WAT IS DAAR OM NA UIT TE SIEN IN DIE SEWENDE MAAND?

alternate textDaar is baie mense wat frons oor die feeste en wat geen rede sien waarom gelowiges in die Messias vandag nog die feeste moet hou nie. Om hulle standpunt te steun, gryp hulle na verse in die Skrif soos Jes 1:14 “Julle nuwemane en julle feestye haat my siel; hulle is vir My ‘n oorlas”; Hos 2:11 “Ek maak ‘n einde aan al haar vreugde, haar feeste, haar nuwemane en haar Shabbatte, ja, aan al haar feestye”; Amos 5:21 “Ek haat, Ek verag julle feeste en het geen behae in julle feestye nie”; Rom 14:5 “Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees”; Gal 4:9-10 “Hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en maande en tye en jare waar” en die verkeerde vertaling van Kol 2:16-17 “So let no one make rules about what you eat or drink or about holy days or the New Moon Festival or the Sabbath. All such things are only a shadow of things in the future; the reality is Christ” (GNT). Hierdie mense vergeet (of wil nie hoor nie) dat die feeste in die Skrif “Yahweh se feeste” genoem word (nie Joodse feeste nie); dat beide die Messias en sy vroeë volgelinge die feeste gehou het; dat dieselfde profete wat gesê het dat Yahweh sy volk se feeste haat, die volk aanhoudend opgeroep het om nie die feeste te verwaarloos nie (bv. Eseg 44:24 “Hulle moet my leringe en my insettinge hou op al my feestye en my Shabbatte afsonder” en Sag 14:16 En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Yerushalayiem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, Yahweh van die leërskare, en om die Huttefees te vier) en dat daar geen aankondiging van Y’shua of enige ander apostel is dat die feeste tot ‘n einde gekom het of net vir sommiges bedoel was nie.

Om egter net só na die feeste te kyk is negatief en verskonend. Ons hou nie net die feeste omdat ons MOET nie of omdat NIEMAND gesê het dat dit beëindig is nie. Ons hou dit omdat daar aspekte in die feeste opgesluit is wat ons geloof versterk en verryk. Ons hou dit omdat dit vasgestelde afsprake is wat die Allerhoogste met sy volgelinge gemaak het en omdat ons nie kan bekostig om ons afsprake met die Allerhoogste mis te loop nie. Hy het nie net die feeste in sy ontwerp vir hierdie wêreld ingebou nie. Hy het ook onsigbare prosesse in die feeste ingebou wat van onskatbare waarde vir ons geloof en wandel met Hom is. As ons hierdie afsprake misloop, ontneem ons onsself van die geleentheid om te groei in die geloof, soos Yahweh dit bedoel het. Dus, wanneer ons by ‘n maand soos die sewende maand uitkom, met nie minder nie as 3 dae wat vir “miqra qadosh” (“’n byeenkoms, afgesonder”) opsy gesit word en een Dag wat as “shabbat shabbaton” (‘n Sabbat van Sabatte of ‘n Dag van volkome rus) bestempel word, is dit met ‘n opgewondenheid en ‘n gees van afwagting dat ons hierdie dae tegemoet gaan. Hier is die een aspek van ons leefstyl as gelowiges waar moderne, mensgemaakte fabrikasies en namaaksels en heidense gebruike nog nie sy tentakels om ons kom slaan het nie. Die feeste bring ons terug by ‘n aktiwiteit van geloof wat deur die Skepper self ontwerp is en wat die toets van die tye deurstaan het. Waarna kan ons uitsien?

Ons kan uitsien na ‘n klompie dae wat formeel “uitgeroep” (qarah) is, net soos wat die ordening van die dag en die nag, reg aan die begin deur Yahweh self “uitgeroep” (qarah) is. In Levitikus 23, wat in sy geheel ‘n aankondiging van Yahweh se feeste is, word die woord “qarah” nie minder nie as 4 keer gebruik. Hierdie woord beteken onder meer: “to call, to utter a loud sound, to call the Name of Yahweh upon someone or something, to proclaim, to summon, to invite, to appoint, to call and endow.” Wanneer ons opdaag vir hierdie afsprake, is dit ons reaksie op Yahweh wat sy volk bymekaar geroep het. Ons kan verwag dat Hy opnuut weer sy Naam oor ons gaan uitroep. Die feit dat Hy ons opgeroep en uitgenooi het, is nie sonder rede nie. Ons kan uitsien daarna om by hierdie byeenkomste toegerus en bedek te word (“endow”) met gawes en kwaliteite en insigte wat nie in woorde uitgespreek of oorvertel kan word nie, maar wat ons verhouding met Yahweh vaster en sterker sal maak.

Ons kan uitsien daarna om met iets besig te wees wat ons weet tot eer van Yahweh is. Mense sê so maklik hulle wil die Vader eer of verheerlik in wat hulle doen en dan hou hulle aan om dinge te doen wat Hy nie uitdruklik beveel het nie of wat die Skrif nie uitdruklik beskryf as “tot eer van Yahweh” nie. Die feeste is een van die dinge wat SONDER TWYFEL tot eer van Yahweh is, want minstens 7 keer word die opdrag in die Skrif gegee dat daar ‘n “fees tot eer van Yahweh” (“chag leYahweh”) gehou moet word en minstens NOG 7 keer word daar uitdruklik gesê dat dit Yahweh se feeste is. Natuurlik kan mense met hulle eie arrogansie en dwaasheid en verkeerde prioriteite die feeste besoedel, sodat dit nie langer tot eer van Yahweh is nie, maar tot ons eie skande (dis waarom die profete soms gesê het dat Yahweh ‘n afsku in die feeste het). As ons dit egter hou met ons fokus op Yahweh en sy Woord, strek dit tot sy eer, en alles wat waarlik tot eer van Yahweh gedoen word, hou onberekenbare dividende (voordele) in vir die een wat dit doen!

Ons kan uitsien na ‘n onbekende getal goeie dinge wat Yahweh, gedurende hierdie feestyd, in ons midde gaan doen. 2 Kron 7:10 “En op die drie en twintigste dag van die sewende maand (na afloop van die fees) het hy die volk na hul tente laat gaan, verheug en vrolik van hart oor die goeie dinge wat Yahweh aan Dawied en aan Shelomoh en aan sy volk Yiesraél gedoen het.” Hierdie “goeie dinge” kan geestelike dinge wees – oortuigings en gesindheidsveranderinge en insigte wat ‘n mens nie met die blote oog kan sien nie. Dit kan egter ook sigbare dinge wees. Yahweh werk nie net op die terrein van ons gees en ons hart en ons verstand nie. Hy werk ook in ons omstandighede, ons gesondheid, ons fisiese behoeftes, die desperaatheid waarin ons op die oomblik mag wees en die reële dinge wat ons beangs en benoud maak. Ons het die gawe van lewe uit sy hand uit ontvang, tesame met al die faktore wat ‘n rol speel in ons lewe. Ek het die verwagting dat, omdat Yahweh hierdie dinge in ons almal se lewens ken, Hy ook op daardie vlak vir ons met vreugde en vrolikheid van hart huis toe gaan stuur, oor al die goeie dinge wat ons ontvang en beleef het!

Ons kan uitsien daarna dat Yahweh in hierdie tyd opnuut vir ons ‘n eensgesinde hart wil kom gee. Ons mag dalk nie dink dat dit nodig is vir só ‘n werk in ons midde nie. Ons is mos eensgesind! Ons baklei mos nie met mekaar nie! En boonop kom ons mos weekliks bymekaar om ons haakplekke en ons onvergenoegdheid met mekaar uit te stryk! In hierdie opsig is die feestye egter onvergelyklik met enige iets anders. Die hele volk moes daar wees. Alleen hulle vir wie dit om geldige redes onmoontlik sou wees om die fees by te woon, is verskoon. En omdat die fokus só geheel en al op Yahweh is, en daar geen twyfel oor sy teenwoordigheid is nie (“Die een wat My eer, sal Ek eer!), het hierdie feeste ‘n manier om ons van ons kleinlikheid te genees en die verskille wat daar tussen ons is, in die konteks te plaas van die oorweldigende sekerhede wat ons met mekaar deel. 2 Kron 30:12-13 Ook was die hand van Elohiem in Yehudah, sodat Hy hulle ‘n eensgesinde hart gegee het om die gebod van die koning en van die owerstes ooreenkomstig die woord van Yahweh uit te voer. En baie mense het in Yerushalayiem byeengekom om die Fees te hou … ‘n baie groot vergadering.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »