OM KWESBAAR TE WEES

alternate textIemand skryf die afgelope week op ons Blog dat hy onlangs uit die kerk bedank het (hoofsaaklik a.g.v. die kwessie van Sondagaanbidding) en dat hy op die oomblik nog baie “vulnerable” voel en maar net met alles wat hy het aan Yahweh vasklou, sodat hy nie te veel in sy geloof ontwrig word nie. Meeste van ons wat hierdie pad stap, ken die gevoel van “vulnerability” of kwesbaarheid. ‘n Mens kan volledig identifiseer met elkeen wat die groot stap neem om die veiligheid en gemak van ‘n gevestigde kerk en jarelange tradisies te verlaat en die vreemde en onsekere wêreld van “bagasielose” geloof te betree. Geloof wat van onnodige en onskriftuurlike “padding” gestroop is en dit waag om Elohiem-gerig in plaas van mens-georiënteerd te wees. ‘n Mens kan byna sê: Naakte geloof. Geloof wat nie opgesmuk of mooigemaak is nie en wat nie wegskram daarvan om kwesbaar of “vulnerable” te wees nie.

Dit tref ‘n mens hoe kwesbaar (“vulnerable”) elkeen van die geloofsreuse was van wie ‘n mens in die Skrif lees – mense soos Job, Avraham, Dawied, EliYahu, YermeYahu, Kefa, Shaúl en selfs Y’shua. Iemand het êrens geskryf (of dalk is dit die woorde van ‘n liedjie): “I laugh, I love, I hope, I try, I hurt, I need, I fear, I cry. And I know you do the same things too, So we’re really not that different, me and you”. Dis ook waar van ons wat hierdie pad loop. Ons mag van mekaar verskil. Ons kom uit totaal verskillende agtergronde. Ons sterkpunte en swakpunte is nie dieselfde nie. Ons is unieke mense met ons eie, unieke kenmerke. Maar ons is almal kwesbaar. En daarom verskil ons in werklikheid nie so baie van mekaar nie. Almal van ons het lief, maar kry soms ook seer. Almal van ons kan lag, maar huil soms oor die swaarkry en rampspoed rondom ons. Ons besef hoe ryk ons in die Messias is, maar ken ook die realiteit van armoede en nood en gebrek. Ons het ‘n hoop om elke dag aan vas te hou, maar elke nou en dan word ons so gestoomroller deur ons omstandighede dat dit vir ons voel iemand het die mat onder ons uitgepluk.

Die woord “vulnerable” kom oorspronklik van die Latynse begrippe “vulnerare” (“om te verwond”) en “vulnus” (“’n wond” – Engels: “a wound”). Na aanleiding hiervan beteken die woord “vulnerable” iets soos: “capable of being physically or emotionally wounded or hurt”. Dit kan egter ook beteken: “open to temptation, criticism, moral attack, rejection or even failure”. Iemand wat “vulnerable” is, kan maklik seerkry of van stryk gebring word en is ‘n teiken vir die Vyand om met sy bose pyle skade aan te rig – net soos wat Paris (in die fliek “Troy”) met een enkele pyl skade aangerig het omdat Achilles (gespeel deur Brad Pitt), met sy onbeskermde enkel, ‘n kwesbare teiken was.

Moet ‘n mens maar liewer in jou gemakstoel bly sit en aan mensgemaakte tradisies bly vashou om te verhoed dat jy nie “vulnerable” word en ‘n oop teiken vir die aanvalle van die Bose is nie? Beslis nie! Om voluit te lewe en om lief te hê en om passievol te wees in wat jy doen, is om kwesbaar te wees! Iemand het gesê: “We’re never so vulnerable than when we trust someone – but paradoxically, if we cannot trust, neither can we find love or joy.” Kom ons kyk na ‘n aantal voorbeelde van kwesbaarheid in die Skrif:

Die kwesbaarheid van Avraham toe hy voor die byna onmoontlike keuse gestaan het om te kies tussen gehoorsaamheid en sy eie seun.

Gen 22:1-2 Na hierdie dinge het Elohiem Avraham op die proef gestel en aan hom gesê: Avraham! En hy antwoord: Hier is ek! Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Yietsgak, en gaan na die land MoriYah en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.

Die kwesbaarheid van Iyov (Job) toe byna alles wat vir hom kosbaar was, van hom weggeneem is.

Job 1:20-22 Toe staan Iyov op en skeur sy mantel, en hy het sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval en gesê: Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Yahweh het gegee, en Yahweh het geneem: die Naam van Yahweh sy geloofd! By dit alles het Iyov nie gesondig en aan Elohiem niks ongerymds toegeskryf nie,

Die kwesbaarheid van Dawied toe hy in ‘n leefstyl van vlug en wegkruip geforseer is en deurlopend met afvlerk-mense omring was.

1 Sam 22:1-2 En Dawied het daarvandaan weggegaan en ontvlug na die grot van Adullam; en toe sy broers en sy hele familie dit hoor, het hulle daarheen afgetrek na hom. Verder het by hom vergader elkeen wat in benoudheid was, en elkeen wat ‘n skuldeiser gehad het, en elkeen wat verbitterd was; en hy het owerste oor hulle geword, sodat daar omtrent vier honderd man met hom saam was.

Die kwesbaarheid van EliYahu toe hy vir sy lewe gevrees het nadat hy die Baál profete laat doodmaak het.

1 Kon 19:3-4 En hy het gevrees en hom klaargemaak en ter wille van sy lewe weggegaan. En toe hy in Beérsheva in Yehudah aangekom het, het hy sy dienaar daar laat agterbly; maar self het hy ‘n dagreis ver die woestyn ingegaan en daar onder ‘n besembos gaan sit en gewens dat hy mag sterf. En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel weg, Yahweh, want ek is nie beter as my vaders nie.

Die kwesbaarheid van YermeYahu toe hy besef dat die woord van Yahweh vir hom ‘n bron van vervolging geword het, maar dat hy nogtans nie daaroor kan stilbly nie.

Jer 20:7-9 Yahweh, U het my oorgehaal, en ek het my laat oorhaal; U was te sterk vir my en het oorwin; ek was ‘n bespotting die hele dag, almal saam spot met my. Want elke keer as ek praat, moet ek dit uitskreeu, moet ek roep: Geweld en verdrukking! – omdat die woord van Yahweh vir my ‘n oneer en spot geword het die hele dag. En as ek sê: Ek sal aan Hom nie dink nie en in sy Naam nie meer praat nie, dan word dit in my hart soos ‘n brandende vuur, opgesluit in my beendere. En ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie.

Die kwesbaarheid van Shaúl wat tot Yahweh gebid het om die doring in sy vlees weg te neem.

2 Kor 12:7-9 En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my ‘n doring in die vlees gegee, ‘n boodskapper van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. Hieroor het ek die Meester drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: My guns is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid vervul. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van die Messias in my kan woon.

Die kwesbaarheid van Y’shua wat die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem het en straf ter wille van baie ander verduur het.

Fil 2:7-8 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die folterpaal.

Ps 46:5 Elohiem is daar binne-in, dit sal nie wankel nie;

Ps 85:6 Sal U ons nie weer lewend maak, sodat u volk in U bly kan wees nie?

Ps 97:12 Wees bly in Yahweh, en dankbaar by die gedagte aan sy afgesonderdheid.

Views: 367

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *