FOKUS OP DIE SKEPPING

alternate text

Dit is gebruiklik om op die Shabbat ná Sukkot en Yom Hashemini (of: Die Agste Dag) op die Skepping te fokus. Daar is ‘n sekere skepping-simboliek wat reeds in die samestelling van hierdie twee opeenvolgende feeste opgesluit lê. Sukkot is sewe dae lank, net soos die skepping in sewe dae plaasgevind het. Yom Hashemini of die agste dag het die konnotasie van herskepping of “new beginnings” en, by implikasie, ewigheid of ewige lewe (‘n siklus wat telkens herhaal word en dus nooit beëindig word nie). Ek meen ook dis nie toevallig dat die eerste vers in Bereshiet (Heb: “In die begin”) uit SEWE woorde bestaan nie:

Let verder daarop:

1.Hierdie vers bevat 28 letters in totaal (7 X 4).
2.Dit bestaan uit twee gelyke dele: (1) “In die begin het Elohiem geskep” (14 letters), en (2) “die hemel en die aarde” (14 letters).
3.Die tweede deel bestaan uit twee onderafdelings: (1) “die hemel” (7 letters), en (2) “die aarde” (7 letters).
4.Die drie selfstandige naamwoorde, “Elohiem”, “die hemel” en “die aarde” bevat altesaam 14 letters.
5.Die numeriese waarde van hierdie drie selfstandige naamwoorde is 777, of 7 X 111.
6.Die middelste woord (“et”) en die woord wat dit voorafgaan (“Elohiem”) bevat gesamentlik sewe letters.
7.Die middelste woord (“et”) en die een wat direk daarna volg (“hashamayiem” / “die hemel”) bevat gesamentlik sewe letters.

Daar is baie misteries en onopgeloste vraagstukke rondom die skepping. Kom ons noem net ‘n paar hiervan:

1.Was die 7 skeppingsdae werklike dae van 24 uur elk?
2.Watter rol het evolusie vóór en ná die skepping gespeel?
3.Hoe moet mens die Skrif se datering van die skepping met moderne metodes van datering versoen?
4.Wat is eerste geskape: die hemel of die aarde?
5.Is daar twee hemele, of drie of sewe?
6.Waarom was daar reeds lig vóór die skepping van die son op die vierde dag?
7.Wat word bedoel met die waters onder en bo die lugruimte?

Oor die eeue heen het gelowiges wat die Skrif ernstig opneem, met baie groot omsigtigheid omgegaan wanneer vrae soos hierdie gestel word. Die woorde van die apokriewe boek “Die Wysheid van Sirach” (ook genoem: “Ecclesiasticus”), hoofstuk 3, vers 21 en 22, word dikwels in hierdie konteks aangehaal en word in Joodse kringe baie ernstig opgeneem:

“Seek not out the things that are too hard for thee, neither search the things that are above thy strength. But what is commanded thee, think thereupon with reverence; for it is not needful for thee to see with thine eyes the things that are in secret.” Hierby het die Talmud aangesluit en verklaar: “It is permissible to inquire concerning the events of the six days of Creation, but not regarding what happened before the Creation.” Die boek “Wysheid van Sirach” is sowat 200 jaar v.M. deur ‘n toegewyde skrifgeleerde geskryf en ons sal goed doen as ons ons steur aan hierdie brokkie wysheid wat betrekking het op ons gesprekke en gedagtes oor die skepping.
Kom ons fokus vandag op daardie aspekte van die skepping wat onomwonde in die Skrif geleer word en wat kan dien om ons in die geloof te versterk en koers te gee aan ons lewe.

1.Deur ons oë vir die skepping oop te maak, sal ons ontdek dat niemand met Yahweh vergelyk kan word nie

Jes 40:25-26 By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Afgesonderde. Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape?

2.Dit is onmoontlik vir die Skepper van die eindes van die aarde om sy uitverkore volk in die steek te laat.

Jes 40:27-28 Waarom praat jy dan, o Yaákov, en sê jy, o Yiesraél: My weg is vir Yahweh verborge, en my reg gaan by my Elohiem verby? Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige Elohiem is Yahweh, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.

3.As Skepper is Yahweh daarop ingestel om, waar dit ook al nodig is, sy skeppingswerk voort te sit en wonderwerke voor die oë van sy kinders te doen.

Jes 41:18-20 Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn ‘n waterplas maak en die dor land waterbronne … sodat hulle almal saam kan sien en beken en opmerk en verstaan dat die hand van Yahweh dit gedoen het en die Afgesonderde van Yiesraél dit geskape het.

4.Dieselfde Een wat in sy almag die hemel en aarde geskape het, het in sy geregtigheid sy Seun gestuur om ‘n volmaakte verlossing te bewerk.

Jes 42:5-7 So sê El Yahweh, wat die hemel geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het … wat aan die aardbewoners die asem gee … Ek, Yahweh, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, as ‘n lig van die nasies, om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei…

5.Wie is beter toegerus om ons in ons tye van vrees en benoudheid by te staan as Yahweh, die Skepper wat ons by die naam geroep het?

Jes 43:1-2 Maar nou, so sê Yahweh, jou Skepper … Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere – hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie.

6.Die feit dat Yahweh die Skepper is beteken dat Hy ook betekenis aan ons bestaan gegee het en vir ons motiveer om voluit te leef.

Jes 45:18 Want so sê Yahweh, wat die hemel geskape het – Hy is Elohiem! – wat die aarde geformeer en dit gemaak het – Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word … Ek het nie in die geheim gepraat nie … Ek het aan die geslag van Yaákov nie gesê: Soek My tevergeefs nie.

7.As die Skepper van hemel en aarde en die Skepper van die nuwe Yerushalayiem verdien Yahweh ons toewyding, lof, verering en ontsag.

Jes 65:18 Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Yerushalayiem om te juig, en sy mense om bly te wees.

Views: 34

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *