TRANE OOR JOU EIE MENSE

alternate textIn die eerste vyf boeke van die Skrif lees ons soms dat iemand oor iets of oor iemand anders gehuil het. Esau het gehuil toe hy uitgevind het dat Yaákov sy eersgeboorte seën gesteel het. Yaákov het gehuil toe hy die groot liefde van sy lewe, Ragel, die eerste keer gesien het. Beide Yaákov en Esau het gehuil toe hulle mekaar die eerste keer na ʼn lang periode van vervreemding gesien het. Yaákov het gehuil toe daar aan hom vertel is dat sy geliefde seun Yosef dood is. Maar niemand – selfs nie in enige ander deel van die Skrif nie – het so baie gehuil soos Yosef nie. Daar word nie minder nie as sewe keer pertinent vir ons gesê dat Yosef gehuil het: (1) Toe sy broers die eerste keer voor hom in Egipte verskyn het – Gen 42:24 Toe draai hy hom van hulle af weg en ween; (2) Toe sy broers die tweede keer, met Benjamin by hulle, voor hom verskyn het – Gen 43:30 En Yosef het … in die kamer gegaan en daar geween; (3) Nadat Yehudah daardie aangrypende gesprek met Yosef gehad het en ter wille van Benjamin en sy pa, Yaákov, gepleit het om self as borg by Yosef agter te bly – Gen 45:2 Daarna bars hy in trane uit, sodat die Egiptenare en ook die huis van Farao dit gehoor het; (4) Onmiddellik nadat Yosef sy eie identiteit aan sy broers bekend gemaak het – Gen 45:15 En hy het al sy broers gesoen en aan hulle hals geween; en daarna het sy broers met hom gepraat; (5) Toe hy sy pa, Yaákov, die eerste keer gesien het vandat hy in Egipte gekom het – Gen 46:29 En toe hy (Yosef) homself aan hom (Yaákov) vertoon, het hy om sy hals geval en lank aan sy hals geween; (6) Toe sy vader, Yaákov, gesterf het – Gen 50:1 Toe val Yosef op sy vader se aangesig, en hy het oor hom geween en hom gesoen; (7) Toe sy broers, na hulle pa se dood, ʼn boodskap na Yosef gestuur het en berouvol gevra het om hulle vergewe – Gen 50:17 En Yosef het geween toe hulle die boodskap aan hom oordra.

Al was Yosef die een tussen die 12 seuns van Yaákov wat volgens alle aanduidings verreweg die meeste gehuil het, kry mens die indruk dat hy sterker en meer uitgesorteer en meer volwasse as enige een van sy broers was. ʼn Mens sien dit veral by die sewende en laaste geleentheid dat die Skrif praat van Yosef wat gehuil het. Dis ʼn gebeurtenis wat beskryf word in die Torah leesstuk van hierdie week. Ná hulle pa se dood was Yosef se broers bang dat hy hulle sou probeer vergeld vir wat hulle destyds aan hom gedoen het. Hulle stuur toe ʼn gefabriseerde boodskap na Yosef wat só klink: “Ons pa het voor sy dood gesê: ‘Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen.’” En, om doodseker te maak dat Yosef die boodskap ernstig opneem, trek hulle toe ook sommer soos een man op na Yosef en sê vir hom (in eie persoon): “Ons is jou slawe – doen met ons wat jy wil.” Maar Yosef se antwoord is die antwoord van iemand wat alreeds deur diep waters gegaan het en nie geïnteresseerd is daarin om kleinlik en wraakgierig te wees nie. Eers het hy geween. En dan sê hy vir hulle: “Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van Elohiem? Want julle het wel kwaad teen my bedink, maar Elohiem het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou. Wees dan nou nie bevrees nie: ek sal julle en julle kinders onderhou” (Gen 50:19-21). Sulke volwassenheid en groothartigheid kom jy nie dikwels by mense teë nie. Hy self het deur diep waters gegaan. Sy broers het hom die grootste onreg aangedoen wat mense mekaar kan aandoen. Maar Yosef kyk weg van homself en sien die groter prentjie raak. Hy hou vas aan Yahweh wat rampspoed en ellende ten goede en tot voordeel van die Egiptenare én die Israeliete kan gebruik. Hy hou vas aan die Een wat met ʼn krom stok ʼn reguit hou kan slaan. En hy gaan selfs nog verder en onderneem om sy broers en hulle kinders te onderhou. Dis nog méér as vergewe! Dis om die mense wat jou kwaad aangedoen het met soveel guns en welwillendheid te oorspoel dat hulle bloedrooi word van skaamte en nie weet hoe om dit te hanteer nie!

Maar dis nie waar dit ophou nie. Die laaste deel van vers 21 sê vir ons: “So het hy hulle dan getroos en na hulle hart gepraat.” Yosef is die een wat baie gehuil het. Maar nie een keer hoor ons dat sy broers hóm getroos het nie. Nie een keer het hulle met hom empatie gehad en hulleself in sy posisie probeer indink nie. Nee, hulle dink net aan hulleself en wat moontlik met hulle kan gebeur. As hulle moes huil, sou hulle nie oor Yosef huil nie. Nee hulle sou oor hulleself gehuil het. Hulle sou net hulle eie goed en hulle eie kinders en hulle eie toekoms raaksien en dáároor gehuil het. En nog steeds is Yosef die een wat húlle troos! Yosef is die een wat na sy broers se hart praat! Dis by Yosef dat ons vandag oor ware grootheid en gunsbewys en vergifnis en volwassenheid en leierskap kan leer. Dis ook by Yosef by wie ons kan kers opsteek oor waaroor ons behoort te huil in hierdie wêreld.

Daar is ʼn groot gehuil in die wêreld vandag. Soms neem dit meer die vorm aan van ʼn gekerm en ʼn gekla – van die môre tot die aand. Mense huil links en regs, maar dis meer uit selfbejammering en kleinserigheid as wat dit is uit werklike omgee en opregte meegevoel met andere. Mense huil omdat hulle voel hulle is te ná gekom en onregverdig behandel maar bitter min huil omdat iemand anders as hulleself te na gekom en onregverdig behandel is. Baie van ons verstaan nog nie wat dit is om soos Yosef te huil nie. Om te huil oor die breuk wat daar tussen jou en mense ná aan jou gekom het en om te huil van begeerte om weer versoen te raak met hulle wat vir jou kwaad aangedoen het en om te huil daaroor dat jou broer of jou suster nie kan glo dat jy hulle vergewe het nie. Nee, ons is so besig om te huil oor hoe seer ons gekry het, dat die gedagte van vergifnis nie eens by ons opkom nie.

Die trane van Yosef oor sy broers is ʼn refleksie van die trane van Yahweh oor die volk wat hy as sy eie seun en die appel van sy oog beskou. Baie mense sê Yahweh kan nie huil nie, want huil is ʼn menslike emosie en Yahweh is nie ʼn mens nie. Die Skrif teken egter vir ons ʼn ander prentjie. Ons is na die beeld van Yahweh geskape. Net soos Hy vir ons ʼn model is ten opsigte van emosies soos liefde en empatie en selfs regverdige toorn en woede, net so is Hy vir ons ʼn model ten opsigte van emosies soos hartseer en droefheid. Ons behoort in die eerste plek te huil oor die dinge waaroor Yahweh ook huil. Luister ʼn bietjie hierna: Jer 31:20 “Is Efrayiem nie vir My ‘n dierbare seun en ‘n troetelkind nie? Want so dikwels as Ek teen hom praat, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My beslis oor hom ontferm, sê Yahweh.” Jes 63:15 “Kyk van die hemel neer en aanskou uit u afgesonderde en roemryke woning! Waar is u ywer en u magtige dade? (Waar is) die ontroering van u binneste en u barmhartighede? Het U dit teenoor my ingehou?” Hos 11:8 Hoe kan Ek jou oorgee, o Efrayiem, jou prysgee, o Yiesraél? … my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde opgewek.

Ons behóórt oor ons eie verlies en ons persoonlike hartseer en lyding te huil. Dis natuurlik en menslik en selfs nodig. Om jou trane in sulke tye te onderdruk, maak dit net moeiliker om dit wat oor jou pad gekom het te aanvaar en te verwerk. Maar wanneer laas het jy gehuil oor die lafhartigheid van ʼn Isis terroris wat met ʼn voertuig vol plofstof tussen ʼn skare onskuldige mense injaag? Of ʼn ruggraatlose bende wat op ʼn bejaarde egpaar toesak en hulle doodmaak net om ʼn paar rand se goed te steel? Of brandstigters wat een of ander soort vreemde genot daaruit put om velde naby aan bewoonde gebiede aan die brand te steek? Of ʼn regering wat sy hand oorspeel en die mag wat hy ontvang het misbruik vir sy eie gewin? Maar belangriker nog: Wanneer laas het jy gehuil oor mense ná aan jou se halsstarrige weiering om Yahweh se Woord onvoorwaardelik te glo en deel van hulle lewens te maak? Wanneer laas het jy gehuil daaroor dat Yahweh se gebooie, insluitend die gebod oor die Sabbat, só onbeskaamd in ons wêreld verwaarloos word? Wanneer laas het jy gehuil oor die volk wat die Almagtige vir Homself uit al die volke van die wêreld uitgekies het – oor hulle hardheid van hart en hulle blindheid en hulle onvermoë om Y’shua as die Messias te erken? Wanneer laas het jy gehuil oor jou eie sonde, jou eie verslaafdheid en jou eie leefstyl en gewoontetjies wat dalk pyn en smart vir ander meegebring het?

Wanneer daar in Jesaja en Openbaring oor die nuwe hemel en die nuwe aarde gepraat word, hoor ons dat Yahweh die trane sal afvee en dat daar NIE MEER droefheid en geween sal wees nie. Die twee woorde “nie meer” (Engels: “no more”) word gereeld reg deur die Skrif gebruik om te beskryf dat sekere dinge wat ons op die oomblik beleef, wat vir ons sleg is, later weggeneem sal word en sal verdwyn. Hoe kan dit net verdwyn? Die Skrif se antwoord is: Dit gaan verdwyn omdat Yahweh gaan ingryp en alles totaal nuut gaan maak. Daar sal nie meer skrikbewind wees nie (Ps 10:18); Daar sal nie meer onreines in Jerusalem inkom nie (Jes 52:1); Yahweh se volk sal nie meer wegkwyn nie (Jer 31:12); die volk sal nie meer ballingskap beleef nie (Klaag 4:22); daar sal nie meer hongersnood wees nie (Nah 1:15); daar sal nie meer hoogmoed wees nie (Sef 3:11) en Satan sal die nasies nie meer verlei nie (Opb 20:3). In Woord en Getuienis kom die kombinasie “NIE MEER” 246 keer in die hele Skrif voor (en NIE WEER word 40 keer gebruik). Daar is iets baie interessant aan hierdie kombinasie. Een van die woorde in Hebreeus wat met “meer” vertaal word (en wat in elkeen van die gedeeltes hierbo gebruik word, behalwe Opb 20:3) is “yasaf” – dieselfde woord waarvan die naam “Yosef” afgelei is. As ons aan Yosef dink, word ons daaraan herinner dat hy intense swaarkry en droefheid deurgemaak het, maar dat dit alles ingepas het by die groter geheel van Yahweh se plan met sy volk, en andere wat later by sy volk geïnkorporeer sou word. Yosef moes dit alles deurmaak, en Yosef se tipe in die Nuwe Testament, Y’shua, moes soortgelyke lyding en swaarkry deurmaak, sodat ons dit eendag NIE MEER hoef deur te maak nie. Nie meer trane en droefheid en nie meer swaarkry en hongersnood nie. Maar uiteindelik BAIE MEER (“yasaf”) in terme van seëninge en goedheid uit Yahweh se hand. Dit is waarna ons kan uitsien as ons soos Yosef oor ons eie mense en ons eie wêreld huil.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »