SEWE BRIEWE UIT DIE HART UIT
8 February 2025

Views: 4

alternate textEk het onlangs met iemand gepraat oor hoe vreemd dit is dat ‘n mens nie meer briewe uitstuur en ontvang nie. Twee weke gelede het ek darem ‘n brief in die pos gekry wat my daaraan herinner het dat my TV lisensie betaal moet word. Maar in dieselfde tyd het ek ‘n SMS op my selfoon gekry dat ek ‘n spoed oortreding begaan het. Selfs vir spoed oortredings kry mens blykbaar deesdae nie meer briewe nie. ‘n Epos is nou eenmaal nie dieselfde as ‘n brief in die pos nie, maar ek moet sê: Ek is dankbaar vir elke epos wat met opregte bedoelings gestuur word, en wat nie met ‘n motief van geld-maak of geld-steel gestuur is nie. Die afgelope twee jaar of wat het ek heelwat sulke opregte eposse ontvang en die oorgrote meerderheid het gegaan oor die pad van geloof wat ons loop en oor onderwerpe wat op Elim se webblad aangeroer word. Ek het uit hierdie eposse SEWE gekies, wat ek vandag kortliks met almal hier wil deel, sonder om op enige manier die privaatheid te skend van hulle wat die eposse aan my gestuur het. Ek het SEWE eposse gekies, omdat die woord “Shabbat”, wat oor die SEWENDE DAG gaan, vir die heel eerste keer in die Skrif voorkom, in die leesstuk van hierdie week. In Genesis, waar ons lees dat Yahweh op die sewende dag gerus het, word die woord “Shabbat” nog nie gebruik nie. Die woord kom eers in Eksodus 16 voor, waar daar duidelike maatreëls gegee word oor die insameling van die manna, en oor die verbod om manna op die sewende dag, of op die Shabbat, op te tel, of gaar te maak. Ek het ook die getal SEWE gekies, omdat die laaste van die sewe briewe waarna ons vandag gaan kyk, ‘n brief is wat spesifiek oor die Shabbat of sewende dag gaan, en wat kom uit die hart van iemand wat werklik wil weet hoe die Shabbat in ons eie dag gevier behoort te word.

Een van die mooiste briewe wat ek ontvang het, het gekom van iemand wat die een finansiële terugslag na die ander gehad het. “I have nothing left in this world”, het hierdie persoon gesê, “no finances and too old to start a worldly career. But I know it is my calling to give others the truth about Yahweh.” ‘n Mens voel aan daar lê ‘n storie agter hierdie woorde, wat nie een van ons ken nie. Maar dit inspireer my dat iemand wat, op materiële vlak, ALLES verloor het, sterk genoeg is om na vore te kom en onbeskaamd te sê: “I have a calling!” Yahweh het my GEROEP! Mense kan alles wegvat, maar hulle kan nie die dringendheid van die roepstem wat ek in my hart ervaar het, van my wegvat nie. En wat sê hierdie stem vir my? Dit dryf my vorentoe om met mense, dalk dieselfde mense wat my in hierdie krisis gedompel het, die waarheid oor Yahweh te deel. Die waarheid dat Hy nie ‘n aannemer van die persoon is nie. Die waarheid dat Hy nie kyk na ons beursie nie, maar na ons hart. En die waarheid dat Hy gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is. En dat Hy absoluut betroubaar is.

Dan is daar twee mense wat byna identiese briewe gestuur het. En hulle wou eenvoudig weet: Hoe moet ‘n mens jou TIENDE gee – veral as daar nie ‘n bediening naby jou is wat jou geestelik voed nie? Ek het aan beide ‘n briefie terug gestuur. Vir hulle daarop probeer wys dat mens verantwoordelik met die gee van jou tiendes moet wees. Veral omdat die tendens in baie kerke is om ‘n streep deur byna ALLES in die sogenaamde Ou Testament te trek, met die “verskoning” dat Y’shua dit alles vervul het – alles behalwe die tiendes! Vandat Y’shua gekom het, hoef ons nie meer die Shabbat of die feeste te hou of onrein kosse te vermy nie, maar moenie vir een oomblik dink dat jy maar kan ophou om tiendes te gee nie! Draai jou rug op die beginsels van die Skrif wat ongemaklik en ongewild is, maar omhels die een beginsel wat die kerk en die predikers se beursies kan volmaak! Vir ons is daar nie so ‘n onderskeid nie. As dit ‘n duidelike beginsel van die Woord is, is dit ‘n beginsel wat deel van ons lewe moet wees. Laat ons ons tiendes nie terughou nie, maar moet dit ook nie stort in ‘n BODEMLOSE PUT wat gebou is op ‘n plek wat met hoë mure omring is nie. Mure wat bedoel is om beginsels, wat net so belangrik soos tiendes is, van die mense aan die binnekant, weg te hou.

Nog ‘n mooi brief was die een waarin die skrywer gewys het daarop hoe belangrik dit is om besig te bly met “die Vader van die dinge, en nie soseer die DINGE VAN DIE VADER” nie. Hierdie skrywer het ook gesê party mense dink hulle “kan Hom flous met klein dingetjies terwyl wat werklik saak maak, verwaarloos word.” Watter geweldige waarheid is dit nie dat ons op ons geloofspad met dinge moet besig wees wat werklik belangrik is, en nie in beuselagtighede verstrengel moet word nie. Dis waarom ons dikwels verse soos 2 Timoteus 2:16 in die Skrif aantref: “Die holruggeryde, onsinnige praatjies moet jy vermy”. Persoonlik, is ek egter versigtig om sommer net te sê: Fokus op Yahweh, nie op dinge nie. Ons moet altyd PRAKTIES wees en konkreet dink, soos dit die patroon binne die Hebreeuse denke is. Die manier hoe ‘n mens op Yahweh fokus, is om op die DINGE te fokus wat Hy gesê het. En van die DINGE wat Hy gesê het, is daar nie EEN wat onbelangrik is nie. Dis omdat mense begin sê het dat die vierde van die Tien Gebooie onbelangrik is, dat meeste van ons groot geword het met die idee dat dit nie nodig is om die Shabbat te hou nie.

Nog iemand het geskryf: “I was baptized before in the name of ‘Jesus’, and when I came to the revelation of the true name of the Messiah it did not sit well with me. So I would now love to to be baptized in the true Name of our Saviour.” Ons weet natuurlik dat die mense in die tyd van Handelinge waarskynlik nie in die Grieks-gebaseerde NAAM “Jesus” of “Iesous” (Uitgespreek: “Ihesoes”) gedoop is nie. Dis nie die Naam wat Y’shua self, of enige van sy familie of sy dissipels gebruik het nie. In die gedeelte wat beskryf hoedat Y’shua aan Shaúl (Paulus) verskyn het toe hy op pad na Damaskus was, lees ons dat Y’shua sy naam IN HEBREEUS aan Shaúl bekend gemaak het (Handelinge 26:14). Wanneer dit egter by die doop kom, is daar vir my ‘n NOG BELANGRIKER aspek. Nie die vraag of ek in die Naam van “Jesus” of in die Naam “Y’shua” gedoop is nie, maar die vraag of ek, nadat ek uit eie keuse tot geloof in die Messias gekom het, in die Naam van “Y’shua, die Messias” gedoop is, en nie in die Naam van “Die Vader en die Seun en die Heilige Gees” nie – ‘n manier van doop wat later deur die Roomse Kerk uitgedink is, onder druk van Drie-eenheid teoloë, maar nie die duidelike patroon van doop wat ons in die Skrif aantref nie.

Die vyfde briefie was kort en kragtig: “Ek wil graag my DANK uitspreek teenoor ons Skepper en Sy Messias vir julle diens aan ons. Mag jy en jou gesin en julle gemeente oneindig geseën word!” As hierdie brief nie die woorde “en julle gemeente” bevat het nie, sou ek dit nie hier ingesluit het nie. Maar vandag wil ek graag hê dat almal in die gemeente sal hoor dat daar mede-gelowiges in Suid Afrika is, en selfs buite Suid Afrika, wat kennis neem van wat hier gebeur en wat vashou aan die boodskap wat hier uitgaan en wat groot waardering daarvoor het! Niemand van ons, glo ek, doen wat ons doen om deur mense geprys te word nie. Maar dis so goed om te weet dat, behalwe die kritiek van sommiges, daar ander mense is wat daardeur GESEËN word, en dat daar selfs sommiges is wat “oneindige seën” vir ons toebid!

Brief nommer ses raak aan die aspek van die FEESTE en die Shabbat: “Ek vermy die tradisionele christen feeste al vir baie jare”, het hierdie persoon geskryf, “maar voel eintlik afgesonder omrede ek nie juis êrens inpas met my sabbath oortuiginge nie.” Die twee sake wat vir my uitgestaan het, is “VERMY” en “NIE INPAS NIE”. Vandat daar nuwe dinge is wat ons in die Skrif ontdek het, het ons ook begin om sekere gebruike en selfs dae en feeste te vermy. Dit behoort egter nie net te bly by “vermy” (“avoid”) nie. Ons geloofspad gaan nie vir ons bloot oor dinge en tradisies wat ons vermy nie. Dit gaan vir ons veral oor dit wat ons bygekry het. Dit gaan oor kosbare dinge wat ons ontdek het. Soms voel ons dat ons in sommige kringe nie meer INPAS nie, maar aan die ander kant ook weer: om IN TE PAS by die wêreld, hou nie naastenby dieselfde beloning in as om IN PAS TE WEES met Yahweh se Woord nie. Vandat Hy ons kop terug gedraai het na Hom toe, fokus ons veel meer op “in pás” (met die klem op die PAS) as op “ínpas” (met die klem op die IN).

En dan die sewende brief wat gaan oor die SEWENDE DAG, in aansluiting by Y’shua se beginsel van “die Shabbat is VIR DIE MENS gemaak, nie die mens vir die Shabbat nie”. En die vraag daarby: “Hoe vier ‘n mens die Shabbat van die Nuwe Testament, in teëstelling met die Shabbat van die Ou Testament en van die Talmoed?” As iemand wil oplees hoe lyk die Shabbat van die Talmoed, kan hy dit gerus doen, maar dit gaan ‘n formidabele taak wees. My raad is: Hou verby! As daar nog iets is wat ons MOET VERMY (soos in brief 6) dan is dit die VERMY van Titus 3:9 “Vermy dwase strydvrae en twis en stryery oor die Torah, want dit is nutteloos en doelloos.” Maar die Shabbat van die Nuwe Testament, en veral die beginsel van Y’shua dat die Shabbat vir die mens gemaak is, en nie andersom nie, is so ná as moontlik as wat ‘n mens sal kom aan die doel wat die Skepper reg aan die BEGIN, en reg deur die Ou Testament, met die Shabbat gehad het. Die eenvoudige beginsel, waarvan die skepping reeds ‘n uitstekende demonstrasie is, is dit: Gebruik die sewende dag om te rus – na gees, siel en liggaam. Bly weg van enige vermoeiende werk of oefening of inspanning op hierdie dag. Sluit jou week se werksaamhede af, voordat die Shabbat begin. Doen wat jy kan doen op die dag (en die week) vóór die Shabbat, sodat daar niks is wat die rus en die verkwikking kan versteur, wat die Shabbat veronderstel is om vir jou te bring nie. Laat die take wat nie dringend op die Shabbat gedoen hoef te word nie, óórstaan tot die volgende dag. Maak ruimte vir jou SIEL op hierdie dag. Fokus op MENS-WEES, veral omdat die veranderende wêreld waarin ons leef, en die werksituasies waarin ons staan, toenemend dreig om jou mens-wees van jou af weg te neem. Fokus op omgee vir ander mense rondom jou. Fokus op die skoonheid van die skepping en die Gees van Yahweh in mense en op die ontdekking van die dieptes van Sy Woord. En as iemand op hierdie dag in NOOD of in benoudheid of in lewensgevaar is, moenie huiwer om te doen wat nodig is om daardie persoon te help nie. Y’shua was een honderd persent in die kol: Die Shabbat is vir die mens gemaak – dis om ons te help, om ons te bou, om herstel te bring, om perspektief te bring, om ons voor te berei vir die ewige lewe. Laat ons nie dwaas wees en vir een oomblik ons rug draai op hierdie wonderlike gawe uit die hand van Yahweh nie.