Views: 15
Wanneer ‘n mens by hierdie deel van Eksodus kom waar Farao aanhoudend deur Mosheh genader word om die Israeliete uit Egipte te laat trek, is daar een vraag wat al vir eeue lank gereeld gevra word: As Yahweh Farao se hart verhard het soos daar in Eksodus 7:3 staan, dan is dit mos Yahweh wat vir Farao laat weier het om die Israeliete te laat gaan, nie Farao self nie. En dit laat ‘n mens met minstens twee vrae in jou hart: (1) Is dit regverdig as die Almagtige mense se harte verhard sodat hulle nie kan doen wat Hom behaag nie? (2) Het Farao ‘n vrye keuse gehad en het ons as mense werklik ‘n vrye keuse en ‘n vrye wil?
Daar was oor die eeue heen baie opinies oor hierdie saak. Sommiges wys daarop dat Farao met die eerste vyf plae self sy hart verhard het, maar dat Yahweh daarná sy hart verhard het en dat hierdie latere verharding die straf oor hom was omdat hy aanvanklik uit eie keuse geweier het om die volk te laat trek. Dan is daar ander wat sê dat Farao met die eerste vyf plae sy hart verhard het, maar dat Yahweh daarná sy hart VERSTERK het, nie verhard het nie. Die Hebreeuse woord wat gewoonlik as “verhard” vertaal word, sou ook as “versterk” gelees kan word. En diegene wat sê dat hierdie woord eintlik “versterk” moet wees, se argument is: Soos wat daar meer en meer plae in Egipte plaasgevind het, het die druk op Farao só toegeneem dat hy later geen keuse sou gehad het as om die Israeliete te laat gaan nie. Daarom het Yahweh sy hart versterk, sodat hy nie die volk sou laat gaan, net omdat hy eintlik nie meer ‘n keuse gehad het nie, maar sodat hy nog steeds sou kon kies wat hy wil doen: Wil ek die volk laat gaan, omdat ek ‘n Groter Hand in hierdie plae kan sien, of weier ek om te hulle laat trek, ongeag die feit dat daar duidelik ‘n Groter Hand agter al hierdie gebeure is?
Daar is nog MEER VERKLARINGS vir die vers wat sê dat Yahweh die hart van Farao verhard het, maar dis nie nodig om daarop in te gaan nie. Dis makliker om dood eenvoudig na die patroon in die hele Skrif te kyk en op grond daarvan te besluit of ons in die Skrif met ‘n onregverdige Diktator te make het wat vir sommige mense geen kans gee om vír Hom of téén Hom te kies nie. En of ons, aan die ander kant, aan ‘n Elohiem voorgestel word wat regverdig en barmhartig en goedgunstig is, en wat aan elke mens ‘n vrye wil gegee het, die volle kapasiteit om te kan kies en te kan besluit – veral wanneer dit kom by die keuse VIR of TEEN berou, VIR of TEEN gehoorsaamheid, VIR of TEEN Y’shua as die Messias, en uiteindelik: VIR of TEEN Yahweh, self.
Om te kyk na die patroon van die Skrif, kan ‘n mens reeds by KAYIEN (Kain) begin. Daar is sommiges wat sê dat Kayien nie ‘n vrye keuse gehad het nie, omdat Yahweh sy offer uit die staanspoor nie aangeneem het nie. Maar hulle wat meen dat Kayien nie regverdig behandel is nie, het nagelaat om mooi te lees wat die Skrif sê. In Genesis 4:7 sê Yahweh vir Kayien, “Is daar nie verheffing as jy goed doen nie?” Met ander woorde: “As jy gekies het om goed te doen, sal Ek dit nie raaksien en jou daarvoor beloon nie?” Retoriese vraag! Verder het Yahweh vir hom in dieselfde vers gesê, “Die sonde lê en loer voor die deur, maar jy moet daaroor heers.” Met ander woorde: “Jy, Kayien, en elke mens, het die kapasiteit, of vrye wil, om te kies om NIE te sondig nie en ook om te kies wat My behaag.” In die boek Hebreërs (11:4) word gesê dat Kayien se offer nie met geloof gepaard gegaan het nie; 1 Johannes 3 sê dat Kayien se werke boos was en Judas 1 sê dat hy rebels was en vir sy eie gewin opgetree het. Dat Yahweh sy offer NIE aangeneem het nie, was op geen manier ‘n “oortreding” aan Yahweh se kant nie. Dit was Kayien se eie oortredinge, wat soos ‘n MUUR tussen hom en Yahweh kom staan het.
‘n Tweede voorbeeld waarna ons kan kyk, is die voorbeeld van AGAV (Agab), een van die konings van Israel en die man van Isébel, seker die bekendste verleidster in die Skrif. Om te verstaan hoe Yahweh oor iemand soos Farao gedink en gevoel het, en hoe Hy teenoor hom opgetree het, is dit belangrik om raak te sien hoe Hy opgetree het teenoor iemand soos Agav. In 1 Konings 16:30 word gesê dat Agav gedoen het wat verkeerd is in die oë van Yahweh, MEER AS AL SY VOORGANGERS. Onder die konings van Israel en van Yehudah, waarvan baie nie die toets geslaag het nie, het Agav verkeerd opgetree in die oë van Yahweh, MÉÉR as al sy voorgangers, en selfs méér as die wat ná hom gekom het, as ‘n mens hom met elke ander koning in die Skrif vergelyk. Het Yahweh Agav se lewe en optrede goedgekeur? Nee, op geen manier nie. Keer op keer het Hy sy volk gewaarsku teen die soort boosheid en rebelsheid en ongehoorsaamheid waaraan Agav hom skuldig gemaak het. Maar het Yahweh sy rug op Agav gedraai? Het Hy vir Agav die kans en die keuse ontneem om berou te hê en terug te keer? Nee, op geen manier nie.
In 1 Konings 21:25 word daar vir die soveelste keer na Agav se verkeerde leefstyl verwys en sê Yahweh van hom: “Daar is niemand soos Agav wat homself verkoop het (uit eie keuse!) om te doen wat verkeerd is in die oë van Yahweh nie.” Maar net twee verse later lees ons dat Agav waarlik BEROU gehad het: “Toe Agav Yahweh se woorde hoor, het hy sy klere geskeur en ‘n roukleed om sy lyf gebind en gevas; hy het ook met die roukleed geslaap en stadig rondgeloop.” En in reaksie hierop, het Yahweh vir EliYah gesê: “Het jy gesien hoe Agav hom voor my aangesig verneder het? Omdat hy hom voor my aangesig verneder het, sal Ek die rampspoed (wat Ek wóú bring) NIE bring, terwyl hy nog lewe nie.” Agav het altyd die keuse gehad om te doen wat Yahweh behaag, maar vir die grootste gedeelte van sy lewe het hy gekies om dit nie te doen nie. Dit het ernstige gevolge vir hom en die volk ingehou. Maar die oomblik toe hy in berou en skaamte voor Yahweh nader, het Yahweh uit eie vrye wil gehandel en die straf oor sy optrede weerhou. Ons is na sy beeld geskape. Daarom het ons ‘n vrye wil, waarmee ons Hom kan behaag, of kan bedroef, net soos wat Hy ‘n vrye wil het, waarmee Hy kies om guns en vergifnis aan ons te betoon, al het ons met ons optrede presies die teenoorgestelde verdien.
Dat elke mens ‘n VRYE WIL het om te kies wat reg is, maar ook die VERANTWOORDELIKHEID het om die gevolge van sy verkeerde keuses te dra, is meer as duidelik in die Skrif. ADAM EN EVA het duidelik ‘n vrye keuse gehad toe hulle gekies het om van die verbode vrug te eet, en die gevolg daarvan was absoluut verreikend. NOAG het gekies om Yahweh te gehoorsaam en die ark te bou en dit het die grondslag gelê vir Yahweh se voortgesette bemoeienis met die mensdom. AVRAHAM het gekies om die mees ongewone opdrag te gehoorsaam wat ‘n pa kan ontvang – die opdrag om jou eie seun te offer, en dit het die weg gebaan vir die vorming van ‘n nasie deur wie Yahweh Homself aan die hele wêreld sou openbaar en uit wie Hy die Messias aan hierdie wêreld sou gee. En so kan ‘n mens aangaan en tientalle ander voorbeelde in die Skrif uitlig.
Dis uit VRYE KEUSE dat Yahweh Homself aan die mense wat Hy geskape het, openbaar, dat Hy hulle roep, dat Hy by hulle betrokke raak en dat Hy hulle seën – totaal sonder dat hulle dit verdien. Hy het nie nodig gehad om enige van hierdie dinge te doen nie. En as ‘n mens eers die vrye wil van Yahweh leer ken het en in aksie gesien het, sal jy nie ‘n oomblik daaroor twyfel nie dat Hy aan ons ook – en selfs aan mense soos Farao – ‘n vrye wil gegee het om te reageer op sy toenadering. En dis sy absolute begeerte dat ons positief op hierdie toenadering van Hom sal reageer. Daarom gee Hy nie net bloot aan ons ‘n keuse nie. Sy bemoeienis met ons as mense begin en eindig nie met “take it or leave it” nie. Nee, Hy maak ruimte vir ons. Hy maak tyd vir ons en hou áán met ons en kom weer en weer terug na ons. Hy inspireer ons. Hy bemoedig ons. Hy verras ons met sy liefde. Hy vergewe. Hy gee méér as wat nodig is. Hy maak dit so MAKLIK as moontlik vir ons om eenvoudig te doen wat Hy vra. Daarom sê die Skrif dat Hy sy geregtigheid tot NABY ons bring (Jesaja 46:13) en sy verlossing nie laat vertoef nie (Jesaja 56:1). Hy het nie onduidelik, of in die geheim, of in die donkerte, of in die lug met ons gepraat nie, staan daar in Jesaja 45. Het Yahweh ‘n vrye wil aan ons gegee? Ja, Hy het. Maar Hy het baie meer as dit gedoen. Hy het uit vrye wil sy eie Seun aan ons gegee. En Hy hou nie op om daagliks meer en meer van Homself aan ons te gee nie. Uiteindelik is daar net een vraag wat ons vir onsself moet beantwoord: Wat maak ons met alles wat Yahweh vir ons gegee en gedoen het? Die Een wat dit alles vir ons gegee en gedoen het, sou wát wou gee dat ons dit aanneem en omhels. Maar uiteindelik is dit ons eie keuse wat ons daarmee maak.