WAAROM OFFERS?

alternate textDie leesstuk van hierdie week uit die Torah sluit in Wayiekkra (Levitikus) 6-8 en gaan grotendeels oor die verskillende soorte offers (Engels: “sacrifices”) wat aan Yahweh gebring moes word. Die bring van offers, en veral diere-offers, is ʼn konsep wat in ons moderne tyd vir baie mense uiters vreemd op die oor val. Waarom sou die Allerhoogste vereis dat daar diere doodgemaak moet word, sodat mense vir Hom aanvaarbaar kan wees? Is daar nie beter, en sosiaal meer aanvaarbare metodes, vir ʼn mens om uitdrukking te gee aan sy lojaliteit teenoor, en verering van sy Skepper nie? Waarom moet ʼn gesonde dier eers doodgemaak word, sodat ʼn mens kan bly lewe? Dis die tipe vrae wat baie mense deesdae vra as hulle die gedeeltes in die Skrif lees wat oor die skynbaar argaïese praktyk van offerandes handel.

Weens die feit dat daar nie meer ʼn fisiese tempel in Jerusalem is nie, kom die bring van offerandes, soos dit in die Torah voorgeskryf word, natuurlik nie meer op so ʼn groot skaal voor nie. Boonop is daar deesdae wêreldwyd ʼn sterk beweging wat diere-regte bepleit en enigiets onder die son sal doen om enige vorm van wreedheid teenoor diere te beveg. Nogtans kom die bring van diere-offers vandag nog steeds voor – nie net by godsdienste wat hulle op die Skrif beroep nie, maar ook by godsdienste soos Hindoeïsme en die Tradisionele Afrika godsdienste by wie diere-offers nog altyd ʼn groot rol gespeel het. So onlangs as 2009 was daar ʼn opspraakwekkende hofsaak in Texas waarin daar besluit is dat die staat nie ʼn sekere godsdienstige groep mag verhinder om diere-offers te bring, as deel van die oortuigings en praktyk wat reeds geslagte lank binne daardie spesifieke organisasie gehandhaaf word nie.

Die bring van offers, in die algemeen (ongeag of dit diere-offers of offers van ʼn meer geestelike aard is), is onlosmaaklik verweef in daardie proses waarin ʼn mens, of ʼn groep mense, daarna streef om eer te bring aan ʼn Wese wat hulle as hulle Skepper en Onderhouer erken. Iemand met die naam Frederick Lewis Donaldson het eenkeer gesê:

The Seven Social Sins are:
Wealth without work.
Pleasure without conscience.
Knowledge without character.
Commerce without morality.
Science without humanity.
Politics without principle.
Worship without sacrifice.

ʼn Mens het net ʼn aanvoeling dat hierdie uitspraak nie ver van die waarheid af is nie. Aanbidding sonder offerhande (of laat ons liewer sê: aanbidding sonder opoffering) lê op dieselfde vlak as om plesier na te jaag sonder om na jou gewete te luister, of handel te dryf sonder om moraliteit in die pakkie te bring, of om polities aktief te wees, sonder om sterk beginsels in jou pogings in te bou. Die eerste koning van Israel, Shaúl (of Saul) het sy eerste groot blaps as koning van Israel probeer goedpraat met die verskoning dat hy aan Yahweh ʼn offerande wou bring. Die gedeelte waarin hierdie voorval beskryf word, is 1 Samuel 15 en dit vorm deel van die Torah leesgroep vir hierdie week. Shemuél (Samuel) het vir hom gesê:

“Gaan nou en verslaan Amalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigeling, bees en kleinvee, kameel en esel” (1 Sam 15:3). Shaúl en sy manne het toe uitgetrek en vir Amalek verslaan, maar nie die koning van Amalek doodgemaak nie en ook ʼn groot getal diere lewend terug gebring. Toe Shaúl, na die veldslag, weer vir Shemuél ontmoet, vra Shemuél vir Shaúl:

“Wat vir ‘n geblêr van kleinvee is dit in my ore en ‘n gebulk van beeste wat ek hoor?” (1 Sam 15:14). Shaúl se antwoord klink so onskuldig as kan kom: “Van die Amalekiete het hulle dit gebring, want die manne het die beste kleinvee en beeste gespaar om aan Yahweh u Elohiem te offer; maar die ander het ons met die banvloek getref” (1 Sam 15:15). Shemuél kan sy teleurstelling in hierdie nuwe koning van Israel nie verberg nie. Weer vra hy vir Shaúl: “Waarom het jy dan nie na die stem van Yahweh geluister nie en … gedoen wat verkeerd is in die oë van Yahweh?” (1 Sam 15:19).

Shaúl dink nog steeds nie dat hy eintlik iets verkeerd gedoen het nie: “Ek het na die stem van Yahweh geluister en gegaan op die pad waar Yahweh my op gestuur het, en Aghagh, die koning van Amalek, gebring; maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref. Maar die manne het van die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan Yahweh u Elohiem in Ghielghal te offer” (1 Sam 15:20-21).

Shemuél se antwoord hierop is een van die kragtigste uitsprake in die hele Skrif oor offerandes en kan vir ons help om beter perspektief oor hierdie saak te kry: “Het Yahweh behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van Yahweh? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. Want rebelsheid is ‘n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van Yahweh verwerp het, het Hy jou as koning verwerp” (1 Sam 15:22-23).

Baie van ons het sekerlik al meer as een keer preke gehoor of artikels gelees oor hierdie bekende uitspraak in die eerste boek van Shemuél. Ter voorbereiding het ek weer gaan kyk na wat mense in die verlede al oor hierdie gedeelte gesê en geskryf het. Interessant hoe dikwels mense van hierdie gedeelte praat as die “Skriftuurlike bewys” dat offers nie eintlik vir die Vader belangrik is nie en dat Hy nie eintlik behae het in die offers wat mense aan Hom bring nie. Dis glad nie waaroor 1 Samuel 15 gaan nie. Dit gaan oor die belangrikheid van gehoorsaamheid. ʼn Mens kan enige aspek van geloof neem en dit in die plek stel van die spesifieke aspek wat hier uitgelig word (naamlik offerandes) en dit sal nog steeds net so geldig wees. Shemuél het begin deur te sê dat gehoorsaamheid beter as slagoffer is, maar hy sluit af deur te sê dat rebelsheid en eiesinnigheid en verwerping van die woord van Yahweh die grofste oortreding is waaraan enige mens hom kan skuldig maak en dat hierdie oortreding die einde van Shaúl se koningskap sou beteken. Dus kon hy net sowel gesê het: gehoorsaamheid is beter as sendingwerk; gehoorsaamheid is beter siekebesoek; gehoorsaamheid is beter as sopkombuise oopmaak; gehoorsaamheid is beter as werkskepping; gehoorsaamheid is beter as oproepe tot gebed. Geeneen van hierdie dinge is sleg of onbelangrik nie. Dit is dinge wat ons ook behoort na te jaag – dit is dinge wat ons ook baie ernstig behoort op te neem. Maar die feit bly staan: As jy die woord van Yahweh gaan verwerp, gaan Hy jou verwerp soos wat Hy Shaúl as koning van Israel verwerp het. Niks behoort vir ons só belangrik te wees dat dit maak dat ons gehoorsaamheid eenkant toe skuif nie.

Teen hierdie agtergrond, waar pas offers in die prentjie? Ons offers behoort ʼn uitdrukking en ʼn verlengstuk van ons gehoorsaamheid te wees, nie iets waar agter ons skuil om nie vol-uit aan Yahweh gehoorsaam te wees nie. Daar is gelowiges wat meen dat as hulle hulle tyd en hulle geld en hulle talente en selfs hulle lewens opoffer ter wille van ʼn verdienstelike saak, dit nie nodig is om aan elke aspek van die Woord van Yahweh gehoorsaam te wees nie. “Ek is met my hart en siel betrokke by die opheffing van armes – dis my offer wat ek bring – daarom breek ek nie my kop daaroor of die Shabbat nog gehou moet word of nie.” Of: “Ek bring ure in my binnekamer op my knieë deur en bid aanhoudend vir mense – dis my offer wat ek bring – daarom gaan ek nie hare kloof oor wat die Skrif sê ʼn mens mag eet en wat nie.” Of: “Ek wy my lewe daaraan om met mense oor hulle saligheid te praat – dis my offer wat ek bring – daarom moet mense my nie kom pla met goed soos name en feeste en ander outydse insettinge nie.”

Vir my is die mees interessante aspek van 1 Samuel 15 die onmiddellike reaksie van Shaúl nadat Shemuél die verdoemende woord aan hom gebring het dat Yahweh hom as koning verwerp het omdat hy die woord van Yahweh verwerp het. Sy reaksie was: “Ek het gesondig, omdat ek die bevel van Yahweh en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manne en het na hulle geluister” (vers 24). Let op die woorde “ek was bevrees vir die manne en het na hulle geluister …”. Is dit nie een van die vernaamste redes waarom baie tot vandag toe so sukkel met gehoorsaamheid aan Yahweh nie? Omdat hulle bevrees is vir mense (en vir wat mense gaan sê) en eerder na mense luister as na die Allerhoogste. Mag Yahweh, deur sy Gees, elkeen van ons help om van hierdie vrees ontslae te raak en bereid te wees om op te staan en soos Kefa en Yahuganan te sê (nadat die Joodse Raad hulle verbied het om glad nie meer in die Naam van Y’shua te praat of te leer nie): “Of dit reg is voor Elohiem om julle meer gehoorsaam te wees as Elohiem, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie” (Hand 4:19-20).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »