MISBRUIK VAN DIE SKRIF IN DIE NAAM VAN GELOOF

alternate textElkeen van ons wil graag ons geloof op die Skrif bou. Ons wil almal mense wees wat hulle huis van geloof op die rots bou en nie op ‘n hoop sand nie. Anders waai die eerste Kaapse Suidoos dalk sommer vinnig-vinnig ons huis se fondament reg onder ons uit. Ons verstaan is dat daar ‘n inherente integriteit en harmonie in die Skrif bestaan en dat daar nie teenstrydige waarhede of leringe in die Skrif verkondig word nie. Ons verstaan is in lyn met beide Johannes 3:16 en 2 Timoteus 3:16, wat sê dat Elohiem nie net SY SEUN vir ons gestuur het nie, maar dat Hy ook die HELE SKRIF vir ons gestuur het. Daarom mag ons nie met ‘n skêr en ‘n lympot na die Skrif toe gaan en sekere dinge uitknip waarvan ons nie hou nie, of sekere dinge inplak wat ons voel daar moes gewees het nie. Maar ons almal weet ook: Dis makliker gesê as gedaan. Want byna almal wat met ‘n nuwe en aantreklike lering “vanuit die Skrif” vorendag kom, het ‘n vers of twee uit die Skrif wat hulle as “bewys” kan aanvoer. Sal ons dit maar sê … elke ketter het sy letter! En die van ons wat nie oor genoeg kennis beskik nie, het meeste van die tyd GEEN verweer nie, as iemand ons koppe probeer swaai en boonop ‘n Bybelteks het om voor ons neuse te hou. Ek het na ‘n paar voorbeelde hiervan gaan kyk en ek hoop dit kan help sodat ons die misleiding daarbuite makliker kan herken.

Die volgende aanhaling kan gevind word op ‘n webblad met die naam “Roots and Wings”. “This is a quote from the prophet Isaiah … With men of other tongues and other lips will I speak unto this people … (1 Cor 14:21). Here, the role of speaking in tongues, as a message from God delivered to His people, is made clear.” Die skrywer sê dat Paulus in 1 Kor 14 vir Jesaja 28:11 aanhaal om die boodskap aan hulle te bring dat Yahweh die verskynsel van “spreek in tale” aanmoedig en dat Hy dit gebruik om daardeur ‘n boodskap aan sy mense te bring. As ‘n mens egter mooi gaan kyk na wat daar in die konteks van Jesaja 28, en ook in die konteks van 1 Kor 14 staan, is dit doodeenvoudig glad nie wat een van hierdie twee gedeeltes vir ons sê nie. Jesaja 28 praat oor die ongehoorsaamheid en afvalligheid van Israel. Daarom het Yahweh Sy profeet na hulle toe gestuur om vir hulle te sê: Omdat julle nou al vir so lank al nie na my woorde wil luister nie, woorde in julle eie taal, wat julle maklik kon verstaan, gaan Ek in die toekoms deur mense uit die nasies, mense met vreemde tale, met julle praat. Hierdie profetiese woord het in vervulling gegaan ná die dood en opstanding van Y’shua toe al hoe meer mense uit ander tale tot geloof gekom het en selfs aan Jode die boodskap van verlossing gebring het. En in die betrokke vers in 1 Kor 14 probeer Paulus die gelowiges ontmoedig om in vreemde tale te praat (bestaande tale, nie “brabbeltaal” nie). Hy moedig dit nie aan nie, want dit dien nie tot voordeel van die gemeente as daar in tale gepraat word wat meeste mense nie kan verstaan nie.

Spreek in tale floreer in ‘n omgewing waar die Welvaartsevangelie verkondig word. As ek die woord “Welvaartsevangelie” gebruik, sal sommiges dalk nie weet waarvan ek praat nie. Miskien is “Prosperity Theology” meer bekend. Dis ‘n benadering tot die Skrif wat geloof baie ernstig opvat en wat dinge oor geloof verkondig wat nie altyd verkeerd is nie. Maar, tragies genoeg, beslis ook nie altyd reg is nie. Om dit net kortliks saam te vat: Die Welvaartsevangelie is die oortuiging dat die Skepper wil hê dat gelowiges materiële rykdom, fisiese gesondheid, en algehele sukses moet geniet as ‘n direkte gevolg van hul geloof, positiewe belydenis, en die gee van tiendes en offers. Daar is kleiner verskille hier en daar, maar die klem is op voorspoed, rykdom en genesing. Sonder om in te veel detail te verval, wil ek hierdie baie reguit vraag vra: Waarom kan ons nie die leringe van voorstanders van die Welvaartsevangelie (WE) vertrou nie? Die kort antwoord is: Omdat daar net te veel dinge is wat hulle sê, wat die Skrif nie sê nie, en ook net te veel dinge wat die Skrif sê, wat hulle nie sê nie. Met die tweede deel van hierdie sin verwys ek natuurlik na dinge soos eerbied vir die Torah, die Shabbat, die feeste, die duidelike boodskap dat Yahweh alleen Elohiem is en talle ander aspekte wat deel is van die “HELE SKRIF” waarvan 2 Tim 3:16 praat, en waaroor daar bitter min gesê word in WE geledere. Maar dis die eerste deel van die sin waarby ek wil uitkom: Die dinge wat hulle sê, wat die Skrif NIE sê nie. Kom ons kyk na ‘n aantal hiervan.

Die WE predikers sê dikwels dat dit nie die Skepper se skuld is dat gelowiges siek en arm is nie, omdat Hy alreeds iets daaraan gedoen het, maar dat die gelowiges nie altyd hulle kant bring nie. Die hele saak is nie meer in die Skepper se hande nie, sê hulle. Ons antwoord is dit: In die laaste instansie bly Yahweh steeds in beheer van ons lewens. Volgens die Skrif, wat ons ten sterkste aanmoedig om te bid en te glo dat Yahweh ons sal genees, is siekte en genesing altyd in Yahweh se hand en onder Sy beheer. Die Skrif gee nie vir ons ‘n kits formule vir genesing en sukses nie en die realiteit is dat meeste van ons voorlopers in die geloof vir lang periodes in hulle moeilike omstandighede gebly het – sommige van hulle tot aan die einde van hulle lewe (soos Jeremia, wat tot aan die einde van sy lewe verdruk en vervolg is, Paulus, wie se doring in die vlees nooit weggeneem is nie en talle apostels en gewone gelowiges wat ter wille van hulle geloof doodgemaak is). Verder het ons pertinente gedeeltes in die Skrif wat bevestig dat geloof – nie net grammatikaal nie, maar ook in die praktyk – VERTROUE is, nie ‘n WETMATIGHEID of ‘n KONSTANTE nie (Dit werk nooit volgens die patroon: As jy A doen, dan MOET B gebeur nie).

Die beste voorbeeld wat ons hiervan het, is ons Meester Y’shua wat kort voor sy dood, sy begeerte teenoor Yahweh uitgespreek het om nie die bitter beker te drink wat vir hom voorgelê het nie, maar onmiddellik bygevoeg het: Nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil, my Vader! Spreuke 16 gee vir ons hierdie perspektief: Die hart van die mens dink sy weg uit, maar Yahweh rig sy voetstappe. Op die oomblik is ons almal deel van ‘n realiteit wat baie ver van ‘n “SÊ DIT EN HÊ DIT” (Name it and claim it) realiteit verwyder is. In watter realiteit is ons op die oomblik? Romeine 8 sê dis ‘n realiteit waarin die hele skepping sug in barensnood en die gelowiges ook sug in afwagting en verlange, totdat die volmaaktheid van Yahweh se verlossing – veral die verlossing van ons liggame – aangebreek het. Dis nie asof Yahweh wil hê dat ons pateties moet bly tot op daardie dag nie. Maar wat Hy wel wil hê, is dat ons afhanklik sal bly tot op daardie dag en dat ons nie vir een oomblik sy grootheid en sy wysheid sal betwyfel nie. En afhanklikheid beteken hierdie wete: Hy is Elohiem en ek is ‘n mens wat nie sonder Hom kan lewe nie. Nie: Ek is ‘n mens wat links en regs vir myself sekere dinge toe-eien nie.

Een van die bekende WE predikers, Kenneth Copeland, het op ‘n keer gesê die Almagtige is ‘n wese wat 6 voet 2 duim hoog is en ‘n paar 100 pond weeg en wat in die persoon van Adam ‘n duplikaat van Homself gemaak het. Daarmee wou hy aandui dat die mens nie net in die beeld van die Skepper gemaak is nie, maar dat hulle self klein godjies is en dieselfde DNA as die Skepper het. Ander WE Predikers sê dit dalk nie so pertinent nie, maar binne die WE beweging is daar in die algemeen ‘n oorbeklemtoning van die mens se vermoëns en ‘n onderbeklemtoning van Yahweh se heerskappy en soewereiniteit oor ons lewens. Copeland se siening is: “If you say you are sick, you claim sickness; if you say you are rich, you create wealth.” Dit rym op geen manier vir my met die Skrif se hantering van die kwessies van siekte en armoede nie en dit maak dat ek enige ander uitspraak van so ‘n prediker met ‘n knippie sout sal neem.

Nog ‘n bekende WE en TV prediker, Creflo Dollar, het ontken dat Y’shua van Nasaret in armoede geleef het (al het Y’shua self so gesê in Lukas 9). Volgens Dollar het Y’shua ‘n “designer-level garment” gedra – Hy was nie in die kategorie van die onverstandiges wat in armoede bly leef het omdat hulle nie hulle “covenant rights as children of the King” verstaan het nie. Vir mense wat so ‘n siening aanhang, kan ‘n mens alleen maar wys op die woorde van 1 Tim 6:8-11: Die wat in geldgierigheid agter die wortel van rykdom aan hardloop, verval in allerlei strikke, en in baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mens laat wegsink in vernietiging en ondergang. Die man en die vrou van Elohiem behoort daarvandaan af weg te vlug. En kom ons voeg maar by: so vinnig en so ver weg as moontlik.

Hoe moet ons die profesieë oor Y’shua (genesing deur sy wonde) en die praktyk van sy dag (baie siekes wat genesing ontvang) verstaan, wanneer ons vandag oor siekte en genesing nadink? Ons behoort dit beter te verstaan, as ons let op die volgende: (1) Genesing is ‘n teken van die koninkryk, nie ‘n dienskontrak nie (2) Y’shua se antwoord in Mat 11 op Johannes se vraag: Is U die een … (3) Genesing as ‘n profetiese teken van wat nog kom (4) Y’shua se woorde aan die verlamde man in Mar 2 (5) Die alreeds en die nog-nie (6) 1 Kor 15:53 wat sê hierdie verganklike liggaam moet met onverganklikheid beklee word (7) Epafroditus was siek tot die dood, volgens Fil 2, maar Elohiem was hom barmhartig – hy het nie sy genesing geëis nie (8) Ons het die voorreg en die reg om vir genesing te vra, maar Hy het die reg om Elohiem te wees en sy volmaakte wil te laat geskied (9) Genesing is meer as net genesing van siekte – vir party bring Yahweh genesing deur ‘n wonderwerk, vir ander bring Hy genesing deur dinge soos verdieping in geloof, vergifnis, herstel in verhoudinge, en selfs die dood (10) Wanneer ons deur beproewing gaan, en soms vir lang periodes daarin bly, weet ons dat Sy guns vir ons genoeg is (2 Kor 12:9), en rus Hy ons toe om dit nie te beleef soos mense wat geen hoop nie (1 Tes 4:13). Mag ons van Hom die vermoë ontvang om na siekte te kyk soos wat Hy daarna kyk!

 

Views: 2

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *