SIT JY OF STAAN JY?

alternate textBaie kommentators het al daaroor gewonder waarom daar in Devariem (Deut) 9:9 geskryf staan dat Mosheh op die berg gesit (“yashav”) het terwyl hy die Torah ontvang het, terwyl Devariem 10:10 (in dieselfde Torah leesstuk) laat blyk dat hy gestaan (“amad”) het. Het hy dalk die tweede keer gestaan, sodat hy ‘n ogie kon hou op die volk, of hulle nie dalk weer iets onbesonne aanvang nie, soos wat hulle gedoen het toe hy die eerste keer op die berg was, en gesit het, omdat sy volle aandag by die Torah was en by dit wat Yahweh aan hom meegedeel het? Of het hy beide kere soms gestaan, en soms gesit, omdat hy uitgeput was van aanhoudend konsentreer en vir 40 dae niks oor sy lippe geneem het nie? Een van die ou rabbi’s het gesê dat Mosheh gestaan het wanneer hy die makliker dele van die Torah ontvang het en gesit het wanneer hy die moeiliker dele van die Torah ontvang het. ‘n Ander een het weer gesê dat “sit” en “staan” maar net twee verskillende woorde is om te sê Mosheh het op die berg vertoef en dat hy eintlik nie gesit of gestaan het nie, maar gekniel of gebuig het terwyl hy die Torah ontvang het.

Natuurlik was nie een van ons, of enige van hierdie rabbi’s dáár toe Mosheh die Torah ontvang het nie. Ons kan nie met sekerheid sê óf, en wanneer, hy gesit of gestaan het nie, en boonop maak dit geen verskil aan die inhoud en die grootsheid van hierdie absoluut deurslaggewende gebeurtenis in die woestyn nie. Maar in die konteks van die Skrif in sy geheel, is sit en staan tog belangrik. As mens die begeerte het om by Yahweh se leer soos wat Mosheh by Hom geleer het, is dit, figuurlik gesproke, nodig om soms te sit en soms te staan. Soms is dit selfs nodig om spesifiek nie te sit nie of spesifiek nie te staan nie. Dit gaan nie oor die postuur of die posisie of die uiterlike houding wat jy inneem nie. Dit gaan egter oor sekere sentrale waarhede of sekere aksies (en selfs sekere vorme van ongehoorsaamheid) in die Woord wat soms met ‘n sittende posisie en soms met ‘n staande posisie verbind word. Kom ons kyk net na enkele van hierdie plekke waar ons meer kan leer van “yashav” en “amad”, veral in die boek van Tehielliem (Psalms), waar hierdie twee begrippe gesamentlik meer as 90 keer voorkom …

Die eerste vers is die bekende Tehielliem 1:1 waar hierdie twee begrippe in dieselfde vers gebruik word: “Geseënd is die man wat nie wandel in die raad van die afvallige en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie”. Ons weet reeds dat die Torah een van die belangrikste instrumente is wat Yahweh gekies het om sy mense mee te seën. As jy die Torah liefhet en dit navolg soos Hy dit aan die begin bedoel het, sal Hy jou seën – dit word male sonder tal regdeur die Skrif beklemtoon. Maar as jy staan op die weg van die sondaars of sit in die kring van die spotters, dobbel jy met die seën wat Yahweh vir jou wil gee. Dit beteken natuurlik nie dat jy alle bande met ongelowiges moet afsny nie. Y’shua is hierin vir ons ‘n voorbeeld. Hy het met die afvalliges gepraat, maar nie in hulle raad gewandel nie. Hy het paaie gekruis met die sondaars, maar nie op hulle weg gaan staan nie. Hy het die spotters gekonfronteer, maar nooit in hulle kring gaan sit nie.

Tehielliem 4:8: Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o Yahweh, alleen laat my in veiligheid woon (“yashav”). Dieselfde woord wat dikwels met “sit” vertaal word, het in die Skrif dikwels die betekenis van “woon”. Vanuit die perspektief van geloof is ‘n mens se woonplek die plek waar jy tuis is en veilig voel en kan rus (of tevrede kan sit) omdat jy weet dat Yahweh alles wat goed en mooi is na jou kant toe sal laat kom en daarom ook jou woonplek (of jou sitplek, of jou lêplek) aan jou gegee het. Vir iemand wat nie aanvaar dat dit Yahweh alleen is wat mens in veiligheid kan laat woon nie (selfs al het jy nie ‘n vaste woonplek of ‘n vaste adres nie), is dit onmoontlik om by die Vader se voete te gaan sit en werklik te hoor en te leer wat uit sy mond en uit sy Woord na jou toe kom.

Tehielliem 10:1: o Yahweh, waarom staan (“amad”) U so ver weg en hou U verborge in tye van benoudheid? Waar “sit” in die Skrif dikwels die konnotasie van tevredenheid en geborgenheid het, word “staan” dikwels met onrustigheid en afstand verbind. Toe die dienskneg van Avraham vir Yietsgak ‘n vrou gaan soek het en by die huis van Rievkah gekom het, het Rievkah se broer, Lavan, aan hom gesê: “Waarom staan jy buite terwyl ek die huis reggemaak het …?” ‘n Mens sou dit byna só kon verstaan: “Waarom staan jy buite terwyl ons ander almal hier binne sit?” Die vraag in Tehielliem 10:1 (Waarom staan U so ver weg?) mag klink na ‘n vraag vol verwyt, maar in werklikheid weerspieël dit ‘n begeerte om in ‘n verhouding van nabyheid (“closeness”) met Yahweh te staan. Wat meer kan ‘n mens hier op aarde begeer as om die nabyheid van die Skepper van hemel en aarde te ervaar en daardie gevoel van geborgenheid te beleef en te weet dat Hy nie veraf staan nie, maar hier saam met jou en jou mense, in die binnekring van jou woning, teenwoordig is? Aan die einde van hierdie psalm het die skrywer ‘n antwoord op sy versugting gekry, wanneer hy sê: “U het die begeerte van die ootmoediges gehoor; U sal hulle hart versterk, u oor sal luister …” (Ps 10:17).

