy naam hou verband met die Hebreeuse woord “ghadah” wat “afbreek, laat val of vernietig” beteken. Hierdie woord kom voor in Jes 22:25 “In daardie dag, sê Yahweh van die leërskare, sal die pen padgee wat in ‘n vaste plek ingeslaan is: dit word afgebreek (“ghadah”) en val.” Dieselfde begrip “afgebreek” kom voor in Spr 11:11, waar daar ‘n ander Hebreeuse woord met dieselfde betekenis gebruik word: “Deur die seën van die opregtes kom ‘n stad op, maar deur die mond van die afvallige word dit afgebreek.”

Beginsel: Daar kan nie seën op ‘n stad of ‘n land of ‘n organisasie rus wanneer afvalliges toegelaat word om beheer uit te oefen of selfs net afbrekende woorde daaroor uit te spreek nie.

Sesde rigter: TOLA  (Rigt 10:1). Sy naam hou verband met die Hebreeuse woord “yalah” wat beteken “om iets te verslind of in te sluk sonder om te kyk” en ook “om te praat sonder om te dink of om iets onbedagsaam te sê”. Hierdie woord kom voor in Spr 20:25 “Dit is vir die mens ‘n strik dat hy onbedagsaam sê (“yalah”): Afgesonder! om dan eers na die geloftes te oorweeg.”

Beginsel: Baie leiers trap in die strik om met verkeerde motiewe (maar met die regte geluide, geloftes en beloftes) ‘n posisie van leierskap te aanvaar, sonder die nodige toewyding om die volle pakkie te dra.

Sewende rigter: YAÍER (Rigt 10:3). Sy naam hou verband met die Hebreeuse woord “or” wat beteken “om lig uit te straal” en hierdie woord kom voor in Spr 4:18 “Terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig (“or”) van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.”

Beginsel: ‘n Leier wat sy sout werd is, moet vanweë sy regverdigheid voortdurend lig uitstraal wat mense help om beter te kan sien en verkwik te word en gerus te voel.

Agste rigter: YIEFTAG (Rigt 11:11). Sy naam hou verband met die Hebreeuse woord “patag” wat beteken “om oop of los of vry te maak” en dit kom voor in Spr 31:9 “Maak jou mond oop (“patag”), oordeel regverdig, en verskaf reg aan die ellendige en die behoeftige.”

Beginsel: ‘n Leier wat bereid is om sy mond oop te maak in gevalle waar daar verdrukking en onreg en ellende is, sal waarlik vryheid, verlossing en uitkoms bring.

Negende rigter: IEVTSAN (Rigt 12:8). Sy naam hou heel moontlik verband met die Hebreeuse woord “batsah” wat beteken “om onregverdig wins te maak” en dit kom voor in Spr 1:19 “So gaan dit met almal wat onregverdige wins maak (“batsah”): dit ontneem sy besitter die lewe.”

Beginsel: Enige leier of vorm van regering wat selfs net toelaat dat mense onregverdig wins maak, steel nie net mense se goed nie, maar ook hulle lewens.

Tiende rigter: ELON  (Rigt 12:11). Sy naam hou verband met die Hebreeuse woord “ayiel” wat “mag of magtig” beteken en dit kom voor in Spr 3:27 “Hou ‘n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in die mag (“el” afgelei van “ayiel”) van jou hand is om dit te doen nie.”

Beginsel: Hulle wat mag in hulle hand (van Yahweh) ontvang het, het ‘n groot verantwoordelikheid om nie weldade van mense te weerhou aan wie dit toekom nie.

Elfde rigter: AVDON (Rigt 12:13). Sy naam hou verband met die Hebreeuse woord “avad” wat beteken “om te dien; om soos ‘n dienskneg te werk” en dit kom voor in Spr 12:11 “Wie sy land bewerk (“avad”), het volop brood; maar hy wat nietighede najaag, het gebrek aan verstand.”

Beginsel: ‘n Leier of regering wat nie bereid is om, soos die Messias, die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en te werk nie, sal nooit ‘n groot impak hê nie.

Twaalfde rigter: SHIEMSHON (Rigt 13:24). Sy naam hou verband met die Hebreeuse woord “shemesh” (“son”) soos onder meer in Pred 3:16 “Ek het gesien onder die son (“shemesh”) die plek van die gereg – daar was onreg, en die plek van geregtigheid – daar was onreg.”

Beginsel: Yahweh se bedoeling is dat alles onder die son, in sy lig sal plaasvind, wat insluit dat daar nie onreg geduld sal word deur hulle wat Hy aangestel het om reg te beoefen nie.

Jes 30:26 En die lig van die maan sal wees soos die lig van die son, en die lig van die son sal sewevoudig wees, soos die lig van sewe dae, op die dag as Yahweh die breuk van sy volk verbind en die wond gesond maak wat aan hulle geslaan is.

Opb 21:23 En die stad het die son of die maan nie nodig om op haar te skyn nie, want die voortreflikheid van Elohiem het haar verlig, en die Lam is haar lamp.

Views: 68

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *