DIE ANDER TIEN GEBOOIE

alternate textBaie mense wat sê dat hulle glo, maak nie veel erns met die bekende Tien Gebooie of Tien Woorde wat in Shemot (Exodus) 20 en Devariem (Deuteronomium) 5 opgeteken staan nie. Andere sê weer: Vergeet van die res van die Torah – sorg net dat jy die Tien Gebooie nakom. Nie een van hierdie twee standpunte laat reg geskied aan die volle inhoud van die Skrif nie. Die Tien Gebooie is uit die aard van die saak belangrik, en dek ook baie van die ander gebooie en bepalinge van die Torah. Maar dit sluit nie alles in nie. En nêrens in die Skrif word selfs eens net geïmpliseer dat ‘n mens slegs die Tien Gebooie moet ernstig opneem nie.

Hierdie week se Torah lesing sluit in: Wayyiekra (Lev) 21 tot 24. ‘n Opvallende kenmerk van hierdie vier hoofstukke is dat dit deel vorm van ‘n groep hoofstukke in Wayyiekra (beginnende by hoofstuk 18) waarin die volk telkens daaraan herinner word dat hulle nie die Naam van Yahweh moet ontwy of moet laster nie. “Jy mag die Naam van jou Elohiem nie ontwy nie” (18:21); “julle mag nie vals sweer by my Naam en so die Naam van jou Elohiem ontwy nie” (19:12); “Ek sal my aangesig teen daardie man rig … wat my afgesonderde Naam ontwy” (20:3); “hulle mag die Naam van hulle Elohiem nie ontwy nie” (21:6); “sodat hulle my afgesonderde Naam nie ontwy nie” (22:2); “en ontwy my afgesonderde Naam nie” (22:32) en “wie die Naam van Yahweh laster, moet beslis doodgemaak word” (24:16).

Wat hiermee bedoel word, is kennelik dat die volk aan Yahweh en dus aan sy Naam verbind is en dat hulle gedrag en optrede daarom nie sy Naam in oneer moet bring nie. Vanaf die begin van Wayyiekra 18 tot aan die einde van hierdie boek, Wayyiekra 27, word die uitdrukking “Ek is Yahweh” of “Ek is Yahweh jou Elohiem” nie minder nie as 47 keer gebruik. Behalwe dat dit die ontsettende belangrikheid van sy Naam beklemtoon, is die doel van hierdie herhaling om mense voortdurend daaraan te herinner dat ‘n mens jou nie van die Almagtige en van sy Naam kan distansieer soos dit jou pas nie. Hy is Yahweh en Hy is ons Elohiem en ons is aan Hom verbind en mag op geen manier sy Naam deur die modder sleep nie – maak nie saak in watter situasie ons ons bevind nie. Die sekerste manier om die Naam van Yahweh deur die modder te sleep is om dinge te doen wat Hy uitdruklik gesê het ‘n mens nie moet doen nie. ‘n Mens hoef nie in ‘n maalkolk van redenasies te verval oor watter van die fynere detail van die Torah vandag nog net so op ons van toepassing is nie. ‘n Mens kan bloot een, samevattende gebod uit elkeen van die laaste tien hoofstukke van Wayyiekra haal en dit, sáám met die bekende Tien Gebooie, deel van jou lewe maak – nie om daardeur jou redding te verdien nie, maar om daardeur behoorlike eer en respek aan Yahweh se Naam te bewys.

EERSTE GEBOD (Lev 18): Jy mag die heidense gebruike van ander nasies nie navolg nie.

TWEEDE GEBOD (Lev 19): Jy moet jou naaste liefhê en met respek behandel.

DERDE GEBOD (Lev 20): Jy mag jou nie oorgee aan seksuele perversiteit nie.

VIERDE GEBOD (Lev 21): Jy mag nie onbevoegde priesters en leiers in jou midde duld nie.

VYFDE GEBOD (Lev 22): Jy mag aan Yahweh nie iets offer wat onrein of gebreklik is nie.

SESDE GEBOD (Lev 23): Jy moet Yahweh se afgesonderde tye eerbiedig.

SEWENDE GEBOD (Lev 24): Jy moet toesien dat reg en geregtigheid teenoor almal geskied.

AGSTE GEBOD (Lev 25): Jy mag jou naaste nie onregmatig verdruk nie.

NEGENDE GEBOD (Lev 26): Jy mag die woorde van Yahweh nie minag nie.

TIENDE GEBOD (Lev 27): Jy moet gereeld en getrou aan Yahweh gee wat Hom toekom.

Views: 29

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *