‘N TENT VOL OFFERS

alternate text‘n Kenmerk van die Tanag is dat dit dikwels net die mans is wat vermeld word wanneer ‘n groot gebeurtenis plaasgevind het of ‘n sekere saak onder die aandag van die volk gebring word. In Shemot (Ex) 35, wat die begin vorm van die voorskrifte vir die bou van die Tent van samekoms, is daar egter ‘n duidelike verandering wat hierdie patroon betref:

Ex 35:20-22 Toe het die hele vergadering van die kinders van Yiesraél van Mosheh af weggegaan. En elkeen wie se hart hom opgewek en elkeen wie se gees hom aangedryf het, het gekom: hulle het die offergawe van Yahweh gebring vir die werk aan die tent van byeenkoms en vir sy hele bediening en vir die afgesonderde klere; die manne het met die vroue gekom, elkeen wat gewillig van hart was …

As dit by die bring van vrywillige offergawes kom, word niemand uitgesluit nie: Manne en vroue is ingesluit, selfs die kinders, want daar staan duidelik: elkeen wie se hart hom opgewek het en elkeen wie se gees hom aangedryf het, het na vore gekom met hulle offers vir hierdie projek. Watter soort offers het hulle gebring? Shemot 35 gee vir ons ‘n lysie van 12 soorte rou materiaal wat vir die bouwerk aan die Tent van samekoms byeen gebring is – in só ‘n oorvloedige mate dat Mosheh hulle moes stop omdat die volk MEER gebring het “as wat nodig is vir die uitvoering van die werk” (Ex 36:5). Die 12 soorte rou materiaal wat as VRYWILLIGE OFFERS gebring is, kan in vier kategorieë (van drie elk) verdeel word: (1) Materiale afkomstig van diere – robvelle, ramsvelle en bokhaar (2) Materiale wat maklik bekombaar was – linne, hout en klip (3) Materiale wat moeilik bekombaar was – koper, silwer en goud (4) Materiale wat veral verband hou met die menslike sintuie – olie, speserye en kleurstowwe. Die woorde waarmee elkeen van hierdie soort offers beskryf word, gee vir ons ‘n goeie aanduiding van hoedanig die offers moet wees wat ons vandag nog aan Yahweh bring:

1. Robvelle: (tagash – verwant aan die woord “gush”) – Betekenis: “to be in a hurry; to be eager with excitement”. Deel van ons vrywillige offers aan Yahweh is om haastig en gretig te wees om weg te kom uit daardie plek waar ek weet ek nie moet wees nie. Soms is daardie plek ‘n plek soos Mietsrayiem (Egipte) – ‘n plek van slawerny (Deut 16:13 – “want baie haastig het jy uit Mietsrayiem uitgetrek”); soms is dit ‘n plek soos Yerushalayiem – baie geestelik, baie bekoorlik, maar nie ‘n plek waar ek ‘n getuie vir Yahweh kan wees nie (Hand 22:18 – “Maak gou en gaan haastig uit Yerushalayiem uit, want hulle sal jou getuienis aangaande My nie aanneem nie).

2. Ramsvelle: (ayiel – verwant aan die woord “ul”) – Betekenis: “to be strong, to be powerful”. Deel van ons vrywillige offers aan Yahweh is om sterk en vol moed te wees in ‘n wêreld waarin ons voortdurend in die versoeking is om te verslap en maar net saam met die stroom te gaan. Jos 1:7 “Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel ooreenkomstig die hele Torah wat Mosheh, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan.”

3. Bokhaar: (ez – verwant aan die woord “azaz”) – Betekenis: “to prevail, to harden oneself”. Deel van ons vrywillige offers aan Yahweh is om ons te staal en uit te hou en te volhard in ons toewyding aan Yahweh. Die bokhaar is onder meer vir die gordyne gebruik, wat taai en duursaam genoeg moes wees om die binnekant van die tent teen die versengende woestyn son te beskerm. Om dit te kan doen het ‘n mens onder meer wysheid nodig: Pred 7:19 “Die wysheid versterk (“azaz”) die wyse meer as tien maghebbers wat in die stad is.”

4. Linne: (sheshi – verwant aan die woord “shayiesh”) – Betekenis: “to be white”. Deel van ons vrywillige offers aan Yahweh is om onsself te reinig van alles wat kan besoedel sodat ons deel van die vlekkelose bruid van die Messias kan wees. Opb 7:9 “Na hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande.”
5. Hout: (shittim – verwant aan die woord “shut”) – Betekenis: “to push forward; to run in eagerness”. Deel van ons vrywillige offers aan Yahweh is om ywerig, selfs naarstiglik, daarop uit te wees om die waarheid van die Woord te bevorder. Jer 5:1 “Swerf rond (“shut”) in die strate van Yerushalayiem, en kyk tog en verneem en soek op sy pleine of julle iemand vind, of daar een is wat reg doen, wat waarheid soek – dan sal Ek daaraan vergifnis skenk.”

6. Klip: (even – verwant aan die woord “banah”) – Betekenis: “to build or rebuild; to work on a house”. Deel van ons vrywillige offers aan Yahweh is om nie so besig met ons eie huise te raak dat ons die bouwerk aan Yahweh se huis afskeep nie. Deel van hierdie bouwerk is om mense (seuns en dogters) soos klippe te versamel en deel van die gebou van Elohiem te maak. Hag 1:8 “Klim op die berg en bring hout aan en bou die huis; dan sal Ek ‘n behae daaraan hê en My grootheid toon, sê Yahweh”.

7. Koper: (negoshet – verwant aan die woord “nagash”) – Betekenis: “to learn by experience; to observe diligently”. Deel van ons vrywillige offers aan Yahweh is om onsself te dissiplineer om noukeurig waar te neem wat met ons en andere op die pad van geloof gebeur en die lesse van hierdie ondervindings ter harte te neem. Gen 30:27 “Toe antwoord Lavan: As ek nou guns in jou oë gevind het – ek het waargeneem (“nagash”) dat Yahweh my om jou ontwil geseën het.”

8. Silwer: (kesef – verwant aan die woord “kasaf”) – Betekenis: “to have a keen desire after something”. Deel van ons vrywillige offers aan Yahweh is om na Hom en sy lering te verlang en te hunker soos wat ‘n baba na melk hunker. Die feit dat dít juis die woord vir “silwer” of “geld” is, dui daarop dat hierdie hunkering in die plek moet kom van die tipies menslike hunkering na geld en rykdom. 1 Pet 2:2 “Verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei.”

9. Goud: (zahav – oorsprong onbekend) – Betekenis: “to shine, to shimmer, to glow”. Deel van ons vrywillige offers aan Yahweh is om sy lig en sy glans in ons eie lewens te vertoon sodat mense iets van sy grootheid in ons kan sien. Matt 5:16 “Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, lof toebring.”

10. Olie: (shemen – verwant aan die woord “shaman”) – Betekenis: “to make oily; to provide richness, ointment and anointing”. Deel van ons vrywillige offers aan Yahweh is om die vettigheid van die Woord waaraan onsself deel gekry het aan andere oor te dra, sodat hulle ook deel kan kry aan die bevryding en die salwing van die Woord. Jes 10:27 “En in daardie dag sal sy las afgly van jou skouer en … die juk sal tot niet raak vanweë die vettigheid (“shemen”).

11. Speserye: (bosem – verwant aan die woord “basam”) – Betekenis: “to be fragrant; to have a sweet smell”. Deel van ons vrywillige offers aan Yahweh is om ‘n aangename reuk te versprei wat mense na Yahweh toe sal aantrek, net soos ons (op “onverklaarbare wyse”) na Hom toe aangetrek is. Efes 5:1-2 “Wees dan navolgers van Elohiem soos geliefde kinders en wandel in liefde, soos die Messias ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan Elohiem tot ‘n lieflike geur.”

12. Kleurstowwe: (raqam – verwant aan die woord “ruq”) – Betekenis: “to pour out; to make oneself empty”. Deel van ons vrywillige gawes aan Yahweh is om na die voorbeeld van die Messias onsself uit te giet en van onsself te vergeet, ons eie belange en eie ambisies opsy te skuif, ons eie “kleurvolheid” in perspektief te sien, sodat ons waarlik kinders van Elohiem in hierdie wêreld kan wees. Fil 2:7-18 “Hy het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword … dit is Elohiem wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae … sodat julle kinders van Elohiem kan wees sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag … al word ek as ‘n drankoffer uitgegiet oor die offer en bediening van julle geloof, verbly ek my, ja, verbly ek my saam met julle almal.”

Views: 32

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *