WANNEER IS DIT DIE EINDE?

alternate textDaar word lankal gegis en gespekuleer, en in sommige gevalle uitdruklik voorspel, dat vandag, 21 Mei 2011, die einde sal wees van die wêreld soos ons dit ken. In California is daar ‘n 89 jarige afgetrede Siviele Ingenieur met die naam Harold Camping wat hierdie boodskap al baie lank met al die energie tot sy beskikking verkondig – onder meer deur pamflette, “billboards”, videos, medewerkers en ‘n $120 miljoen sterk radio stasie te gebruik. Mnr Camping sê hy het tot hierdie gevolgtrekking gekom deur die Skrif te bestudeer, tesame met sekere gebeure en tendense wat ons wêreld vandag kenmerk. Hy verwys na aardbewings en tsunami’s, maar ook na “all the stealing, and the lying, and the wickedness and the sexual perversion that is going on in society”. Een van die maniere hoe hy spesifiek by die datum 21 Mei 2011 uitgekom het, is dat dit 722500 dae is ná wat hy beskou as die dag van die Messias se kruisiging. En die getal 722500 is betekenisvol “because you get it by multiplying three holy numbers (5, 10 and 17) together twice – When I found this out, I tell you, it blew my mind.” Die jaar 2011 is volgens hom die beslissende jaar, want hy meen die vloed in Noag se tyd het plaasgevind in 4990 vM en as jy 7000 jaar daarby voeg, kom jy presies by die jaar 2011 uit.

Hierdie voorspellings het behoorlik die wêreld aan die skarrel en tienduisende mense – nie net in Amerika nie – glo dat daar vandag ‘n wegraping van gelowiges gaan plaasvind (of plaasgevind het?) en dat Yahweh se toorn die res van die wêreld gaan tref. Wat moet ‘n mens maak met sulke uitsprake? Hoeveel keer in die verlede was daar nie al sulke voorspellings wat gemaak is en verkeerd bewys is nie? Harold Camping self het al voorheen voorspel dat die wêreld êrens in 1994 tot ‘n einde sou kom en moes toe maar agterna bely dat hy nie die Skrif goed genoeg bestudeer het nie. Wat maak hierdie jongste profesie soveel anders? En, nog belangriker, wat sê die Skrif oor voorspellings van die einde? Hoekom is daar so ‘n obsessie by sommige om die einde te voorspel en so ‘n traagheid om die Messias se woorde in Mattheus 24:36 ernstig op te neem “Maar van daardie dag en daardie uur weet niemand nie, nie die boodskappers van die hemel nie, ook nie die Seun nie, maar net die Vader alleen”?

Die hoeveelheid tyd en energie en geld wat mense soos Harold Camping bestee om die wêreld te waarsku dat die einde aangebreek het, sê vir my net een ding: Om presies te weet wanneer dit die einde is, is vir baie mense ‘n groot begeerte en ‘n lewensideaal. Sommiges is bereid om hulle hele lewe daaraan te wy en hulle reputasie en geloofwaardigheid op die spel te plaas ter wille daarvan om in die openbaar te kan aankondig presies wanneer dit die einde sal wees. Maar juis hierin is hulle nie getrou aan die Skrif nie. Die Skrif lei ons nie om so ‘n lewensideaal na te streef nie. Die Skrif leer nêrens dat ons die dag van die einde met al ons kragte moet probeer bereken nie. Wat meer is, iemand wat dit doen, is nie ‘n getroue volgeling van die Messias nie. Want Hy het geleer dat ons na die tekens rondom ons moet kyk om ons aan te spoor om sy getroue en verstandige diensknegte en diensmaagde te wees, NIE om ons aan te spoor om die presiese dag te bereken wat sy Vader nie eens aan Hom bekend gemaak het nie!

Mat 24:45 Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy meester oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Mat 24:46 Geseënd is daardie dienskneg vir wie sy meester, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind.

As ons noukeurig na hierdie woorde kyk, moet ons ons nie besighou met berekeninge oor die einde nie, maar met die volgende baie belangrike sake:

1. Ons moet kennis neem daarvan dat Y’shua (met die gesag wat Hy van sy Vader ontvang het) ons aangestel het “oor sy diensvolk” en dat daar ‘n groot verantwoordelikheid hiermee gepaard gaan. Die verantwoordelikheid om sy agenda te volg en nie ons eie nie. Die verantwoordelikheid om Hom te eer soos wat Hy sy Vader geëer het. Die verantwoordelikheid om hierdie aanstelling met dieselfde gesindheid te benader as wat Y’shua met sy aanstelling gedoen het.

2. Ons moet in die eerste plek na onsself kyk, nie as (leer)meesters of as bevelvoerders of as profete nie, maar as diensknegte. ‘n Dienskneg is nie groter as sy meester, die een wat hom gestuur het nie. ‘n Dienskneg neem nie die “show” oor nie. ‘n Dienskneg probeer nie die aandag van die wêreld op homself vestig nie. Nee, ‘n dienskneg bepaal hom by sy meester en by die taak wat hy van sy meester ontvang het. In ons geval is hierdie taak in wese dieselfde as wat die taak van die Messias was: om goeie nuus aan die armes te bring; om vrylating vir die gevangenes en die blindes en die gebrokenes aan te kondig.

3. In die uitvoering van ons taak moet ons in die eerste plek getrou wees. Dit laat mens miskien tydelik goed voel om so af en toe iets te sê wat opwindend klink of wat mense soos ‘n voorhamer tussen die oë tref, maar as dit nie ‘n getroue weerspieëling van die Skrif is nie, is ons besig om vir onsself roem in te samel en dan is ons nie meer getroue diensknegte nie. Getrouheid beteken veral ook geloofwaardigheid en integriteit en ek is bevrees daar is te veel vandag vir wie ander oorwegings baie belangriker as integriteit geword het.

4. In die uitvoering van ons taak moet ons tweedens ook verstandig wees. Dit beteken dat ons met wysheid te werk moet gaan. Dit is wysheid om na die wêreld rondom jou te kyk en te besef dat alles al hoe verder wegdryf van die norm van Yahweh se Woord en dan ‘n besluit te neem om terug te keer na daardie norm en jou lewe daarvolgens in te rig. Maar dit is nie wysheid om jou lyf doemprofeet te hou en elke nou en dan opsienbarende uitsprake oor die einde te maak nie.

5. Een van die vernaamste aspekte van die taak wat ons Meester aan ons toevertrou het, is om voedsel aan die diensvolk te gee. In die wêreld rondom ons is daar ‘n intense honger na die ware Woord van Yahweh. “Gee julle vir hulle iets om te eet”, het Y’shua vir sy dissipels gesê toe daar ‘n skare van meer 5000 was wat gekom om na Hom te luister. Gee ons nog voedsel aan die hongeriges van hierdie wêreld of is ons só besig om kos op ons eie tafel te probeer kry dat die ware nood van ander by ons verbygaan?

6. Die voedsel wat ons in die Naam van ons Meester aan ander uitdeel, moet op die regte tyd aan hulle gegee word. Tye en seisoene is in Yahweh se oë baie belangrik. Daarom het Hy ons sy feeste gegee. Soms is die feeste juis die regte tyd om op ‘n sekere aspek van die geloof te fokus. Maar daar is ook ander tye en ander seisoene wat in ag geneem moet word. Ons gebed behoort voortdurend te wees dat Yahweh ons meer oor sy volmaakte tydsberekening sal leer sodat ons kan weet wanneer is dit die regte tyd om namens Hom met mense te praat.

7. Ons behoort dieselfde vraag as die Messias te vra: Wie is die getroue en verstandige dienskneg? Dit is belangrik dat ons hierdie diensknegte en diensmaagde sal identifiseer. En dat ons tyd saam met hulle spandeer, die pad saam met hulle loop en saam met hulle aanbid. Maar ook dat ons ons sal distansieer van diegene wat nie getroue en verstandige diensknegte is nie. Dit gaan ons nie baat om met sulkes gemeenskap te hou nie. Dis gaan ons nie goeddoen om kronies in hulle geselskap te wees nie. En wat meer is, dit gaan ons beroof van die seën van Yahweh, want die Messias het immers gesê: Geseënd is daardie dienskneg vir wie sy meester, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »