Ons het verlede week oor drie persone gepraat in wie se lewens ‘n mens kan sien wat dit beteken om VREEMDELINGE in hierdie wêreld te wees. Hierdie drie was Avraham, Dawid en Stefanus. Hulle is natuurlik by verre nie die enigstes nie. In Hebreërs 11 word altesaam 16 name uitgesonder (plus die profete as ‘n groep), as manne en vroue wat ons vandag as voorlopers in die geloof kan beskou. Hebreërs 11 sê duidelik dat elke enkele persoon wat, reeds van die skepping van die eerste mense af, gekies het om in Yahweh te glo en Hom in alles eerste te stel, ‘n vreemdeling in hierdie wêreld sal wees. Dit word pertinent uitgestippel in Hebreërs 11:13, “In die geloof het hulle ALMAL gesterf sonder om die beloftes te ontvang, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en verwelkom, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.” Avraham word in die Skrif aan ons voorgehou as die vader van die gelowiges, maar Hebreërs 11 begin reeds met Abel (of Hevel), wat ongeveer 2000 JAAR VOOR Avraham geleef het. En 2000 JAAR NÁ Avraham, is Y’shua gebore, en dieselfde boek van Hebreërs noem Y’shua die leidsman en die voleinder van die geloof. En 2000 jaar later is ONS gebore, en dieselfde boek van Hebreërs beskryf ons as mede-erfgename van Avraham en navolgers van Y’shua, omdat ons net soos Avraham en Y’shua, uit die geloof lewe, en nie net teen die sigbare en tasbare dinge van hierdie wêreld vaskyk nie.
Die hele Hebreërs 11, wat die 16 name en die profete uitsonder wat in moeilike omstandighede aan Yahweh se beloftes bly vashou het, gaan oor GELOOF. Die heel eerste vers sê, “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” Dit is opvallend dat hier gepraat word van HOOP en dinge wat ons nie kan sien nie. Wat beteken dit om te hoop op dinge wat jy nie kan sien nie? In Romeine 8:25 word dit só verduidelik, “As ons hoop wat ons nie sien nie, dan WAG ons daarop met volharding.”
Dus: Vreemdelingskap en hoop op dinge wat ‘n mens nie kan sien nie en wag op Yahweh, is drie aspekte wat baie NABY AAN MEKAAR lê. Ons kan hierdie drie nie van mekaar skei nie. Ons het verlede week hoofsaaklik op vreemdelingskap en hoop gefokus. Maar nie juis op die aspek van WAG nie. Meeste van ons is nie juis goed met wag nie. Ons is te ongeduldig, en ongeduld en wag het nie baie met mekaar in gemeen nie. En die groot vraag is natuurlik: Weet ons regtig wat dit beteken om te wag op Yahweh? Ons wéét dit beteken nie stil sit en handjies vou nie, maar wat doen ‘n mens nou eintlik terwyl jy wag? Ek glo die Skrif kan ons oë oopmaak vir dimensies van wag, wat ons geloof kan versterk en ons lewens aansienlik kan verryk.
YAÁKOV was nog besig om ‘n seën oor elkeen van sy 12 seuns uit te spreek, toe hy uit die bloute uit, in Genesis 49:18, tussen die seën oor Yiessasgar en die seën oor Ghad, uitroep: “OP U VERLOSSING (letterlik: op u “yeshua”) WAG EK, O YAHWEH!” Asof hy vir ‘n oomblik, ‘n profetiese kykie op die toekoms gekry het, en besef het dat daar uit hierdie twaalf, nie net verlossers na vore sou kom nie, maar een, besonderse VERLOSSER, wat die sleutel tot seën vir die ganse mensdom sou wees. “Vandag seën ek my 12 seuns, maar wanneer hierdie besonderse nasaat gebore word, sal daar, deur hom, seën uitstroom na die nasies toe! Dis waarvoor ek wag, en waarvoor tienduisende ná my, ook sal wag!” Vandag wag ons nog steeds op hierdie verlossing. Nie met ‘n ongeduldige soort wag nie. Ons het immers reeds die goeie nuus van Y’shua gehoor en aangegryp. Maar ons wag steeds met die wete dat wanneer ek as volgeling van Yahweh my verwagting van verlossing verloor – verlossing hier en nou, maar ook verlossing in die toekoms – gaan ek saam daarmee, ook my waardering en my vreugde oor Yahweh se seën en guns, oor elke duimbreedte van my bestaan, verloor.
Ons wag IN DIE GEES VAN Psalm 25:3 wat sê dat nie een wat Yahweh verwag, sal beskaamd staan nie. En in die gees van Psalm 37:9 wat sê dat hulle wat Yahweh verwag, sal die aarde besit. En met die wete dat Yahweh Hom sal neerbuig na hulle wat op Hom wag en hulle hulpgeroep sal hoor, soos ons verseker word in Psalm 40:1. Aan hulle wat op Hom wag gee Hy voedsel (en elke ander vorm van uitkoms) op die regte tyd, volgens Psalm 104:27. Hulle wag op Hom, want by Hom is daar goedertierenheid en verlossing wat altyd verder strek as wat ‘n mens dink (Psalm 130:7).
Een van die redes waarom baie mense swaarkry met die begrip “Wag op Yahweh”, is omdat hulle nie presies weet HOE om te wag nie en WAARVOOR om te wag nie. Die Skrif sê duidelik dat die gelowige WAG op Yahweh, nie dieselfde as om vir ‘n trein te wag, of om vir goeie nuus te wag, of selfs vir genesing te wag nie. Dis nie ‘n verposing in tyd nie. Dis ‘n gesindheid van die hart. Dis die keuse om op te kyk na Yahweh, eerder as om verskrik en verward rondom my te kyk. Dis die keuse om liewer te sê, “ Ek slaan my oë op na die berge, waar my hulp van Yahweh af kom, as om met oë te kyk wat nie ruimte maak vir geloof nie, en daarom nie behoorlik kan sien nie. Dis nie ’n wag om te sien watter voordele is daar vir my wat voorlê nie. Daarom is selfs om te wag vir genesing, nie noodwendig dieselfde as om te wag op Yahweh nie. Want ek kan wag vir genesing, terwyl ek myself voortdurend wysmaak dat dinge uiteindelik vir my sal beter word. Maar so bly die fokus in my wag nog steeds op myself, en nie op Yahweh nie. As ek wag op Yahweh, vertrou ek Hom een honderd persent in my dilemma, en draai ek nie my oë van Hom af weg nie, selfs as my gebed nie verhoor word en my siekte nie beter raak en die belofte waaraan ek vashou, nog steeds nie uitkom nie.
Daarom sê Jesaja 49 dat hulle wat die Allerhoogste verwag, sal weet DAT HY YAHWEH IS, en sodoende sal hulle nie beskaamd staan nie. Jeremia noem Yahweh op drie plekke die “verwagting van Israel”. Waarom? Omdat dit Israel se behoud was, net soos dit die aartsvaders se behoud was – dat hulle, keer op keer, in die mees benarde situasies hulle verwagting en hulle hoop en hulle standvastigheid in Yahweh gevind het en NIE hulle vertroue in mense of in menslike idees geplaas het nie. Die profeet Miga sê in Miga 7 dat om op Yahweh te wag, beteken om uit te sien na Yahweh en na die verlossing wat Hy gaan bring. Psalm 27 sê dat wanneer jy op Yahweh wag met jou hele hart, maak dit JOU sterk, en dit maak jou HART ook sterk. Psalm 33 sê Yahweh hou voortdurend sy oog op hulle wat op sy goedertierenheid wag. Psalm 37 verseker ons dat die een wat Yahweh verwag, sal nie afgunstig wees op andere wat voorspoedig is, maar Yahweh nie ken nie. Hoe kan ons afgunstig wees, en voel dat ons aan die kortste ent trek, as ons die belofte van die soewereine en almagtige en enigste ware Elohiem gekry het dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie en dat Hy ons liewer het as wat ‘n ma en ‘n pa hulle eie kinders lief het? Om op Yahweh te wag, is volgens hierdie selfde Psalm om jou in Yahweh te verlustig, omdat jy weet dat Hy jou die begeertes van jou hart sal gee (vers 4). Dis om jou weg (dit wil se: elke deeltjie van jou bestaan) aan Hom oor te gee, en Hom te vertrou, omdat jy weet dat Hy jou weg sal “uitvoer” (vers 5). En hierdie woord “uitvoer” (Hebreeus: “asah”) beteken onder meer: “to prepare, to maintain, to occupy, to fulfil”. Hy gaan nie ons lewe vir ons lewe nie. Maar Hy gaan met ons wees op ons pad. Hy gaan ons voorberei vir sy groter plan (“prepare”). Hy gaan ons onderhou en vir ons sorg (“maintain”). Hy gaan déél wees van elke gebeurtenis van ons geboorte af tot ons dood (“occupy”). En Hy gaan sin en betekenis gee, selfs aan die negatiewe en slegte dinge wat met ons gebeur (“fulfil”).
En stadig maar seker sal ons die woorde van Jesaja 40:31 begin verstaan en die uitwerking daarvan in ons eie lewens sien: “Die wat op Yahweh wag, kry nuwe krag; hulle VAAR OP met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” Deesdae word ons daagliks gebombardeer met mens-georiënteerde slagspreuke soos “Nature is our only Master”, “Remember you ARE the universe” en “The whole world is inside you”. Ek lees niks daarvan in die Skrif nie, en steur my nie te veel daaraan nie. Wat die Skrif wel vir ons sê en wat sin en betekenis aan my bestaan gee, is die woorde van Romeine 8:19-23, “Want die HELE SKEPPING (insluitend “nature” en “universe”), wat ook soos ons aan nietigheid en verganklikheid onderworpe is, WAG met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van Elohiem. Ja, die hele skepping sug … en ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam.” Hierdie sug is nie ‘n sug van moedeloosheid nie, maar ‘n sug van verlange – omdat ons ‘n lewende VERWAGTING het van die vervulling van sy Woord – en ‘n sug van tevredenheid – omdat ons ‘n soort WAG leer ken het wat ons oplig uit elke donker gat van benoudheid en swaarkry in hierdie lewe.