WARE VRYHEID

alternate textDie Torah leesstuk hierdie week is Devariem (Deuteronomium) 21 tot 25 en dit bevat ‘n hele aantal instruksies wat gaan oor beginsels wat tot vandag toe nog geldig is en kan help om van die wêreld ‘n beter plek te maak. Beginsels soos dat daar eer bewys moet word aan iemand wat te sterwe gekom het; dat mens in en om jou eie huis die veiligheid van almal wat in jou huis kom, moet verseker; dat ‘n dagloner sy betaling nog op dieselfde dag moet ontvang; dat daar altyd só geoes moet word dat daar iets vir die armes en die vreemdelinge oorbly; dat mens nie ‘n skaal moet gebruik waarmee mense verkul word as hulle iets by jou koop nie; ensovoorts. Een van die instruksies wat mens maklik kan miskyk, tussen die meer as 70 ander wat in hierdie paar hoofstukke voorkom, is hierdie een: Deut 23:7 Die Edomiet moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want hy is jou broer; die Mietsrayimiet (Egiptenaar) moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want jy was ‘n vreemdeling in sy land.

Jonathan Sacks, ‘n bekende afgetrede Rabbi van Engeland, het in 2012 oor hierdie vers geskryf en sy verbasing uitgespreek – veral oor die duidelike instruksie dat die Israeliete nie die Egiptenare moes haat nie. Hier is ‘n aanhaling uit wat Jonathan Sacks destyds geskryf het: “The Egyptians of Moses’ day had enslaved the Israelites, embittered their lives, subjected them to a ruthless regime of hard labor and forced them to eat the bread of affliction. They had embarked on a program of attempted genocide, Pharaoh commanding his people to throw every male [Israelite] child born, into the river. Now, forty years later, Moses speaks as if none of this had happened, as if the Israelites owed the Egyptians a debt of gratitude for their hospitality. Yet he and the people were where they were only because they were escaping from Egyptian persecution. Nor did he want the people to forget it. To the contrary, he told them to recite the story of the Exodus every year, as we still do on Passover, reenacting it with bitter herbs and unleavened bread so that the memory would be passed on to all future generations. If you want to preserve freedom, he implies, never forget what it feels like to lose it. Yet here, on the banks of the Jordan, addressing the next generation, he tells the people, ‘Do not hate an Egyptian.’ What is going on in this verse?”

Sonder om verder te lees wat Jonathan Sacks geskryf het, weet ons eintlik reeds wat aangaan in hierdie vers. Dis Yahweh wat vir sy volk leer dat sy gedagtes nie soos hulle gedagtes is nie en dat sy weë nie soos hulle weë is nie. Wat in hierdie vers opgesluit lê, is een van die belangrikste beginsels wat die volk van Yiesraél ooit sou hoor. Bitter min mense in die wêreld verstaan en leef volgens hierdie beginsel. Maar hulle wat dit ontdek en daarvolgens begin leef, ervaar dat hulle lewens onherroeplik verander word. Wat is hierdie beginsel? Miskien kan ons hierdie beginsel probeer weergee in die woorde van Martin Luther King: “Darkness cannot drive out darkness: only light can do that. Hate cannot drive out hate: only love can do that. Hate multiplies hate, violence multiplies violence, and toughness multiplies toughness…”. Of nog beter – ons kan dit weergee in die woorde van Y’shua die Messias: Mat 5:43-48 “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemel is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie? En as julle net jul broers groet, wat besonders doen julle dan? Doen die heidene nie ook so nie? Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemel volmaak is.”

Nou wonder ‘n mens net: Het Y’shua hier ‘n nuwe beginsel neergelê? Hy begin dan deur te sê: “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat.” Dis juis die punt: Dis wat daar voorheen gesê is – deur mense, nie deur Yahweh nie! Die Torah leesstuk waarna ons vandag kyk, is maar net een van baie plekke in die Torah waar ons duidelik kan sien dat die geregtigheid wat Yahweh van die begin af vir sy volk geleer het, ‘n radikale geregtigheid was – ‘n geregtigheid wat die essensiële kwaliteit insluit van om haat met liefde te beantwoord en dit op só ‘n manier uit te kanselleer.

Om waarlik vry te kan wees, moet jy van jou haat ontslae raak – dis wat die volk in Mosheh se tyd langs die Jordaanrivier moes leer en dis wat die skare mense 1400 jaar later, in Y’shua se tyd langs die See van Galilea moes leer. As die volk destyds nie by die punt kon kom om op te hou om die Egiptenare te haat nie, beteken dit Mosheh het dit reggekry om die Yiesraéliete uit Egipte weg te neem, maar hy het dit nie reggekry om Egipte uit die Yiesraéliete weg te neem nie. As hulle sou aanhou haat, sou dit beteken dat hulle met hulle harte nog steeds in Egipte was. Dit sou beteken dat hulle nog steeds in kettings en in boeie was en nog glad nie vry gekom het nie!

Waarom word dit dan so dikwels in die Torah herhaal dat die volk moes onthou dat hulle slawe was in Egipte? Waarom word daar elke jaar Pesag gevier, wat juis daarop gemik is om nie die geskiedenis van Egipte te vergeet nie? Die Torah is baie duidelik hieroor. Hulle moes daardie geskiedenis onthou, nie as ‘n rede vir haat of vir wraak neem nie, maar juis om mekaar te herinner aan die vryheid en die verlossing wat Yahweh vir hulle gebring en ook om mekaar te herinner dat hulle nooit dieselfde tipe ding aan ander mense moet doen nie. Die Torah is vol daarvan: Moenie iemand onnodig in slawerny plaas nie. Moenie ‘n onbillike werklading op iemand plaas nie. Laat jou mense rus – elke sewende dag. Laat jou slawe vry weggaan – elke sewende jaar. Gee mildelik aan die armes. Los van die vrugte en die koring op die lande sodat die armes daarvan kan eet. Onthou wat met julleself in Egipte gebeur het, nie om aan te hou lewe in die verlede nie, maar om ‘n herhaling daarvan in die toekoms te voorkom.

Die Skriftuurlike maand waarin ons op die oomblik is, die sesde maand, wat onder die Yehudiem ook bekend staan as die maand van Elul, is ‘n baie betekenisvolle maand. Dis die maand net voor die sewende maand en die sewende maand is die maand waarin drie of vier van die grootste dae van die Skriftuurlike kalender voorkom – onder andere ook die Dag van Versoening of Yom Kippur. Yom Kippur is die dag in die jaar wat spesiaal afgesonder word om ‘n geleentheid te skep om met Yahweh versoen te word. Vanweë die kerklike agtergrond waaruit meeste van ons kom, is ons geneig om baie eendimensioneel oor versoening te dink: As jy glo in die Messias, is jy reeds met Yahweh versoen en dis nie nodig om jaar na jaar selfondersoek te doen en hernude versoening met Yahweh na te jaag nie. Dis egter nie hoe die Skrif oor versoening praat nie. Versoening is nie iets wat net een of twee keer in ‘n mens se lewe behoort plaas te vind nie. Dit moet gereeld gebeur. Wanneer daar iets tussen my en my broer of my suster gebeur het wat ons uitmekaar gedryf het, moet daar versoening plaasvind. En wanneer daar iets tussen my en Yahweh gebeur het wat donkerte in my hart en in my gemoed gebring het en my van Hom vervreem het, moet daar versoening plaasvind.

Om hierdie rede is dit die gebruik om nie net op die Dag van Versoening op versoening te fokus nie, maar veral in die tien dae (ook bekend as “The Ten Days of Repentance”) vanaf die begin van die Sewende Maand tot en met Yom Kippur wat op die tiende dag van die Sewende Maand plaasvind. Dit is verder ook die gebruik om in die hele periode, vanaf die begin van die Sesde Maand tot en met Yom Kippur (ook bekend as “The Season of Repentance”), te fokus op maniere om die rug te draai op sonde en sondige gewoontes en terug te keer na Yahweh en dit wat Hy van sy mense verlang. Daar is ‘n sterk Joodse tradisie dat Mosheh se tweede periode van 40 dae op die berg Sinai (om vir die tweede keer die Torah te ontvang) op die eerste dag van Elul begin het en op die Dag van Yom Kippur geëindig het. Eers toe die volk tyd gekry het om na te dink oor hulle rebellie en hulle hardnekkigheid en hulle sonde met die goue kalf, en daardie sonde voor Yahweh te bely, was hulle gereed om die Torah te hoor soos wat hulle dit moes hoor.

Die letters waaruit die woord “Elul” bestaan, is Alef, Lamed, Vav, Lamed. Hierdie vier letters is die eerste letters van die bekende sin, Ani Ledodi Vedodi Li – “I am my beloved’s and my Beloved is mine”. Dit is wat ook met ons moet gebeur in hierdie periode, tot en met die Dag van Versoening: Ons moet weer terugkeer na ons “Beloved”. Dit wat ons in die afgelope jaar van Hom af weggedryf het, die klein dingetjies wat in ons lewe ingesluip het en ons van Hom vervreem het, maar veral die kere dat ons plek gemaak het vir liefdeloosheid en haat, moet bely word en van afgesien word, sodat ons weer kan vry word en kan terugkom by daardie plek waar ons die nabyheid en die voortreflikheid van ons “Beloved” kan geniet. Spr 28:13 Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind. Jak 4:8-10 “Nader tot Elohiem, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande … suiwer die harte … Verneder julle voor die Meester, en Hy sal julle verhoog.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »