Een van die gereelde rubriekskrywers van die Suid-Afrikaanse nuus webblad, News 24, het hierdie week ‘n baie interessante artikel met die opskrif “Unplug yourself” geskryf. In die artikel verwys sy na Susan Maushart, ‘n ma van vier van New York wat onlangs ‘n boek geskryf het met die titel The Winter of our Disconnect – ‘n publikasie wat nogal rimpelings in sommige kringe veroorsaak het en wat taamlike stof tot nadenke bevat. Susan Maushart en haar gesin het ‘n eksperiment aangegaan waarin hulle vir 6 maande lank as gesin geheel en al opgehou het om “anything with a screen” te bekyk of te beluister of selfs net aan te skakel – met ander woorde 6 maande sonder TV, rekenaar, internet, selfoon, Facebook, Twitter, rekenaarspeletjies of enige van die moderne ekwivalente van hierdie “era van die multimedia” waaraan meeste van ons, oor die afgelope twee of drie dekades, byna geruisloos, so verknog geraak het.
Susan Maushart se kinders het heel interessant gereageer op hulle gesin se 6 maandelange eksperiment. Haar een seun het besluit om “unplugged” te bly. Hy het die bekoring van die saxofoon ontdek en besluit om so veel tyd as moontlik daaraan te bestee. Haar twee ander seuns het ‘n liefde vir bordspeletjies en voetslaan ontwikkel en bring nou meeste van hulle vrye tyd op dié manier deur. Haar oudste dogter se punte op skool het aansienlik verbeter. Susan Maushart kom tot die gevolgtrekking dat dit nie nodig is om volledig te “ontkoppel” nie, maar wys daarop dat al ons elektroniese “hulpmiddels” in baie opsigte nie so baie help as wat ons gemeen het nie en dat dit veral ons kinders ontneem van die geleentheid “to embrace the wondrous things that real life has to offer.” Sy stel voor dat gesinne op een “ongekonnekteerde” dag per week besluit en op dié manier probeer terugkeer na die eenvoudiger en skoner aspekte van die lewe.
Heelwat mense het gereageer op hierdie artikel. Baie van hierdie mense het melding gemaak van wat hulle meen, méér beteken as rekenaars en selfone en dergelike kommoditeite. Party het gesê om ‘n boek of twee elke week te lees, in plaas van ure voor ‘n skerm deur te bring, is beter. Party voel dat families moet tyd maak om doodeenvoudig met mekaar te praat. Ander het gewys op die voordele van naweke gaan kamp, as families saam sport beoefen en bordspeletjies speel. “Fight the monotony with Monopoly!” Een persoon se kommentaar was: “Get a life and listen to the birds tweeting.” (Ek is seker dis nie waar die term “twitter” vandaan kom nie!) Nog iemand het gesê hy verkies “sitting on the stoep and talking to the dog”. Die interessante ding is dat meeste deelnemers aan die gesprek net oor die verre verlede kon praat: “We used to do this or that” of “I remember how we did so and so” of “What memories you bring back …”. Dis baie duidelik dat daar maar bitter min is wat hierdie “outydse” aktiwiteite vandag nog beoefen.
Die vraag wat by my opgekom het, is dit: Lê die oplossing werklik daarin om bloot net te “unplug”? Lê dit nie eerder dáárin om te “unplug” en aan ‘n beter Voedingsbron te herkonnekteer nie? Ek persoonlik het nie aan die kloue van die moderne media en tegnologie ontkom nie. En in my eie gemoed is daar geen twyfel nie: Hoe nuttig en voordelig al hierdie dinge ook al mag wees, dit stomp jou af en dit knaag stadig maar seker aan jou aptyt vir die lewe en jou waardering vir die eenvoud en die skoonheid van dit wat Yahweh geskape het. Enige vorm van terugkeer na ‘n soort leefstyl wat aardgebonde en eenvoudig en gestroop is van oormatige tegnologie, moet verwelkom word. Maar wat ons almal nog nodiger het as dít, is om gekonnekteer te wees aan Hom wat die lewe self ontwerp het, wat skoonheid beter as enige ander gedefinieer het en wat in staat is om vervulling en tevredenheid te bring, soos wat niemand anders dit kan doen nie.
Kom ons kyk wat die Skrif hieroor te sê het.
Ps 19:8-9 Die bevele van Yahweh is reg: hulle verbly die hart; die gebod van Yahweh is suiwer: dit verlig die oë. Die vrees van Yahweh is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van Yahweh is waarheid – tesame is hulle regverdig.
‘n Groot deel van die verwarring oor watter soort tydverdryf vir ons voordelig is, het begin toe ons die vrees van Yahweh by die agterdeur uitgegooi het.
Spr 2:4-5 as jy daarna (na wysheid) soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van Yahweh verstaan en die kennis van Elohiem vind.
Meeste mense het lankal opgehou met hierdie soektog en glo selfs nie meer dat daar so ‘n verborge skat is wat Yahweh graag tot hul beskikking wil stel nie.
Pred 3:11-12 Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat Elohiem doen, van begin tot einde, kan uitvind. So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe.
Die verstaan en geloof dat Yahweh alles mooi gemaak het en op die regte tyd laat gebeur, stel ‘n mens in staat om bly te wees en die goeie in die lewe te geniet.
Jes 55:1-2 o Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.
Die diepste dors wat ons as mense ervaar, is ‘n dors wat Yahweh alleen kan les. Om jou in daardie vettigheid te verlustig, is iets wat met niks anders vergelyk of vervang kan word nie.
Jer 31:12-13 En hulle sal kom en op die hoogte van Tsion jubel en toestroom na die seëninge van Yahweh, na die koring en die mos en die olie en na die jong skape en beeste; en hulle siel sal wees soos ‘n welbesproeide tuin, en hulle sal verder nie meer kwyn nie. Dan sal die jonkvrou haar verheug in die koordans, ja, die jongmanne en die oues tesame; en Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en hulle tot blydskap bring uit hulle kommer.
Hierdie seëninge kan net gerealiseer word in die lewens van mense wat aan Yahweh (en aan sy volk) gekonnekteer is en wat Tsion as hulle eie eindbestemming aanvaar.
Mat 11:28-30 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.
Te veel mense gaan soek bevrediging en vervulling in bronne en op plekke waar daar nie waarlik rus en verkwikking gevind kan word nie.
Opb 2:7 Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat in die paradys van Elohiem is.
Deur ons oë en ons ore meeste van die tyd te spits vir dit wat die wêreld van die multimedia vir ons aanbied, gaan ons mettertyd ons kapasiteit verloor om te hoor wat die Gees aan die gemeentes sê!
Views: 40