Tehielliem 18:33: Hy maak my voete soos die van bokooie en laat my staan (“amad”) op my hoogtes. Hoë plekke, veral hoë kranse en bergpieke, met gapende afgronde aan een of albei kante, is plekke waar meeste mense gemakliker sal voel om te sit as om te staan. Daarteenoor sal bokke en ander diere wat mens in die berge aantref, niks daarvan dink om rats van een rots na ‘n ander te spring en met ‘n ingebore akkuraatheid van een krans na ‘n ander te beweeg nie. Hierdie psalm sê dat Yahweh ons voete soos dié van bokooie maak en ons nie laat sit nie, maar laat staan op hoë plekke. Hoe gebeur dit? Die antwoord kom uit die voorafgaande vers: “Hy is die Een wat my met krag omgord en my weg volkome maak.” Maar wag ‘n bietjie. Hoe doen Hy dit? Hóé gee Hy vir ons krag en hóé maak Hy ons weg volkome? Weer eens moet mens (twee verse) teruggaan om die antwoord te vind. Ps 18:30 Die weg van El is volmaak; die woord van Yahweh is gelouter; Hy is ‘n skild vir almal wat by Hom skuil (onder sy vleuels gaan sit). Wat doen dit aan ‘n mens se hart en aan jou hele lewensuitkyk as jy hierdie gelouterde Woord van Yahweh jou eie begin maak? Die antwoord staan (weer eens!) in die vorige vers: Ps 18:29 Want met U loop ek ‘n bende storm, en met my Elohiem spring ek oor ‘n muur!

Tehielliem 22:3 Tog is U die Afgesonderde wat woon (“yashav”) onder die lofsange van Yiesraél! Alhoewel hierdie vers praat van Yahweh wat, figuurlik gesproke, “woon” (of: “sit”), is die boodskap baie duidelik: Hy verkies om sy woning te maak, dáár waar sy volk staan om sy lof te verkondig! Dis eers wanneer mense onder die indruk van Yahweh se grootheid kom en besef hoeveel rede hulle het om op te staan en te sing tot eer van sy Naam, dat Hy die vrymoedigheid het om tot by hierdie mense te kom en vir hulle iets van sy kosbare teenwoordigheid te laat ervaar en by wyse van spreke, in hulle midde gaan sit, sodat hulle iets van sy grootheid en sy voortreflikheid kan geniet. Wanneer ons as mense by die plek kom waarvan Ps 26:12 praat (“My voet staan op gelyk grond en ek sal Yahweh loof in die vergaderings”), dan gebeur dit waarvan Ps 50:23 praat: “Die een wat dank offer, eer My; en die een wat op sy weg ag slaan, hom sal Ek die verlossing van Elohiem laat geniet.”

Ons het reeds gesien dat Ps 1:1 een van die min plekke in die Tanag is waar “sit” en “staan”
in dieselfde vers voorkom. In die Messiaanse Skrifte is daar nog so ‘n vers, en dit kom voor in ‘n gedeelte wat mens as ‘n toets kan beskou – ‘n toets of ons die Torah reg gehoor het en of die Torah ons lewens regtig verander het: Jak 2:1-5 “My broers, laat julle geloof in ons Meester, Y’shua die Messias, die Meester van voortreflikheid, nie wees met aanneming van die persoon nie. Want as daar in julle vergadering ‘n man inkom met goue ringe aan die vingers, met ‘n pragtige kleed aan, en daar kom ook ‘n arm man in met vuil klere aan; en as julle opsien na hom wat die pragtige kleed dra, en vir hom sê: Gaan u op hierdie goeie plek sit, en vir die arme sê julle: Gaan jy daar staan of hier onder my voetbank sit – het julle dan nie by julleself onderskeid gemaak en regters met verkeerde oorlegginge geword nie? Luister, my geliefde broers – het Elohiem nie die armes van hierdie wêreld uitverkies as rykes in die geloof en erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet nie?”

Dit maak nie saak of ons gesit het of gestaan het toe ons die Torah gehoor het nie. Dit maak nie saak of ons onsself “Messiaans” of “Torah-Obedient” of “Something-In-Between” noem nie. As die Torah ons nie van ons vooroordeel en diskriminasie en geneigdheid tot aanneming van die persoon genees het nie, het ons nog nie gehoor soos ons moes gehoor het nie. Vir hulle wat dag in en dag uit kastig die Torah bestudeer en hulleself nog steeds beter en hoër en belangriker as ander ag, sê die apostel Yaákov (Jakobus) baie duidelik: As julle partydig is, doen julle sonde en word deur die Torah as oortreders bestraf, want wie die hele Torah onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword (Jak 2:9-10). Wat nodig is, is dat ons, as deel van die volk van Elohiem, nie langer in die duisternis sal sit nie (Mat 4:16), ook nie sal méén dat ons staan nie (1 Kor 10:12), maar dat ons soos Epafras volkome sal staan in die volle wil van Elohiem (Kol 4:12), soos die Korintiërs in die geloof sal staan (2 Kor 1:24) en soos die Filippense vas sal staan in die Meester Y’shua (Fil 4:1)!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »