Lev 2:1 praat van twee partye: “nefesh” (siel of mens) en Yahweh. Op ‘n verborge manier is hierdie vers ‘n uiteensetting van watter soort verhouding daar tussen die MENS en YAHWEH behoort te wees:
1. (die mens moet) voedseloffers bring – “voedseloffer” (mingah) beteken om te gee, om op te offer, prys te gee; “bring” (qarav) beteken om nader te beweeg.
2. (die offers moet) fynmeel wees – “fynmeel” (solet) beteken om kaal te stroop; “wees” (hayah) beteken om te bestaan, om te word, om te bereik.
3. (die mens moet) olie daarop giet – “olie” (shemen) hou verband met om te glinster, om te skyn; giet (yatsak) beteken om te smelt, uit te giet en te laat hard word.
4. (die mens moet) wierook daarby voeg – “wierook” (levonah) hou verband met hart (as sentrum van wil, denke en gevoelens); voeg (natan) beteken gee, oorgee, wy.
Hierdie beskrywing kan só verstaan word: Vir ‘n siel (of ‘n mens) om nader te kan beweeg (qarav) aan Yahweh, is daar dinge wat hy/sy moet prysgee (mingah). Dis ‘n proses waarin jy kaalgestroop (solet) word. Dis ‘n proses waarin jy nie net bestaan nie, jy is besig om iets (of iemand) te word (hayah) wat ver beter is as dit wat jy op die oomblik is. Dit is soos ystererts wat gesmelt word, uitgegiet word en uiteindelik ‘n nuwe, bruikbare vorm aanneem (yatsak). Hierdie nuwe produk is sterk en hard en duursaam, vanweë die deeglike proses wat dit deurloop het, en dit het ‘n glans en ‘n skynsel (shemen) wat duidelik deur ander mense gesien kan word. Nóú eers kan jy werklik gee, ook van jouself gee (natan), want die proses het jou hele hart (levonah) in beslag geneem. Jou denke, wil en emosies het verander en is nie meer in die eerste plek op jouself gefokus nie, maar op Hom wat soveel vir jou gegee (natan) het.
Watter tipe dinge het Yahweh in plek gestel om hierdie proses moontlik te maak, volgens die res van Wayyiekkra 2?
Herinneringsoffers – vers 2, 9, 16 (Pesag – oor 13 dae van vandag af – die belangrikheid van HERINNERING en ONTHOU)
Ongesuurde koeke – vers 4, 5, 11 (Ongesuurde Brode – oor 14 dae van vandag af – die belangrikheid van SUURDEEGVERWYDERING)
Eerstelinge – vers 12, 14 (Vandag is dit die Eerste dag van die Eerste Maand; More oor twee weke vier ons die Eersteling Beweegoffer – die belangrikheid van EERSTELINGE)
Vuur – vers 2, 3, 9, 10, 11 en 16 (Die belangrikheid van SWAARKRY, beproewing, loutering – nie net sekere dae van die jaar nie, maar deurlopend)
Sout – 3 verwysings in vers 13 (Sout – malag – “om te vryf, om te meng, om te verdwyn” – Die belangrikheid van MENSE wat met jou skouers skuur (Y’shua het gesê: “JULLE is die sout van die aarde …”); kwaliteite, indrukke en invloede wat met jou vermeng geraak het en ongemerk deel van jou mondering geword het, ook nie net af en toe nie, maar op ‘n deurlopende basis). Exo 30:35 en maak daar reukwerk van, ‘n mengsel soos die salfmenger dit maak, met sout gemeng (malag), suiwer, afgesonder. Isa 51:6 Slaan julle oë op na die hemel en aanskou die aarde daaronder; want die hemel sal soos rook verdwyn (malag) en die aarde soos ‘n kleed verslyt.
Views: 28