VAN WANHOOP TOT INNERLIKE STERKTE

alternate textDaar is mense wat dink geloof en religie (Eng. “religion”) is dieselfde ding.  As mens bloot na die oorsprong van die woord “religie” kyk, kan dit een van drie dinge beteken: (1) die her-lees van geskrifte of  die herhaalde nadenke oor gebeurtenisse wat ‘n bo-natuurlike dimensie vertoon – “re-legere” beteken “weer (en weer) lees” – of (2) die binding of die verpligting wat ‘n magtige op sy onderdane plaas – “religare” beteken “om vas te bind” – of (3) die versigtigheid om jou lewe volgens ‘n voorgeskrewe stel van reëls en regulasies in te rig – “religiens” beteken “versigtig” of “careful”.  Dis nie moeilik om te bewys dat geloof in werklikheid NIE EEN van hierdie dinge is nie.  Geloof is nie om voor die Westelike Muur te staan en dieselfde teks oor en oor te lees of te prewel nie.  Geloof is oneindig meer as om ‘n stel reëls soos ‘n slaaf na te volg.  En “geloof” wat maak dat jy jou lewe lank te versigtig is om ‘n voetjie verkeerd te sit, is nie geloof nie, maar angs.  So, as geloof nie een van hierdie dinge is nie, wat IS dit dan?  Daar is seker baie moontlike antwoorde, maar een van die antwoorde wat vir my die naaste aan die kol is, is hierdie een: Geloof is dit wat jou laat vorentoe beweeg van wanhoop tot innerlike sterkte

Kom ons toets hierdie verstaan van geloof op Avraham.  Waarom word Avraham die vader van die gelowiges genoem – die “vader van almal wat glo” (Rom 4:11)?  Sekerlik omdat hy dit reg gekry het om uit die benoude greep van afgodediens in Haran los te breek, met die verwagting dat Yahweh vir hom iets beters gaan gee.  En omdat hy oor ‘n kwaliteit beskik het wat hom in staat gestel het om uit die verwarring en onrustigheid van kinderloosheid (geen kind wat hy sy eie kon noem nie) en vreemdelingskap (geen land wat hy sy eie kon noem nie), los te breek en vorentoe te beweeg.  Waarheen?  Tot by die tot-rus-kom-plek van die wete dat Iemand veel groter as hy, sy wanhoop in wen-hoop sal verander – hoop wat in oorwinning eindig!  En die naam van hierdie kwaliteit wat hom gehelp het om só los te breek, is GELOOF.

Mosheh het ook hierdie kwaliteit gewys – al dink baie mense (soos Marcion!) dat die Tanag (of die Ou Testament) nie ‘n geskrif van geloof is nie, maar ‘n geskrif van strengheid en skuld en oordeel en straf.  In Numerie 11:11-15 tref ons vir Mosheh aan waar hy seker een van die grootste laagtepunte van sy lewe beleef, nadat die volk vir die soveelste keer met hulle gemor en gekla voor hom gekom het.  Vir Mosheh is daar geen ander uitweg as om met Yahweh daaroor te praat nie:  “Waarom het U u kneg kwaad aangedoen en waarom het ek geen guns in u oë gevind nie, dat U die las van hierdie hele volk op my lê? Het ek hierdie hele volk dan ontvang?  Of het ek hulle verwek, dat U vir my sê: Dra hulle aan jou bors soos ‘n oppasser die suigeling dra, na die land wat U aan hulle vaders met ‘n eed beloof het? Waarvandaan moet ek vleis kry om aan al hierdie volk te gee?  Want hulle ween by my en sê: Gee vir ons vleis, dat ons kan eet. Ek alleen kan hierdie hele volk nie dra nie, want dit is vir my te moeilik. En as U so met my wil handel, slaan my dan maar liewer dood as ek guns in u oë gevind het, en laat ek my rampspoed nie aanskou nie.”

Sommige mense sal vir jou sê dat hierdie vyf verse juis nie ‘n uitdrukking van geloof is nie, maar van wanhoop:  “U het my kwaad aangedoen”; “ek het geen guns gevind nie”; U lê ‘n las op my”; “dit alles is vir my te moeilik”; “slaan my maar liewer dood”, ensovoorts.  Die sleutel is dat Mosheh nie net hierdie dinge DINK nie, maar dat hy dit vir Yahweh sê, uit wie se hand hy en die volk al reeds soveel wonderwerke beleef het.  So waarom sê hy dit vir Yahweh?  Presies omdat Hy diep in sy hart oortuig is dat Yahweh, soos in die verlede, sy wanhoop in ‘n deurbraak kan omskep.  Moenie ‘n fout maak nie.  Mosheh was glad nie op ‘n goeie plek nie.  Hy was in ‘n diep, donker put van vertwyfeling. Hy was op dieselfde soort plek waar EliYah was toe hy onder ‘n besembos gaan sit het en gewens het dat hy mag sterf en vir Yahweh gesê het “Dit is genoeg, neem nou my siel weg” (1 Kon 19:4) en waar YermeYahu (Jeremia) was toe hy gesê het “Waarom het ek tog uit die moederskoot voortgekom om moeite en kommer te sien” (Jer 20:18).  Maar Mosheh en EliYah en YermeYahu (en andere soos Job, en Dawid en Jonah) het almal met Yahweh oor hulle wanhoop en die beklemming op hulle harte gepraat omdat hulle minstens al van Yahweh gehoor het of iets van sy grootheid beleef het en ‘n verwagting in hulle harte gehad het dat Hy hulle omstandighede kan verander. 

Geloof is iets anders as tevredenheid (Eng “contentment”).  Daar is tye dat ‘n mens uit dankbaarheid en in nederigheid tevrede moet wees met dit wat jy het en dit wat met jou gebeur.  Maar geloof voeg hierby die aspek van verwagting, gebaseer op intieme kennis en vorige ondervinding, die stille wete dat rampspoed nie die laaste woord het nie.  Maar geloof is ook iets anders as positiewe denke. ‘n Mens kan so positief dink as wat jy wil, en in sommige situasies kan dit selfs help om jou gemoed op te helder, maar as jy dit nie doen binne die raamwerk en met die kennis van Een wat ‘n “track record” het van om mense se nood te verlig en hulle wanhoop na innerlike sterkte te verander nie, gaan jou positiewe denke op die lang termyn nie juis ‘n positiewe impak op die kwaliteit van jou lewe hê nie. 

Daar is ‘n beginsel wat hier geld, waarvan ons baie deeglik bewus moet wees.  As jy in ‘n put beland het, kan jy jou nie aan jou eie hare uit die put optrek nie!  As so iets met jou gebeur, kan jy maar tob en mediteer en jouself bejammer en andere blameer en stoei en spartel en planne beraam en protesteer soos jy wil – op die ou end is daar net een ding wat jou uit die put kan laat ontsnap – wanneer jy erken dat jy jouself nie kan help nie en uitroep na hulp.  En dan is dit die heel beste om te roep na Een wat Homself al bewys het as ‘n Helper by uitnemendheid.  Een wat daarin spesialiseer om mense van wanhoop af vorentoe te laat beweeg tot by innerlike sterkte.  En van desperaatheid na oorwinning.  Geloof is die oortuiging dat Yahweh hierdie Een is. 

Die Torah spel nie vir ons uit presies hoe dit gebeur het nie, maar nadat Mosheh sy eie hart met soveel eerlikheid voor Yahweh ontbloot het, het daar ‘n groot ommeswaai in sy eie gemoed gekom.  Daar is sekere praktiese aanduidings van hoe Yahweh hierdie ommeswaai bewerk het  – onder meer deur die plan om 70 oudstes as opsigters aan te stel om Mosheh se las te help dra; die feit dat sommige van hulle (deur die Gees van Yahweh) as profete kon optree en die absolute oorvloedige voorsiening van vleis in die vorm van kwartels. Hierna was Mosheh nie meer die wanhopige sukkelaar wat gevra het dat Yahweh hom moes doodmaak nie.  Toe Yahushua wou hê dat Mosheh die profete moes belet om te profeteer (omdat hy dit moontlik as ‘n bedreiging vir Mosheh se leierskap beskou het), was dit ‘n ander Mosheh as ‘n paar dae tevore, wat geantwoord het: (Num 11:29) “Ywer jy vir my?  Ag, as die hele volk van Yahweh maar profete was, dat Yahweh sy Gees oor hulle mag gee!” Toe sy eie broer en suster hom kritiseer oor die Kussitiese vrou wat hy geneem het, het hy met ‘n soort kalmte gereageer wat aanleiding gegee het tot die bekende Num 12:3 “Die man Mosheh was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.”  En toe Yahweh daarna alleen met Mosheh, Aharon en Mieryam praat, prys Hy die gees en karakter van Mosheh en verdedig dit selfs:  Num 12:7-8 “In my hele huis is Mosheh getrou. Mond tot mond praat Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van Yahweh.  Waarom het julle dan nie gevrees om teen my kneg, teen Mosheh, te praat nie?”

Mosheh is vir ons ‘n goeie voorbeeld van iemand van die donker dieptes van wanhoop vorentoe beweeg het tot by ‘n nuwe plek van innerlike sterkte, omdat hy nie sy geloof in Yahweh verloor het nie.  Dis nie asof hy met tande-kners en vasbyt daar uitgekom het nie.  Hy is die een mens wat gesien het en geweet het mens lig jou nie aan jou eie hare uit ‘n situasie van nood nie.  Hy het na Yahweh toe gegaan met sy wanhoop – die Een wat soveel keer in die verlede vir hom deurgekom het; die Een wat dinge aan hom belowe het wat te kosbaar en te groot is om sommer net so prys te gee.  Dis juis hierdie beloftes en die besef dat daar ‘n groter prentjie was en ‘n groter bestemming, wat vir Mosheh gehelp het om van homself af weg te kyk en uit die stof uit op te staan. Dis miskien een van die groot redes waarom hy juis in hierdie leesstuk die sagmoedigste van alle mense genoem word.  Want, soos CS Lewis dit so treffend gestel het: “Humility is not about thinking less of yourself. It is about thinking of yourself less.” Dit is presies wat geloof ook is:  Om minder aan jouself en jou benarde omstandighede te dink en meer aan die Een wat jou uit hierdie omstandighede kan uithaal!  Dit is presies wat geloof in Y’shua as die beloofde Messias ook beteken:  Om minder op jouself te fokus en jou eie futiele pogings om uit jou noodtoestand los te kom en van jou sondige verlede weg te breek, en in die geloof aan Y’shua vas te gryp, as die Een wat Yahweh gestuur het (nadat hy dit vir eeue lank belowe het), wetende dat net Hy jou uit elke diep put van verlorenheid kan oplig en dat net Hy weer hoop en lewe en lig vir jou kan laat deurbreek!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »