VANDAG AS JULLE SY STEM HOOR

alternate textHierdie week se parashah is die bekende hoofstukke (Num 13 – 15) waarin ons lees van die 12 verspieders wat in die Beloofde Land ingestuur is en wat teruggekom het met ‘n verdeelde boodskap: die berig van 10 van die 12 wat gesê het die land is mooi, maar heeltemal te gevaarlik om in te neem en die boodskap van die 2 (Yahushua en Kalev) wat gesê het die land is ‘n buitengewoon goeie land en die volk moet nie ‘n oomblik huiwer om dit in te neem nie, want Yahweh sal met hulle wees. In die gedeelte lees ons ook dat Yahweh se toorn ontvlam het teen die 10 en teen die grootste gedeelte van die volk wat by die aanhoor van die verslag van die verspieders (soos telkemale tevore) in ‘n toestand van vrees en bewing ingegaan het en gewens het dat hulle weer kon teruggaan Egipte toe. Ten spyte van Mosheh se pogings om vir die volk in te tree (soos telkemale tevore), het Yahweh beslis dat die deel van die volk wat so negatief op die verslag van die verspieders gereageer het en Hom “nou al tien maal versoek het en na (sy) stem nie geluister het nie” (Num 14:22), die land nie sal sien nie.

Die gedeelte in die Nuwe Verbond of Messiaanse Skrifte wat seker die nouste aansluit by hierdie parashah, is Ievriem (of Hebreërs) 3 en 4, waar daar gebruik gemaak word van die uitdrukking: “Hulle sal in my rus nie ingaan nie” – ‘n duidelike parallel met die woorde van Num 14: “Hulle sal die land nie sien nie”. In sommige Torah leesroosters is Heb 3 en 4 die Messiaanse gedeelte wat saam met vandag se parashah gelees behoort te word. Die redes wat in Heb 3 en 4 aangevoer word, waarom ‘n groot gedeelte van die volk in die woestyn nie in Yahweh se rus ingegaan het nie, is hulle ongehoorsaamheid en ongeloof. Heb 3:18-19 “En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie.” Heb 3 en 4 gebruik hierdie bekende stukkie geskiedenis om die gelowiges (honderde jare later) op te roep om nie aan Yahweh ongehoorsaam te wees en van Hom afvallig te word nie (Heb 3:12 “Sorg daarvoor, broers, dat daar nie miskien in een van julle ‘n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende Elohiem afvallig word nie”) en dat hulle nie hulle harte teenoor Hom en teenoor sy woord moet verhard nie (Heb 4:7 “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie”).

In watter opsigte moet ons nie ons harte verhard en van Elohiem afvallig word nie? Heb 3 en 4 sonder veral twee aspekte uit: (1) Ons moet let op die Messias (Heb 3:1 “Daarom … deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, die Messias Y’shua”) en (2) Ons moenie agterbly wanneer dit kom by die Rus wat Yahweh vir ons in gedagte het nie (Heb 4:1 “Terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, laat dit nie miskien blyk dat iemand van julle agtergebly het nie”). Laat ons eers net kortliks stilstaan by die tweede punt (oor die Rus) en dan terugkeer na die eerste (oor die Messias). Baie mense sê die Shabbat is ‘n idee van die Ou Testament en pas nie in die Nuwe Testament nie. Hierdie mense sal verbaas wees om te hoor dat die woord Shabbat 60 keer pertinent in die Nuwe Testament voorkom en dat daar op talle ander plekke, soos onder meer hier in Heb 4 na die Shabbat verwys word (“shabbat” is ‘n Hebreeuse woord wat “rus” beteken). Praat Heb 4 dan nie net van die geestelike rus wat wag op hulle wat aan Yahweh gehoorsaam is nie? Die antwoord is Ja, Ja en Nee. Ja, dit praat van die geestelike rus, die hemelse beloning wat wag op hulle wat hulle geloof en hulle vertroue op Yahweh en sy Messias gestel het. En Ja, dit wag op diegene wat aan Hom gehoorsaam is, nie diegene wie se eie rebelsheid alewig in die pad kom staan en maak dat hulle Hom nie voluit en in gehoorsaamheid kan dien nie. En Nee, dit praat nie net van geestelike rus nie. Dit praat ook van die letterlike rus van die Shabbat. Dit kan duidelik gesien word in Heb 4:9-10 “Daar bly dus ‘n onderhouding van die Shabbat oor vir die volk van Elohiem; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos Elohiem van syne”.

Nou kan ons terugkeer na die eerste punt hierbo (oor die Messias). Die Hebreërskrywer sê ons moet let op die Messias (3:1). Die vertaling is nie heeltemal voldoende nie want die Griekse woord “katanoeoo” beteken eintlik “to consider attentively” en “to observe fully”. Hoe kan ons dit doen? Daar is net een manier en dit is om fyn te luister na die Woord. Is die Woord dubbelsinnig? Nee, in hierdie einste twee hoofstukke lees ons hierdie woorde: “Die woord van Elohiem is lewend (sommige vertalings sê “quick”) en kragtig (Gr. “energes”) en skerper (afkomstig van die Gr. “temnoo” waarvan “time” afgelei is) as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Heb 4:12). Mag Yahweh deur sy Woord, wat vinnig en vol bruisende energie en so akkuraat soos die breukdeel van elke sekonde is, ons oë verlig, sodat ons fyn kan luister wat Hy oor die Messias te sê het!
Niemand is vir ons belangriker in ons geloof as die Messias nie! Heb 3:1 sê Hy is die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis! Heb 3:13 sê ons het deelgenote van die Messias geword! Hoe ons na Hom kyk, hoe ons Hom verstaan, hoe ons oor Hom praat, is geweldig belangrik! Maar kom ons luister vandag na die ondubbelsinnige Woord van Yahweh. Sê die Woord vir ons Y’shua is Yahweh? Nee, nie as ons fyn luister (“katanoeoo”) en toelaat dat die Woord self (nie tradisie nie) die beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van ons hart is nie. Die Woord leer vir ons dat Y’shua die Seun van Yahweh of die Seun van Elohiem is. Daar is niks in die hele Skrif en ook niks in ons eie ervaring wat ons toelaat om te sê dat ‘n seun sy eie vader is of kan wees nie. Heb 3:4-6 “Elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is Elohiem. En Mosheh was wel getrou in sy hele huis as ‘n dienaar, om te getuig van wat nog gepraat sou word, maar die Messias as Seun oor sy huis. En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop onwrikbaar vashou.” Vier partye word genoem: Elohiem, Mosheh, Messias en ons – en elkeen van hierdie vier beklee ‘n spesifieke en afsonderlike posisie in hierdie huis wat Yahweh self tot stand gebring het!

Y’shua word genoem die Apostel en die Hoëpriester van ons belydenis (Heb 3:1). Per definisie kan ‘n apostel of ‘n hoëpriester nie Yahweh, in eie persoon wees nie. Hoekom nie? Want die woord apostel beteken “iemand wat gestuur is” en dit impliseer twee partye – een wat gestuur het en een wat gestuur is. In Y’shua se geval weet ons (en dit word telkemale bevestig deur dit wat Hy self gesê het, asook dit wat andere oor Hom gesê en geskryf het): Yahweh is die een wat gestuur het en Y’shua is die een wat gestuur is – deur niemand minder nie as Yahweh, die Almagtige. Dieselfde word van Yosef gesê en van Mosheh en van Shemuél en van profete soos YeshaYahu en YermeYahu en selfs van Yahuganan die Doper. Dieselfde soort reël geld ook van ‘n hoëpriester. ‘n Hoëpriester is ‘n middelaar, ‘n tussenganger – ‘n persoon wat soos ‘n advokaat mense se saak by die Allerhoogste behartig. ‘n Hoëpriester kan nie die Almagtige self wees nie, want dit sou die nodigheid vir ‘n hoëpriester heeltemal uitskakel. Die taal van die Skrif in hierdie verband is baie duidelik: Y’shua is die weg en die waarheid en die lewe – niemand kom na die Vader toe behalwe deur Hom nie! Wat Hebreërs 4:15 sê, is ondubbelsinnig: “Ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.” As hierdie hoëpriester terselfdertyd ook Yahweh is of was, kan hierdie vers nie waar wees nie, want die Skrif leer duidelik dat Elohiem nie deur die kwaad versoek kan word nie (Jak 1:13).

Kom ons kyk kortliks na ander plekke in die Messiaanse Skrifte wat ondubbelsinnig bevestig dat Y’shua self, en hulle wat Hom geken en gevolg het, hoegenaamd geen verwarring in hulle eie gemoed gehad het oor watter soort verhouding daar tussen die Messias en Yahweh die Almagtige bestaan het nie (Yahweh word in die Messiaanse Skrifte meestal “Elohiem” – meeste Bybels: “God” – genoem):

Mat 27:46 Y’shua het met ‘n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtani? Dit is: My El, my El, waarom het U My verlaat? Mar 10:18 En Y’shua sê vir hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik Elohiem. Mar 13:32 Maar van daardie uur weet niemand nie, ook nie die boodskappers in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader. Joh 14:28 As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: Ek gaan na my Vader, omdat my Vader groter is as Ek. Joh 17:3 En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die een, waaragtige Elohiem, en Y’shua die Messias wat U gestuur het. Joh 20:17 Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my Elohiem en julle Elohiem. 1 Kor 8:6 tog is daar vir ons maar een Elohiem, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Meester, Y’shua die Messias deur wie alles is, en ons deur Hom. 1 Kor 11:3 Maar ek wil hê dat julle moet weet dat die Messias die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en Elohiem die hoof van die Messias. 1 Kor 15:28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat Elohiem alles in almal kan wees. Heb 5:8 Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het. 1 Tim 2:5 Want daar is een Elohiem en een Middelaar tussen Elohiem en die mense, die mens Y’shua, die Messias. 1 Tim 6:15 (Elohiem) die Koning van die konings … wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag.

As ons nie dieselfde fout wil maak as wat die volk in die tyd van die eerste Yahushua gemaak het nie, moet ons fyn luister na die boodskap aangaande die tweede Y’shua en Hom aanvaar soos Hy Homself aan die mense van sy tyd voorgehou het: as die beloofde Messias – nie as Yahweh wat afgekom het aarde toe nie – ook nie as ‘n frats-wese wat 2 nature het nie. Die regte manier om Y’shua te vereer is nie om van Hom iets of iemand te maak wat Hy nie is nie. Die regte manier om Hom te vereer is om Hom as gestuurde (apostel) van die Vader te erken en déúr Hom as verhoogde Hoëpriester dit te waag om na die troon van die Allerhoogste te gaan en aan Yahweh al die eer te gee vir die onuitspreeklike gawe van sy Seun. Enige iets meer of minder as dit kan meebring dat ons, net soos die volk destyds aan die oewers van die Jordaanrivier, toe die Beloofde Land alreeds vir hulle gewink het, van die enigste lewende Elohiem afvallig word en uiteindelik nie in sy rus ingaan nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »