DIE KUNS OM TE ONDERSKEI

alternate textHierdie week se Torah gedeelte sluit in Wayyiekra (Levitikus) 6, 7 en 8. Soos op soveel ander plekke in die Torah, begin die nuwe hoofstuk (of nuwe onderafdeling) met die woorde: “Verder het Yahweh met Mosheh gespreek en gesê …”. Dit sou ook bloot letterlik as volg vertaal kon word: “En Yahweh het met Mosheh gespreek deur te sê …”. Soms wonder mens of daar werklik soveel woorde en sinne en opdragte en bepalinge nodig was. En waarom daar so baie klem gelê is op woorde soos “spreek”, “sê”, “opdrag”, “beveel”, “Torah”, “insetting”. In Wayyiekra 6 alleen is daar nie minder nie as 16 sulke woorde – en elkeen van hierdie woorde herinner ‘n mens daaraan dat daar sekere dinge gesê word waarna jy moet luister en wat jy moet doen. Geen wonder dat daar in sekere kringe so ‘n negatiewe sentiment teenoor die Torah en selfs die Ou Verbond, in sy geheel, is nie. Wat is die nut daarvan om al hierdie dinge wat gesê en beveel en opgeskryf is, ter harte te neem?

Daar is natuurlik nie net een antwoord op hierdie vraag nie. Maar in die Torah self vind ‘n mens minstens een antwoord wat werklik sin maak en wat opnuut as motivering dien om fyn te lees en te luister na wat daar in die Torah staan en dit ook ter harte te neem – selfs al moet ‘n mens toegee dat dit nie vandag fisies moontlik is om elke spesifikasie van die Torah tot op die letter uit te voer nie. Hierdie belangrike antwoord tref ‘n mens onder meer aan in Devariem (Deut) 4:6 wat (toevallig?) die omgekeerde van die bekende “Shema” of Devariem 6:4 is:

“Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ‘n wyse en verstandige volk.”

Die woord “verstand” en “verstandige” (volk) kom van dieselfde Hebreeuse woord “bien” wat in werklikheid méér beteken as bloot net “verstaan”. Dit beteken in die eerste plek: “to separate mentally, to distinguish, to discern, and (therefore) to perceive and to understand.” Waarom het Yahweh sulke drastiese stappe geneem om die Torah in soveel detail en met soveel woorde en opdragte en insettinge aan sy volk oor te dra? Sodat hulle kon “bien”, dit wil sê leer om te onderskei. Sodat hulle kon leer wat die verskil was tussen regverdig en onregverdig. Tussen afgesonder en alledaags. Tussen reg en verkeerd. In elke denkbare situasie waarin ‘n mens jou in die konteks van daardie tyd moontlik kon bevind. Sodat hulle (en ons) kan verstaan hóé kyk Yahweh na die wêreld en watter soort woorde en dade en gesindhede Hy van ons verlang – woorde en dade en gesindhede wat by Hóm as ons Skepper en as ons Vader pas.

As ‘n mens deur Wayyiekra (en die res van die Torah) lees, is dit duidelik dat dit alles daarop gemik was om die mens te leer om te kan onderskei. Dit word onder meer bevestig in die volgende gedeeltes:

Ex 11:7 dat julle kan weet dat Yahweh ‘n onderskeid maak tussen die Mietsrayimiete en die Yiesraéliete.

Exo 33:16 Want waaraan sou dan bekend word dat (ons) guns in u oë gevind het? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons … onderskeie wees van elke ander volk …

Lev 10:10 en julle moet onderskeid maak tussen wat afgesonder en wat onafgesonderd, en tussen wat onrein en wat rein is;

Lev 11:47 om te onderskei tussen wat onrein en rein is, en tussen die diere wat geëet en die diere wat nie geëet mag word nie.

Lev 20:25 Daarom moet julle ‘n onderskeid maak tussen die rein en onrein diere, en tussen die onrein en rein voëls; en maak julleself nie ‘n gruwel deur diere of deur voëls of deur enigiets wat op die aarde roer nie wat Ek vir julle afgesonder het deur dit onrein te verklaar.

Wayyiekra 6:9 is een van die verse waarin daar ‘n woord gebruik word wat met die gee van ‘n opdrag of ‘n bevel verband hou: “Gee bevel aan Aharom en sy seuns en sê …” Die woord wat hier gebruik word (“tsav” = “to command, to order, to enjoin”) kom sewe maal in die Torah voor en elke keer word dit in ‘n konteks gebruik wat een of ander aspek uitlig waarin dit nodig is om te kan onderskei. Dit bevestig dat die Torah, insluitend al die fynere detail wat in ‘n boek soos Wayyiekra gegee word, ten diepste daarop gemik is om mense te leer om te kan onderskei. Kom ons kyk na hierdie sewe gedeeltes:

Lev 6:9 Gee bevel aan Aharon en sy seuns en sê: Dit is die Torah van die brandoffer: Dit, die brandoffer, moet op sy vuurherd op die altaar die hele nag lank tot die môre toe bly, en die altaarvuur moet daardeur aan die brand gehou word.

Die woord “Torah” staan prominent in hierdie gedeelte. ‘n Vers wat hierby aansluit, is Tehielliem (Ps) 119:18: “Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u Torah.”
ONS MOET ONDERSKEI TUSSEN DIE ALLEDAAGSE EN DIE WONDERS UIT DIE TORAH.

Lev 24:2 Gee bevel aan die kinders van Yiesraél dat hulle vir jou suiwer, uitgestampte olyfolie vir die kandelaar moet bring, om voortdurend ‘n brandende lamp te hê.

Die gedagte van “lig” staan sentraal in hierdie vers. ‘n Vers wat hierby aansluit, is Tehielliem (Ps) 90:8: “U stel ons ongeregtighede voor U, ons verborge sondes in die lig van u aangesig.”
ONS MOET ONDERSKEI TUSSEN DUISTERNIS EN DIE LIG VAN YAHWEH SE AANGESIG.

Num 5:2 Gee bevel aan die kinders van Yiesraél dat hulle uit die kamp wegstuur al die melaatse mense en almal wat ‘n vloeiing het, en almal wat deur ‘n lyk onrein is.

Die sentrale tema hier is “onreinheid”. ‘n Vers wat hierby aansluit, is YeshaYahu (Jes) 35:8: “En daar sal ‘n grootpad wees en ‘n … afgesonderde weg … geen onreine sal daarop voorttrek nie.”
ONS MOET ONDERSKEI TUSSEN ONREINHEID EN DIE REINHEID VAN DIE SKRIF.

Num 28:2 Gee bevel aan die kinders van Yiesraél en sê vir hulle: Julle moet daarvoor sorg om my offer … my vuuroffers as lieflike geur vir My, op die bepaalde tyd aan My te bring.

Opvallend in hierdie vers is “bepaalde tyd” (“moad”). ‘n Vers wat hierby aansluit is Ps 102:13: “U sal U oor Tsion ontferm … dit is tyd om hom goedgunstig te wees …die bestemde tyd het gekom.”
ONS MOET ONDERSKEI TUSSEN ONS TYD EN DIE VASGESTELDE TYE VAN YAHWEH

Num 34:2 Gee bevel aan die kinders van Yiesraél en sê vir hulle: As julle in die land Kenaán kom, sal dit die land wees wat aan julle as erfdeel sal val; die land Kenaán ooreenkomstig sy grense.

Hier is die sentrale tema die land (“arets”), Kenaán. ‘n Vers wat hierby aansluit is Mieshleh (Spr) 2:12-22: “die regverdiges sal die land bewoon … maar die afvallige sal uit die land uitgeroei word”
ONS MOET ONDERSKEI TUSSEN “ONS” LAND EN DIE LAND WAT YAHWEH VIR ONS WIL GEE.

Num 35:2 Gee bevel aan die kinders van Yiesraél dat hulle aan die Lewiete van hulle erflike besitting stede gee om te bewoon; ook moet julle weiveld rondom die stede aan die Lewiete gee.

Hier is die sentrale gedagte: “stede om te bewoon”. ‘n Vers wat hierby aansluit, is YermeYahu (Jer) 17:25: “dan sal deur die poorte van hierdie stad konings en heersers ingaan wat op die troon van Dawied sit … en hierdie stad sal vir ewig bewoon word.” ONS MOET ONDERSKEI TUSSEN STEDE WAARIN ONS NOU VERTOEF EN DIE STAD WAT VIR EWIG BEWOON SAL WORD.

Deu 2:4 Gee bevel aan die volk bevel en sê: Julle gaan trek deur die grondgebied van julle broers die kinders van Esau wat in Seír woon … pas dan goed op (en gun aan hulle hulle grondgebied).

Let wel, die verwysing na die kinders van Esau as “broers”. ‘n Vers wat hierby aansluit, Ps 22:22 “Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys.” ONS MOET ONDERSKEI TUSSEN BROER EN BROER EN NIE EEN VAN DIE TWEE AFSKEEP NIE.

Views: 32

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *