VAN SMEEK TOT LIEFHÊ
17 August 2024

Views: 10

alternate textDie voorgestelde leesgedeelte van hierdie week strek oor die vyf hoofstukke van Deuteronomium 3:23 tot 7:11. Baie temas kan uit hierdie 5 hoofstukke uitgelig word. Soos Mosheh in hoofstuk 3 wat opnuut smeek om die Beloofde Land binne te gaan en vir Yahweh sê dat hy nou net mooi begin het om sy Grootheid en sy Sterk Hand te leer ken. Of toe hy vir die volk in hoofstuk 4 gesê het dat Yahweh toornig op hom was “al-divregem”, wat deur sommige vertalings (verkeerdelik) met “because of you” vertaal word, maar eintlik “for your sakes” moet wees. Met ander woorde, die feit dat Yahweh se toorn op Mosheh geval het, was nie soseer as gevolg van die oortreding van die volk (verlede tyd) nie, maar veel eerder: ter wille van die verlossing van die volk (toekoms). Só verstaan, sien ons opnuut hoedat Mosheh ‘n voorloper van Y’shua was, wat doodgemaak is TER WILLE VAN die verlossing van baie ander. So sou ‘n mens ook kon stilstaan by die byna woordelikse herhaling van die Tien Gebooie in Deuteronomium 5 (in vergelyking met Exodus 20), met slegs enkele interessante verskille, soos die feit dat Exodus 20 sê dat die Shabbat ONTHOU moet word, teenoor Deuteronomium 5 wat sê dat die Shabbat ONDERHOU moet word. Wat uitstaan in Devariem 6, is die alombekende SHEMA: “Hoor Israel, Yahweh is ons Elohiem, Yahweh is Een”, en natuurlik die vraag of hierdie “EEN” werklik “een” beteken, en of dit ook ‘n “eenheid”, soos in “Drie-eenheid” sou kon wees. En dan hoofstuk 7 met daardie groot en DEURSLAGGEWENDE uitspraak dat Yahweh ‘n behae in sy volk gehad het en hulle uitverkies het, “nie omdat hulle meer of beter was as al die ander volke nie”, maar omdat Hy hulle liefgehad het en nie bereid was om die beloftes wat Hy teenoor hulle vaders gemaak het, te vergeet nie.

Dus is daar in elkeen van hierdie 5 hoofstukke minstens EEN tema waarby ons vandag kon stilgestaan het, en wat werklik die Woord van Yahweh op ‘n vars manier aan ons sou kon oopbreek. Maar in plaas daarvan om by een van hierdie temas stil te staan, wil ek vandag, in aansluiting by ons groot tema van hierdie maand, ROEPING, slegs by 5 woorde stilstaan – een woord uit elkeen van die 5 hoofstukke waaroor ons hierbo gepraat het. Uit hoofstuk 3:23 – die woord “ganan” wat “SMEEK” beteken (Mosheh wat Yahweh gesmeek het om toegang tot die Beloofde Land). Uit hoofstuk 4:4 – die woord “dabaq” wat “AANHANG” beteken (Julle wat Yahweh aangehang het, lewe nog almal). Uit hoofstuk 5:27 – die woord “qarav” wat “NADERKOM” beteken (Dit is Mosheh wat moes naderkom aan Yahweh, om namens die volk, alles te kon hoor wat Hy sê). Uit hoofstuk 6:2 – die woord “yareh” wat “VREES” beteken (As julle Hom vrees, behoort julle sy gebooie te onderhou). En uit hoofstuk 7:9 – die woord “ahav” wat “LIEFHÊ” beteken (Yahweh is goed vir elkeen wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou).

Dis nie net Mosheh wat die soort “SMEEK” van Devariem 3 geken het nie. Shelomoh (Salomo) het tot Yahweh gebid toe hy die tempel ingewy het en spesifiek gevra dat Yahweh die gebede van selfs die nasies sou hoor wat in die toekoms by daardie tempel voor sy aangesig sou kom smeek (“ganan”), vir een of ander saak (1 Kon 8:47). Job het erken dat daar dinge met hom gebeur het, wat vir hom onverklaarbaar was, en dat hy nie al die antwoorde geken het nie, maar dat hy berus daarby dat hy die EEN geken het om wie se guns (“ganan”) hy kon smeek (Job 9:15). Toe Dawid in die nood was, het hy Yahweh om guns gesmeek (“ganan”) en ontdek dat Yahweh in sy benoudheid vir hom RUIMTE gemaak het (Psalm 4:1). En hierdie selfde woord “ganan” word in Jesaja 30:18 gebruik, in een van die kragtigste uitdrukkings van wat dit beteken dat Yahweh ‘n mens na Hom toe roep: “Daarom sal Yahweh met ongeduld daarop wag om aan julle guns te bewys!” Dat Yahweh ons geroep het, beteken dat Hy ons innooi tot in daardie GESEËNDE RUIMTE van sy guns en goedertierenheid – die enigste plek waar ‘n mens volle vrymoedigheid het om te smeek, en ook die enigste plek waar jy regtig uitkoms en vergifnis en berusting en genesing kan vind!

Die tweede woord is AANHANG in Devariem 4. Alhoewel “dabaq” (“aanhang” of “cleave”) dikwels in die Skrif gebruik word vir die eenwording tussen ‘n man en ‘n vrou, binne ‘n huwelik (soos in Genesis 2:24 “Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aanhang, en hulle sal een vlees wees”), word dit ook gebruik vir die verhouding tussen ‘n mens en Yahweh – veral in die boek van Devariem. In Devariem 10:20 word daar kortliks 4 dinge uitgelig vir elke mens wat graag in ‘n verhouding met Yahweh wil staan: “Yahweh jou Elohiem moet jy VREES, Hom moet jy DIEN en Hom moet jy AANHANG (“dabaq”) en alleen in sy Naam moet jy ‘n EED neem. Devariem 11:22 sê jy moet in sy weë wandel en Hom aanhang (“dabaq”). Devariem 13:4 sê jy moet na sy stem luister en Hom aanhang (“dabaq”). Devariem 30:20 sê jy moet Hom liefhê en Hom aanhang (“dabaq”). En Joshua 23:8 sê jy moet heeltemal van vreemde magtiges af wegbly en Yahweh alleen aanhang (“dabaq”). Woordeboeke sê dat die woord “dabaq” met “join” en met “cling” te make het. Die feit dat Yahweh ons geroep het, beteken dat Hy ons graag naby aan Hom wil hê – só naby, en só heg aan Hom verbind, dat geen aardse skudding of terugslag ons van Hom kan losskeur nie!

Die NADERKOM (“qarav”) van Devariem 5 is net so kragtig en sluit baie nóú aan by die aspek van “aanhang”. Om uitgenooi te word om nader aan Yahweh te kom, is een van die grootste eerbewyse wat ‘n mens te beurt mag val. Selfs Mosheh is verbied om te “qarav” toe hy Yahweh se stem in die doringbos gehoor het (“Moenie nader kom nie” – Exodus 3:5). En verlede week het ons in Exodus 16 gelees dat Aharon en die hele volk die ligglans van Yahweh in die woestyn gesien het en hulle daaroor verwonder het. Op watter punt het dit gebeur? Ons vind die antwoord in vers 9: Toe hulle “qarav” het voor die aangesig van Yahweh. “Geseënd is hy wat U uitkies en laat nader kom (qarav), dat hy kan woon in u voorhowe”, staan daar in Psalm 65:4. Maar nou is die vraag: Wat beteken dit prakties? Hoe kom jy nader aan iemand wat jy nie kan sien nie? Ons vind die antwoord in die tweede helfte van dieselfde vers: “Ons wil versadig word met die goeie van u huis, die afgesonderdheid van u paleis.” Naderkom of “qarav” begin met die BEGEERTE om met die Skepper se goedheid en afgesonderdheid VERSADIG te word, nie net daarvan te hoor of daaroor te praat nie. Die een wat werklik naderkom aan Hom, is geseënd. As ons waarlik die begeerte het om deur Hom versadig te word, sal ons hierdie seën leer ken!

Meeste van ons sal ‘n aanvoeling daarvoor hê dat die een wat begeer om nader te kom aan die Allerhoogste, nie net na Hom toe kan storm soos ‘n aap in ‘n glaskas (“like a bull in a China shop”) nie. Daarom word die aspek van VREES (“yareh”) na vore gebring in Devariem 6. Teenoor die Een wat sy aangesig na ons toe gedraai het en ons by die naam geroep het, kan ons alleen maar net die grootste ONTSAG EN EERBIED in ons harte koester. Hoe bewys ons ons vrees en ontsag teenoor Hom? Devariem 6 sê jy bewys jou vrees vir Hom onder meer deur sy woorde te gehoorsaam. Psalm 15:4 sê jy bewys dit deur eerbied te bewys aan andere wat Hom ook vrees. Psalm 34:8-9 sê jy doen dit deur by Hom te skuil as jy bedreig word (met ander woorde: in plaas van die bedreiging te vrees, skuil jy by Hom in die wete: Die wat Yahweh vrees, het geen gebrek nie). Psalm 86:11 sê jy doen dit deur in waarheid te wandel. Psalm 102:15 sê om Yahweh te vrees is om in verwondering te staan oor sy grootheid. Psalm 111:10 sê dat die een wat Yahweh vrees te alle tye in wysheid en “met goeie verstand” optree. Laat ons nie ons ongelooflike roeping minag, deur ons vrees vir Yahweh by die agterdeur uit te gooi nie!

Dit bring ons by die LIEFHÊ (“ahav”) van Devariem 7. Die feit dat liefde net mooi ter sprake kom in hoofstuk 7, is ‘n herinnering aan die “volmaakte liefde” waarvan Johannes in 1 Johannes 4:7 begin praat het, en waarvan hy sonder ophou bly praat het, tot die laaste vers van daardie hoofstuk (vers 21). In hierdie hele brief is daar altesaam 14 verse wat van liefde praat. Johannes is hier al ‘n ou man. Hy het baie dinge op sy pad as gelowige beleef. Hy het baie aspekte van die geloof oordink en oorweeg. Die TORAH, wat ten diepste oor liefde gaan, het nooit uit sy hart gewyk nie. Net soos Devariem, sê Johannes ook dat hy wat vir Yahweh waarlik lief het, sy gebooie sal gehoorsaam. En Johannes voeg by: Elohiem is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in Elohiem, en Elohiem in hom. En die eintlike liefde, sê hy, is nie dat ons vir Yahweh liefgehad het nie, maar dat Hy ONS liefgehad het en aan ons sy Seun gegee het. As Hy ons nie liefgehad het en ons nie na Hom toe geroep het nie en sy Seun nie vir ons gestuur het nie, sou ons nie eens geweet het wat liefde regtig is nie. Maar nou het ons lief omdat Hy ons eerste liefgehad het. En solank as wat ons in hierdie liefde bly, bly ons nie net VOOR SY AANGESIG nie, ons bly ook IN HOM, en Hy bly IN ONS. En dit beteken ‘n nuwe dimensie van LIEFDE (“ahav”). ‘n Dimensie van eenheid en harmonie in denke en karakter. In die hart van ‘n mens wat reg aan die begin na die beeld van Elohiem geskape is, het daar nou ‘n opvallende HERSTEL plaasgevind. Deur ‘n nuwe, intieme eenheid met Elohiem, kry gewone mense dit reg om Hom met hart en siel lief te hê, en ander mense, selfs mense wat hulle te ná gekom het, of mense wat hulle nie van hou nie, óók lief te hê. Lief te hê, omdat hulle verstaan dat Yahweh met hierdie mense ‘n pad loop en lankmoedig met hulle is, en begeer dat hulle ook sal omdraai en smeek en naderkom en Yahweh sal aanhang en Hom sal vrees, en Hom vol-uit sal liefhê.