‘N FONTEIN WAT NOOIT OPDROOG NIE

alternate textOns het verlede week stilgestaan by die hedendaagse 8 poorte van die Ou Stad van Jerusalem en gesien dat die Skrif uitdruklik verklaar dat die Nuwe Jerusalem uiteindelik 12 poorte sal hê, vernoem na die 12 stamme van Israel. Poorte het ’n sterk simboliese betekenis. Soos wat die poorte van ʼn stad by tye toegesluit word om dit teen die vyand en teen gevaar te beskerm, so het ons die beskerming van Yahweh nodig – elke oomblik van ons bestaan in hierdie onvolmaakte wêreld. En soos wat poorte of deure oopgemaak word om uit te gaan en nuwe horisonne te verken en nuwe dinge te ontdek, so maak Yahweh deure oop en maak Hy nuwe dinge bekend aan hulle wat op Hom wag. Die 12 poorte van die nuwe Jerusalem sal nooit gesluit word nie, wat beteken ons sal baie meer dinge verstaan as wat ons nou verstaan, soos Shaúl (Paulus) in 1 Korintiërs 13:12 beskryf het: “Nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken …”.

Een van die poorte van die stad wat vandag ontbreek, waarna daar dikwels in die boek Nehemia verwys word, is die Waterpoort. Argeoloë is taamlik eenstemmig daaroor dat die Dawidstad, wat vandag buitekant (aan die Suide van) die Ou Stad lê, vroeër déél van die Ou Stad was en dat die Waterpoort, naby die Poel van Siloam, die poort was wat ʼn besondere belangrike rol tydens die Huttefees gespeel het. In Y’shua se tyd sou ʼn priester op elkeen van die sewe dae van die Huttefees met ʼn goue waterkruik na die Poel van Siloam gestap het, dit vol water geskep het en dan deur die Waterpoort by die trappe op, tot by die silwer waskomme in die tempel-area gestap het en dit in een van hierdie waskomme uitgegiet het. Die skare feesgangers sou toekyk terwyl dit gebeur en sou tydens hierdie hele prosessie musiek maak en hande klap en dans en sing en juig en skreeu – soveel só dat daar in die Joodse Mishna geskryf word: “He who has not seen the rejoicing at the Water drawing ceremony of Sukkot, has never seen rejoicing in all his life”.

Waarom het hierdie ritueel, elke jaar met Sukkot, plaasgevind? Omdat Sukkot van die vroegste tye af as ʼn fees beskou is om dankie te sê vir Yahweh se seëninge en omdat die verwagte Messias nog altyd as die grootste van Yahweh se seëninge beskou is. Wat het die Messias dan met die poel van Siloam en die Waterpoort te make? Die poel van Siloam is na regte die Poel van Shiloag. As gevolg van die komplekse proses van taal-ontwikkeling en taal-variasies, word die Poel van Shiloag, soms ook die Poel van Siloam genoem. Daar is egter geen twyfel nie: Die oorspronklike woord (Shiloag) het te make met “Een wat gestuur word” of “Een wat gestuur sal word”. Kortom: die Poel van Shiloag was vir die Yehudiem (Jode) nog altyd sinoniem met die Messias, of die “Een wat (deur Yahweh) gestuur sou word” – die grootste enkele daad van seën wat hierdie wêreld ooit sal ken. Daarom het die Poel van Siloam so ʼn groot rol tydens die Huttefees gespeel en het die feesgangers vir sewe dae lank die Messiaanse woorde van Jesaja 12 oor en oor gesing: “In daardie dag … sal julle water skep met vreugde uit die fonteine van verlossing en sal julle sê: Dank Yahweh, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is!”

In Johannes 7 lees ons dat Y’shua op die laaste dag – dit wil sê op die Agste Dag – direk ná die sewe dae van die Huttefees, terwyl al die feesgangers nog daar by die tempel bymekaar was, opgestaan het en uitgeroep het: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” Die prosessie van water skep vir sewe dae uit die Poel van Shiloag is nog vars in die geheue. Die woorde van Psalm 12 weerklink nog in hulle ore. Die oortuiging dat die water van die Poel van Shiloag lewende water is, is oorweldigend. Die opgewondenheid oor die komende Messias ken geen perke nie. En hier staan ʼn man op en sê dat Hy “Shiloag” is – die een wat gestuur is – en dat Hy oor lewende water beskik! Het almal dadelik geglo en aanvaar dat hierdie Man die Messias is? Nee, ek glo nie. Het sy woorde ʼn impak op die skare feesgangers gemaak? Sonder enige twyfel. Party het geglo. Ander wou Hom summier in die tronk gooi. In die volgende hoofstuk wou hulle Hom selfs stenig. Maar die vraag in meeste se harte was: Is Hy nie dalk tog die een wat sou kom nie? Hou Hy nie dalk tog die sleutel tot lewende water waarna almal so hunker nie?

Twee hoofstukke verder, in Johannes 9, kom Y’shua op ʼn man af wat van sy geboorte af blind was. Daar ontstaan ʼn gesprek en Y’shua sê onder meer vir die toehoorders dat Hy die lig van die wêreld is. Y’shua spuug op die grond en maak klei en smeer dit aan die oë van die blinde man. En dan sê Hy vir hom: Gaan was jou in die water van die Poel van Shiloag. Die blinde man doen dit en hy kom terug – genees van sy blindheid. Die Fariseërs is nie bereid om te glo dat daar so ʼn wonderwerk plaasgevind het nie en sit die arme man onder kruisverhoor. Gaan praat selfs met sy ouers. Toe die man vir hulle sê dat iemand wat so ʼn wonderwerk kan verrig, deur Yahweh gestuur moet wees, beskuldig hulle hom daarvan dat hy vir hulle probeer lering gee en hulle verban hom uit die tempel. Toe hy later weer vir Y’shua raakloop, bely hy openlik dat hy in Hom glo as die Messias. Hierna volg die laaste drie verse van Johannes 9 (9:39-41): “En Y’shua sê: Tot ‘n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word. En diegene van die Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: Is ons dan ook blind? Y’shua antwoord hulle: As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie; maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle in sonde.”

Die Poel van Shiloag – die Poel wat geassosieer word met die Een wat Yahweh gesê het Hy na hierdie wêreld sal stuur. Tot vandag glo baie nog steeds nie dat Y’shua van Nasaret die spesiale Een is wat deur Yahweh gestuur is nie. In Johannes se evangelie alleen, word daar meer as 44 keer direk verklaar dat hierdie Y’shua van Nasaret deur Yahweh gestuur is. Hy het Hom gestuur dat die wêreld deur Hom gered kan word. Hy het Hom gestuur om Yahweh se woorde en Yahweh se gebooie en Yahweh se geregtigheid te bevestig en te demonstreer. Hy het Hom gestuur om Yahweh se werk te vervul. Hy het Hom gestuur sodat die Vader die eer kan ontvang wat Hom toekom. Hy het Hom nie gestuur om sy eie wil te doen nie, maar die wil van die Een wat Hom gestuur het. Daar is ʼn duidelike verskil tussen die Een wat gestuur het en die Een wat gestuur is. Y’shua is nie Yahweh nie. Maar Hy is die Gestuurde van die Allerhoogste. Hy is die Shiloag. Hy is ook die Seun van die Allerhoogste. En as daardie Een verdien Hy ons erkenning en ons lof en ons aanbidding. Ons moenie dieselfde fout maak as soveel van die Yehudiem wat sien, maar ook nie sien nie, en uiteindelik nie die Een met die lewende water erken vir wie Hy is nie. Maar ons moet ook nie die fout maak van soveel nie-Joodse gelowiges wêreldwyd wat die Een wat gestuur is, verwar met die Een wat stuur nie, en Y’shua tot ʼn posisie verhef waarin nie Hy of sy dissipels, of enige van die skrywers van die Nuwe Testament, Hom ooit geplaas het nie.

Die Poel van Shiloag word gevoed deur ʼn fontein wat nooit opdroog nie. Die bewyse hiervoor is vandag nog daar – gaan besoek gerus Jerusalem en die Stad van Dawid – klim af tot by die tonnel wat koning Hiskia ongeveer 2700 jaar gelede laat grawe het. Die water in hierdie tonnel hou nooit op met loop nie en dit mond uit in die Poel van Shiloag. Ek en Hubré het net meer as twee weke gelede na die begin van hierdie tonnel gegaan en begin stap in daardie helder water wat heelpad omtrent knie-diep is. 533 meter lank en op sommige plekke skaars 70 cm breed. Ons het gevoel soos die blinde man in Johannes 9 wat na die Poel van Shiloag gestuur is, want nadat jy ʼn paar meter gestap het, kan jy nie jou hand voor jou oë sien nie. Is ons nie maar almal blind en benoud en bedremmeld voordat ons by die Poel van Shiloag uitkom nie? En hoevele is daar nie wat by die Poel uitgekom het en die Poel in hulle eie midde het en selfs die kwaliteite van die Poel besing, wat nog steeds siende blind is nie? Het ons nie ook van tyd tot nodig dat Y’shua op die grond spuug en modder maak en dit aan ons oë smeer sodat ons kan sien nie?

Ek het geen twyfel dat Y’shua die Een is oor wie daar geprofeteer is, dat Hy deur Yahweh na hierdie wêreld gestuur sou word nie. Hoe tragies is dit dat daar soveel blindheid en verwarring in hierdie wêreld heers oor die manier waarop Hy gestuur is nie! Y’shua is byvoorbeeld nie op 25 Desember – dieselfde dag wat destyds deur sonaanbidders as die geboortedag van die son vereer is – gebore nie. Ons het Skriftuurlik nie ʼn enkele rede om 25 Desember as Geboortedag of Kersfees of wat ook al te vier nie. Ons is trouens glad nie seker op watter dag die Messias gebore is nie. Daar is egter enkele leidrade dat dit tydens die Huttefees kon gewees het – die fees waarin daar vir sewe dae, elke dag, water geskep is uit die Poel van Shiloag, die Poel van die Een wat gestuur is, en by die tempel onder groot toejuiging, in ʼn spesiale houer gegiet is. Vir dié van ons, wat soos die blinde man in Johannes 9, net een, groot begeerte het – en dit is om te kan sien – is daar niks beter as om by die Poel van Shiloag uit te kom, Y’shua van Nasaret as die Messias te aanvaar en Hom te volg, net soos wat sy eerste volgelinge Hom gevolg het – sonder om leringe by die lering van die Messias by te voeg of dinge aan Hom toe te dig wat Hy nooit gesê het nie en ook sonder om sekere aspekte van dit wat Hy gedoen en geleer het, weg te laat, asof dit nie vir ons bedoel was nie. Y’shua is nie die enigste Een wat gestuur is nie. Eers het Hy die blinde man na die Poel van Shiloag gestuur. En kort daarna het Hy vir sy dissipels gesê: Soos die Vader My gestuur het, stuur ek julle ook! Om wat te gaan doen? Om die boodskap van Shiloag en van die fontein wat nooit opdroog nie, aan ʼn wêreld te bring wat vergaan van geestelike dors en smag na lewende water! En om áán te hou om dit te doen – al stuit jy soms teen mense wat, soos Jesaja dit in Jes 8:6 gestel het, die water van Shiloag wat saggies vloei, verag. Uiteindelik (so sê Openbaring 5) sal daar deur ʼn skare van duisende derduisende boodskappers in die hemel ʼn nuwe lied gesing word wat die gesing tydens die waterseremonie van die Huttefees in volume ver sal oortref, met onder andere die woorde: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en grootheid en lof!

Views: 123

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *