Daar is ‘n woord wat dikwels in die Tanak voorkom, meestal reg aan die begin van ‘n sin, wat vir ons kan help om te verstaan hoedat gewone dinge wat met ons gebeur, inpas by Yahweh se groter plan met hierdie wêreld. Die woord is “vayehi”, afgelei van “hayah”, wat beteken: om te bestaan, om te wees, om te gebeur. Dis baie keer nie maklik om hierdie woord te vertaal nie – veral as daar alreeds in ‘n vers beskryf word hoedat daar iets gebeur. As ‘n mens in sulke gevalle die vertaling van “vayehi” forseer, kan dit aanleiding gee tot oorbodige taal, soos in die sin: “Toe het dit gebeur dat daar iets gebeur het.” Daarom word “vayehi” dikwels deur sommige vertalings onvertaald gelaat. Maar soms word dit wel vertaal met iets soos: “En toe het dit gebeur dat …”. Die feit dat hierdie kort woordjie dikwels nie vertaal word nie, beteken nie dat dit ‘n onbelangrike woord is nie. Daar is ‘n baie goeie rede waarom die Hebreeuse skrywers soms in die Skrif sê, “En toe het dit gebeur dat X vir Y ontmoet het”, en nie net, “X het vir Y ontmoet” nie. Of dat daar staan, “En dit het gebeur dat X en Y na Jerusalem opgegaan het”, en nie net “X en Y het na Jerusalem opgegaan” nie. En hierdie rede het te make met die tipiese Hebreeuse siening dat Yahweh in beheer is van dit wat in ons lewens gebeur. Ons is nou wel nie klein robotjies wat vooraf geprogrammeer is en wat niks anders kan doen as wat die program voorskryf nie. Maar dit wat ons doen, dit wat met ons gebeur, dit wat ons kies, die swaarkry wat ons beleef, die mislukkings, die oorwinnings – alles – vind ‘n plek binne die groter raamwerk van Sy plan en Sy betrokkenheid by die mense van hierdie wêreld.
In die Messiaanse geskrifte is daar ‘n Griekse woord, net soos “vayehi”, wat dikwels voorkom en wat vertaal kan word met “En toe het dit gebeur dat …”. En dikwels, wanneer hierdie woord gebruik word, dien dit as bevestiging dat iets wat Y’shua gedoen het, in lyn was met die voor-Messiaanse profesieë oor Hom. Matteus 7:26 sê nie net die mense was verbaas oor Y’shua se leer (aan die einde van die Bergrede) nie. Dit sê: So het die GEBEUR (“egeneto”) dat die mense verbaas was oor sy leer. Is daar dalk ‘n profesie dat Y’shua ‘n goeie leermeester sou wees? Ja, daar is! Jesaja 11:2 “Op Hom sal die Gees van Yahweh rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van Yahweh.” Matteus 26:1 sê nie net dat Y’shua vir die mense gesê het dat Hy op die Pesag oorgelewer sou word nie. Dit sê: So het dit GEBEUR (“egeneto”) dat Y’shua vir die mense gesê het. Is daar dalk ‘n profesie of ‘n heenwysing hierna in die Voor-Messiaanse Skrifte. Ja, daar is! ‘n Hele aantal, waarvan die eerste Pesag op die aand voor die Uittog uit Egipte die belangrikste is. Markus 2:23 sê nie net dat die Fariseërs in ‘n argument met Y’shua oor die Shabbat betrokke geraak het nie. Dit sê: So het dit GEBEUR (“egeneto”) dat hulle in ‘n argument oor die Shabbat betrokke geraak het. Beteken dit dat hierdie gesprek in die koringlande dalk ‘n funksie het binne Yahweh se groter plan met Y’shua? Verseker! Hoofstukke uit Jeremia, Esegiël en ander profesieë het duidelik aangedui dat die komende Messias mense na hulle eie harte sou laat kyk en die boodskap sou bring dat om Yahweh werklik te behaag, ‘n mens op die diepste bedoeling van die Torah behoort te fokus en nie bloot op die uiterlike onderhouding daarvan, soos wat dikwels by die Fariseërs voorgekom het nie.
‘n Mens kan hierdie beginsel selfs nog beter verstaan, as jy in ag neem dat die Naam, YAHWEH, ‘n afgeleide vorm van dieselfde woord, “hayah”, is. Ons is almal bekend met die gesprek wat Mosheh by die brandende doringbos met Yahweh gehad het. En met die unieke woorde wat Yahweh gebruik het, voordat Hy Sy Naam, “Yahweh” aan Mosheh bekend gemaak het. “Ehyeh asher ehyeh”, wat gewoonlik vertaal word met: “Ek is wat Ek is” – soms ook: “Ek sal wees wat Ek sal wees”. Hy is egter nie net die Een wat IS of BESTAAN nie – Hy is ook die Een wat LAAT BESTAAN en wat LAAT GEBEUR. Die basiese betekenis van “hayah” is “om te bestaan”. “Ehyeh” is van “hayah” afgelei en beteken “Ek bestaan (van ewigheid tot ewigheid)”. “Yahweh” is ook van “hayah” afgelei en beteken “Hy is die Een wat laat bestaan” of “Hy is die Een wat laat gebeur”. Dit is duidelik dat “Ehyeh” nie bedoel is as die Naam waarmee ons Hom moet aanroep, asof ons ook van ewigheid af bestaan nie. Maar “Yahweh” is die Naam waarmee ons Hom behoort aan te roep. Want daarmee bely ons dat Hy die Een is wat laat bestaan en laat gebeur. En die belangrikste rede waarom die Hebreeuse skrywers soms “vayehi” aan die begin van ‘n sin skryf, is om die leser se aandag daarop te vestig dat Yahweh besig is om iets te laat gebeur. Iets besonders. Iets wat inpas by ‘n groter plan. Iets wat ons sal help om sin te maak uit die gebeure wat hier voor ons in die teks plaasvind.
Genesis 27 beskryf die gebeure toe Yietsgak (Isak) in sy ouderdom vir Esau, sy oudste seun, geroep het en twee belangrike dinge aan hom gesê het: (1) Hy moes gaan jag en terugkom en ‘n gereg voorberei met die wildsvleis wat hy van die jag af sou terugbring, en (2) Hy moes ná die jag en die ete na sy pa toe kom, sodat sy pa hom kon seën. En reg aan die begin van hierdie hoofstuk staan die woord “vayehi”. Waarom? Omdat die teks vir ons wil wys dat die gebeure wat hier afspeel, inpas by ‘n groter plan. Wat is die groter plan? Die groter plan het al reeds in Yahweh se gesprekke met Yietsgak se pa, Avraham, deurgeskemer, toe Yahweh vir Avraham gesê het dat Hy hom ‘n groot nasie wil maak en hom wil seën en ook dat hy ander nasies deur hom wil seën. Maar Yahweh het ook met Yietsgak en Rievkah (Rebekka) gepraat en onder meer vir hulle gesê dat daar twee nasies in Rievkah se skoot was en dat die oudste die jongste sou dien. Die oudste, Esau, sou die jongste, Yaákov, dien. Die rolle word omgedraai. Die “vayehi” in Genesis 27 is om vir ons te sê: Maak julle sitplekgordels vas, want die Een wat ‘n belofte aan Yietsgak gemaak het, het begin om dit te vervul – deur sy seun Yaákov. Nie die seun wat Yietsgak gedink het dit sal wees nie. Nie op die manier wat “pas” by ‘n vrou soos Rievkah en ‘n jongman soos Yaákov, wat later die vader van ‘n hele nasie sou word nie. Maar wat hier gebeur, raak nie net vir Yietsgak nie. Dit raak ook Yahweh se woord aan Avraham. Die verbond wat Hy met Avraham gesluit het, die nasie wat Hy vir Homself wou versamel en die Messias wat Hy later sou stuur om die deur wawyd oop vir ander nasies oop te maak.
Op ‘n hele aantal plekke in die Skrif word net die tweede deel van “vayehi” gebruik: “Yehi” en dan is die bedoeling: “Mag dit gebeur dat” of “Mag dit so wees dat”. Wanneer iemand wie se hart op Yahweh gerig is, die begeerte of die gebed uitspreek dat iets goeds tog mag gebeur (in die toekoms), dan ontstaan hierdie begeerte vanuit die wete dat alles nie is soos wat dit moet wees nie, maar ook die wete dat Yahweh groot dinge kan doen. Dis immers ‘n begeerte wat voor die Een gebring word, wie se Naam in werklikheid beteken: “Hy wat dinge kan laat gebeur”. Die begeerte van Psalm 72:16, “Mag daar volheid van koring wees (“yehi”) in die land”, kom dalk juis uit ‘n situasie van skaarste aan koring, maar wie anders as Yahweh kan skaarste in oorvloed verander? Die begeerte in Psalm 22:7, “Mag daar vrede wees (“yehi”) in jou skanse, o Yerushalayiem”, sê vir ons daar is dalk nie nou vrede nie, maar hierdie begeerte word uitgespreek teenoor Een wat magtig genoeg is om selfs in ‘n verdeelde en beleërde stad soos Jerusalem, vrede te bring. En die begeerte in Psalm 104:31, “Mag Yahweh bly wees (“yehi”) oor sy werke”, kom dalk uit ‘n agtergrond waar mense Hom bedroef het, en die Vader juis NIE bly is oor sy werke nie. Maar Hy kan dinge laat gebeur. Hy kan mense se harte verander, Hy kan nuwe gesindhede tot stand bring. Hy kan mense in beweging bring wat voorheen nie die kapasiteit daartoe gehad het nie. En Hy kan hulle weer déél maak van sy werke waaroor Hy bly is.
“Vayehi” hou vir ons hierdie boodskap in: Dit wat hier en nou gebeur – hoe onbenullig dit ook al mag wees – speel ‘n rol binne Yahweh se groter plan met hierdie wêreld. En, in aansluiting hierby, hou “yehi” vir ons die boodskap in: Dit wat hier en nou gebeur en wat nie na wense is nie, wat sleg is, wat my seer maak en wat Yahweh se Gees bedroef, kan omgedraai word en verander word in iets wat die Skepper behaag! Hy is die Een aan Wie ek vashou en op Wie ek vertrou met alles wat ek het, en sy Naam is Yahweh. Die diepste betekenis van sy Naam is dat Hy dinge kan laat gebeur. Hy kan iets of iemand wat in sy spore gestuit het, weer in beweging bring. Hy kan dit wat onmoontlik lyk, nie net moontlik maak nie, maar in ‘n oorwinning omskep. Hy kan selfs geboorte gee aan iets wat nie bestaan nie. Hy kan die grootste skeptikus en die felste kritikus op hulle neuse laat kyk, sodat die woord in vervulling gaan: Hulle sal My groot werke sien, en só sal hulle weet dat Ek Yahweh is!
Views: 6