GELOOF, VOOR EN NA DIE KOMS VAN Y’SHUA

alternate text

Ons het verlede week by die aspek van GELOOF stilgestaan en gesien hoe belangrik dit is dat ons in die uitleef van ons geloof, nie net die linkerbrein moet gebruik, met sy logika wat alles probeer verduidelik en met punte onderverdeel nie, maar ook die regterbrein, wat ruimte maak vir beelde, emosies en ‘n fyn aanvoeling vir mense – veral mense wat nie noodwendig inpas by ons eie patroon van denke nie. Miskien moet ons weer ‘n slag gaan kyk na hóé ons oor geloof dink, en wát presies ons onder geloof verstaan. Meeste van ons kom uit ‘n agtergrond waar “geloof” hoofsaaklik in die konteks gebruik is van: “Om gered te kan word, moet jy glo dat Y’shua vir jou sondes gesterf het.” Ek onthou nog baie goed hoedat ek lank gelede op die materiaal van Bill Bright, die stigter van CAMPUS CRUSADE FOR CHRIST, afgekom het. Bill Bright sal onthou word as die persoon wat die Jesus-film projek begin het. Die sogenaamde Jesus-film is in baie tale van die wêreld vertaal en in die tyd vóór televisie en sosiale media, het hierdie projek groot sukses behaal, veral in die armer lande van die wêreld, om mense aan die betekenis van die lewe en dood van Y’shua van Nasaret voor te stel. Bill Bright was ook die persoon wat verantwoordelik was vir die bekende “Vier Geestelike Wette” (“Four Spiritual Laws”) wat as hulpmiddel in evangelisasie projekte (soos die Jesus-film) gebruik is.

Die “VIER GEESTELIKE WETTE” boekie of traktaatjie het begin met die stelling dat net soos daar fisiese wette is wat die wêreld beheer, net so is daar (vier) geestelike wette wat ons verhouding met die Allerhoogste bepaal. Hierdie wette is die volgende: (1) Yahweh het jou lief en het ‘n groot plan met jou lewe; (2) Die mens se sonde het hom van Yahweh af weggedryf en daarom kan hy nie die voordele van hierdie plan geniet nie; (3) Yahweh het sy Seun gestuur as (die enigste) oplossing vir hierdie probleem – deur Y’shua kan ons weer deel kry aan die Skepper se plan; (4) Die manier waarop ons kan deel kry aan hierdie plan, is om Y’shua as ons persoonlike Verlosser te aanvaar, en dus in Hom te glo. Die traktaatjie brei dan uit op hierdie vier wette en gee selfs ‘n voorgeskrewe gebed (“sinners prayer”) wat ‘n mens kan bid om Y’shua in jou lewe in te nooi. Dertig verse – almal uit die Nuwe Testament – word in die traktaatjie aangehaal. Een hiervan, is Galasiërs 3:11 “Die regverdige sal deur die GELOOF lewe.”

Ironies genoeg, terwyl die “Vier Geestelike Wette” traktaatjie nie ‘n enkele aanhaling uit die Tanak (Ou Testament) bevat nie, is hierdie aanhaling uit Galasiërs 3 (een van die laaste Skrifgedeeltes in die traktaatjie) in werklikheid ‘n aanhaling uit die boek HABAKUK, in die Ou Testament. Toe Shaúl dit in Galasiërs 3:11 gebruik het, het hy (in die vorige vers) aangekondig dat hy sekere dinge gaan aanhaal “soos dit geskryf is” om die punt te maak dat “regverdigheid”, in Yahweh se oë, nog altyd beteken het om deur die geloof te lewe, en nie om bloot op die onderhouding van ‘n aantal wette staat te maak nie. Maar Shaúl se briewe, en veral die brief aan Galasiërs, is nie maklik om te verstaan nie. Selfs sy medewerker, PETRUS, het hieroor gewaarsku in 2 Petrus 3:16 – veral daarteen gewaarsku dat ‘n mens moet oppas om nie Shaúl se uitsprake as ‘n verskoning te gebruik om die Torah eenkant toe te skuif nie. Baie mense is geneig om uit die brief van Galasiërs af te lei dat Shaúl die gelowiges probeer ontmoedig om enigsins aan die Torah aandag te gee.

Sommige mense wys daarop dat die woord “geloof” net daardie een keer (in Habakuk) in die Ou Testament gebruik word, teenoor omtrent 240 keer in die Nuwe Testament, en dat dit ‘n bewys is dat Geloof en Torah mekaar uitsluit. Jy moet óf die een kies, óf die ander. Jy kan nie ‘n gelowige volgeling van Y’shua, en ook ‘n volgeling van die Torah wees nie. Maar hierdie siening berus op ‘n totale wanopvatting van die Woord, in sy geheel. Om in ‘n konkordansie van die Ou Testament te gaan soek na ‘n woord soos “GELOOF” of “faith” of “belief” en dan te sê dat geloof nie juis ‘n rol gespeel het vóór die Messias se koms nie, omdat hierdie woord omtrent nooit gebruik is nie, is eenvoudig nie die waarheid nie. Dit kom nie in die vertalings so duidelik na vore nie, maar die Griekse woord vir “geloof” (“pistis”), sluit ten nouste aan by die Hebreeuse woord (“aman”), wat oor die 100 keer in die Tanak gebruik word en met “geloof”, “vertroue” en “betroubaarheid” te make het. Die hele proses van glo, begin by die Een wat betroubaar en geloofwaardig is: Yahweh. Hy is waardig om geglo te word. En die mens wat sy geloof in hierdie Een stel, het ‘n uitstekende besluit geneem, wat verreikende gevolge vir hom of vir haar sal inhou. Daarom staan daar in Genesis 15:6: “Avram het in Yahweh geglo; en Yahweh het hom dit tot geregtigheid gereken.” En hierdie vers word minstens drie keer (Romeine 4:3; Galasiërs 3:6 en Jakobus 2:23) in die Messiaanse Skrifte aangehaal, om te demonstreer dat geloof die deurslag gee, in ‘n mens se verhouding met Yahweh.

Daar is mense wat nog steeds hardnekkig vasskop en sê dat hierdie verse daarop dui dat ons geloof in die Messias op die patroon van die geloof van AVRAHAM gebaseer is, dit wil sê die patroon van geloof, wat bestaan het vóórdat Mosheh met die TORAH vorendag gekom het. Kom ons kyk of hierdie siening klop met die feite. Romeine 4:3 is die eerste vers in die Messiaanse Skrifte waar die bekende uitspraak van Genesis 15:6 aangehaal word: “Avram het in Yahweh geglo; en Yahweh het hom dit tot geregtigheid gereken.” Maar dis duidelik dat Romeine 4 nie vir Avraham uitsonder omdat die Torah tóé, tegnies gesproke, nog nie bestaan het nie. Want later in dieselfde hoofstuk (Romeine 4:6) word daar uitdruklik gesê dat DAWID ook ‘n voorbeeld is van iemand aan wie Yahweh geregtigheid toegeken het, sonder die werke van die Torah. En Dawid was ‘n man na Yahweh se hart – een wat die Torah geken het en liefgehad het en gevolg het. JAKOBUS 2:23 haal ook vir Genesis 15:6 aan: “Avram het in Yahweh geglo; en Yahweh het hom dit tot geregtigheid gereken.” Probeer Jakobus sê dat Geloof en Torah, of Geloof en Werke, teenoor mekaar staan? Nee, beslis nie. Want hy maak juis die punt dat daar by Avraham nie net teoretiese (linkerbrein) geloof was nie, maar ook praktiese (regterbrein) lojaliteit wat hom nie laat huiwer het om selfs die lewe van sy eie seun te neem, in gehoorsaamheid aan Yahweh se woord nie. Sonder werke, is geloof sonder betekenis en sonder krag, en kan dit net sowel as “dood” geklassifiseer word, sê Jakobus.

Waarom word die spesifieke woord “geloof” SO MIN in die Tanak gebruik, en so baie in die Messiaanse Skrifte? Daar is ‘n eenvoudige verklaring hiervoor, en hierdie verklaring is NIE dat geloof net in ‘n afgewaterde vorm bestaan het, voor die koms van die Messias nie. Die Hebreërskrywer wy ‘n hele hoofstuk (HEBREËRS 11) aan manne en vroue wat (vóór en ná die ontvangs van die Torah, maar almal vóór die koms van die Messias) op maniere opgetree en gereageer het wat duidelik demonstreer dat hulle lewens op die fondasie van GELOOF gebou was. Dis nie vir ons nodig om na méér bewyse hiervoor in die Skrif te gaan soek nie. Maar die eenvoudige verklaring waarom die woord “geloof” so baie in die Messiaanse Skrifte gebruik word, en die indruk skep dat geloof vóór die koms van die Messias, nog nie juis ‘n “item” was nie, lê juis opgesluit in die KOMS VAN DIE MESSIAS! Die koms van die Messias was soos ‘n waterskeiding. Dit was die vervulling van profesie. En hierdie profesie het daaroor gegaan dat daar iemand op die toneel sou verskyn – ‘n Mashiag – wat deur Yahweh gesalf is om ‘n besonderse boodskap te bring en ‘n groot werk te kom doen. En toe verskyn daar iemand op die toneel, Y’shua van Nasaret, wat een HONDERD PERSENT in hierdie profiel inpas – die profiel wat uit die gesamentlike getuienis van die voor-Messiaanse profete saamgestel kan word. Maar nog steeds was daar mense – selfs godsdienstige mense – wat van hierdie Y’shua van Nasaret gehoor het, en hom selfs ontmoet het, wat nie kon aanvaar dat hy werklik die beloofde Messias was nie.

Maar feitlik die hele Nuwe Testament gaan oor die letterlik DUISENDE MENSE wat Y’shua van Nasaret as die beloofde Messias erken het. Mense wie se oë daarvoor oopgegaan het dat die omstandighede van sy koms en die inhoud van sy boodskap en die karakter wat hy openbaar het, ‘n absolute akkurate vervulling van die profesieë in verband met die Messias was. En die een, SAMEBINDENDE EIENSKAP van die groot aantal mense wie se oë hiervoor oopgegaan het en wie se harte deur die boodskap aangaande hom, in beroering gebring is, is dat hulle GEGLO het dat hy waarlik die Messias is. Daarom word daar soveel méér klem op GELOOF gelê in die tyd NA die koms van Y’shua die Messias, as in die tyd VOOR sy koms. Dit het alles met die historiese gebeurtenis van die opsienbarende koms van die lang-verwagte Messias te make! Geloof was die een aspek wat die aanhangers van Y’shua en die opponente van Y’shua van mekaar geskei het. Geloof was die merkteken van die groep mense wat as die NASARENERS bekend gestaan het – hulle wat geglo het dat Y’shua die Nasarener, inderdaad die beloofde Messias was! Daarom is hulle elkeen GEDOOP in die Naam van Y’shua, die Messias. Duidelik nie in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, soos wat die teks van Mat 28:19 later verander is nie. En elkeen wat in die Naam van Y’shua die Messias gedoop is, het geglo dat hulle (op ‘n simboliese, regterbrein manier) sáám met hom gesterf het, wat die heerskappy van sonde betref, en ook sáám met hom opgestaan het, in die sin dat hulle geweet het dat hulle eie toekomstige opstanding uit die dood, deur sy opstanding gewaarborg is. Hierdie geloof in Y’shua, as die Messias wat Yahweh belowe het, was vir hulle die enkele grootste versterking en bevestiging van hulle onwrikbare geloof in YAHWEH, as die enigste ware Elohiem, en die grootste outoriteit van hulle lewe.

 

 

Views: 45

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *