
Ons behoort eerlik en nugter genoeg te wees om te erken dat daar vandag rondom ons in die wêreld baie mense is wat glad nie glo dat enige mens vir Y’shua nodig het nie. Daar is mense wat meen dat daar nooit iemand soos Y’shua geleef het nie. Daar is ander wat meen dat nie ‘n enkele bonatuurlike gebeurtenis rondom Y’shua se lewe wáár is nie. Nie sy maagdelike geboorte nie, nie sy wonderwerke nie en ook nie sy opstanding uit die dood nie. En miljoene mense wêreldwyd glo glad nie die Messiaanse Skrifte of Nuwe Testament nie en glo ook nie dat die profesieë van die Voor-Messiaanse Skrifte enigiets met Y’shua van Nasaret te make het nie. So, waarom vra ons nog die vraag “Waarom het ons vir Y’shua nodig?” Omdat Yahweh deur sy Gees ons verstand en ons oë en ons harte vir sy Woord oopgemaak het. Ons is oopkop genoeg om die foute van dwase mense raak te sien en ag te slaan op die feite van wyse mense en erns te maak met die vrae van skeptiese mense. Maar Yahweh het ons nie net met ‘n kop geskape nie. Dis veral ons hart en ons gees wat geweldig positief gereageer het op die opgetekende profesieë vóór Y’shua se geboorte en die getuienisse ná sy geboorte. Vir ons was dit soos ‘n allesoortreffende ontwaking, aangehelp deur die Gees van Yahweh, wat nie deur die skeptisisme en ongeloof van die wêreld daarbuite weggeblaas kan word nie. Daarom gaan ons voort met ons ondersoek – in ons poging om by 50 antwoorde uit te kom – antwoorde op die vraag, WAAROM HET ONS VIR Y’SHUA NODIG?
15. Matteus 23:37 Yerushalayiem … jy wat die profete doodmaak … hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie!
SODAT YAHWEH SY KINDERS VAN OOR DIE HELE WÊRELD BYMEKAAR KAN MAAK
16. Lukas 12:50 Maar Ek het ‘n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit vervul is!
SODAT DIE GROOTSTE DOOP VAN ALLE TYE VERVUL KAN WORD
17. Johannes 6:39 En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.
SODAT ONS KAN WEET DAT NIE EEN VAN YAHWEH SE KUDDE VERLORE SAL GAAN NIE
18. Johannes 15:22 As Ek nie gekom en met hulle gepraat het nie, sou hulle geen sonde hê nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hul sonde nie.
SODAT MENSE NIE MEER ‘N VERSKONING HET OM IN HULLE OU LEWE TE VOLHARD NIE
19. Romeine 5:8 Maar Elohiem bewys sy liefde tot ons daarin dat die Messias vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
SODAT ONS ‘N GROTER VERSTAAN EN WAARDERING VAN YAHWEH SE LIEFDE KAN KRY
20. 2 Korintiërs 4:6 Elohiem het sy lig in ons harte laat skyn om die verligting te bring van die kennis van die grootheid van Elohiem in die aangesig van Y’shua die Messias.
SODAT MENSE ‘N SOORT LIG KAN LEER KEN WAT NIE SY GELYKE HET OP AARDE NIE
21. Efesiërs 1:5 Elohiem het ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Y’shua die Messias, na die welbehae van sy wil.
SODAT YAHWEH SY PLAN, WAT REEDS VOOR DIE SKEPPING IN PLEK WAS, KAN VOLBRING
Om saam te vat: Y’shua moes kom om ons oë oop te maak vir die ware betekenis van begrippe soos die KINDERS en die KUDDE van Yahweh. Wanneer ‘n mens besef dat Hy aan jou ‘n naam gegee het wat beter is as seuns en dogters, en dat Hy deur sy Seun die versekering kom gee het dat nie een van sy kudde verlore sal gaan nie, word sy LIEFDE en sy LIG vir jou so ‘n groot werklikheid, dat jy dit nou met ander ook wil deel. Want nou verstaan jy wat met woorde soos VERVUL en VOLBRING bedoel word en soek jy nie langer na VERSKONINGS om van Yahweh en sy Woord weg te skram nie. En jou eie DOOP is vir jou ‘n onuitwisbare herinnering aan die doop van Y’shua se dood en watter groot impak dit op hierdie wêreld gehad het.
Views: 25