VREEMDELINGE IN DIE WÊRELD

alternate textBereshiet (Genesis) 23, wat deel uitmaak van hierdie week se Torah lesing, bevat heelwat elemente wat vir ons begrip gee van die wêreld waarin ons leef en hoe Yahweh verwag dat ons moet leef in hierdie wêreld. Die gedeelte begin met die verwysing na Sarah wat op 127-jarige ouderdom gesterf het. Daar is twee interessanthede in hierdie verwysing. Die eerste is die naam “Sarah” wat afgelei is van die Hebreeuse woord “sar” wat beteken “een wat heers” of “een wat ‘n leidende posisie onder ‘n sekere groep inneem”. Dit is kennelik hoe die Yehudiem nog altyd oor Sarah gevoel het – die vrou van Avraham, die een uit wie die “groot nageslag” wat Yahweh aan Avraham belowe het, gebore is, die belangrikste vrou in die geskiedenis van die Yehudiem – belangrik ook vir ons, omdat Yahweh aan Avraham en Sarah belowe het dat al die nasies van die aarde geseën sou word deur die nageslag wat uit hulle sou voortkom. En dan die tweede interessantheid: Sarah is die enigste vrou wie se ouderdom in die Skrif vir ons gegee word – wat duidelik net nog ‘n manier is om aan te dui hoe belangrik hierdie stukkie geskiedenis van haar dood is en ‘n mens met nuwe oë laat kyk na die byna ekstreme stappe wat Avraham geneem het om haar op ‘n geskikte plek te begrawe.

Sarah het gesterf en is begrawe by Gevron of Hebron, omtrent 30 km Suid van Jerusalem, een van die mees kleurryke en omstrede dorpe in Israel. Deur die geskiedenis heen was daar byna deurlopend ‘n hewige stryd en ‘n toutrekkery rondom hierdie dorp of stad – veral tussen die Yehudiem en die Palestyne – oor wie nou eintlik die meeste sê het oor Gevron. Wat hierdie stryd rondom Gevron so ironies maak, is dat die naam “Gevron” afgelei is van ‘n Hebreeuse woord wat iets soos “bondgenootskap”, “samewerking” en “eensgesindheid” beteken. Dieselfde stamwoord wat in Yegeskel (Esegiël) 37 gebruik word wanneer Yahweh vir die profeet sê: “Neem vir jou ‘n stuk hout, en skryf daarop: Vir Yehudah en vir die kinders van Yiesraél, sy bondgenote; en neem ‘n ander stuk hout en skryf daarop: Vir Yosef (die hout van Efrayiem) en die hele huis van Yiesraél, sy bondgenote … en voeg hierdie twee stukke hout bymekaar”. Hier het ons ‘n dorp wat ‘n groot rol gespeel het – nie net in die lewens van Avraham en Sarah nie, maar in die lewens van al die aartsvaders en hulle families – die dorp wat aan Kalev (Kaleb) en sy nageslag as erfdeel gegee is, omdat Kaleb vir 45 jaar lank aan Yahweh getrou was, die dorp waar Dawied as die eerste koning van Yehudah gesalf is en heel waarskynlik die dorp waarheen Miryam (Maria) gegaan het om haar niggie, Elisheva (Elisabet) te ontmoet nadat daar ‘n boodskapper aan haar verskyn en bekend gemaak het dat die Messias uit haar gebore sou word. ‘n Dorp wat bestem is om mense bymekaar uit te bring en samewerking en eensgesind te bewerkstellig, maar ‘n dorp wat, helaas, in soveel opsigte nie sy eie naam gestand gedoen het nie.

Miskien het Avraham (byna op ‘n profetiese manier) iets van hierdie spanning aangevoel toe hy met die destydse inwoners van Gevon (die Getiete oftewel, die Hetiete) begin onderhandel het. Sy eerste woorde aan hulle was: “Ek is ‘n vreemdeling en bywoner onder julle” (Gen 23:4). Ons wéét wat hierdie getuienis in die konteks van die res van die Skrif beteken. Byvoorbeeld die oproep van die apostel in 1 Pet 2:11: “Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel, en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad praat soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, Elohiem kan lof toebring in die dag van strafoplegging.”

Daar is ‘n baie interessante verwysing na vreemdelinge en bywoners in Lev 25 waar ‘n beskrywing gegee word van maatreëls wat Yahweh ingestel het om te verseker dat die grond wat Hy aan sy volk gegee het, beskerm word, onder andere die maatreëls van Sabbatsjare (elke 7 jaar) en Jubeljare (elke 50 jaar). In Lev 25: 23-25 lees ons hierdie woorde: “Die grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is. Daarom moet julle, in die hele land van julle besitting, lossing van die grond toelaat. As jou broer verarm en van sy besitting verkoop, moet sy losser wat sy naasbestaande is, kom en hy moet los wat sy broer verkoop het.” Hierdie gedeelte bring ‘n dimensie na vore wat nie altyd raakgesien word nie. Ons is nie net vreemdelinge en bywoners in hierdie wêreld nie. Ons is vreemdelinge en bywoners by Yahweh. Wat beteken Hy kyk na ons. Hy sorg vir ons. Hy dra ons belange op die hart. Die wêreld rondom ons gaan dit nie doen nie – want hier is ons soos vreemdelinge en bywoners. Daarom word daar in hierdie gedeelte na “die broer wat verarm” verwys en die maatreëls wat Yahweh self ingestel het om te verseker dat daar binne die gemeenskap van hierdie “vreemdeling-volk” (of binne die bondgenootskap, om Eseg. 37 se woord te gebruik), na almal se belange omgesien word. Die Yehudiem verstaan hierdie beginsel baie goed en was nog altyd bekend daarvoor dat hulle in die eerste plek vir mekaar sorg dra en uit hulle pad uit sal gaan om ‘n broer en ‘n bondgenoot te help en te ondersteun.

Baie opvallend in die beskrywing van Avraham se gesprek met die leier van die Getiete in Gevron, is hoe hy hy daarop aangedring het om die volle som vir die stuk grond te betaal waar hy vir Sarah wou begrawe. Dis asof hy ook in hierdie saak profetiese insig gehad het oor die stryd wat later rondom die grondgebied en grondbesit van Gevron sou uitbreek en sou voortduur, tot in ons dag. Vir hom het dit daaroor gegaan om die regmatige eienaar van daardie stuk grond te word en seker te maak dat daar nie later ‘n dispuut hieroor sou ontstaan nie. Hoe ironies dat juis dit oor en oor gebeur het en hoe mis ‘n mens nie hierdie gesindheid van Avraham vandag nie – in ‘n wêreld waarin korrupsie aan die orde van die dag is en daar bitter min te siene is van gesonde en eerlike metodes van sake doen en dienste uitruil.

Dit is vandag nodig om vir mekaar te sê dat om vreemdelinge en bywoners in hierdie wêreld te wees, beteken dat ons ons by Yahweh en by sy mense skaar, en dit beteken baie beslis dat ons ons sal distansieer van die gees van korrupsie, uitbuiting, ongeregtigheid, diefstal, oneerlikheid en bedrog wat absoluut van hierdie wêreld besit geneem het. Dit is goed en wel om sekere vergete waarhede van die Woord te ontdek en hierdie waarhede deel van jou eie lewe te maak. Maar ons blý vreemdelinge en bywoners in hierdie wêreld. Dit impliseer twee dinge: Ons is vreemdelinge en bywoners omdat ons by Yahweh is – omdat ons ons by Hóm geskaar het. Maar ons is ook vreemdelinge en bywoners in die wêreld. Die wêreld moet daarvan kennis neem. Die mense daarbuite moet dit kan sien. Hulle moet as’t ware ge- “intrigue” en ge- “puzzle” wees deur ons manier van doen en deur ons andersoortige lewenstyl. Avraham was ‘n vreemdeling onder die Getiete – beslis nie een van hulle nie – maar kyk wat noem hulle hom: “’n heerser van Elohiem onder ons” (sommige vertalings: “a mighty ruler among us” (Gen 23:6). Hulle het beslis iets by hom raakgesien wat hulle getref het en bekoor het – iets wat respek en ontsag by hulle afgedwing het. Dis wat ook in ons tyd moet gebeur. Die bydrae wat ons het om in hierdie wêreld te lewer, lê nie net op ‘n geestelike vlak nie. Dit lê ook op die vlak van hoe ons met geld werk, en hoe ons reageer as daar ongeregtigheid rondom ons gepleeg word en hoe ons saamstaan en na mekaar se belange omsien as daar sommiges onder ons is wat ondersteuning en onderskraging nodig het. Dit is na my mening die heel belangrikste deel van ons getuienis in die wêreld.

Daar is ‘n legende wat oor Gevron vertel word, wat iets van hierdie waarheid uitbeeld. ‘n Ryk Joodse man met die naam Isaac het op ‘n dag by Gevron aangekom om die grot van Magpela te besoek – ‘n lewenslange begeerte van hom. Daar was egter ‘n groot wag by die hek wat hom nie wou toelaat om in te gaan nie. Isaac was bitter teleurgesteld en vra toe of die wag hom nie sou inlaat as hy vir hom 50 goue muntstukke gee nie. Toe die wag nog steeds weier, bied hy hom 100 goue muntstukke aan. Die wag kon nie meer die versoeking weerstaan nie en sê toe hy vereis dat die geld vooraf aan hom betaal moes word. Isaac is nie so seker hiervan nie en só besluit hulle: Isaac moet 50 muntstukke betaal as hy ingaan en die oorblywende 50 as hy uitkom. Toe hy in is, verander die wag van plan, sluit die hek en gaan na die hoof amptenaar, wys hom die geld en sê vir hom: “Daar is ‘n man in die grot wat baie geld het wat ons twee tussen ons kan verdeel.” Die hoof amptenaar is dadelik geïnteresseerd en loop terug na die grot toe saam met die wag. Intussen het Isaac besef dat die wag hom bedrieg het en hy het tot sy Elohiem gebid en gesê: “U weet dat ek nie vir my eie plesier na hierdie grot toe gekom het nie, maar dat ek u wonders wou kom aanskou en vir ander daarvan wil vertel. Verlos my asb. uit die hande van hierdie onregverdige man.” Op daardie oomblik het die hek van die grot oopgegaan, Isaac het uitgeloop en is met sy perd terug na Jerusalem toe. Toe die wag en die hoof amptenaar by die hek aankom, vind hulle dit oop, met geen teken van Isaac nie. Die hoof amptenaar sê toe vir die wag: “As jy waarlik ‘n man in die grot ingelaat het, is jy skuldig dat jy ons reëls verbreek het. As jy niemand ingelaat het nie, het jy die geld gesteel en vertel jy leuens om jouself te beskerm.” Kort daarna is die wag in ‘n hof skuldig bevind en in die openbaar tereggestel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »