DIE VERLEIDING VAN PROFETE

alternate textMeeste mense wat op geloof ingestel is, is baie liggelowig (Engels: “gullible”) as dit kom by profetiese uitsprake en die oortuigings van mense wat as profete gereken word. Baie mense is van nature geneig om te dink daar is ‘n breë, oop kanaal waardeur ‘n profeet elke woord kan hoor wat die Vader sê en daarom kan jy maar weet: As ‘n profeet iets sê, is dit die waarheid. As ‘n profeet of ‘n spreker boonop die reputasie het dat dinge wat hy of sy in die verlede gesê, net so gebeur het, word daardie profeet dikwels op ‘n glas-verhoog geplaas en summier tot die rang van super-gelowige bevorder.

Die Skrif en selfs die Torah praat nie altyd baie positief van profete nie. In die Torah leesstuk van hierdie week tref ons ‘n goeie voorbeeld hiervan aan in Devariem (Deut) 13:1-5:

“As ‘n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ‘n teken of wonder aankondig, en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander magtiges aan loop – wat jy nie geken het nie – en hulle dien, dan moet jy nie luister na die woorde van daardie profeet of na daardie man wat as dromer optree nie; want Yahweh julle Elohiem beproef julle om te weet of julle werklik Yahweh julle Elohiem liefhet met julle hele hart en met julle hele siel. Julle moet Yahweh julle Elohiem navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang. Maar daardie profeet of daardie man wat as dromer optree, moet doodgemaak word, want hy het afval verkondig van Yahweh julle Elohiem wat julle uit Mietsrayiem uitgelei en jou uit die slawehuis verlos het, deur jou af te dryf van die weg wat Yahweh jou Elohiem jou beveel het om daarop te wandel. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.”

Dis opvallend in hierdie gedeelte dat daar spesifiek verwys na tekens of wonders (of profetiese uitsprake wat die profeet sou gemaak het) wat UITKOM. Ons praat nie hier van ‘n profeet wat dinge geprofeteer het wat nie waar word nie. Ons praat nie van liggewigte in die arena van profete nie. Ons praat van profete van wie daar profesieë waar geword het en wat tekens en wonders onder die volk gedoen het. Ons praat met ander woorde van profete waarvan die wêreld kennis geneem het en aan wie se lippe goedgelowige mense geneig is om te hang en wie se boeke soos soetkoek verkoop en wie se optredes gewoonlik baie goed bygewoon word.

Die waarskuwing teen valse profete word natuurlik op talle plekke in die Skrif herhaal. ‘n Valse profeet is nie noodwendig ‘n profeet wie se profesieë nie uitkom nie. Soms is dit, en die Skrif praat daaroor óók. Maar ‘n valse profeet is meesal ‘n profeet wat self nie aan Yahweh gehoorsaam is nie en homself nie aan Yahweh en sy Woord onderwerp nie – ook al doen hy tekens en wonders en al maak hy profetiese uitsprake wat woord-vir-woord net so uitkom. Een voorbeeld hiervan in die Skrif wat dalk nie so algemeen bekend soos sommige ander gedeeltes is nie, is Yegeskel (Esegiël) 13:17-19:

“En jy, seun van Adam, rig jou aangesig teen die dogters van jou volk wat as profetesse optree uit hulle eie hart, en profeteer teen hulle en sê: So sê die Meester Yahweh: Wee die vroue wat bande (of: kussinkies) vaswerk aan al die gewrigte van die hande en sluiers maak oor die hoof van allerlei mense, groot en klein, om siele te vang. Wil julle siele vang van my volk en siele vir julle voordeel in die lewe hou? En julle ontwy My by my volk vir ‘n paar hande vol gars en vir ‘n paar stukke brood om siele dood te maak wat nie moes gesterf het nie, en om siele in die lewe te hou wat nie moes geleef het nie, deurdat julle my volk belieg wat na leuens luister.”

Dis nie so seker presies wat met elkeen van die simboliese handelinge in hierdie gedeelte bedoel word nie. Die kussinkies aan die gewrigte van die hande was moontlik om ‘n atmosfeer van kalmte en rustigheid te skep sodat die mense ontvanklik sou wees vir ‘n valse boodskap van vrede. Net soos daar vroeër in die hoofstuk van die manlike profete gesê word dat hulle ‘n muur gebou het wat hulle met los kalk toe gepleister het sodat hulle vir die volk ‘n boodskap van “vrede, vrede” kan bring, al was dit nie die boodskap wat Yahweh vir hulle gegee het om te bring nie. Die sluiers wat op die hoofde van die mense geplaas word, was moontlik ‘n foefie om meer vertoon en luister aan die “profetiese woord” wat gebring word, te verleen en om die mense met hulle strelende woorde te betower. Want alles gaan daaroor om “siele te vang”, of soos in sommige Engelse vertalings tereg vertaal word: “to hunt down the souls of people”.

Hierdie laaste punt slaan eintlik die spyker op die kop. Nege uit tien keer is valse profete hoofsaaklik daarop ingestel om siele te wen – nie in die sin wat Spr.11:30 dit bedoel as dit sê “Hy wat siele wen, is wys” nie, maar in die sin van siele wen vir jouself en siele rondom jou uitstal om jouself te verryk en jou eie saak of jou eie bediening of jou eie ambisies te bevorder.

Dis interessant dat die woord “siele” hier in die meervoud gebruik word – nie net in die vertaling nie, maar ook in die oorspronklike Hebreeuse teks. Die Hebreeus vir “siel” is “nefesh” en die meervoud hiervan is “nafshot” en hierdie woord “nafshot” word hier in Yegeskel 13 gebruik. Maar is dit nie normaal nie? Die antwoord is: Ja en Nee, in Hebreeus word die meervoud nie altyd gebruik nie, al word daar van meer as een “siel” gepraat. Baie keer word die enkelvoud “nefesh” nog steeds gebruik en nie die meervoud “nafshot” nie – veral as dit gaan oor die siele wat deel uitgemaak het van die volk Yiesraél. So staan daar byvoorbeeld in Shemot (Ex) 1:5: “En al die nefesh (enkelvoud) wat uit Yaákov se lende voortgekom het, was sewentig nefesh (enkelvoud).” So ook Devariem (Deut) 10:22: “Sewentig nefesh (enkelvoud) sterk het jou vaders na Mietsrayiem afgetrek, maar nou het Yahweh jou Elohiem jou gemaak soos die sterre van die hemel in getal.”

In ‘n gedeelte van die Joodse midrash (of kommentaar) op die boek Wayyikra (Levitikus) word ‘n staaltjie vertel van ‘n nie-Jood wat na ‘n rabbi gekom het en vir hom gevra het waarom die Jode in die reël nie die oortuigings en gebruike van die meerderheid navolg nie. Die rabbi se antwoord was nie heeltemal wat hierdie man verwag het nie. Hy het gesê: “Apart from the fact that a large number is no argument in a matter of religion, and my Torah also tells me, ‘You shall not go after the multitude to do evil,’ I will ask you a question. Have you any children?” Hierop het die man geantwoord: “Yes, to my sorrow, for they cause me sorrow with their religious views; whenever they come together there is contention between them as to the truth of their respective beliefs.” Die rabbi se antwoord was: “Try then to create unity and harmony within the religion of your own family, rather than waste your efforts in trying to bring me to your views.”

Toe die man weg is het die rabbi se dissipels na hom toe gekom en hulle verbasing oor sy antwoord te kenne gegee: “It is well that the heathen left you with the lame argument you gave him; but what have you in reality to say as to the small number of followers of our religion?” Hierop het die rabbi as volg geantwoord: “Esau’s family is spoken of as consisting of so many souls, whilst the seventy members of Jacob’s family are described as one soul, because the former had many gods, but the latter had all of them one and the same Elohim. So that even if a majority were an argument in favor of religion, still, though we are apparently smaller in number, we are actually larger if we are not divided in our monotheism.”

In die jagtog na siele in die wêreld daarbuite, word daar dikwels met minagting neergesien op groepe waar profete nie eintlik die oog vang en waar getalle nie eintlik ‘n rol speel nie. Maar dis duidelik dat die Woord ons in duidelike terme afraai om hierdie soort “showmanship” na te jaag. Jer 23:9 Wat die profete betref – my hart is gebreek in my binneste, al my beendere sidder; ek is soos ‘n dronk man en soos ‘n man wat deur die wyn oorweldig is, vanweë Yahweh en sy afgesonderde woorde. Eseg 22:28 En sy profete pleister vir hulle met los kalk deur valse gesigte te sien en vir hulle leuens te voorspel met die woorde: So sê die Meester Yahweh – terwyl Yahweh nie gepraat het nie. Mig 3:11 Sy hoofde spreek vonnisse uit vir ‘n geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld. Nogtans steun hulle op Yahweh en sê: Is Yahweh nie in ons midde nie? Geen rampspoed sal ons beleef nie! Mat 7:22-23 Baie sal in daardie dag vir My sê: Meester, Meester, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam demone uitgedryf en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat ongeregtigheid bedryf! Mat 7:13-14 Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die vernietiging lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.

Views: 56

One thought on “DIE VERLEIDING VAN PROFETE”
  1. SAL DAVAN HOU OM MEER TE LEER OOR PROFESIE EK GLO ONS KONING HET MY DAAI GAWE GEGEE EK HET AL WOORD VIR MENSE GEGEE EN DIT HET WAAR GEWORD MAAR DIS NET ASOF DAAI GAWE GESTEEL IS BY MY WANT EK PROFETEER NIE MEER NIE , SAL DAVAN HOU OM TE WEET WA DIE PROBLEEM IS EN WIL GRAAG MEER LEER

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *