Ons volg ‘n Skrif leesprogram wat tot ‘n groot mate op die Joodse Parashah leesprogram gebaseer is. Volgens hierdie program word die Torah in 54 dele verdeel en hierdie 54 dele, of 54 Parashot, word vanaf een Simchat Torah tot die volgende Simchat Torah, week vir week, gelees. In opeenvolgende jare waarin die twee Simchat Torah’s nader aan mekaar as gewoonlik is, word sommige Parashot saam gegroepeer, sodat hulle almal nog steeds gelees word. Ons gebruik die term “Yom Hashemini” (“Die Agtste Dag”) vir Simchat Torah, op grond daarvan dat hierdie fees in Levitikus 23:36 só genoem word. Daar is gewoonlik ‘n profetiese gedeelte wat saam met elke Parashah gelees word, en by groepe soos ons, wat die Messiaanse Geskrifte (of die Nuwe Testament) as volledige déél van die Skrif aanvaar, word daar elke week ook ‘n gedeelte uit die Messiaanse geskrifte gelees.
Vir meeste mense mag bogenoemde ou nuus wees. Wat egter nie so bekend is nie, is dat die Jode die gebruik het om op Simchat Torah die laaste Parashah van Deuteronomium, saam met die eerste Parashah van Genesis te lees. Op dié manier word daar gedemonstreer dat die leesprogram, net soos ons lewenswandel, een groot siklus is – sonder enige onderbreking – en dat ‘n nuwe tydperk of seisoen onmiddellik na afloop van die voltooiing van ‘n voorafgaande periode, behoort te begin. In die siklusse van ons lewens word daar nie water getrap tussen een siklus en ‘n volgende nie. Daarom word daar met elke Shabbat, of feesdag, of die begin van nuwe maand, alreeds op die aand vantevore, volledig op daardie dag of periode gefokus, en op die betekenis wat dit vir ons inhou.
Omdat ons vanjaar ook die laaste Parashah (Deut 33 en 34) saam net die eerste Parashah (Gen 1 – 6), op dieselfde dag behandel, het ek probeer kyk na ‘n raakpunt tussen hierdie twee gedeeltes, wat ook ‘n gepaste tema vir hierdie feesdag van Yom Hashemini is. Dit het my nie lank geneem om so ‘n raakpunt te vind nie. Die deurlopende tema, wat die einde van die siklus (Deuteronomium) weer met die begin van die siklus (Genesis) verbind, lê opgesluit in die Hebreeuse “ruág” wat “wind” of “asem” of “gees” beteken, en wat meeste van die tyd na die Gees van Yahweh verwys.
In Genesis 1:2 hoor ons dat die Gees (“ruág”) van Elohiem oor die waters van die aarde “gesweef” het. En in Deuteronomium 34:9 word daar vir die tweede keer gesê dat Yehoshua (Joshua) met die Gees (“ruág”) van Elohiem vervul was. Dieselfde “ruág” wat nog voor die skepping soos wind oor die leë aarde gewaai het en ook die asem van Yahweh was, wat die woorde gevorm het waardeur die skepping tot stand gekom het, het nog later die lewens van mense soos Yehoshua gevul.
Dit was verlede jaar tydens Simchat Torah dat Israel deur Gamas lede uit Ghaza aangeval is, wat 1200 mense doodgemaak het en 250 ontvoer het. Ek weet daar is reeds te veel hieroor gesê en geskryf. Maar ek wil graag aansluit by die tema van die Gees van Yahweh, en mense soos Yehoshua, wat met die Gees van Yahweh vervul is, en mense wat vandag nog steeds met die Gees van Yahweh vervul kan wees. Daar is ‘n bekende rabbi wat in Jerusalem woon, wat in Februarie volgende jaar 99 jaar oud sal wees. Sy naam is Moshe Sternbuch. Niemand praat vandag van die ou omie, Moshe Sternbuch, as hulle van Israel en 7 Oktober 2023 praat nie. En tog meen ek hier is ‘n profetiese stem, iemand wat met die Gees van Yahweh vervul is en wat vir ons, in ons verwarring rondom hierdie uitgerekte krisis, ‘n mondstuk van Yahweh kan wees. Want verlede jaar, enkele weke voor 7 Oktober, het Rabbi Sternbuch die volgende oor sy eie land en sy eie mense te sê gehad: “This coming year will require special vigilance, as it could bring severe judgment upon the Jewish people … if we knew what we are destined to endure, we would go crazy.” En so het Rabbi Sternbuch in daardie tyd voor 7 Oktober verlede jaar, gereeld gewaarsku dat daar moeilike tye vir sy mense voorgelê het. Dat hulle moes terugkeer na Yahweh toe en hulle sonde moes bely. Dat hulle moes vas staan in geloof sodat hulle sterk genoeg sou wees om die gebeure van die onmiddellike toekoms te kan uitstaan en verdra.
Dit is hierdie selfde Gees van Yahweh wat die Bron van kontinuïteit in ons lewens behoort te wees. Kontinuïteit van een jaar na ‘n volgende jaar. Van een siklus na ‘n volgende siklus. Van een Yom Hashemini na ‘n volgende Yom Hashemini. Ons weet dat hierdie Agtste Dag profeties heenwys na die nuwe hemel en die nuwe aarde wat nog voorlê. Selfs as ons sterf voor die aanbreek van daardie eindtyd Agtste Dag, sal die verbinding tussen ons gees en Yahweh se Gees, nie tot niet gaan nie.
Daarom praat Openbaring 22, wat die nuwe hemel en die nuwe aarde beskryf, beide van die boom van die lewe (wat ons in Genesis reeds leer ken het) en van die Gees van Yahweh, wat in die laaste Parashah van die jaar ter sprake kom en wat volgens Romeine 8, saam met ons gees getuig dat ons kinders van Elohiem is. Maar Openbaring 22 (wat die Messiaanse gedeelte is wat hierdie week saam met Deuteronomium 33 en 34 gelees word) sê nie meer dat die gelowiges met die Gees van Yahweh vervul is nie. Nee, vers 4 sê die gelowiges kan nou vir Yahweh van aangesig tot aangesig sien en sy Naam is op hulle voorhoofde geskryf. Voorheen het sy Gees in hulle gewoon om hulle van sy nabyheid en sy betrokkenheid by hulle lewens te verseker. Maar nou het hulle nie meer so ‘n versekering nodig nie. Nou ken hulle Hom op ‘n totaal nuwe manier. Hulle kan Hom sien vir wie Hy is. Sy Naam is oop en bloot – oor hulle en in hulle. Sy troon is hier, reg by hulle. Selfs die son is nie meer nodig nie. En hulle regeer saam met Hom as konings, sonder ophou, dag in en dag uit!
Maar ons is nog nie in die nuwe bedeling van Openbaring 22 nie. Daar is nie net oorlog en terrorisme en wreedheid rondom ons en in Israel en in die res van die wêreld nie. Daar is kragtige, bose magte wat ons aftrek grond toe, hier in die plek waar ons vir ons ‘n lewe probeer maak. Daar is stryd en angs en moegheid en frustrasie en wanhoop en siekte wat daagliks déél is van ons lewe. Moet ons nie liewer die karakter van hierdie fees verander en, al is dit net hierdie jaar, nog ‘n Yom Kippur van Yom Hashemini maak nie? Het ons regtig rede om te dans en van vreugde te sing? Verlede jaar het die mense vir die bejaarde rabbi Sternbuch dieselfde ding gevra. As dit wat jy sê wáár is, watter rede is daar dan om vrolik te wees met Simchat Torah? Sy antwoord was: “During the Holocaust, just before Simchat Torah, we received horrifying news of the massacres in Europe. We heard about Jews being sent to the gas chambers. But one of the rabbis among the Jewish prisoners encouraged them that Hitler may kill them but cannot uproot their beliefs. We shall sing and dance as usual. We are in a crisis, but we must pray to the Set-apart One to save us to a position of total separation from those who want to harm us. May (Yahweh) help us to persevere and may true simchah come speedily in our days.”
Dis hierdie “simchah” (diepe vreugde) wat die basis vorm van elke fees – ja, selfs van Yom Kippur, en VERAL van Yom Hashemini – en wat volgens Galasiërs 5 déél is van die VRUG van die Gees van Yahweh, en wat ons nie net aanspoor om te sing en te dans nie, maar ook om doelgerig te leef en onwrikbaar te hoop! Dink net watter impak dit op die wêreld daarbuite sal hê as almal wat hierdie week Simchat Torah of Yom Hashemini gevier het, se lewens ‘n buitengewone karakter en kwaliteit uitstraal, wat vir mense sal laat sê: Ek sien in hom of in haar ‘n ander Gees – ‘n gesindheid en ‘n manier van praat en van doen en ‘n uitkyk op die lewe wat ‘n mens nie dikwels in hierdie wêreld aantref nie!