Shavuot is ‘n fees waarop daar van die vroegste tye af, eerstelinge gebring is na die plek van byeenkoms. Die ensiklopedie van Wikipedia beskryf dit as volg: “Shavuot was also the … day on which individuals could bring the Bikkurim (first fruits) to the Temple in Jerusalem. The Bikkurim were brought from the Seven Species for which the Land of Israel is praised: wheat, barley, grapes, figs,pomegranates, olives, and dates (Deut. 8:8). In the largely agrarian society of ancient Israel, Jewish farmers would tie a reed around the first ripening fruits from each of these species in their fields. At the time of harvest, the fruits identified by the reed would be cut and placed in baskets woven of gold and silver. The baskets would then be loaded on oxen whose horns were gilded and laced with garlands of flowers, and who were led in a grand procession to Jerusalem. As the farmer and his entourage passed through cities and towns, they would be accompanied by music and parades.”
Hier is ‘n verwysing na die sewe spesies wat vermeld word in Deut 8:8. Die laaste van die sewe spesies, volgens Wikipedia, is “dates” of dadels. In Deut 8:8 lees ons egter dat die sewende spesie “heuning” is. Wat is dit nou eintlik? Die Hebreeuse woord wat in die teks van Deut 8:8 gebruik word, beteken letterlik “heuning”, maar baie Skrifuitlêers meen dat hierdie “heuning” nie die normale heuning is wat deur bye gemaak word nie, maar ‘n soort stroop wat in antieke tye gemaak is van die dadels van sekere soort palmbome.
Wat presies sê die Skrif? Wáárvan moes daar eerstelinge na die Shavuot byeenkoms gebring word – net van koring of van ander produkte ook? Volgens Ex 34:22 klink dit of dit net die eerstelinge van die koringoes moes wees: “Die fees van die Weke moet jy ook hou, die fees van die eerstelinge van die koring-oes; en die fees van die insameling by die wisseling van die jaar.” Volgens Ex 23:16 klink dit egter of daar ander vorme van eerstelinge ingesluit kon wees: “Verder die fees van die oes, van die eerstelinge van jou werk, van wat jy op die land saai; en ook die fees van die insameling aan die einde van die jaar as jy jou werk uit die land insamel.” Dit blyk dus in lyn met die bedoeling van die Skrif te wees dat Shavuot nie net vir die eerstelinge van die koringoes bedoel is nie, maar vir “die eerstelinge van (al) jou werk” – wat ook al jy op daardie stadium van die jaar erken as vrug wat voortspruit vanweë die feit dat Yahweh jou geseën het – maak nie saak of dit een soort vrug of twee of sewe soorte was nie.
Waarom moes mense hulle eerstelinge na hierdie fees toe bring? Volgens die Skrif is die antwoord duidelik: Om erkenning te gee daaraan dat enige vorm van voorspoed of sukses of inkomste, nie maar net toevallig of bloot deur ons eie toedoen tot stand gekom het nie, maar deur die guns en die voorsiening van Yahweh, wat sy hand vir ons oopgemaak het en seëninge op ons uitgestort het. Ons kyk nie altyd só daarna nie, maar baie van die seëninge wat ons vandag beleef is, minstens gedeeltelik, die vervulling van sekere beloftes wat Yahweh lank gelede, by monde van sy profete gemaak het. Dis die soort Elohiem wat ons aanbid – een wat absoluut betroubaar is en wat elke belofte wat Hy gemaak het, sal vervul, al neem dit in sommige gevalle honderde of selfs duisende jare! Ons eerstelinge aan Yahweh is ‘n spesiale soort belofte-offer – nie die soort belofte-offers wat in kerke gebruik word om mense groot beloftes te laat maak van geld wat hulle in die toekoms vir ‘n projek sal gee nie, maar ‘n offer wat gebring word om erkenning te gee aan die beloftes wat Yahweh gemaak het en aan die manier waarop Hy daagliks hierdie beloftes in ons eie lewens nakom. Kom ons kyk na die sewe spesies van Deut 8:8 en die manier waarop elkeen van hierdie spesies (op ander plekke in die Skrif) aan minstens een ongeëwenaarde belofte van Yahweh gekoppel word.
1.Koring. 1 Sam 12:17 Is dit nie koringoestyd vandag nie? Ek sal Yahweh aanroep, dat Hy donderslae en reën gee: weet dan en sien dit in dat julle kwaad groot is wat julle in die oë van Yahweh gedoen het deur ‘n koning vir julle te begeer. 1Sa 12:22 Want Yahweh sal sy volk ter wille van sy grote Naam nie verwerp nie, omdat dit Yahweh behaag het om van julle vir Hom ‘n volk te maak. Belofte: Yahweh sal diegene aan wie Hy Hom verbind het, nooit verwerp nie.
2.Gars. Hos 3:2 Toe het ek haar vir my gekoop vir vyftien shekels silwer en ‘n gomer gars en ‘n leteg gars. Hos 3:5 Daarna sal die kinders van Yiesraél hulle bekeer en Yahweh hulle Elohiem soek en Dawied hulle koning, en met siddering aankom na Yahweh en na sy goedheid in die laaste van die dae. Belofte: Die ware nasate van Yiesraél sal Yahweh as hulle Elohiem opsoek en Y’shua as die Messias.
3.Wingerdstokke. Zec 8:12 Want die saad van vrede, die wingerdstok, sal sy vrug gee, en die aarde sy opbrings lewer, en die hemel sal sy dou skenk; en die oorblyfsel van hierdie volk sal Ek al hierdie dinge laat beërwe. Zec 8:13 En soos julle ‘n vloek gewees het onder die nasies, o huis van Yehudah en huis van Yiesraél, so sal Ek julle verlos, dat julle ‘n seën kan wees. Wees nie bevrees nie, laat julle hande sterk wees. Belofte: Die oorblyfsel van Yiesraél hoef nie bevrees te wees nie, wat Yahweh maak hulle hande sterk.
4.Vyebome. Jer 24:3 En Yahweh het vir my gesê: Wat sien jy, YermeYahu? En ek het geantwoord: Vye; die goeie vye is baie goed en die slegtes baie sleg, te sleg om te eet. Jer 24:5-7 So sê Yahweh, die Elohiem van Yiesraél: Soos hierdie goeie vye, so sal Ek ten goede kyk na die ballinge van Yehudah wat Ek uit hierdie plek na die land van die Kasdiem weggestuur het; en Ek sal my oog op hulle slaan ten goede en hulle terugbring in hierdie land; en Ek sal hulle bou en nie afbreek nie, en hulle plant en nie uitruk nie. En Ek sal hulle ‘n hart gee om My te ken, dat Ek Yahweh is; en hulle sal vir My ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n Elohiem wees, want hulle sal na My terugkeer met hul hele hart. Belofte: Hulle wat in ballingskap is, sal gebou word, geplant word en ‘n nuwe hart ontvang.
5.Granate. Hag 2:19 Is daar nog saad in die skuur? Ja, selfs die wingerdstok en die vyeboom en die granaatboom en die olyfboom het niks opgelewer nie. Van hierdie dag af sal Ek seën. Hag 2:21-23 Spreek met Zerubbavel, die goewerneur van Yehudah, en sê: Ek sal die hemel en die aarde laat bewe. En Ek sal die koningstrone omverwerp en die mag van die heidense koninkryke vernietig; en Ek sal die strydwaens en die wat daarop ry, omverwerp, en die perde en hulle ruiters sal val, die een deur die swaard van die ander. In daardie dag, sê Yahweh van die leërskare, sal Ek jou neem, Zerubbavel, seun van Sheáltiél, my kneg, sê Yahweh, en jou maak tot ‘n seëlring, want jou het Ek verkies, sê Yahweh van die leërskare. Belofte: Op die bestemde tyd sal Yahweh sy uitverkorenes só seën dat die hemel en die aarde bewe.
6.Olyfbome. Hos 14:6 Sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos die van ‘n olyfboom en sy geur soos die Livanon. Hos 14:4-5 Ek sal hulle afvalligheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend. Ek sal vir Yiesraél wees soos die dou, hy sal bloei soos ‘n lelie en sy wortels uitslaan soos die Livanon. Belofte: Yahweh sal vir Yiesraél wees soos die dou wanneer Hy hulle genees en sy liefde op hulle uitstort.
7.Heuning. Pro 24:13 Eet heuning, my seun, want dit is goed, en heuningstroop is soet teen jou verhemelte. Pro 24:14 Erken dat die wysheid so is vir jou siel; as jy dit vind, dan is daar ‘n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie. Belofte: Vir hulle wat dié Wysheid gevind het is daar ‘n toekoms en ‘n hoop wat nie verydel sal word nie.
Daar is nie ‘n tekort aan redes en inspirasie vir jou en my om ons lof en dank aan Yahweh te betuig en Hom ook met ons eerstelinge te vereer nie. Op ‘n daaglikse basis kan ons sien hoe Hy sy beloftes vervul en hoe die vervulling van hierdie beloftes werklike seën vir ons meebring. Vraag is net of ons dit raaksien en genoeg erkenning daaraan gee …
Views: 23